Selfs ontsteltenis het ‘n kleur.
Laat ek jou vertel…… (1502 woorde) Brons
Retha staan voor die rak kleur kaartjies in die verfwinkel met ‘n frons wat die helfte van haar voorkop kreukel.
‘n Kort, pomelo-vormige vroutjie in ‘n vaal uitrusting kom aangestap. Nee wag, dalk was dit tog ‘n waggel. Soos ‘n eend. Die klein pomelo deel bevele uit soos ‘n generaal voor ‘n veldslag, sover sy gaan.
“Henrik! Hou vas die leer voor Kerneels homself weer poerdis merdis val!” Drie waggel tree later… “Sara, ek het mos al voor teatime gevra dat jy die potplante water gee. Moet alles vrek voor jy dit raaksien?”
Nog voor Retha haar uit die voete kan maak het generaal pomelo haar in die visier. “More more mevroutjie. Waarmee help ek vandag?”
Jou middagete is kort, maak jou uit die voete, skree haar brein, maar sy glimlag vir die vaal pomelo. “Ek kyk sommer net dankie”.
“Nee maar laat ons kyk verander in koop. Mevrou sal nie hier kom staan het as daar nie iets is wat geverf moet word nie”.
“Ek wil niks verf nie, dankie. Ek het sommer net na die kleure kom kyk”.
Pomelo-generaal is die laaste persoon vir wie sy wil vertel van haar argument met Kobus vanmore. Sy weet sy is reg. Die babakamer moet geverf word, maar sy het ‘n sagte groen in gedagte gehad. En dalk ‘n randjie van ‘n effe dieper skakering, maar Kobus het net geblaf. “Moet die arme kind nou ‘n “Tree-hugger” word van voor geboorte af? Dan kan jy net sowel vir die bulletjie ‘n tent opslaan dat hy op die groen gras onder ‘n boom loop slaap.”
Dis toe dat Retha besluit het om die kleurkaart tydens haar middagete te gaan soek, want as Kobus eers dwars raak, weet sy al, hy kan nie haar kop se prentjies sien nie.
“Wel, ek het net ‘n spesifieke kleur groen kom soek, om vir my man te wys. Hy verstaan nie watter skakering ek in gedagte het nie.”
“Dis so tipies van die manne-goed. Hulle verstaan nie dat alles in hierdie lewe ‘n kleur het nie. Ek kan mos sien mevrou is omgefoeter oor die groen-ding.”
“Wel, dis vir die baba kamer. Hy het vanmore gestry oor hy nie…”
Nog voor die gedagte of die sin klaar gemaak is, het die klein generaal haar rondte stert gewip en met hande op die denkbeeldige heupe gaan staan.
“So maaifoedie! Alles het ‘n kleur. Laat ek jou die storie vertel. Selfs ontsteltenis het ‘n kleur!” Sy skuif haar ronde brilletjie reg en gee haar grys bolla ‘n pluk. My oorle’ pappie en mammie was lank getroud en hulle het dieselfde moeilikheid gehad. So met die loop van die jare het hulle toe geleer om op ander maniere te verduidelik. Toe kom die jaar van hulle goue bruilof. Mammie het besluit dat sy tog nie lus is vir ‘n aangeplakte gedoente waar die hele familie saamdrom, vreet en net na die tyd skinner nie. So besluit hulle om na 50 jare te elope. Hulle gaat op tweede honeymoon en hulle gaat toer. Dis google vir die plek en lees oor daardie plek en so kry die vakansie vorm.”
Retha kyk na haar horlosie en besef sy gaan vandag laat terug wees by die werk.
“Die landy is gepak met alles wat hulle kan nodig kry. Tot die kamp yskas is in, want die vleis in die Kaap en langs die Weskus is duur. En wat sal hulle nou maak as daar ‘n stukkie vis moet saam terugkom? Pappie was nie meer jonk in jare nie, maar as hy agter die stuur van die Landy ingeklim het, het hy so blink in die oog gekry en sy voet het swaar geword. Dan het elke heuwel en bult hom gelok soos ‘n mot na ‘n kers.”
“Ewenwel, die twee oues is toe fort op die ekspedisie. By elke stop langs die pad word verslag gegee en teen die vierde dag kon ek hoor, dinge is nie meer so lekker nie. Daar is ‘n algemene hap-hap aan mekaar wat maar kom as twee mense wat nie heeldag bymekaar is nie, skielik vir dae lank in ‘n motorkar saam opgekrop sit.
Teen Sutherland se koers het dinge al so gevorder dat mammie een nag glad in die einste Landy gaan slaap het. Sommer so regop in haar stoel, soos ‘n meerkat, want sien die plek het ‘n binne vuurmaakplek en so met die romantiese kaggel idee, het die skoorsteen ‘n fout en die plek rook toe soos ‘n protestor wat tyres brand. Ek is seker pappie het teen die tyd al gesien hoe die lang huwelik saam met mooi planne in vlamme en rook verdwyn.”
Toe Retha nog wonder hoe lank die storie nog gaan neem, al vrek sy van nuuskierigheid oor die einde, lei klein pomelo haar na die tuinstel wat op sy vertoon platvorm staan langs die verf afdeling en gaan sit ook sommer. So in die verder vertel wys sy dat Retha moet sit.
“So ry die tweetjies toe met jare se geoefende stilstuipe af see se kant toe. Dit was so twee dae later wat hulle al by Lutzville se kelders afgekoel het en heerlik geslaap het op Strandfontein, dat pa besluit, hulle gaan die strandpad vat Doringbaai toe. Nou as jy die stuk pad ken, dan weet jy, selfone werk nie daar nie. As jy moelikgeit kry, gaan jy wag, want karre en mense is maar min daar.
Pappie was toe hoeka ook al uitgerus en lus vir bietjie beweging en aksie na die stilte van die vorige paar dae. Hy druk die Landy se neus in die rigting van die see en hy ry. Nou of daar ‘n pad was en of hy in sy gedagtenis een opgemaak het, sal ek nou nie met sekerheid kon sê nie, maar daardie middag het die twee oues nie ingecheck vir hulle gewone verslag nie. Ek het foon se knoppies gedruk soos ‘n rugby skrum, maar die Ingelse vrou het net heeldag gesê en moet weer later probeer.
Teen donker se kant, toe lui my foon mos. Ek kon hoor mammie was buite haarself. Jou pa is mal! het sy aanhou skree. Met moeite, soos wanneer mens die vliese van lewer aftrek, het ek toe die storie gekry.
Pappie het besluit om te stop om die mooi strand pad te bewonder. Mammie het uitgeklim en was amper gereed om die ou koeie te begrawe, toe sy besef, daar is water aan haar kant van die Landy. Seewater. Pappie het ook opgemerk dat die gety klim en hy reken toe hulle moet maar aanstaltes maak, want die sandwalle aan die land-kant is hoog en hulle moet ‘n laer plek soek om van die strand af te kom.
Pappie start sy ridder-wa, maar die ding beweeg nie. Hy spoeg sand agter die wiele asof hy betaal word om Kimberley se gat te grou. Mammie het nie kans gesien vir ‘n getry nie, so sy begin prakties planne maak. Hulle moet iets agter die wiele sit. Sy maak die nuwe tydskrifte bymekaar wat in die stilstuipe tyd gekoop is. “Try hom nou”. Pappie rev die Landy en jy sien net papiere trek. Mammie probeer stoot, maar dis so goed sy probeer ‘n olifant teen ‘n rivierwal uitstoot.
Dis toe hier waar die onsteltenis oorneem en in ‘n histeriese stemmetjie verklaar sy dat haar maag nou los raak. Pappie wat nog planne probeer maak, blaf iets van agter die duin.
Mammie sukkel toe met haar vakansie-lyf en vervangde knieg teen die naaste duin uit. Sy besef dat sy dit nie gaan maak nie en slaan dekking agter ‘n Koeniebos. Die maag loop en nes sy opstaan om terug te stap, slaan die besef van ‘n see-dood haar weer en sy moet duik vir die volgende bos. So met een van die opstaanslae, besef sy, ontsteltenis is oranje. Kapoen-oranje.
Sy kyk af na die Landy en Pappie wat sy lot aanvaar het. Hy sit langs die verdoemde ryding en staar na die gety was nader kom. Toe sien sy teen die laaste inham, ‘n ding wat soos ‘n ou boot lyk.
Sy rol-val so half teen die duin af en met ‘n gesukkel het hulle twee planke van die boot afgekry en onder die wiele gesit.
Met planke in plek, klim die oubaas weer agter die stuur en sy moet stoot. Die enjin brul, die wiele kry vatplek en daar sloeg sy agter die Landy neer, gesig eerste in die sand. Pappie wil nie stop nie, want netnou sit hulle weer vas.
Mammie het vir lank daarna nie weer pampoen gaargemaak nie, en die Landy het vir baie maande in die garage gebly.”
Retha glimlag vir die pomelo-generaal. Sy weet haar dag het blou begin, maar soos sy vandag geleer het, alles het ‘n kleur. As Kobus weer wil stry oor die kamer se kleur, sal sy vir hom glimlag en haar verbeel sy kan die kleur van sy ontsteltenis sien en steeds die kamer lig-groen verf.
Audrey Bierman
2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.