Jongste aktiwiteit:

Die ‘gestripte’ moer Goud 717 woorde (Taal waarskuwing)

Bemoerd sê jy? Laat ek jou vertel wat is bemoerd verby! Dis hoe ek voel. BEMOERD VERBY!

 

Skuus vir die frans maar daar is nou net nie een woord sterk genoeg om my gevoel te beskryf nie, of daar is wel, maar so befoeterd is ek darm nog nie. Ek gaan wel binnekort wees want my ggggggg op die skootrekenaar het ook sopas die gees gegee en moet ek hom ekstra hard druk om sy keel skoon te maak. Gggg gggg g.

 

Alles was mooi. Alles was perefek. Toe glip my loopfoon uit my sak en beland skerm eerste op ‘n baksteen oprit. Wie de hel bou ‘n oprit teen ‘n helling van amper 45 grade. Eerstens druk ek amper ‘n drie in die teerpad omdat die uitklimslag uit die bakkie (afdraende met ‘n hele paar kilo boudvleis as “leverage”) teen Shumagerspoed geskied en tweedens omdat daar geen houvasplek in sig is nie.  Ek moet soos ‘n wafferse ballerina op my tone trippel om my balans te behou. Murphy’s law. Net die vorige dag trek ek mos my skermbeskermer af omdat die soos ‘n dronk slang op steroids se sleepsel gekartel het. Foon lê gesig eerste moertoe op die bakstene.

 

Geluk by die ongeluk. Ons het ongeluksversekering. Die vriendelike dametjie agter die toonbank verseker ons dat die ou foontjie spoedig weer met ons sal wees. Net so klein bybetaling sou nodig wees om kostes te dek. Nou maar goed. Twee weke later word ek meegedeel dat hierdie spesifike selfoon (skaars 5 maande oud en op aanbeveling van die verkoopsdame na hiedie een opgradeer) nie meer vervaardig word nie en daar ook geen parte daarvoor is nie. Let wel dat die Pakistanie op die hoek my skerm kon vervang teen ‘n minimale bedrag van R800. Ek word meegedeel dat ek kwalifiseer vir ‘n nuwe foon en dat ek net nog ‘n week moet wag vir aflewering. Sela.

 

Uiteindelik word ons na die troonkamer opgekommandeer. Nuwe foon is beskikbaar. Nuwe foon verdwyn na agter sodat die sagteware opgradeer kan word? Ek bevraagteken niks want ek vertrou mos te maklik. Selfs die tegnikus wil weet hoekom die foon dan nou na “agter” geneem is. Dit neem ‘n volle vier ure om al die papierwerk en oorskuif van inligting te voltooi. Teken hier, teken daar en siedaar, uiteindelik R500 later hou ek my nuwe ouer model in my hande. Ek kla nie. Ek is te dankbaar om weer in die land van Sodom en Gemorra se web te swerf. Dan flits die skerm skielik in gebroke bios-taal. 10111100110. Net ‘n sekonde. My seker verbeel. Tweede dag. Die skerm vries en gesiggieblad loer onder die kletsprogram vir my. Twee programme op een slag bo-oor mekaar op die skerm! Terug na die vriendelike dametjie agter die toonbank. Binne sewe dae. Versekering is veronderstel om my ‘n ander foon te verskaf maar NEE hierdie een moet ook tegnikus toe vir herstelwerk. So gesê so gedaan. Binne ‘n week kry ons ‘n boodskap. Selfoon kan afgehaal word.

Verbaas is nie die regte woord nie. Met ‘n nat vis uit die veld geslaan ja! Dametjie weet glad nie waar die boodskap vandaan kom nie maar wag, sy gaan loer gou ‘agter’ waar die foon is. En daar lê mnr foon. Nou verstaan sy nie meer so mooi nie want sien mnr Foon was nog nooit eens weg vir reperasie nie. Ongelukkig het hulle nie geweet wat my ontsluitpatroon was nie (ek het wel ‘n skets daarvan ingehandig sodat hulle die foon kan ontsluit) en hulle het nooit daaraan gedink om my te bel en in te lig nie. So nou wag ons. Dis alweer ‘n week later en nog geen foon in sig nie. Wel ‘n boodskap – Kan ons asseblief so gaaf wees om hulle diens te evalueer. Behoede my bemoerdgeid!

En o ja voor ek vergeet, hoekom kon ek nie sommer op my ou skootrekenaar gesels nie. Moenie vra nie. Ek dink die loopfoon en die rekenaar het ‘n skelm verhouding gehad. Toe Mnr Foon in die hospitaal beland, het Mev. rekenaar se hart ingegee. Vandag is seker die eerste keer wat sy besluit om nie probleme te gee nie. Behalwe nou die GGGGGGGGGGGGGGGGGGG wat so nou en dan gggglip. Ek hoop julle verstaan en simpatiseer met my gestripte moer…  en verby.

 

©️ Amanda de Meillon




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed