Drie Broers
Eendag, nie so baie lank gelede nie, was daar drie boeties, Walter, Werner en Wouter. Hulle het saam met Pa en Ma gewoon in ʼn baksteen huisie in die middeldeel van die dorp.
Soos die verloop van die lewe is, maak die oudste boetie, Walter, klaar met skool en moet hy die wye wêreld aandurf om ʼn plekkie vir homself uit te kalwe.
Walter was ʼn slim bogger en dan het hy boonop baie hard gewerk, ek dink die korrekte woord is geleer, op skool. Trots was Pa en Ma inderdaad wanneer hulle vir die volle twaalf jaar van sy skoolloopbaan, elke jaar met die Gala-aand, op die verhoog kon gaan om vir Walter sy speldjie vir “Dux Leerling” aan te steek. Pa en Ma het gestry by wie van hulle twee Walter sy verstand gekry het. Pa het gesê: “Hy kry dit by sy ma want ek het nog al myne!” Ma, weer het gedink dat Pappa dalk met die posvrou ʼn ding gedoen het waarvan sy nie wil weet nie, want sy het geweet dat sy ook nog al háár verstand het en die kind kan nie hare wees nie.
Hoe dit ook al sy, Walter was op pad na die Universiteit met ʼn handvol beurse. Dit was ook nie honderd jaar nie, toe het Walter ʼn muur vol grade, ʼn professoraat en ʼn boekrak vol boeke en artikels agter sy naam. In sy vernaamgeit het hy, wanneer dit gepas was, veral wanneer hy verdere toekennings en vererings ontvang het, verwys na sy eenvoudige herkoms … om te illustreer dat enige een met verstand en harde werk kan uitstyg bo sy omstandighede. Maar natuurlik was dit nie altyd gepas om mense te herinner uit watter gaatjie hy gekruip het nie … en hoe hoër die aansien … hoe minder gepas….
Ewenwel, soos dit ʼn goeie seun betaam het hy gereeld vir Pa en Ma op Facebook ʼn boodskap gestuur van sy nuutste prestasies en op Twitter het hy nooit versuim om hulle geluk te wens met hulle verjaarsdae nie … sodat al sy volgeling ook saam met hom hierdie besonderse dae kan deel. Die feit dat Ma en Pa nie Facebook of Twitter accounts gehad nie was nie van belang nie, dis mos die gedagte wat tel, nie waar nie?
ʼn Paar jaar later, terwyl Walter goed op pad was met sy eerste twee grade is dit tyd vir die tweede boetie, Werner, om sy skooltas te verruil vir ʼn kleretas en die wye wêreld in te vaar om sy pad te vind. Die spiere tussen sý ore was nie so sterk soos boetie Walter sʼn nie, maar daarvoor het die spiere in sy lyf opgemaak. Agter die boeke was hy nie fluks nie, maar op die sportveld het hy bitter hard gewerk, ek dink die regte woord is geoefen. Pa en Ma het gebars van trots wanneer hulle elke jaar van Werner se skoolloopbaan met Gala-aand aan hom die trofee “Beste Sportman van die Jaar” kon oorhandig.
Pa en Ma het baklei oor wie se gene in Werner se bloed kook. Pa was oortuig dit is syne, het hy nie tot in matriek elke jaar vir die 3de Rugbyspan uitgedraf nie? Ma weer het heftig kop geskud, sy is oortuig hy is haar kind uit en uit – sy was hoofdoel vir die C Span en haar bynaam was “Sopkom” omdat sy soos haar teelselkie fris en bonkig van bou was, en steeds is. “Sy pa lyk soos ʼn biltong van ʼn bees wat in die droogte aangekom het, maer en seningrig.” praat Ma waar Pa nie kan hoor nie, wanneer sy haar punt maak oor Werner se oorgeërfde talente.
Hoe dit ook al sy, Werner is die wêreld in met ʼn hand vol kontrakte van rugbyunies en krieketunies en atletiekunies, en as daar unies was vir neusgrou en holkrap het hulle verseker ook vir hom kontrakte aangebied. Dit was ook nie honderd jaar nie, toe speel hy Super 15-, HRBC 7’s- en vir die Springbokke rugby.
Oor sy herkoms het Werner geen rede om ooit te praat nie, die naaste wat daaraan gekom word is wanneer een of ander kommentator tydens ʼn wedstryd noem dat hy ʼn produk is van die Hoërskool so-en-so – iets wat die Skoolhoof baie waardeer. Sy persoonlike PR, wat ook sy girlfriend is, het af en dan ʼn getekende en geraamde foto vir Pa en Ma gestuur waar hy saam met beroemdes en bekendes skouer-aan-skouer staan by een of ander plek êrens in die wêreld, net om kontak te hou.
Op hulle verjaarsdae word ʼn ruiker blomme of ʼn mandjie biltong afgelewer, ook danksy die PR girlfriend, dit sal nooit deug as fans of media moet uitvind dat Walter nie sy eie ouers se verjaarsdae onthou nie. En soms …. wanneer Pa en Ma hulle vakansiedae neem en spaargeld bymekaar skraap, reël die PR girlfriend dat hulle kaartjies kry na die wedstryd … lieflike sitplekke agter die pale … ver van die geraas en gekuier van die losies …. soos dit ʼn PR girlfriend van ʼn goeie seun betaam …
Terwyl Werner sy trofeekas volprop met rugby goeters word dit tyd vir die jongste boetie, Wouter, om ook die nes te verlaat. Pa en Ma het hom die oggend voor werk gegroet toe hy sy koffertjie pak vir kollege.
Wouter was een van daai kinders wat so ongemerk deur die skool sisteem gaan. By Gala-aande is hy in die eerste groepie wat die “Dankie-dat-jy-deelgeneem-het-sertifikaat” kry en dan gaan sit vir die res van die aand. Daarom dat Pa en Ma hom vir daardie aande net afgelaai het by die skool, iets gaan eet het by Spur en dan weer gaan haal het as die affêre klaar was. Wie mors nou jou tyd met sinnelose skoolgoete?
Pa en Ma het gesug en gewonder wat gaan van die arme bloedjie worre. Hy is nie dom nie, maar hy is geen Walter nie, hy is nie Werner op die sportveld nie, maar ook nou nie heeltemal onbeholpe nie. Pa en Ma het ook gestry oor Wouter se gene. Ma het gesê hy trek na Pa se familie – niks om oor huis toe te skryf nie, en Pa het weer gesê hy sien Ma se mense in Wouter – doodgoed en goed dood. Heimlik het Pa gedink Ma en die posman het iets gedoen waarvan hy eerder nie wil weet nie want hierdie kind kán nie syne wees nie.
Hoe dit ook al sy, Wouter is kollege toe met ʼn lening van die bank, wat hy self moes reël. Hy het sy kop afgehou, fokus behou en sy diploma as elektrisiën verwerf. Pa en Ma kon nie by die diplomaplegtigheid wees nie, hulle wou nie afvat by die werk nie, mens kry net soveel vakansie dae per jaar jy weet, en dit word gebêre vir Werner se games en Walter se grade plegtighede. Met sy diploma het hy ʼn werkie losgeslaan by ʼn kontrakteur en weereens kop laat sak en fokus gehou en hard gewerk, ek dink werk is hier die regte woord.
Elke Sondag het hy vir Pa en Ma gaan kuier, net om seker te maak dat hulle regkom, die gras gesny is en die ligte nog almal brand. Op hul verjaarsdae het hy hulle uitgeneem vir ete by Spur, nie omdat hy nie beter kon bekostig nie, maar omdat dit hulle gunsteling eetplek is. Hy het met trots vir almal vertel dat die mens wat hy is te danke is aan Pa en Ma want hulle het op hul manier vir hom geleer dat ʼn goeie naam en reputasie meer werd is as al die geld in die wêreld en dat harde werk en toewyding die sleutel tot sukses is soos dit ʼn liefdevolle seun betaam.
Die jare het gekom en gegaan. Walter die geleerde met die baie pampiere het gewerk vir meer pampiere, Werner die sportheld met die baie ‘man of the match selfone’ het aanhou oefen en speel vir nog goeters vir sy trofeekas en Wouter die elektrisiën het sy klein firma opgebou kontrak vir kontrak.
Pa en Ma het ook ouer geword … en swakker. Wouter en sy vrou het hulle later by hulle in die huis ingeneem toe Pa en Ma nie meer op hul eie kon regkom nie. Walter het gevoel hulle moet ouetehuis toe, Werner het voorgestel iemand by hulle moet in woon om hulle te help maar Wouter wou niks daarvan weet dat vreemdes sy pa en ma versorg nie.
Dinge verander soos die wêreld draai. Dinge soos tegnologie, ideologie, ekonomie en weerspatrone beïnvloed almal op een of ander manier. Ongemerk het die winde van verandering en vooruitgang ook in die lewens van die drie broers begin waai … saggies … toe harder …. tot eendag toe …
Walter stap nog so ingedagte, soos ʼn dit ʼn verstrooide professor betaam, een oggend na sy kantoor by die Universiteit toe die sekuriteitsmanne hom aan die arm vat en sê: “Hou maar regs verby, jy is nie meer hier werksaam nie.” Die ding was nou so, Walter se studieveld, Biblioteekwese, was uitgediend. Biblioteke sal daar nog wees, maar alles is nou elektronies beskikbaar en buitendien, jy het nie ʼn graad nodig om die data te laai om te wys waar boeke gekry kan word, vir diegene wat nog wel moeite doen om die hard copy onder oë te neem nie.
Al die pampiere teen sy mure is in ʼn oogwink minder werd as ʼn hoop strooi. Dit was ook nie honderd jaar nie, toe verloor hy nie net sy werk nie, maar sy huis, sy kar, sy vrou sy alles. Met net ʼn koffertjie in die hand klop hy aan by boet Wouter, wat die deure van sy ruim huis oopgooi.
Dit was eintlik ʼn bestiering want op daardie stadium het Wouter se firma so gegroei dat hy dringend op soek was na ʼn betroubare persoon om as Hoof van Administrasie die pampier werk bietjie in orde te bring. Wie is dan nou beter as Walter? As daar ʼn man is wat sisteme en papiere in plek kan sit dan is dat mos nou hy. Het hy nie al die jare geleer hoe om pampiere en boeke te orden nie? Sommer gou-gou was Walter weer in sy eie huis, met sy eie kar en selfs vroulief was terug.
Werner, pyl op die doellyn af en word geloop dat hy drie dae later eers weer bykom in intensief. Nooit sal hy weer aan ʼn rugbybal vat nie …. of ʼn krieketbal … of ʼn netbalbal … of ʼn sokkerbal … of … ja … wel ….
Al sy medaljes en bekers en geraamde truie en getekende balle is oornag minder werd as die houtkas waarin dit uitgestal staan. Dit was ook nie honderd jaar nie, toe verloor hy sy meenthuis, PR girfriend, gesponserde motor, klere en horlosies. Met net sy toksak oor sy skouer klop hy by boetie Wouter aan, wat sy ruim huis se deure wyd oopgooi.
Wat ʼn bestiering, dink Wouter wie se pas genoteerde maatskappy naarstiglik op soek is na ʼn Hoof van Sekuriteit. Wie is dan nou meer geskik vir die pos as Werner wat ʼn man kan laagvat dat hy bly lê, en ʼn ou so vinnige enetjie kan steek in ʼn losskrum waar nie die ref of die tv-kameras sien nie?
Een, twee, drie toe is Werner terug in sy eie meenthuis, met sy sekretaresse as girlfriend, ʼn 4×4 company kar en dieselfde horlosie as die wat die Navy Seals dra.
Al drie boeties was weer veilig en geborge. Dit het nie saak gemaak hoe die winde waai nie, resessie, progressie, ou tegnologie, nuwe tegnologie …. hoe hard die stormwinde ook al woed, Wouter het dit omgedraai in winde van vooruitgang. Sy maatskappy het sterk gestaan soos ʼn baksteen windbreek om ʼn skaapkraal in die Karoo.
Die ding was nou so … sy talent kon jy nie sien toe hy nog op die skoolbanke gesit het nie. Hoe sien jy in ʼn skoolrapport of op ʼn sportveld ʼn skerp besigheidsman wat so goed kan onderhandel dat selfs Eskimo’s glo hulle kan nie sonder die ys klaarkom wat hy verkoop nie? Die talent het hy ook nie van geweet nie, hy het dit self eers ontdek toe hy sy skoonpa se besigheid oorgeneem het. Ja, hy is met sy eerste werkgewer se dogter getroud en die eenman elektriese kontrakteursfirma het hy uitgebou tot ʼn internasionale Top 500 Maatskappy.
Pa en Ma het by Wouter gebly tot aan die einde van hulle onderskeie lewensdae. En hy het, wanneer hy Saterdagmiddae by hul sit en koffie drink en na opnames van Werner se games kyk of waar Walter nog ʼn graad kry net stil geglimlag wanneer die twee ou mensies gestry het oor wie se gene woel in hul twee spog seuns se are … daar waar hulle tussen al Walter se pampiere en Werner se rugby memorabilia sit …
Die Drie Varkies is so deel van my kinderdae soos pap en biltong vir ontbyt.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek