Die laaste koevert
Die laaste koevert
Die eerste ding wat Lien Meiring van Rooidam geleer het, was dat ’n mens in ’n klein dorp nie as nuut aankom nie.
Jy word opgemerk.
Die vrou agter die toonbank van die kafee het opgehou om ’n brood in ’n bruinpapiersak te druk toe Lien instap.
“O, jy is seker die nuwe een?”
Lien het haar beursie oopgemaak. “As daar net een is, ja.”
Die vrou se mond het effens getrek.
“Meiring?”
“Ja.”
“Van waar af?”
“Kaapstad.”
Dit het die twee vroue by die koelkas laat omkyk.
Lien het haar kleingeld op die toonbank neergesit.
“Is daar iets fout met Kaapstad?”
“Nee wat.” Die vrou het die brood na haar toe gestoot. “Ons vra maar net.”
Teen die einde van haar eerste week het Lien geleer dat “ons vra maar net” op Rooidam enigiets kon beteken.
Wie is jy?
Waarom is jy hier?
Vir wie vlug jy?
En, belangriker, hoe lank gaan jy hier bly?
Sy het aanvanklik probeer.
By die kerkbasaar het sy koek gekoop wat sy nie wou eet nie. Sy het by die tuinbouklub aangesluit al kon sy skaars’n petunia van ’n madeliefie onderskei. Sy het drie Woensdae agtermekaar by die biblioteek se boekklub opgedaag.
By die vierde vergadering het sy op die stoep bly staan toe sy haar naam deur die oop venster hoor.
“Sy is baie stil.”
“Stil mense steek gewoonlik iets weg.”
“Mens weet mos nie hoekom sy hier beland het nie.”
Lien se vingers het stywer om die koekblik in haar hand gevou.
Iemand het gelag.
“Dalk het Kaapstad haar uitgespoeg.”
Sy het die koekblik op die stoepbank neergesit en huis toe gestap.
Die volgende oggend het sy haar lidmaatskap gaan kanselleer.
Teen die derde maand het Rooidam kleiner begin voel as haar tweeslaapkamerhuisie.
Sy het werk gekry by Van Zyl Rekenmeesters waar sy fakture ingetik en telefone beantwoord het. Haar kollegas was baie beleefd. Beleefdheid, het Lien ontdek, kon yskoud wees.
Elke dag twaalfuur het hulle saam in die kombuis gaan sit.
Elke dag twaalfuur het Lien by haar lessenaar gebly.
Niemand het haar weggejaag nie, maar niemand het haar nader geroep nie.
Saans het sy die ketel aangesit, een koppie rooibos-tee gemaak en by die kombuistafel gaan sit.
Aanvanklik het sy televisie gekyk.
Later het sy begin skryf.
Nie stories nie.
Net sinne.
“Vandag het mevrou Van der Merwe weer deur my gekyk asof ek van glas gemaak is.”
Of:
“Daar is ’n hond oorkant die straat wat elke middag vir die posbode blaf. Ek dink hy is die enigste een in Rooidam wat oor iemand bly is.”
Sy het die sinne in ’n swart notaboek geskryf en dit daarna toegemaak.
Dit was op ’n Saterdagoggend dat Len Botha haar op die biblioteek se stoep gevang het.
Sy het weer daar gesit. Sy het nie meer boekklub toe gegaan nie, maar boeke was een van die min dinge waarvoor sy bereid was om die dorp se mense te trotseer.
Sy was so verdiep in haar swart notaboek dat sy nie die man langs haar opgemerk het nie.
“Jy druk amper deur die papier.”
Lien skrik en klap die boek toe.
Die man was seker diep in sy sestigs, met grys hare wat geweier het om netjies te lê en ’n bril wat laag op sy neus gesit het.
“Ekskuus?”
“Jou pen.”
Hy wys na haar hand.
“Jy skryf asof die papier jou kwaad gemaak het.”
“Ek skryf nie.”
Hy kyk na die boek.
Toe na haar.
“Okay, as jy so sê.”
Lien staan op.
“Ek hou notas.”
“Dit is hoe moeilikheid gewoonlik begin.”
Sy kyk hom wantrouig aan.
Hy steek sy hand uit.
“Len Botha.”
“Lien Meiring.”
“Ek weet.”
“Natuurlik weet jy.”
Len lag.
Nie die dun laggie wat sy al in Rooidam leer ken het nie.
’n Regte lag.
“Jy gaan lank kwaad bly vir hierdie dorp as jy almal straf omdat ’n paar mense groot monde het.”
Lien tel haar boeke op.
“Ek is nie kwaad nie.”
“Dan skryf jy seker baie hard omdat jy gelukkig is.”
Sy het weggestap voordat hy haar glimlag kon sien.
’n Week later het Len weer langs haar kom sit.
Dié keer het hy twee koffies gebring.
“Ek drink rooibostee.”
“Vandag drink jy koffie.”
“Hoekom?”
“Omdat ek reeds daarvoor betaal het.”
Sy het die beker gevat.
“Jy’s baie seker van jouself.”
“Dis ouderdom. Later raak mens te moeg om onseker te wees.”
Lien het gelag.
Dit was die eerste keer in maande dat sy haar eie lag gehoor het.
Len het nie gevra waarom sy Rooidam toe gekom het nie.
Hy het nie gevra of sy geskei is, haar werk verloor het of van iemand af weggehardloop het nie.
Hy het oor boeke gepraat.
Oor mense.
Oor die ou bioskoop wat twintig jaar gelede afgebrand het en oom Fanie wat steeds beweer hy het Sophia Loren daar gesien.
“Sy was nooit in Rooidam nie.”
“Moenie feite toelaat om ’n goeie storie dood te maak nie.”
“Jy lieg dus graag?”
“Ek was ’n joernalis. Ons noem dit navorsing.”
Lien het amper haar koffie uitgespoeg. Later het sy uitgevind Len was jare lank redakteur van ’n streekkoerant.
En nog later, dat hy een kortverhaalbundel gepubliseer het wat niemand in Rooidam ooit genoem het nie.
“Hoekom net een?”
Len het sy skouers opgetrek.
“Die tweede een was nie goed genoeg nie.”
“Het hulle dit afgekeur?”
“Drie uitgewers.”
“En toe?”
“Toe het ek hulle geglo.”
Hy het dit so eenvoudig gesê dat Lien nie dadelik besef het daar is spyt in sy stem nie.
Een middag het hy na haar swart notaboek gewys.
“Lees vir my iets.”
“Nee.”
“Een paragraaf.”
“Beslis nie.”
“Net een sin.”
“Len.”
“Sewe woorde.”
Sy sug.
Toe maak sy die boek oop.
“Daar is ’n hond oorkant die straat wat elke middag vir die posbode blaf.”
Len lig sy kop.
“En?”
“Dis al.”
“Nee. Jy het opgehou voor die storie begin.”
Lien frons.
“Daar ís nie ’n storie nie.”
“Hoekom blaf die hond?”
“Omdat hy doen wat honde goed doen.”
“Verkeerde antwoord.”
Sy rol haar oë.
Len leun vorentoe.
“Dalk het die hond aan iemand behoort wat elke middag op daardie tyd huis toe gekom het. Dalk wag hy steeds.”
Lien kyk na hom.
“Dis hartseer.”
“Nou het jy ’n storie.”
Daardie aand het sy tot tweeuur geskryf.
Die hond het Hendrik geheet.
Die posbode het elke dag ’n beskuitjie in sy sak begin dra.
En die vrou wat in die huis gewoon het, het uiteindelik haar voordeur oopgemaak.
Toe Lien klaar was, het sy ses bladsye langs haar bed neergesit.
Die volgende oggend het sy Len gebel.
“Ek dink ek het moeilikheid.”
“Mooi.”
“Ek het ’n storie geskryf.”
“Ek het gewag.”
“Jy het geweet?”
“Lien, jy dra al maande lank stories rond soos ’n vrou met ink wat by haar hande afdrup.”
Sy het die storie vir ’n tydskrif gestuur.
Drie weke later het die antwoord gekom.
*Ongelukkig pas u verhaal nie binne ons huidige publikasieprogram nie.*
Lien het dit drie keer gelees.
Toe het sy dit opgefrommel.
Len het haar die volgende dag gedwing om dit uit haar asblik te haal en te bêre.
“Hoekom?”
“Want afkeuring is deel van die skryfproses.”
“Dis maklik vir jou om te sê.”
“Nee.”
Hy het die bladsy tussen hulle neergesit.
“Dis juis nie.”
Sy het hom aangekyk.
“Hoeveel het jy gekry?”
“Meer as drie.”
“Jy het gesê drie.”
“Drie uitgewers. Ek het nie gesê hoeveel keer ek voor dit afgekeur is nie.”
“En toe het jy opgehou.”
“Presies.”
Vir ’n oomblik was hy stil.
“Moenie my fout maak nie, Lien.”
Sy het die brief gevou en in haar swart notaboek gesit.
Sy het weer geskryf.
’n Tweede kortverhaal.
’n Derde.
Toe ’n roman.
Die eerste manuskrip het elf maande geneem.
Die eerste uitgewer het binne twee weke nee gesê.
Die tweede ná ses.
Die derde het glad nie geantwoord nie.
Die vierde het geskryf dat haar karakters “belofte toon”, maar die manuskrip “nog nie sterk genoeg ontwikkel is nie”.
Lien het daardie aand wyn gekoop, hoewel sy selde gedrink het.
Sy het die brief op die kombuistafel neergesit.
Daarna die manuskrip.
Driehonderd-en-twaalf bladsye.
Sy het na die eerste bladsy gekyk.
Toe die tweede.
Uiteindelik het sy die hele stapel in ’n kartondoos gedruk.
Len het die volgende oggend die boks by die voordeur gesien.
“Wat maak jy?”
“Ek ruim op.”
“Dis nie wat ek gevra het nie.”
“Ek is klaar.”
Len het sy hande in sy broeksakke gesteek.
“Klaar met die manuskrip?”
“Met skryf.”
Hy het lank na haar gekyk.
Toe knik hy.
“Goed.”
Lien het verwag dat hy haar sou probeer ompraat.
Hy draai om.
“Is dit al?”
Len kyk terug.
“Wat wil jy hê moet ek sê?”
“Jy’s die een wat altyd preek oor aanhou.”
“En jy’s die een wat moet besluit of dit waar is.”
Sy voel die woede in haar keel klim.
“Ek is moeg daarvoor om te hoor ek is nie goed genoeg nie.”
Len stap terug na haar.
“Dis nie wat hulle gesê het nie.”
“Dis presies wat hulle gesê het.”
“Nee. Hulle het gesê hierdie manuskrip is nog nie goed genoeg nie.”
“Wat is die verskil?”
“Alles.”
Lien kyk weg.
Len buk, tel die boonste pak papier uit die boks en slaan dit oop.
“Churchill het gesê; Sukses is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie: dit is die moed om voort te gaan wat tel.”
Lien vou haar arms.
“Die verg moed om voort te gaan.”
“Ja.”
“Ek is nie moedig nie, Len.”
“Moed is nie hoe jy voel voordat jy weer probeer nie.”
Hy sit die manuskrip terug.
“Dis wat jy doen terwyl jy bang is dat jy weer gaan verloor.”
Daardie middag het Lien die boks terug kombuis toe gedra.
Sy het vier maande lank herskryf.
Sy het die eerste drie hoofstukke uitgegooi.
’n Karakter laat sterf.
Nog een gered.
Die einde verander.
En op ’n Maandagmiddag om 16:43 het sy die manuskrip weer ingestuur.
Daarna het sy probeer vergeet daarvan.
Rooidam het intussen verander.
Of dalk het sy.
Sy het weer by die boekklub aangesluit.
Toe mevrou Van der Merwe een aand fluister dat ’n nuwe vrou in die dorp “vreemd” lyk, het Lien haar koppie neergesit.
“Dalk moet ons haar eers leer ken.”
Almal om die tafel het stil geraak.
Lien het geglimlag.
“Ons vra mos maar net.”
Len het so hard gelag dat hy koffie oor sy hemp gemors het.
Die e-pos het op ’n gewone Donderdag gekom.
Lien was besig om ’n faktuur vir sementblokke in te tik toe haar selfoon vibreer.
Sy wou dit ignoreer.
Toe sien sy die naam van die uitgewer.
Haar hand het stil geword.
Sy klik.
Lees.
Lees weer.
Die kantoorgeraas het om haar verdwyn.
Telefone.
Tikborde.
Mevrou Van Zyl wat iemand oor ’n belastingnommer uittrap.
Alles het verdwyn.
“Ons is verheug om u mee te deel…”
Lien staan so vinnig op dat haar stoel agtertoe val.
“Alles reg?” vra haar kollega.
Sy antwoord nie.
Sy hardloop buitentoe.
Len antwoord sy foon ná die derde lui.
“Botha.”
Sy probeer praat.
Geen geluid kom uit nie.
“Lien?”
Haar asem bewe.
“Len.”
Stilte.
Toe sag:
“Hulle het ja gesê.”
Nog stilte.
Sy hoor hom asemhaal.
“Len?”
“Ek is hier.”
“Hulle gaan dit publiseer.”
Sy druk haar hand oor haar mond.
“Ek het dit gemaak.”
Len se stem was skor toe hy antwoord.
“Nee, Lien.”
Sy lag deur haar trane.
“Wat bedoel jy tog nou weer?”
“Jy het nie gemaak nie.”
“Baie dankie.”
“Jy het aangehou.”
Later daardie aand het Lien alleen by haar kombuistafel gesit.
Voor haar lê die uitgewer se e-pos, uitgedruk en effens skeef afgesny.
Langs dit was haar swart notaboek.
Sy blaai terug na die eerste sin wat sy maande tevore geskryf het.
“Vandag het mevrou Van der Merwe weer deur my gekyk asof ek van glas gemaak is.”
Lien glimlag.
Toe blaai sy na ’n skoon bladsy.
Vir ’n oomblik rus haar pen bo die papier.
Haar eerste boek sou gepubliseer word.
Dit was groot nuus.
Dit was wonderlik.
Maar dit was nie finaal nie.
Net soos al die kere wat sy gefaal het, nooit fataal was nie.
Buite blaf Hendrik, die hond oorkant die straat, vir die posbode.
Lien buig oor die bladsy.
En begin weer.
©MarleneErasmus
31/08/2026
(2036 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou inskrywing vir die Augustus 2026 – Aanhalingsprojek