Harlaboerla-land (GOUD)
Ons Harlaboerla-land strek wyd,
en waarheid word opgedis met nyd.
Die koning hou ’n groot beraad,
waar die hofnar net kan grootpraat.
Die raadsheer griffel ’n lang beleid,
dit rym met niks, behalwe spyt.
Die wette dans soos wappergras,
wie weet wie klim tot in mag se kas?
Belasting klim, ons beursies krimp,
met leiers wat oor verhogings skimp.
Brood kos meer as gister se loon
maar bou nog ’n standbeeld vir vertoon.
Die strate se ligter flikker flou
wyl jy die narre-spel aanskou.
As beurtkrag wegkruipertjie speel,
word daar nog paar miljoene gesteel.
Die media basuin: “Dis ’n skandaal!”
wyl voete van die pad afdwaal.
Die hofnar ‘lek’ ’n skandaal of twee,
net om môre nog meer te bestee.
Die armes toi-toi en die rykes drink,
misdaad groei en hoop sink.
En tog, al raas die land in harde klank,
bly Harlaboerla se mense wanorde bedank.
Want chaos is hul tweede naam,
en sonder dit sal dit net te saai gaan!
©MarleneErasmus
15/03/2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek