Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 8

Hoofstuk 8 – Troos uit dit wat was

Die oggend begin rustig, sy ken pasiënte aan die nuwe studente toe, en verkry ʼn bietjie agtergrond oor die nuwe drie se ondervinding sodat sy kan bepaal hoe sy kan aanvul wat hulle kort kom.
Hulle stap saam met die saalsusters deur die sale, en die nuwe studente kom baie vinnig die roetine agter. Wanneer hulle in die mans algemene saal instap, is dit die drie nuwelinge wat elk dadelik sy pasiënt se kaart neem, homself voorstel aan sy pasiënt, en ʼn deeglike ondersoek van sy pasiënt doen.
Zuluika voel een oomblik se twyfel, en sy vra woordeloos, ‘Here gee my die wysheid om reg te laat geskied vir hierdie jongmense’, en sy veg teen die gevoel van twyfel in haar.
Die Maandagaand na diens, gaan hulle ses na die hospitaal eetsaal waar ʼn heerlike kaggelvuur brand. Hulle hervat die gesprek wat hulle in Corvallis begin het oor die twee items, maar nou is daar erns, hulle soek ‘treffers’, volgens Josh.
Zuluika voel die vrees vir een oomblik, indien dit ‘treffers’ van die afgelope tien jaar is, sal sy baie vinnig die bladmusiek moet kry, haar tien jaar se weier om deel van musiek te wees, het haar ingehaal.
Sy herroep die woorde van Thobile, ‘Wanneer jy twyfel aan jouself, onthou altyd, die krag wat jou tot hier gebring het, is nog in jou, vind dit, en gebruik dit’.
Sy maak haar oë toe, sien oom Louis se glimlag, hoor sy stem, en sy kry beheer oor haar gevoelens. Sy weet die twyfel sal haar weer en weer oorval, maar sy het ʼn manier om dit teen te werk, sy moet oom Louis se vertroue in haar onthou, sy moet in haarself glo.
Met nuwe moed vra sy, “Moet dit treffers oor die afgelope paar jaar wees,” en tot haar verligting, “Nee, beide nommers kan uit enige era kom. Die dansnommer kan self gekomponeer wees, of ʼn paar musiekstukke wat saamgevoeg is behels. Een van die kriteriums wat gebruik word om die wenners aan te dui, is uniekheid, so ons het jou musiek ondervinding nodig Dokter.”
Sy sien die erns, sy weet sy wil haar alles gee vir hierdie jongmense. “Die sangnommer kan enige lied wees, dit moet ʼn groepsang en ʼn solo gedeelte deur een van die groeplede insluit.”
Zuluika voel verlig, ‘Dit kan sy sonder enige inspanning doen, eie musiek gekomponeer, en die ‘ander’ musiekstuk glo sy sal maklik wees, sy moet net die bladmusiek kry’.
Hulle wissel gedagtes, en Zuluika sien die onsekerheid, veral oor die dansnommer wat ʼn roetine moet wees wat nie elke dag op die televisie gewys word nie. Sy laat haar gedagtes gaan, en herroep die ‘gumboot’ dansers wat hulle verskeie jare by die Kersiefees in Ficksburg gesien optree het.
Sy noem dit, en daar is onmiddellik belangstelling. Hulle vra sy moet hulle meer vertel en sy deel die bietjie geskiedenis wat sy rondom die danse as kind gehoor het, en hulle stel werklik belang, “Die ‘gumboot’ dans, word uitgevoer met rubberstewels, soortgelyk aan die ‘stewels’ wat ons in die teater dra. In Suid Afrika, onder die mynwerkers, word die rubberstewels ‘gumboots’ genoem,” onwetend deel sy ʼn klein bietjie inligting oor haarself, en Mauritz hoor dit, en troetel dit.
“Die ‘gumboots’ het meestal klokkies aan wat met die stamp van die dansers se voete geluide maak. Na vertelling was die geluide ʼn kode wat die mynwerkers onder in die myne gebruik het om te kommunikeer.”
Die belangstelling loop oor in opregte entoesiasme, “Sal ons dit kan doen, kan Dokter vir ons ʼn dans komponeer en ons leer om te dans in vier weke?”
Sy dink ʼn oomblik, trek oë, “Ek kan, maar die viool, die klavier, of die hobo gaan nie die musiek maak wat ons benodig nie, ons soek ʼn slaginstrument soos ʼn drom.”
Dit is Mauritz wat tot hul redding kom, “Daar is musiekinstrumente in die kerk se stoor, ek glo daar sal ʼn drom wees, anders vra ons vir meneer Gauche die musiekonderwyser van die plaaslike junior primêre skool om ons uit te help.”
Die verligting op die gesigte laat haar glimlag, sy knik haar dank na Mauritz, en sy weet sy moet die konsert met dieselfde erns as die studente bejeën.
Hulle vra Mauritz om die ‘bestuurder’ van die groep te wees, en Zuluika wens werklik dat hy dit sal aanvaar, maar sy bly stil, “Ek het nie regtig die ondervinding nie,” lag hy verskonend, maar hulle pleit, “Dit is een van die reëls, elke groep moet ʼn bestuurder hê uit die gemeenskap.”
Hy sien Zuluika se grootoog lag, en hy swig onder die druk, hy wil graag by hulle betrokke wees. Hy wil ook nie die einde van die maand alleen agterbly nie, hy wil die konsert bywoon, hy wil naby haar wees, en die ‘bestuurder’ pos gee hom ʼn geleentheid om deel van haar dag te wees.
Sy vra glimlaggend, “As jy nou so verlig lyk.”
“Ek het so pas besef, ek kan raad en hulp vir my taak by Darrel Gauche kry, so ek gaan definitief die drom voorsiening en die ‘bestuurder’ rol op my neem.”
Hy sien die vreugde op die jong mans se gesigte, en hy kyk na Zuluika, en die vreugde is ook daar, en dit vind weerklank in sy gemoed.
Zuluika stel hulle gerus, “Ek sal onmiddellik aan die dansnommer begin werk, terwyl julle ʼn lied vir die sang solo moet kry.”
“Kan Dokter ʼn drom ook speel?” kom dit van Andrew, en sy knik instemmend, “Kan Dokter alle instrumente speel?”
Zuluika glimlag, “Meeste instrumente, maar nie almal perfek nie.”
“Kan Dokter enige lied net speel?”
“Ek ken baie van die klassieke musiek uit my kop, maar ek sal moet oefen. Indien ek die een wat julle kies nie ken nie, is ek seker, indien julle die bladmusiek van die internet kan aflaai, kan ek dit in die vier weke leer,” en sy knipoog vir hulle.
Hulle is verstom en onderneem om teen die Woensdagaand met ʼn paar voorstelle te kom.
Met die stap op na haar huis, gee Mauritz haar gemaak ʼn ligte stampie, “O, jy kan enige instrument speel, nê,” sy stamp hom speels terug, “Miskien.”
Hy lag en skud sy kop, Zuluika hoor dit, en dit laat haar aan Rudolph dink, en sy mis hom.
Die Dinsdagaand maak Mauritz vir hulle ʼn ligte maaltyd terwyl Zuluika aan die ‘gumboot’ dans werk. Sy weet dit gaan in totaal oor die slaginstrument se ritme, en vind dit maklik om baie vinnig ʼn vyf minute ritmiese stuk te komponeer.
Tot Mauritz se vermaak, gaan staan sy in die middel van die vertrek, en tot haar eie verbasing oor haar vrymoedigheid, begin sy die danspassies uitvoer terwyl sy ritmies teen haar langbroek met haar hande klap soos die dansers dit by die Kersiefees gedoen het.
Mauritz kyk na die pragtige mens, hy voel die verwondering oor haar en haar talent, en hy weet, sy is so ontsettend besonders.
Die Woensdagaand bring elkeen ʼn lied vir oorweging. Nie een van die keuses is nuwe verwerkings nie, en hulle verklaar trots hulle het op ‘google’ gesoek vir ouer treffers, en alhoewel hulle nie werklik die liedere of die musiek ken nie, het hulle na die liedere op ‘google’ geluister, en hulle hou daarvan.
Elkeen gee haar hul keuse, Jeremy gee ‘Climb Ev’ry Mountain’, Josh se keuse is ‘Here Comes the Sun’, Andrew wil ‘Mister Sandman’ hê, D’Artnel se nota lees ‘Let Me Call You Sweetheart’, en Craig hou van, ‘Come Fly with me’.
Zuluika is verbaas oor die keuses, maar verlig omdat al vyf die liedere musiek is wat sy ken en baie gou weer vlot sal kan speel.
Sy dui aan dat hulle op een, of hoogstens twee liedere moet besluit. Na baie berading tussen hulle, kom dit eerlik, “Ons kan nie besluit nie, kies Dokter een of twee vir ons.”
Zuluika weet sy wil nie die een wees om die keuse te maak nie, en na ʼn paar oomblikke se dink, sê sy glimlaggend, “Julle kan al vyf oefen indien julle die bladmusiek en die woorde kan kry, en julle moet natuurlik al vyf liedere se woorde ken. Ons sal hulle oefen, en later besluit watter lied ons sal gebruik.”
Met ʼn laaste glimlag, “Elkeen sal natuurlik ʼn solo gedeelte van sy gekose lied moet sing.”
Sy sien die twyfel, en wanneer sy opkyk is dit Mauritz wat net sy kop glimlaggend heen en weer skud, sy weet, hy weet, sy wil nie die keuse maak nie.
Hulle neem ʼn paar oomblikke en dit is Jeremy wat sy kop knik, “Dit is reg met my, ek sê ons doen dit, en in die laaste week besluit ons watter lied ons wil sing.” Die ander knik instemmend, maar dit is D’Artnel wat dadelik sê, “Dokter ek dink nie ek kan alleen sing nie.”
Sy sien die twyfel op die pragtige gesig, dieselfde twyfel wat sy so baie ondervind het, en sy vra gelykmatig, “Hoekom nie D’Artnel?”
“Ek glo nie ek het die selfvertroue nie.”
Zuluika wag een oomblik, “Sal jy probeer indien ek saam met jou sing?”
Sy hou sy oë vas met hare, en hy knik sy kop instemmend, “Dankie Dokter, ek sal probeer indien jy by my is.”
Sy steek haar hand uit, en wanneer sy D’Artnel se hand skud, vat vier ander hande, hulle hande vas, en Mauritz sien dit, en hy is verwonderd oor die rustigheid en positiwiteit wat hierdie mens bring.
“Het Dokter iets met die dans gedoen gekry?” vra Andrew.
“Ja, ek het so ʼn vyf minute roetine vir ons uitgewerk.”
Zuluika staan op en met ʼn ritmiese klap teen haar bene, voer sy die passies uit wat sy die vorige aand vir Mauritz gewys het. Daar is luide applous, en wanneer Zuluika opkyk, sien sy ʼn hele paar van die verpleegpersoneel en pasiënte wat glimlaggend hulle waardering wys. Sy lag en probeer haar verleentheid wegsteek.
Die volgende oomblik is die jongmans langs haar, sy sien die entoesiasme, en sy weet, sy moet haar vrees vir optrede in die publiek laat gaan, die jongmense sien op na haar, vertrou haar, en sy moet dit respekteer en waardeer.
Na dertig minute se oefen van dele van die passies, dui hulle aan hulle is reg om die passies in een sessie te probeer uitvoer. Hulle vra Zuluika om voor hulle te staan totdat hulle dit onder beheer het, sy stem in, en onder luide handeklap dans hulle ses amper foutloos al die passies in een sessie.
Zuluika voeg die ritmiese klap van haar hande teen haar bene by die eerste stel passies, en hulle volg haar voorbeeld. Na nog dertig minute se oefen dui Zuluika aan, dit is vir eers genoeg. Daar is onmiddellik luide protes van die gehoor, wat nou aangegroei het tot ongeveer twaalf persone.
Zuluika weet, hulle moet gaan rus, en met ʼn, “Sorg dat ek my bladmusiek môre kry, en julle moet een lied se woorde ken,” wuif sy hulle goeienag toe, en stap sy en Mauritz onder luide protes uit na buite.

In die oggend is Margret Grant daar vir haar ‘tee drink’. Zuluika doen ʼn volledige prosedure en die tekens is duidelik, die swangerskap gaan baie vroeër wees as die datum wat Margret gedeel het.
Sy bespreek haar diagnose volledig met Margret, en deel haar kommer, “Jy moet so gou as moontlik weer afgaan na jou geneesheer in Corvallis, en met hom my bevinding deel asseblief. Ek weet jy kan dit nie met Hugo bespreek nie, maar dit is vir jou en die kleingoed se lewens baie belangrik.”
Margret se oë skiet vol trane, “Zuluika ek weet nie wat om te doen nie, Hugo sal boos wees indien hy weet ek sien jou.”
Zuluika maak ʼn besluit en skakel Rhoda se nommer, sy vra of een van die kraamsusters aan diens is.
Rhoda bevestig, en Zuluika vra of sy haar sal vra om gou na haar spreekkamer te kom.
Wanneer Suster Enid Blaauw instap, sien Zuluika die verligting op Margret se gesig, en is sy verlig wanneer sy besef die twee vroue ken mekaar goed. “Enid, ek is so bly jy is hier,” en Margret vat die uitgestrekte hand vas.
Zuluika vra Enid om te sit en die drie vroue werk deur Zuluika se diagnose. Enid vra of sy na die hartklop van die fetusse kan luister, en Margret stap saam met hulle terug na die aangrensende kamer.
Wanneer Enid orent kom glimlag sy, “Jy is reg Zuluika, definitief veelvuldige fetusse.”
Zuluika knik, gooi die kombersie oor Margret, en sy deel haar kommer en haar plan om Margret te ondersteun.
Enid stem saam en onderneem om elke tweede dag sodra Hugo weg is saagmeule toe, ʼn draai by Margret te maak, om te verseker alles is reg, en aan Zuluika die status deur te gee.
Margret huil soos ʼn klein dogtertjie, en Zuluika en Enid kan net hulle koppe skud in verwondering oor Hugo se absolute onkunde.
Zuluika, Rhoda en Enid bespreek later in die dag die voorbereiding vir ingeval Margret nie die vol periode loop nie, en hulle dalk die bevalling in die hospitaal sal moet behartig. Al drie is dit eens, Margret loop gevaar om nie net die babas te verloor nie, maar ook haar eie lewe.
Met die instap in die eetsaal vir die oefensessie die aand, is Zuluika geensins verbaas om ʼn gehoor van ongeveer twintig persone by die tafeltjies te sien nie. Pasiënte, personeel en selfs lede van die gemeenskap wat naby die hospitaal woon, sit reeds met stomende koppies koffie en wag vir die oefeningsessie.
Die jong mans is reeds daar en Zuluika sien die opgewondenheid. Sy weet hulle ken reeds die eerste lied, ‘Climb Ev’ry Mountain’, Jeremy se keuse, want waar sy deur die dag naby een van hulle besig was, was hy besig om die lied te sing.
Mauritz sit glimlaggend by ʼn tafel en wink haar nader, “Ek het vir jou ʼn koppie koffie gekry om te drink voor julle begin.” Hy stoot die koppie oor die tafel na haar terwyl hy sy oë rol en gemaak ‘wow’ met sy mond vorm. Sy lag net en voel die geneentheid in haar na ʼn vriend soos hierdie man.
Mauritz buk en tel iets van onder die tafel op. Zuluika kan nie help om ʼn ligte gil van plesier te gee wanneer sy die Djembe drom sien nie, “Waar kry jy hom? Dit is absoluut perfek.”
Hy lag terwyl hy dit vir haar aangee, “Ek het Darrel gevra, en hy het dit vir my vanoggend gebring.”
Zuluika neem die Djembe en tik ritmies op die drom terwyl die gehoor spontaan hande klap. Sy weet die oefensessies elke aand is ʼn wonderlike belewenis vir almal, en is die begeerte in haar om dit ʼn ontspanne lekker tyd vir almal te maak wat dit elke aand bywoon. Sy weet ook, dit is die ‘oefenkans’ wat die Here haar gee, sy moet dit benut om haarself gereed te kry vir die aand se optrede voor ʼn gehoor, en vir die toekoms.
Sy sit die Djembe neer, druk Mauritz se hand een oomblik, drink haar koffie, en met ʼn, “Kom menere, laat ons begin,” stap sy na die middel van die vertrek
D’Artnel buk, tel iets op, en met ʼn glimlag op sy gesig gee hy vir Zuluika ʼn paar teater stewels aan. “Vanaand net eers die stewels, en moontlik van môre aand af die oorpakke ook Dokter.” Zuluika kan nie help om te lag nie, “Uitstekend, menere, uitstekend.”
“Nommer ses US grootte nê Dokter?”
“Ja, hoe het jy geweet?”
“Natuurlik gaan loer nadat Dokter vanoggend klaar geopereer het,” lag hy voldaan en almal skater dit uit van die lag.
Sy sit terug, trek haar skoene uit, en trek die stewels aan. Sy kyk na die jong mans, wat reeds in die middel van die oop ruimte wag, sy is nie verbaas om hulle reeds ‘gestewel’ te sien nie, sy weet hierdie konsert is hulle erns.
Sy vat die Djembe, knyp hom tussen haar knieë vas, en begin ritmies die dans roetine se musiek op die drom speel. ‘Die vyf’ kyk na haar en sy gee die Djembe vir Mauritz, en met ʼn, “Hou asseblief die ritme vir ons,” stap sy na hulle.
Mauritz sit een oomblik versteend, ‘Die klein twak’, dink hy, maar hy fokus, en wag vir haar om aan te dui wanneer hy moet begin met die begeleiding.
Sy gaan staan met haar rug voor hulle, wink vir Mauritz om te begin, val in met die danspassies, en begin die ritme ook met haar oop hande op haar stewels klap. Daar is een oomblik twyfel voor hulle haar voorbeeld volg.
Hulle voltooi die dans en die gehoor klap aanhoudend hande, terwyl hulle uitasem na mekaar kyk.
“Wel manne dit wil vir my voorkom of julle in drie dae die danspassies onder die knie het. Nou moet ons net die klap op die stewels vervolmaak en ook die spoed so effens verhoog. Verder wil ek die geluid van fluitjies bysit wat al vyf sal moet blaas gedurende die nommer.”
Sy hoor die geluid van ʼn fluitjie, en wanneer sy opkyk glimlag Mauritz en gooi die fluitjie in haar rigting, “Darrel se bydrae, nadat hy ‘ge-google’ het, hy sal môre nog vier fluitjies vir my gee.”
Wanneer sy in Mauritz se oë kyk, is die verwondering daar, dit is asof daar ʼn psigiese band tussen hulle is, en sy is verwonderd, ‘Wat het nou net tussen ons gebeur’.
Hulle dans die nommer twee keer deur met die fluitjie geluide toegevoeg, voor sy hulle stop en geleentheid gee om hulle asems terug te kry.
Zuluika kyk na die jong mans, en hulle sê gelyk, ‘Climb Ev’ry Mountain’ om mee te begin Dokter.”
Josh gee haar die bladmusiek, “Sal Dokter dit kan speel?”
Sy glimlag, “Kom ons kyk.”
Zuluika stap na die klavier, haal die kleed af, maak die Model ‘Z’ oop, en sit die bladmusiek op die flap. Sy gaan sit, voel een oomblik die vrees in haar, maak haar oë een oomblik toe, en Thobile se woorde is terug, ‘Haal diep asem, voel die opwelling van die energie in jou bors, voel die warm lug sensasie wanneer jy stadig die lug deur jou neus uitblaas, maak jou oë stadig oop, fokus en vertrou jou talent en jouself’.
Mauritz sien die kort huiwering, al wat deur sy gedagtes gaan, is, ‘Here wat ook al die vrees in haar bring, vat dit asseblief weg, maak haar weer heel’.
Zuluika laat haar vingers in ʼn oefenlopie oor die klawers gaan, wanneer sy die klank hoor, hoor sy Rudolph se stem, voel sy, sy meelewing en sy liefde, en op die oomblik is alles reg vir haar.
Met ʼn glimlag kyk sy om na die jongmans, wink hulle na haar met die swaai van haar kop, en sê laggend, “Kom menere, kom staan hier voor die klavier sodat ek julle in die oë kan kyk.”
Sodra hulle voor haar staan, sê sy, “Ek gaan die lied deurspeel, ook om my geleentheid te gee om dit te oefen, voor ons strofe vir strofe oefen.” Hulle knik hulle koppe, en Zuluika speel die eerste paar note, sy weet, sy kan dit doen, sy kan vir eers haar vrees om te faal laat gaan, sy ken die lied, en sy kan dit doen.
Zuluika lig haar hand in ʼn aanduiding vir die jong mans om te begin sing, na ʼn effense weifel styg Jeremy se stem helder en seker uit bo die ander vier, en gee dit hulle die nodige vertroue.
Zuluika maak haar oë vir een oomblik toe, onthou die lank gelede Vrydagaand toe die film, ‘The Sound of Music’, by die Ladysmith Hoërskool gebeeldsaai was, en oom Louis en oom Nate haar en Laurie geneem het, en sy verlang na die dae en die drie mense met ʼn fisiese pyn in haar.
Sy gee haarself oor aan die musiek, voel die warm heerlikheid wat musiek haar altyd laat voel het, en sy voel een met Rudolph se herinneringe en hierdie vyf jongmense by haar.
Die gehoor se applous is spontaan sodra die lied eindig, en ‘die vyf’ is skaam, maar trots.
“Pragtig menere, indien julle so aanhou gaan julle die gehoor absoluut oordonder.”
Dit is Craig wat haar intrek in die applous in, “Dokter jy is regtig ʼn baie goeie pianis, so sonder om te oefen en jy speel die lied foutloos.”
Sy lag en sê gemaak ernstig, “Hoe sal jy weet hoeveel foute ek gemaak het?”
“Ons weet jy het nie enige foute gemaak nie.”
Sy maak die klavier toe en daar is teleurstelling by almal, hulle protesteer weer soos die vorige aand, “Ag nee, nie nou al klaar nie.”
“Jip, ons moet môre uitgerus wees, ons het verskeie operasies op die lys, so manne laat ons gaan rus. Ons sal môre aand rus, en Saterdagmiddag so vyfuur begin met die oefening, indien dit stil is by die hospitaal.”
Almal klap hande en wanneer Mauritz oorstap na Zuluika om haar te help om die klavier se kleed terug te sit, kyk hy haar in die oë en hy skud sy kop stadig heen en weer, trek sy skouers effens verskonend op, en sê sag, “Wat kan ek sê, julle is verstommend, jy is verstommend,” en sy voel ʼn warme toegeneentheid tot hom.
Jeremy gaan haal die ander liedere se bladmusiek uit sy rugsak en gee dit vir haar, “Ingeval Dokter kans kry om te oefen voor Saterdag.” Hy buig gemaak galant wanneer hy dit vir haar gee, terwyl daar ʼn gelag en handeklap van die gehoor kom, en Zuluika maak of sy hom met die bladmusiek wil slaan, en hy duik dramaties weg.
Mauritz kyk na haar, hy weet, ‘Sy is enig’, hy voel ʼn beklemming in hom, ‘kan ons haar ooit laat gaan?’ en die pyn wat hy voel by die gedagte dat sy weg sal gaan verwonder hom.
Vir die volgende twee weke volg hulle dae dieselfde patroon, werk, konsert oefen met ʼn groeiende gehoor, wat meer en meer musiek wil hoor, en hulle nie wil laat gaan nie, en sy wat vasgroei aan hierdie wonderlike vriend wat haar in alles bystaan.
Dit is die Woensdagaand wanneer dit D’Artnel se beurt is om sy solo te sing, “Ek gaan die lied eenkeer deurspeel, voor ek en D’Artnel die lied eers alleen sal sing, is dit reg met julle?”
Hulle knik instemmend en met die wink van haar kop, “D’Artnel kom staan hier voor die klavier, neem ʼn diep asemteug, voel die warm lug wanneer jy dit uitblaas deur jou neus, kyk na my gesig, dink aan niks anders nie.”
Sy speel die lied se eerste paar note voor sy en D’Artnel saam sing asof hulle dit al soveel keer voorheen gedoen het. Wanneer die woorde deur die saal weerklink is dit asof die gehoor hul asems ophou.
Let me call you sweetheart
I’m in love with you
Let me hear you whisper
That you love me too
Keep the love light glowing
In your eyes so true
Let me call you sweetheart
I’m in love with you
Keep the love light glowing
In your eyes so true
Let me call you sweetheart
I’m in love with you.

Zuluika is oorstelp met die absolute prag van die bariton stem wat eers onsekerheid dra, voor D’Artnel uit volle bors met krag van iewers, sing.
Die laaste, ‘I’m in love with you’, bring die gehoor op hulle voete, al wat Zuluika sien, is D’Artnel se gesig, die bleekheid wat stadig verdwyn, die trots, die glimlag om die oë, die kreet van vreugde, en dit maak alles die moeite werd vir haar.
Hulle moet besluit op ʼn naam vir die groep en dit deurgee vir die universiteit om die program te druk. Na vele name is dit Mauritz wat voorstel die naam moet iets van hulle werk in die hospitaal oordra.
Selfs die gehoor maak voorstelle, en met ʼn gemaakte saamvou van sy hande teen sy hart, kom dit van Craig, ’Passion at Work’, en dit word onmiddellike aanvaar deur die groep en die gehoor.
Jeremy onderneem om die naam deur te gee, en skielik is hulle werklik ‘Passion at Work’.
In die twee weke oefen hulle al vyf liedere, D’Artnel kry nie net die krag om alleen te sing nie, maar ontpop in ʼn perfekte solis.
‘Die vyf’ worstel met ʼn keuse oor die lied wat hulle wil sing, smeek die gehoor vir ʼn beslissing, maar almal weier, ‘sing alles’, kom dit in ʼn koor van die gehoor.
Na berading tussen die groep en Mauritz, kom hulle ooreen met die gehoor, hulle gaan die Saterdag voor hulle Corvallis toe vertrek ʼn konsert aanbied. Die gehoor se applous sal die wen nommer aandui, en almal aanvaar dit met ʼn handeklap.
Werner is egter beslis, “Indien Saterdag ʼn konsert is, moet daar meer as net die ses items wees, waarom speel jy en Mauritz nie ook een of twee liedere nie?”
Zuluika draai om en kyk Mauritz vraend aan, “En dit, hoe weet ek niks van jou talent nie meneer?”
Hy lag, en sy sien die effense knip van sy pragtige blou oë wanneer hy net sy kop heen en weer skud.
Zuluika maak ʼn besluit, “Goed ek en Mauritz sal twee of drie liedere opvoer,” en sy lag wanneer sy sien hoe hy sy oë in die rondte rol.
Rhoda en haar familie saam met verskeie van die personeel kom woon elke oefenaand by, nuttig ʼn aandete in die eetsaal, en luister na die verstommende musiek wat die ses mense maak.
Sy sien Mauritz in sy meeleef, sy gehegtheid aan Zuluika, en sy aan hom, en sy voel die seer vir hulle diep in haar, hiervan gaan net hartseer kom weet sy. Zuluika wat soos ʼn karakter uit ʼn sprokie in hulle lewens ingestap het, en wat oor ʼn bietjie meer as ʼn maand weer so sal verdwyn, en Mauritz wat vasgevang is in sy opregte edelheid, die edelheid wat hom nooit sy trou teenoor sy Maxi sal laat breek nie, al vat dit al sy lewensvreugde weg.
Wanneer hulle saans na die konsertoefening saam terugstap na haar huis, deel hulle gedagtes oor die konsert en die jongmans se passie. Hulle maak aandete saam wanneer hulle nie by die restaurant geëet het nie, eet saam, en kuier saam in haar voorkamer voor die kaggelvuur. Sy dring daarop aan om te hoor van sy musiektalent, en hy erken skaam ‘ek kan so effens klavier speel’.
Hulle besluit om van die volgende aand af, na die offisiële oefening verby is, saam te oefen, hy met die klavier en sy met haar viool.
Hul samesyn word iets wat albei koester, albei weet, daar het ʼn vriendskap in die weke wat verby is tussen hulle ontstaan, ʼn vriendskap wat vir albei kosbaar is.
Zuluika kyk na die pragtige mens, onthou hoe pragtig Rudolph vir haar was, en dink aan die liefde wat sy verloor het, en die pyn druk haar vas wanneer sy besef, sy gaan hierdie pragtige mens se teenwoordigheid geweldig mis.
Sy oefen die musiekstukke saans, hy luister na die musiek wat sy maak met die viool en die hobo, en dit wil hom tot trane dryf, maar hy hou sy oë toe, sit met sy kop agteroor teen die stoel, adem elke noot in, en vrees die dag wanneer sy weg sal gaan, en hy hierdie nuwe gewaarwording nooit weer gaan beleef nie.
Hulle klou vas aan die ure saam, Zuluika bêre die herinneringe diep weg, sy weet dit is wat sy saam met haar terug na die Suide sal neem, sy voel ʼn heimwee na hierdie pragmens, en sy weet waarom.
Zuluika maak haar oë een oomblik toe, ‘Dankie Heer vir ʼn vriend soos die’, gaan dit deur haar gedagtes, en die herinnering van Rudolph se nabyheid hier by hulle, is in haar.
Terwyl sy Mauritz dophou wanneer hy opstap na sy huis, staan sy verwonderd voor haarself en voor haar God, ‘Here kan ek weer so heel wees, dat iemand my weer eendag volkome lief sal hê, dat ek lief kan hê?’
Zuluika gaan in haar binnekamer, kniel langs haar bed, en met trane wat uit haar siel loop praat sy met haar God, die God waarvoor sy weggekruip het van die dag toe sy die twee jongmans doodgeskiet het.
Sy smeek om vergifnis, sy sê dankie vir Sy genade, Sy liefde, en vir die seëninge wat haar nou onderskraag in haar nuwe hede. Sy sê dankie vir haar talent, vir Rudolph se talent, vir al die liefde wat haar verder moet dra, en vir Mauritz se vriendskap.
Haar hartseer woed uit, en in haar is daar ʼn diepe dankbaarheid vir die vriendskap, weet sy, Rudolph sou wou hê sy moet weer vriende hê, weer eendag lief sal kan hê, en sy kom tot rus.
Met die instap die Saterdagmiddag vir die ‘beslissings’ konsert, besef Zuluika hierdie groep het ʼn gemeenskap saamgesnoer.
Meer as vyftig mense is reeds in die saal, en sy sien ‘die vyf’ aangetrek in hul oorpakke en stewels met die klokkies wat Werner van sy huis gebring het, klingend soos hul rondtrap van opgewondenheid in die middel van die eetsaal.
Mauritz, Werner en Darryl Gauche staan by die jong mans, en hulle lyk heel ingenome met die opkoms vir die konsert.
Sy sluit by hulle aan, en Darryl Gauche sê laggend, “Ek glo die geleentheid is ʼn uitstekende vuurdoop vir julle groep, ons is regtig trots op julle.”
Zuluika lag net, en kyk na die jong mans, “Is julle reg menere? Dit wil my voorkom of daar groot verwagting van ons gehoor is.”
Hulle buig ewe galant, en voer onder luide handeklap in gelid, ʼn paar danspassies uit, Zuluika besef hulle het hul eie uniekheid bygevoeg, en sy is trots op hulle.
Mauritz vra Darryl om die konsert te open terwyl hy en Zuluika, en ‘die vyf’ gereed sal maak.
Darryl spring ewe rats op, en met swaaiende arms, kry hy die gehoor stil. Hy herhaal die rede vir die konsert, en herinner gemaak ernstig die gehoor aan hulle plig om die wen nommer te kies. Sy aankondiging van Zuluika en Mauritz se uitvoering bring ʼn nuwe handeklap van die gehoor.
Daar is ʼn stilswye wanneer Zuluika haar plek langs Mauritz inneem vir hulle eerste lied, albei voel ʼn warm gelukkige gevoel, en vir nou is dit genoeg vir hulle.
Die musiek kom lê in albei, hulle voel ʼn ongelooflike plesier in die ‘saamwees’ met mekaar, die wonderlike gevoel van ‘behoort’. Mauritz stap onder luide applous terug na sy sitplek en buig gemaak vir die gehoor.
Mauritz kyk na die gehoor se reaksie terwyl die pragtige stemme suiwer deur die saal vloei, hy besef weer die verskil wat Zuluika aan almal se lewens kom maak het, hy kyk na haar, voel die skok deur hom gaan, weer die gedagte weg, maar hy weet, iets het met hom gebeur, iets kosbaars.
Die gehoor stem vir beide ‘Climb E’vry Mountain’ en ‘Can I call you Sweetheart’, en dwing die groep om beide liedere nog een keer te sing, waarna ‘Can I call you Sweetheart’ die wen besluit is, en die groep aanvaar dit so.
Hulle drink koffie, eet van die gebak wat die hoof van die restaurant as ʼn geskenk vir ‘die vyf’ gemaak het, en gesels tot amper tienuur voor Zuluika in ʼn gemaakte kwaai stem hulle bed toe jaag.
Hulle loop onwillig, sy sien hulle is gedaan, maar gelukkig wanneer hulle weer die gemaakte buiging, en paar danspassies vir die gehoor uitvoer, en sy voel ʼn vreugde wat sy geglo het sy lankal verloor het, terug in haar.
Met die stap oor die sneeubelaaide gras, hak Mauritz sy arm deur hare, en hulle stap ingehaak tot voor haar deur. Met ʼn druk van haar arm, en ʼn “Lekker slaap,” spring hy van die stoep af en is reeds ʼn paar treë weg voor sy tot haarself kom. Mauritz dwing homself om weg te stap, hy weet, indien hy vanaand deur haar deur stap, gaan hy ʼn baie groot fout maak.
Sy draai om en kyk na hom, en hy draai om, staan een oomblik stil, skud sy kop liggies, en stap aan na sy huis. Zuluika weet sy het op die punt gekom waar sy wil hardloop, weg van die gevoel in haar, weg van die wonderlike mens wat met afsku na haar sal kyk indien hy weet wat sy gedoen het.

Met die inpak, die vyfde vir die afgaan na Corvallis vir die konsert, besef Zuluika die grootste gedeelte van haar verblyf hier is verby.
Sy voel ʼn hartseer, maar ʼn verwondering oor wat die tyd, die plek, en die wonderlike mense vir haar gebring het, ʼn vasgroei aan hulle wat haar dag vol maak, ʼn lus vir die lewe, ʼn genesing van haar gekneusde gemoed, maar veral ʼn oorwin van haar vrees vir die vry wêreld.
Sy maak haar oë toe, herroep haar vrees vir die wêreld die dag voor die gevangenis, en hier waar sy nou is, sy weet die Here self het haar die geleentheid hier in die wit wêreld gegee om weer mens te word, en sy het, en Mauritz se blou oë is by haar.
Soos elke oggend stap sy uit op die stoep, kyk op na waar Mauritz se huis anderkant die wit veld staan, die een wete waaroor sy nie meer vir haarself kan lieg nie, is in haar, haar gevoel vir hom, en haar oë soek na hom, voel die warmte in haar sodra sy deur oopgaan en hy oor die gras na haar aankom. Zuluika het vrede gemaak, sy weet sy is in die moeilikheid, die vriendskapsgevoel in haar het verander. Sy weier om ʼn naam aan die gevoel te koppel, sy weet dit gaan verdriet vir haar bring.
Sy onderdruk die hartseer, weet sy kan nooit toelaat dat Mauritz agterkom hoe sy voel nie, maar sy weet, dit is die geleentheid wat God haar gee om weer te kan voel, weer te kan leef, weer moontlik eendag ʼn maat te kan liefhê, al sal dit nooit Mauritz wees nie.
Mauritz sien haar uitstap vanwaar hy agter die gordyne in sy voorkamer wag, en sy gemoed kom tot rus, ‘sy is steeds hier’, en sy hart breek, ‘Here wat sal ek doen die dag wanneer sy nie meer oor die gras stap nie?’
Die groet, die kyk in die pragtige onmaats oë, die sien van die glimlag op haar gesig wanneer sy opkyk in sy oë, lig sy gemoed, en sy dag begin.
Hy wag vir die klank van haar stem, die skalkse laggie, die glimlag, en Mauritz Melville weet hy is verlief, nee, hy het vrede gemaak, hy lieg nie meer vir homself nie, hy het liefgekry. Vir die eerste keer is daar ʼn lamheid in sy lende wanneer hy naby iemand is, naby haar is, en hy is verwonderd daaroor. Hy weet hy moet eerlik wees met die een aan wie hy trou beloof het, die kindermaatjie wat almal, en hy, geglo het sy ander helfte is, hy weet net nie hoe nie.
Hy neem die viooltas by haar en knyp dit onder sy arm vas, “Ons moet seker maak D’Artnel het die Djembe onthou,” herinner hy haar, net om iets te sê om die verwarring in hom hok te slaan, en sy knik haar kop en glimlag vir hom.
Almal wag by die opklimpunt by die hospitaal, dieselfde roetine volg, die vele lysies en geld vir aankoop van benodigdhede. Sy besef daar is soveel meer persone vandag wat kom groet, hulle sukses kom toewens met die konsert, beloof om duim vas te hou. Zuluika weet hoe belangrik die affiliasie met die universiteit vir die hospitaal is, en sy beloof hulle sal hul uiterste bes doen vir almal.
Zuluika sien Margret wuif, en sy stap na haar, Margret gee haar vinnig ʼn koevert, “Lees sodra jy alleen is en doen my die guns asseblief,” en Zuluika neem dit, glo dit is moontlik ʼn lysie wat aangekoop moet word.
Zuluika sien en hoor die erns, “Ek beloof, wat dit is, sal ek vir jou doen.”
Die twee vroue se hande verstrengel vir een oomblik, en die wete dat Zuluika sal doen wat sy vra, laat die trane oor Margret se wange rol.
Gewillige hande neem haar bagasie en sit dit in die groot viertrek bus. Dit is weer Josh Grube wat ewe galant voor Zuluika buig, “Dokter kan weer voor by my kom sit indien Dokter lus is.”
Mauritz draai vinnig om en dit kom glimlaggend maar beslis, “Slegs indien ek, die groepsbestuurder, ook voor kan sit, ek kan nie een van my groep lede alleen laat nie.”
Josh lag gemaak hartseer, “Ek is bevrees Dokter, jy moet maar langs ons predikant agter sit.”
Zuluika kyk op na Mauritz en dit wat sy in sy oë sien vat aan haar hart, “Ja ek is bevrees, dit is soos ons bestuurder sê, ons groep moet bymekaar wees.”
Mauritz draai om en vat Zuluika onder die arms en lig haar op die eerste trappie van die voertuig, sy lag gemaak met beswaar in haar stem om die fladdering in haar te stil, “Dink jy ek kan nie self in die voertuig kom nie.”
Onder die luide handeklap van die ander insittendes lag Mauritz dit weg, stuur haar in die gang af na die eerste sitplek waar twee sitplekke langs mekaar oop is, en met ʼn sagte maar besliste beweging stuur hy haar die sitplek in.
Wanneer Zuluika sit, neem hy die hobo by haar en sit die hobo en viooltasse versigtig onder die sitplekke neer. Hy neem die sitplek langs haar, en sê gemaak streng, “Jou populariteit gaan my nog klaar maak Dokter, hoe pas ek jou op, en beskerm jou teen al die wolwe?”
Sy glimlag en sê, “Dankie meneer die bestuurder,” en kyk vinnig deur die venster om te verhoed dat hy sien wat op die oomblik in haar gemoed aangaan.
Die rit verloop onder die lekkerste van lekker omstandighede. Die passasiers dwing ‘die vyf’ om die vyf liedere te sing terwyl Zuluika met handgebare as dirigent optree.
Sodra hulle die buitewyke van Corvallis inry, sê Mauritz, “Onthou jy slaap nie by die universiteit nie, jy, ek en Werner wat môre afkom, is in die gastehuis bespreek.”
Zuluika kyk vinnig op, en wanneer hy die vrae in haar oë sien, kom dit sag, “Hierdie naweek gaan ʼn malhuis op die kampus wees en jy sal moet rus na al die aktiwiteite.”
Sy kyk hom een oomblik stil aan, “Dankie vir jou ondersteuning, weet net, ek het dit nodig, en ek waardeer dit.” Zuluika dwing haarself uit die oomblik, ‘Dit is vriendskap Zuluika, net die ondersteuning van ʼn ware vriend, niks dieper nie’.
Die passasiers begin opstaan, kry hulle handbagasie bymekaar, en hulle kyk na mekaar, hou die oomblik vir ʼn wyle langer, en staan gelyk op om aan die beweeg te kom.
Met die stilhou en aflaai van die studente by die universiteit se ingang is Bernhardt daar om te groet. Hulle kom ooreen om die volgende oggend om nege uur by sy kantoor te ontmoet vir terugvoer oor die jong mans se vordering, en Zuluika weet, Werner of Mauritz, het hom laat weet sy oornag nie by die universiteit nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed