Jongste aktiwiteit:

Die uitstappie (Brons)

Die uitstappie (Brons)

Die groen reuk van mos en die bloedstollende gille vermeng tot ‘n kakafonie van ontwaking. Ek word nie wakker nie, ek skrik wakker.

Ek beur orent. Ek het waaragtig aan die slaap geraak hier onder die ruie varings en bome wat hemelhoog troon. Gille? Daar is dit weer! Bernard? Izak? Waar is hulle? Ek vlieg orent, voel vir ‘n oomblik van balans af en begin dan blindelings in die rigting van die gille strompel.

Ek hoor ‘n tak agter my kraak. Onwillekeurig stop ek en kyk om. Dan sien ek hom. Skaars drie meter van my af hang Bernard oor ‘n tak. Ek staar in afgryse na hom. Sy buik is oopgeskeur en sy ingewande hang aan flarde. Hy is vermink. Sy bebloede hande reik rukkend uit na my en deur ‘n bloedroggel kom sy opdrag gedemp: “Hardloop…” Hy blaas sy laaste asem uit.

Ek voel die histerie in my opstoot. My voete strompel vanself weg van die afskuwelike toneel. Trane verblind my oë. Ek struikel oor ‘n boomwortel en val met my gesig in die modder. Snikkend vee ek met die agterkant van my hande oor my gesig. Dit is wanneer ek afkyk na my hande dat ek dit sien. Bloed, dis bloed waarin ek lê! Ek probeer regop kom, maar iemand hou my aan my arm vas. Met geweld ruk ek los. My hempsmou skeur af. Ek kyk nie om nie, maar hardloop blindelings deur die varings om weg te kom van my agtervolger af.

Gedempte brabbeltaal bring my weer tot stilstand. Ek is vervul met vrees. As my verdomde kop net nie so gepyn het nie. Waar kom die stemme vandaan? Ek draai in die rondte om die geluide se oorsprong vas te stel. Waar is ek? Hoe kom ek uit hierdie bos? My kop…

Die gebrabbel ontaard in ‘n boosaardige hoonlag. Dit weergalm in die bos. Ek druk met my hande teen my kop terwyl ek met my rug teen ‘n reuse boom staan.

“Hardloop…” roggel iemand reg bo my, ‘n tweede keer. Ek kyk vervaard op. Dis Izak, sy bloed vloei teen die boom af. Sy kopvel hang klewend langs sy gesig, sy maag is deurboor deur die tak waaraan hy hang. “Nee! Nie jy ook nie, Izak, asseblief?” soebat-skree ek die laaste woorde wat hy ooit sal hoor.

Die menseslagting van my vriende maak my kotsend-naar. Ek kan die opstoot van my eie braaksel nie keer nie. Walglik vermeng dit in vreemde patrone met Izak se bloed. My hart klop onbeheersd en my asem kom hortend wanneer ek voortstrompel.

Die volgende oomblik is die mos seepglad. My voete glip onder my uit asof ek teen ‘n reuse glyplank afgly. Ek sien die blaredak bo my, ruik weer die skerp mosreuk en hoor die hoonlag, voordat ek teen die afgrond aftuimel. My angswekkende gille word deur die gedruis van ‘n waterval verswelg.

“Sy gaan nie gou hier opstaan nie,” kom ‘n stem van ver af. Ek probeer my hande oplig, maar dis vasgebind. Die reuk is vreemd-anders as in die bos. Die donker voer my genadiglik weg na ‘n plek waar geen klank of kleur of reuk bestaan nie.

Die lig kom stadig deur my toe ooglede gesypel. Dis ‘n vreemde pienk-rooi kleur. Die bos! Die bloed… Trane biggel oor my wange. My oë vlieg oop wanneer ‘n hand die klammigheid van my gesig afvee.

“Rustig, nou Retha, jy is veilig,” sê Bernard hier langs my.

Hallusineer ek? Ek draai my kop. Dit ís Bernard. ‘n Rooi liggie flikker bokant my kop en binne sekondes is daar ‘n verpleegster by my bed.

My hande word losgemaak en ek skuif effens regop. “Izak?” vra ek onseker aan Bernard. “Hy is buite in die gang, jy mag slegs een besoeker op ‘n slag ontvang,” antwoord hy.

“Julle is dood! Ek het julle in die bome sien hang…”

“Alles drogbeelde, Retha. Ek en Izak het al die monsters vir die agrostologie-projek versamel en jou gelos om te dut. Met ons terugkeer was jou rugsak daar, maar jy was skoonveld. Ons het jou gille gehoor, jou gevolg, maar kon jou nie betyds bereik voordat jy by die afgrond afgestort het nie. Ek het agterna geduik en Izak het die vierwieltrekvoertuig nader gebring. Gelukkig kon ek jou uit die rivier trek, net voordat jy by die waterval af is,” verduidelik Bernard.

“Ons het van die Towersampioen in jou rugsak gevind. Dit bevat Psilocybin, dit is sterker as LSD. ‘n Moordenaar van ‘n sampioen. Jy moes van dit geëet het. Jy was op een helse trip,” sê hy, net voordat ek weer aan die slaap raak.

 

(Woordtelling 765)

 

©Retha van Deventer, September 2024.

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed