Seun in die park
Seun in die Park
Op ‘n bankie sit hy op sy eie, staar met twyfel in sy vuil gesig.
Ek vra:
“Wat makeer?”
Hy sê:
“Waarom moet kinders by grootmense leer?”
Met min woorde probeer ek my beste gee.
Hy kyk na my asof my kop nou raas.
“Ek het al geval, my voortande uit, heeltemal. Daar net om die draai.
Dit was seer. Ek het gehuil. My maatjie het my opgetel.
Ek moes dink wat ek vir Ma gaan vertel.
Grootmense sê hulle het geval. Geen skraap of merk waarmee hulle kan spog.
Pa sê dit is ‘n lewensval. Die merke lê in die hart.
Ek verstaan dit nie. Waarom kan julle nie ook spog oor die val nie?
As dit myne is, ‘n spoegie smeer help elke keer.
Julle bly net kwaad. Wat het ek gemaak?
Kos en klere is daar elke dag. Speelgoed lê oral in my kas.
Ek wens grootmense wou by kinders leer.
Elke val maak jou sterk. Alles sal aan die einde goed uitwerk.”
© Ryno du Plessis, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.