Jongste aktiwiteit:

Bewerk en Bewaak …

onrusbarend reis die wêreld
deur die vensters van my oë
skommel selfone die hemel
van môre tot die aand
in ons skole in ons kerke in ons werke
in ons huise tot in ons kombuise
word normale verbale kommunikasie versmoor
en tussen die eerste klik en die laaste swipe
grinnik/hoonlag LED-lig blou oë
agter glas en kodeer ons denke
met flikkerende algoritmes

terwyl sy hart in datasentrums klop plot
hy ons lewens in digitale ruitverwysings
stoor hy ons gesigte
stoor hy ons identiteit
stoor hy ons emosies …

ons surf op Google se maps en berg
ons geheime in die Cloud sweef
ons met data gedagtes
Wi-Fi-verwagtinge

ons lag in GIF’s
ons huil in emojis
AI het ons beste vriend geword

en buite …?

buite lê moederaarde
in die raadsaal van die son se skroei
haar oë pleit verdof deur die stof
van haar droë vleilande
sy ween oor die gestroopte metafore
van haar reënwoude en die besoedelde
lirieke van haar riviere

sy snak na haar asem as haar voëls
vlug oor die vuil vuil lug
en sy ween oor die suur in die reën
sy ween oor haar bome
wat vreesbevange sidder
wanneer kettingsae nader kom
en
teen die oogbanke van haar horison is
shacks en shacks en shacks
in rye en rye en rye geplak
en berge rommel in riviere gegooi
waar eens water
soos die suiwerste simfonieë
vrolik oor haar riviere spoelklippe geloop het

landbou mynbou bosbou
laat haar ekologiese prag kwyn
ons haal uit en haal uit …
totdat die sy niks meer oor het
om te gee nie
ons sink boorgate en boorgate
tot diep in haar boesem

die ritmiese onafgebrokenheid
van haar seisoene het verward geraak
en uit haar skoot
verrys die staal vingers
van ʼn Tegnologiese Goliat

ons kliek en kliek en kliek
en ons kyk en kyk en kyk
en ons koop en ons deel en ons volg
want ons het baie volgelinge
op Bakkiesblad
maar al minder ware volgelinge

ons gaan sit nie meer buite
en kyk na die sterre nie
ons kyk na ’n skerm
wat vir ons vertel
hoe die sterre lyk

betonoerwoude verrys
misdaad groei en groei en groei
oorloë stuur missiele
en vernietig haar skoonheid

en tussen kernafval en chemiese afval en menslike afval
staan ek met ’n selfoon in die hand
en vra jou om te luister?

moenie so kommerwekkend wees nie
sê die Tegnologiese Goliat
daar is nog baie planete
waarheen julle kan verhuis
die maan wag mos
Mars wag mos ook
die heelal is groot

maar
moeder aarde
is nie ’n weggooibare planeet nie
en daar tussen al die geraas
hoor ek saggies
die stem van ’n kameeldoringboom
mens

jy kan nie
jou wortels
na Mars toe stuur nie

toe praat stilte
ek is nie leeg nie luister …
selfs die Tegnologiese Goliat
raak vir ’n oomblik stil
en ek kyk op
weg van die skerm
weg van die Cloud
weg van die Gigabyte-gode
boontoe
na die hemel
waar die Meester op Sy troon sit
en kyk hoe Sy skepping
voor Sy oë verbrokkel

’n traan
rol oor Sy wang
want ons het moederaarde
wat Hy aan ons as Sy rentmeesters
toevertrou het as eienaars
begin besit

en toe vra ek myself:
waar staan ék nou?
tussen tegnologie
en waarheid
tussen vooruitgang
en vernietiging
tussen die Tegnologiese Goliat
en die mens

waar is ons slingervel van wysheid?
waar is die Dawid van integriteit?
waar is die hand wat die knoppie
kan loslaat?
waar is die mens wat weer kan stil word?

want as rentmeester
lê my grootste taak

om te luister
na die hulpkrete van moederaarde
om te luister na haar stilte
om te luister na my opdrag vanaf die groot Meester
wat reg aan die begin gesê het:
bewerk en bewaak …

want

so
LIEF
              het Ek
                          moeder aarde
                                                          gehad …
——————————-oooOooo———————————-

©Pieter Mostert
[ *hierdie gedig is saamgestel uit Fragmente uit my gedigte wat in die volgende Koffietafelboeke van my voorkom:
• Mostert, P. (2022) Gevleuelde Digters (Roofvoëls).- Gedigte: God dig die natuur; Die wêreld reis … en Die vlakte – (Klaaglied) [Pastiche en interteks na aanleiding van Jan F. E. Cilliers se gedig: Die Vlakte]. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk
• Mostert, P. (2023) Gevleuelde Digters in ons Tuine. Gedigte: Waar staan ons nou en God dig vir Hom ’n rentmeester. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk.
• Mostert, P. (2025) Roofvoëls deur die oë van Digters : God dig vir ons ’n Bioom. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk. ; asook uit my boek:
• Mostert, P. (2025) God, Mens en Masjien – ’n Teologiese reis deur die era van Kunsmatige Intelligensie: Gedig: Die Tegnologiese Goliat. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk.

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed