Jongste aktiwiteit:

Padkos vir die hart

Padkos vir die hart

Tema: Wat stories aan mense doen. (Woordtelling: 1 343)

Daar is iets aan die langpad. Dit maak mens rustig.

Na die eerste honderd kilometer dink jy nog jy gaan fluks deurdruk. Teen die derde honderd kilometer begin die koffiefles belangriker lyk as die landskap en wonder jy hoekom elke padteken skielik belowe dat die volgende dorp “net” nog sestig kilometer is.

Dit is dan wanneer ’n mens begin uitsien na eenvoudige dinge.

’n Vulstasie. ’n Toilet wat werk. Iets koud om te drink. ’n Toebroodjie wat nie heeltemal deur die plastiek platgedruk is nie.

Dalk is dit waarom Dana Snyman se woorde my so getref het:

“Stories is soos brood vir die hart. ’n Mens het stories nodig soos jy water nodig het.”

Hy kon sy stories met enigiets vergelyk het. Met musiek. Met lig. Met vlerke. Met vuur.

Maar hy kies “brood en water”.

Die twee dinge wat niemand hoef te versier om hul waarde te bewys nie.

Daardie eenvoud sê vir my baie van Dana Snyman as skrywer. Sy stories kom nie met ’n silwer skinkbord opgedis nie. Hulle sit eerder langs jou in ’n motor, stof op die skoene, ’n kreukel in die hemp en genoeg tyd om te gesels.

En voor jy jou kom kry, ry jy saam.

Ek dink dit is wat my die meeste van hom beïndruk: hy neem my na plekke waarheen ek waarskynlik nooit doelbewus sou gaan nie en stel my voor aan mense by wie ek miskien nie vanself sou gaan sit nie.

Nie omdat hulle beroemd is nie.

Juis omdat hulle nie is nie.

By Dana is die land nie net ’n kaart met provinsies en hoofpaaie nie. Dit is gewone mense. Mense wat werk. Mense wat sukkel. Mense wat planne maak. Mense wat die verlede anders onthou. Mense wat bang is vir die toekoms. Mense wat lag wanneer daar eintlik min rede is om te lag.

En dit doen iets aan my as leser.

Ek begin ’n reis saam met een stel menings en klim dikwels aan die einde ’n bietjie minder seker van myself uit.

Dit is waarvan ek so baie hou.

Ons leef in ’n tyd waarin sekerheid goedkoop geword het. Almal weet presies wat met die land verkeerd is. Almal weet presies wie die skuld moet kry. Gee iemand vyf minute en ’n internetverbinding en hy kan die ekonomie, onderwys, misdaad, rugby en beurtkrag sommer in een asem kom regmaak.

Dana se stories doen die teenoorgestelde.

Hulle maak dinge nie altyd eenvoudiger nie.

Hulle maak mense ingewikkelder.

En mense ís ingewikkeld.

’n Mens kan terselfdertyd goed en ’n bietjie selfsugtig wees. Snaaks en ook bietjie hartseer. Dapper en dalk diep binne ook bang. Jy kan na gister verlang en tog weet dat gister ook dinge gehad het wat nooit moes voortbestaan nie. Jy kan lief wees vir ’n land en terselfdertyd moedeloos daaroor voel.

Dana laat ruimte vir daardie teenstrydighede.

Dit is vir my ’n vorm van respek.

Hy druk nie elke mens in ’n netjiese boks en plak ’n etiket op die deksel nie. Hy laat die deksel oop.

Sy manier van kyk het my beïnvloed.

Ek het begin besef hoe maklik ’n mens ander mense klaar lees voordat jy ooit die eerste bladsy oopgemaak het.

Ons doen dit oral.

In ’n ry by ’n winkel. By ’n grenspos. In ’n restaurant. Veral op sosiale media. In ’n gesprek waar iemand een sin sê waarvan ons nie hou nie.

Ons besluit.

Daardie een is só.

Hierdie een is dát.

En klaar.

Maar ’n storie kan ’n mens se sekerheid lelik kom omkrap.

Wanneer jy lank genoeg saam met iemand se wêreld beweeg, begin die eenvoudige antwoord skeef sit. Jy hoef nie met hom saam te stem nie. Jy hoef nie sy keuses goed te praat nie. Maar jy sien meer as wat jy aanvanklik gesien het.

Vir my is dit waar Dana se “brood en water” inkom.

’n Mens het kos nodig om liggaamlik aan die gang te bly. Maar wat hou ’n mens se menslikheid aan die gang?

Dalk juis die vermoë om nog nuuskierig oor iemand anders te wees.

Om nie so vol van jou eie antwoord te raak dat daar geen plek vir iemand anders se ervaring oorbly nie.

Stories voed daardie deel van ’n mens.

Nie omdat elke storie ’n les met ’n mooi strikkie om moet hê nie. Ek vertrou enige storie minder sodra ek die gevoel kry iemand gaan nou vir my verduidelik wat ek daaruit “moet leer”.

Dana preek selde vir my.

Hy wys.

Hy stap ’n ent saam.

Hy laat ander praat.

Hy laat ’n stilte staan waar ’n stilte hoort.

En dan los hy my met die ongemaklike werk om self te dink.

Dis ’n gawe wat ek bewonder.

Nog iets wat my by hom tref, is sy humor.

Nie daardie soort humor wat ’n mens soos ’n piesangskil onder iemand se voet gooi en dan wag dat hy val nie. Dana se humor herinner my eerder daaraan dat die mensdom snaaks is sonder om enige hulp daarmee nodig te hê.

Ons probeer so hard om aanvaarbaar en waardig te lyk.

Intussen vergeet ons name, vat verkeerde afdraaipaaie, sê die verkeerde ding op presies die verkeerde oomblik en maak planne wat reeds by stap twee begin skeefloop.

Daar is troos daarin.

As ’n mens oor jouself kan glimlag, word die wêreld sommer ’n bietjie minder styf om die kraag.

Dana kry dit reg om humor en deernis langs mekaar te laat sit sonder dat die een die ander wegstoot. Ek kan lag en tog aan die einde besef daar was iets ernstigs onder die lag.

Dit is seker ook ’n soort brood vir die hart.

Nie alles wat voed, hoef swaar te wees nie.

Soms is ’n lag presies genoeg om ’n mens weer asem te laat skep.

Maar dit is die tweede deel van sy gedagte wat my telkens terugtrek: ’n mens hét stories nodig.

Nie net vir vermaak nie.

Nodig.

Ek het lank oor daardie woord gedink.

Het ons regtig stories nodig?

Ons kan tog leef sonder romans, rubrieke, reisverhale en vertellings. Die son sal steeds opkom. Die krane sal steeds loop, hopelik. Die belastingman sal jou beslis steeds vind.

Maar bestaan is nie dieselfde as betekenisvol leef nie.

’n Mens kan ’n hele dag tussen ander mense deurbeweeg sonder om een van hulle werklik raak te sien. Jy kan nuus lees totdat jou kop vol feite is en tog niks verstaan van hoe dit voel om die mens binne daardie berig te wees nie.

Stories skuif ’n mens nader aan mekaar.

Dít is die invloed wat Dana Snyman se werk op my het.

Hy maak my nie lus om hom na te boots nie. Ek wil nie Dana se stem leen of sy paaie probeer oorry nie.

Hy laat my eerder vra wat ek met my eie menslikheid doen.

Hoe vinnig oordeel ek?

Hoe maklik kyk ek weg?

Hoe dikwels verkies ek ’n eenvoudige antwoord bo ’n ingewikkelde mens?

En is daar nog genoeg sagtheid in my om my mening vir vyf minute opsy te skuif en net te hoor hoe die wêreld van iemand anders se kant af lyk?

Dit is groot vrae vir ’n man wat sy beeld by “brood en water” gaan haal het.

Maar miskien is dit juis die punt.

Die belangrikste dinge in ’n mens se lewe kom nie altyd met fanfare nie.

Party staan sommer op die tafel.

Dana Snyman se stories het my geleer dat menslikheid dikwels begin waar sekerheid ophou.

Waar ek nie meer sê: Ek weet presies wie jy is nie.

Waar ek eerder wonder: Wat weet ek nog nie?

Daarom bly sy aanhaling by my.

‘Brood vir die hart.’

Water vir ons menslikheid, wat maklik verdroog wanneer ons ophou om die mens in mekaar raak te sien.

En dalk is dit waarom ek ná ’n Dana Snyman-storie soms voel asof ek van ’n lang reis terugkom.

Die wêreld lyk nog dieselfde.

Die padtekens langs ons lewenspaaie staan nog waar hulle altyd gestaan het.

Maar ek kyk anders na die mense wat saam met my reis.

©MarleneErasmus
01/09/2026

Voetnota:
“Stories is soos brood vir die hart. ’n Mens het stories nodig soos jy water nodig het.” – Dana Snyman, aangehaal in Die Burger, 4 Mei 2007.

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed