‘n Boer in beton
’n Boer in beton
Daar is etlike debatte wat gereeld die rondte doen, soos byvoorbeeld die een oor wie eerste was – die hoender of die eier, of die een oor sjokolade en vanilla. Dan is daar die een wat my die meeste fassineer: die een oor wie die beste bestuurders is. Mans of vrouens?
Ek is egter nie in die posisie om die debat finaal te besleg nie. Ek kan net getuig oor die bestuursvernuf van een spesifieke man, en dis die een met wie ek getroud is. En laat ek julle vertel … ek het stories!
Die laaste twintig jaar het my geleer dat my boerman, na ’n sekere aantal jare op ’n plaas, begin dink het dat alle paaie plaaspaaie is. Hy ry in die stad presies soos hy op die plaas ry. Op sy plaaspaaie kan hy enige tyd stadiger ry, stop of links draai sonder ’n flikkerlig, want vir hektare en hektare is daar geen ander voertuig in sig nie. In ’n stad is daar egter 58 motors langs en agter hom wat ander planne het. Vir een of ander rede is my man hoegenaamd nie van hulle bewus nie.
Dan kan ek ook verstaan dat dit soms vir hom lekker is om so bietjie op ’n teerpad te ry en die “enjin skoon te brand”, maar wanneer hy met ’n breë glimlag die draaie in ’n bergpas vat soos Jody Scheckter nie kan droom om te doen nie, dan is dit my verantwoordelikheid om hom terug aarde toe te bring en te herinner wie hy nou eintlik is.
Ek vra dan doodluiters: “Ry jy lekker?”
“Verskriklik!” is die antwoord gewoonlik.
Dan sê ek rustig: “Dis dalk lekker, maar dis nou klaar.”
Teen daardie tyd het my vingers al deel geword van die handvatsel. As iemand die deur sou oopmaak, sou ek waarskynlik steeds daaraan hang. Ek moet egter toegee dat hy dan dadelik sy loodpoot so bietjie van die pedaal af lig.
Parkeerareas is die ding wat die grootste dilemmas veroorsaak. Hy sit eenvoudig die bakkie in trurat en ry met selfvertroue agteruit – presies soos hy op die plaas sou maak, want dáár weet hy waar elke klip en boom is sonder om te kyk. Hy is telkens heeltemal oortuig daar is niemand, of niks, agter hom nie. Ek moet hom dikwels daaraan herinner dat hy sy spieëltjies moet gebruik wanneer ons in die beskawing is.
Dis reeds as gevolg van hierdie soort van ding dat ons jongste byna haar matriekafskeid gemis het. My boerman het ’n student se motortjie van ’n Polo na ’n Uno verander. In trurat. Die middag is by die polisiekantoor deurgebring waar hy homself gaan rapporteer het en baie vorms moes invul. Baie, baie vorms, en die polisie is nie bekend vir hul flinke diens nie. Ons dogter het al haar duur grimering af gehuil en ek het moedeloos toegekyk hoe ure se handewerk en ’n klomp rande in straaltjies oor van haar wange afloop. Die professionele fotograaf kon toe ook nooit haar ding doen nie, al was sy reeds betaal. Ek het maar ’n paar kiekies gevat.
Daar is ook ’n paar aandenkings van die pilare van ondergrondse parkeerareas wat ons getroue bakkie soos rosette dra.
Persoonlik dink ek vrouens (ek) bestuur baie beter, want ons (ek) bestuur met al ons (my) sintuie en daar is nie eens een merkie op die bakkie wat die gevolg van my roekeloosheid was nie. Nie ’n enkele een nie!
Ek moet egter beken dat my boerman se bestuurvernuf eintlik indrukwekkend is wanneer ’n jakkals of vlakvark voor hom uitspring. Dan stuit geen bos, boom of draad hom nie. Alles verander in tydelike versperrings en dan bons die bakkie oor klippe, duik deur slote en gooi esse wat jou na jou asem laat snak. Alles terwyl ons sowaar as wragtag op ons wiele bly. Sulke tye bly ek doodstil, gryp die deur vas, knyp my oë styf toe en bid indringend, want ek is al gedreig dat hy my sal aflaai as ek nie ophou gil nie. Jy kom nie tussen ’n skaapboer en ’n jakkals nie. Ek is ook nie bereid om huis toe te stap nie.
Moontlik is dit die rede dat hy so ontspanne in stadsverkeer is. As jy al agter ’n ongedierte aan gejaag het op die Kalkplato, voel spitsverkeer seker maar soos ’n rustige uitstappie op ’n Sondagmiddag.
Ek het wel ’n paar aanbevelings wat ek aan my boerman kan maak, soos dat ’n kortpad nooit ’n kortpad is nie, want as dit was, sou die hoofpad daarlangs geloop het. Ook dat dit nie seer is om vir rigting vra of na die GPS te luister nie, want dit is regtig nie nodig om teen Botswana se grens eers te besef jy het iewers ’n verkeerde afdraai gevat nie.
O ja, en wanneer ek sê daar is ’n vreemde geluid in die enjin, kan hy my gerus glo, want dan spaar hy daardie R18 000.00 wat die vreemde geluid hom drie dae later gekos het.
Ek ry wel soms met my handsak steeds op die motor se dak, met die handrem halfpad op of stop skielik vir die plastieksak wat vir ’n oomblik soos ’n skaap gelyk het, maar ek kan ’n bakkie vol rantsoene, ’n drom diesel, twee tieners wat baklei oor ’n laaier en ’n hond wat dink die handrem is die gemaklikste lêplek in spitsverkeer hanteer sonder een enkele duikie in ons bakkie se bakwerk. En dis waarom vrouens (ek) die beter bestuurder is. Ongetwyfeld.
(916 woorde)
© Hester Steenkamp, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.