leefreël – (Goud)
leefreël – Goud
mag my glimlag vir ewig ‘n skild wees
dit vyandigheid moeiteloos inperk
sodat ek kwetsende woorde nie vrees
en kastydende konflik my versterk
mag my trane vir ewig veilig wees
by dié wat my lief het net soos ek is
my diepste seer en kwaad genees
sodat ek ‘n skuiling vir hul kan wees
mag my hart vir ewig toeganklik wees
deernis onvoorwaardelik daaruit vloei
met onblusbare liefde as lewenswens
maak my ‘n heimat vir my medemens
mag oordeel my vir ewig ontbreek
ek die balk veel eerder in my eie oog soek
sodat ek empatie sal hê vir voorman en kneg
met nederigheid en immer opreg
en wanneer ek die hemelse poorte bereik
ek met ‘n rein gewete in God se oë kan kyk
©️Retha van Deventer, Augustus 2026.
Voetnota:
Geïnspireer deur C.J. Langenhoven se spreuk: “Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou ewemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir jou God”, uit Ons Weg deur die Wêreld (Kaapstad: Nasionale Pers, 1922).
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.