Hierdie jaar is anders
Hierdie jaar is anders
Vandag wil ek graag ’n kort oorsig gee oor nuwejaarsvoornemens (en hoekom ons steeds in daardie strik trap).
Elke jaar, omtrent tussen die laaste stukkie koue gebraaide ham en die eerste “Ag nee, dit is alweer ’n nuwe jaar”, gebeur daar iets uiters merkwaardig in my binneste! Ek dink daar is baie mense wat hulself kan vereenselwig hiermee. Ek sluk nog so aan daardie laaste happie en vee skaars die krummels van my mond af, dan verklaar ek vir myself: “Hierdie jaar is anders.”
Hierdie is ’n geveg wat al oor jare kom. Daar word nuwejaarsvoornemens gemaak en dan hang dit amper soos ’n swaard oor jou kop!
Die waarheid is: nuwejaarsvoornemens is nie net ’n moderne verskynsel nie. Dit is nie uitgedink deur motiveringsprekers of selfhelp-boeke nie. Nee, hierdie tradisie is regtig ouer as die berge self.
Reeds meer as 4 000 jaar gelede, in die ou antieke Babilon, het mense by die begin van die nuwe jaar voor hul gode gaan staan en belowe om beter te wees. Hulle sou hul skuld terugbetaal, geleende donkies teruggee en hul lewe agtermekaar kry. Dit lui dat die gode baie ‘streng’ was, en ’n gebreekte belofte het baie erge rampspoed beteken.
Die donkies het egter, volgens oorlewering, dikwels nog ’n rukkie gebly.
Toe kom die Romeine, wat besluit het om die nuwe jaar amptelik in Januarie te laat begin — vernoem na Janus, die god met twee gesigte. Een kyk terug na die verlede, die ander vorentoe na die toekoms. Dit verteenwoordig sy rol as bewaker van begin en einde, of die verlede en die toekoms. ’n Baie gepaste simbool vir iemand wat op 31 Desember terugkyk en sê: Volgende jaar drink ek minder wyn.
Janus het waarskynlik net gesug en sy volgende sluk wyn geniet!
In die Middeleeue het Christene die gebruik verder verfyn. Die fokus het geskuif van openbare beloftes na innerlike ondersoek. Mense het hul sondes oorweeg, berou getoon en belowe om te verbeter. Dit was nou wel ernstiger en stiller — maar nie noodwendig meer suksesvol nie.
Want die mens, soos dit blyk, het nog altyd ’n indrukwekkende vermoë gehad om homself te oorskat.
Vandag maak ons steeds nuwejaarsvoornemens, maar die gode het verander. Ons offer nou aan die altaar van gesondheid, produktiwiteit en selfverbetering. In die nuwe jaar wil ons vroeër opstaan, meer water drink, minder suiker eet, meer oefen, minder skermtyd hê en ’n beter weergawe van onsself word — alles gelyktydig, verkieslik teen 15 Januarie!
Ons maak lyste. Ons maak visualiseringsborde. Ons laai self die nuutste ‘toeps’ af. Ons koop nuwe dagboeke met inspirerende aanhalings. En altyd, iewers in die klein fyn drukwerk van ons beloftes, skuil daardie heilige uitstel: Vanaf Maandag.
Maandag is die mees mitiese dag waarop alle voornemens werklik kan begin. Dit is die dag wat nooit vandag is nie, maar altyd net-net binne bereik bly. Maandag is waar hoop veilig staan en wag.
En tog, ten spyte van eeue se mislukte pogings, hou ons aan. Elke jaar, sonder uitsondering.
Dit is dalk die interessantste deel van die hele storie: nie dat ons ons voornemens breek nie, maar dat ons steeds nuwe maak. Dat ons, teen alle historiese bewyse in, glo dat ’n nuwe kalenderbladsy iets in ons kan skuif.
Miskien is nuwejaarsvoornemens nie bewys van swak dissipline nie, maar van iets veel dieper: hardkoppige hoop. Die oortuiging dat verandering moontlik is, al was dit nog nie vantevore nie.
So wanneer iemand vanjaar weer sê: Hierdie jaar is anders, glimlag gerus. Dalk giggel jy saam met my in my mou! Dit is nie ’n leuen nie. Dit is ’n oeroue menslike gebaar — een wat al vir eeue saam met ons die Nuwejaar instap.
En wie weet?
Miskien is dit hierdie jaar anders …
©MarleneErasmus
31/12/2025
(625 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek