Jongste aktiwiteit:

Langstaankampers

Dis nog niks nie…laat ek vir jou vertel…
Lankstaankampers kan gaan slaap! Ek sien op “Gesigboek” dat die mense nou nie meer so erg wil landuit nie, hulle wil nou glo “lankstaan”. Laat ek vir jou vertel, vandat ek skoothoogte was het ons familie elke Desember vir meer as ‘n maand langs die oewers van Loch Athlone in Betlehem gaan kamp opslaan. Jy kan van lankstaan kamp my niks vertel nie!
Met ou Geelgat, ‘n woes lelikel tweedehandse karavaan wat pa na sy smaak opgebou het, en beskuitblikke wat kniehoog staan na ma en Christelle, my sussie se gesweet in die kombuis, is ons eers oor na my oom Jan en ta Magriet om finale reelings te tref.
Oom Jan en ta Magriet is van bokant die spoor, en hulle kamp met hulle splinternuwe “Jurgens” karavaan.
Sodra die skoolklok gelui het, het ons drie kinders, en oom Jan se twee kinders huiswaarts laat waai met die fietse – Pa Kosie en Oom Jan staan al en blaas van afwagting!
Dit ‘n teatrale stoet wat die pad Betlehem toe vat vanaf die besige Alberton.
Oom Meintjies wat by die SAUK werk, en oom Christie, die eerste manssurster in Transvaal se hospitale, sal ons by die kampplek kry. Hulle kom met die tente wat die twee karavane verbind, en wat die kuierkamer word.
Die eerste jaar was moeilik. Ons het nie die kampterryn geken nie en ons kinders was ‘n handvol. By die kamp aangekom, in die eerste blink van die maan, kon ons nie eers die water ruik van die kampplek af nie. Laat ek vir jou vertel…geen mens slaan ‘n tent in die donker op nie!
Terwyl die grootmense, moeggery, moes tentpenne inkap en slaapplek regkry, hol my boet Jurgens verby ‘n braaier en trap in ‘n stuk glas! Met die glasstuk in sy hak tel oom Christie, die manlike suster, hom in sy kar se voorste sitplek, en por oom Jan, ta Magriet , Ma en die twee dogters aan om af te sit noodgevalle toe.
Die agtergeblewenes moet in die donker tent opslaan.
Dertien steke later kom die beswaarde groepie terug. Boet Jurgens is suur want hy kan nie loop nie, maar ook nie so suur nie want nou het hy mos ‘n lisensie vir lyfwegsteek! Die stukkende koeldrankbottel is nog skaars uit sy hak of hy vra dat ek moet koeldrank ingooi. Dis om van te stik!
Dank vader oom Christie was so regdenkend dat hy ‘n groot Lasagne vir aandete voorberei het. Ons kon darem eet. Visvang was daar nie. Pa sal more oggend die dam verken en vir ons goeie visvangplek kry, het hy gese terwyl hy bedwaarts gekeer het. Ons het dikbek in ons slaapsakke
geklim, moeg van die rit en sat van die opslaan in die donker en die stres wat boet Jurgens ons gegee het.
Ek was eerste op met die klank van eende op die dam. Ek is mos ‘n drawwer. Toe ek buite kom sien ek geen dam nie. Ek sien net ‘n vlaag groen fluitjiesriet voor my. Die lus vir draf is geblus, en ek draai traag terug om by pa te kla.
Ons moes kajuitberaad hou. Oom Meintjies het ons kalm gehou. Na ontbyt het ons begin met operasie visvang in die Vrystaat. Hy lei ons almal na sy rooi datsun bakkie met die venter sleepwa gehak wat met ‘n seiltjie toegemaak is. Toe hy daardie seiltjie lig lyk dit soos ‘n konstruksiewerker se paneelwa. Daar is allerhande masjienerie daarin, van ‘n naaldwerk masjien, tot pangas, tot waterskoene. Hy deel toe waterskoene, pangas, grawe en tuinvurke uit en se ons moet ons swemklere gaan aantrek. Ons het die fluitjiesriet afgekap en vir ons ‘n netjiese jettie gebou waarvanaf die kano maklik en lekker kon waterproe.
Alles het orde gehad. Daar was ‘n skedule vir elke dag. Selfs ons kinders het werk gehad. Daar was die wat moes roei, daar was die wat moes vullis weggooi, daar was die wat skottelgoedwas. En laat jy nou nie opdaag nie!
Die vis wat gevang is, is dadelik deur die vrouens verwerk. Daar is viskoekies gemaak vir ‘n vale, en daardie aand het selfs die buurtente karmenaaitjies gekry want net ma kon ‘n baber laat proe soos ‘n steak!
Ons het ‘n paar storms deurgemaak. Oom Meintjies se naaldwerkmasjien het sy naai geken. Pa en oom Jan was boilelmakers, en hulle het tentpenne reggebuig en skeure reggemaak. Daardie dae was daar nie iets soos ‘n kampwinkel nie!
Daar is min dorptoe gegaan. Vrugte en groente het ons gekry by oom Willem, die skoolhoof van een van Betlehem se skole. Hy het ‘n hele boord pruime, appelkose, perskes en nog meer in sy agtererf gehad wat goed gedra het.
Toe ons die tweede jaar gaan kamp, pa het nogal dieselfde kampstaanplek bespreek, was daar chaos. Hierdie keer het ons vroegdag geland, om genoeg daglig vir tentopslaan te he. Met ons aankoms was daar indringers op die perseel! Dit was die Apteek van Betlehem se kerspartytjie wat op ons plek gehou is! Pa, so saggeaard as wat hy is, het mooi gaan praat met Claus, die apteker. Claus het mooi verskoning gevra maar ons almal saamgenooi na die kerspartytjie. Ek het daardie aand waatlemoen geeet en gaskoeldrank gedrink dat dit by my ore uitgeloop het!
Dit was die lekkerste kerspartytjie ooit, en Pa Kosie en Claus het hartsvriende geword.
Ons het maar weer in die donker na die kerspartytjie tent opgeslaan…
Claus en sy twee dogters kom daarna elke dag ‘n skemerkelkie by pa langs die viswaters drink. Hulle gesels diep dinge, totdat die maan blink oor die dam skyn en pa se aas al oud is.
‘N paar dae later le ek bleek en uitgeput in my tent. Diarree. Of iets. Ma en oom Christie probeer al die boererate maar niks blyk te werk. Die bure in die tent oorkant ons gee ook hulle raad, maar helaas, niks help. Toe Claus sy draai kom maak gee hy my net een kyk. Hy spring in sy volla en ry na sy apteek toe. Hy brou ‘n konkoksie waarvan ek die naam nou nog nie ken nie en jaag vir my drie lepels in. In ‘n oogwink was ek weer reg. Ek wonder of deesdae se lankstaankamper sulke diep vriende maak?
Ons het gereelde kampers geword. Vir dertien volle jare het ons Desember maande hier spandeer. Die avonture wat ek en my maters hier meegemaak het, kan in dik bundels omgesit word, ek was my eie Huckleberry Finn! As jy ‘n week kan staan, kan jy ‘n maand staan. En as jy ‘n maand kan staan, kan jy ‘n jaar staan. En voor jy weet, is jy ook ‘n lankstaankamper!
So laat ek vir jou vertel, hierdie lankstaan kamp foefie wat nou in die lug rondhang, dis nie iets nuut nie! Dis al gedoen, daar is al oor gepraat, daar is al oor geskinder, maar dis nie nuut nie




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed