LUISTER NA DIE ANGSKRETE VAN DIE AARDE! [Silwer]
Ek skryf hierdie artikel vanuit ’n Christelike perspektief en gee toe dat daar ander persone is wat hul eie opinies huldig. Die retoriek hieroor is nie nou ter sprake nie, daar dit buite die skopus van my artikel geleë is.
Wanneer ek oor die aarde praat, kom daar onmidelik vier woorde in my gedagtes op naamlik skepping, ekologie, ekonomie en rentmeesterskap. Hoekom?
Die aarde is deel van God se skepping en die mens is aangestel as rentmeester oor God se skepping, meer spesifiek die aarde. God het soveel waarde aan die aarde geheg dat Hy die mens as Sy rentmeester uit die stof van die aarde geformeer het.
Die ekologie is in kort die huishouding van lewe op aarde, met inbegrip van alle vorms van lewe op die aarde. In die ekonomie vind ons die reëls oftewel voorskrifte van die bestuur van die aarde, en in die ekologie lê die verstaan en die bestudering van die aarde as huishouding opgesluit. Tussen die ekologie en die ekonomie is daar egter ’n baie nouer band as wat dit op die oogaf lyk, synde ’n gedurige interaksie waarin die een die ander een beïnvloed. Dit is hartseer om op te merk dat die ekologie, en by name die aarde, ten koste van die ekonomie altyd die onderspit moet delf.
’n Rentmeester is ’n persoon wat deur iemand anders aangestel is om sy eiendom tot sy beste voordeel te bestuur, en om gereeld aan die eienaar verslag te doen oor sy rentmeesters-aktiwiteite. Dít impliseer dat rentmeesterskap nié eienaarskap is nie. God het die mens as rentmeesters oor Sy skepping, die aarde, aangestel en nie as eienaars nie.
As rentmeester van God moet die mens dus Sy skepping, spesifiek die aarde en die ekologie, op verantwoordelike wyse bestuur en gebruik tot God, wat eienaar is, se beste voordeel. Die mens se verhouding tot die aarde staan dus in direkte verband met sy verhouding met sy Skepper. Die vraag is, voldoen die mens aan sy taak as rentmeesters van God hier op aarde?
In die boek ‘The Green Bible’, word Wangari Maathai, stigter van die Kenya Green Belt Movement, aangehaal waarin hy sy kommer oor die aarde uitspreek:
“Ek is bekommerd oor die wonde en sere op die naakte liggaam van die aarde. Het ons nie die langtermyn-effekte van hierdie bloeiende sere gesien nie? Die hongersnood, die chemiese en kern ongelukke?. Die armoede? Ons is direk en indirek verantwoordelik. Ons wurg die aarde.”
Die mens se bestuur van die aarde, deur onder andere manipulering van die omgewing, (ekologie), het tot gevolg dat sy lewenskwaliteit daardeur beïnvloed word. Tragies genoeg is dit ’n onomkeerbare situasie. Dink nou maar byvoorbeeld aan die vernietiging en ontbossing van tropiese reënwoude op die aarde deur die mens net om sy selfsugtige behoeftes te bevredig sonder om ag te slaan op die gevolge daarvan, hetsy op eie lewenskwaliteit of die oorlewing van die aarde.
Anton Chekhov huldig die mening in sy boek ‘Uncle Vanya’, dat die mens toegerus is met intellek en skeppingsvermoëns sodat hy kan vermenigvuldig wat aan hom gegee word; maar dat hy tot dusver nie geskep het nie; dat hy net vernietig. “Woude is al hoe minder, riviere droog wild sterf uit, die klimaat word verwoes en elke dag word die aarde armer en leliker,” meld hy voorts.
Deesdae het daar ’n groter bewuswording om selfbehoud by die mens posgevat. Die gevolg hiervan is dat daar al hoe meer kommer uitgespreek word oor aspekte soos:
• Die storting van chemiese- en kernafval op aardbodem;
• kommerwekkende bevolkingsaanwas en verstedeliking;
• oorverhitting van die aardbol asgevolg van die mens se vernietiging van die osoonlaag deur sy aktiwiteite op aarde;
• gronderosie, landbou mynbou, bosbou en nywerhede;
• water en lugbesoedeling, suurreën;
• uitputting van meriene hulpbronne;
• die vernietiging van die aarde se Fauna en Flora; en
• grootskaalse armoede, ens ens.
Dit het tyd geword dat ons intensief luister na die angskrete van die aarde, en nie net luister en wegstap nie, maar oorgaan tot aksie. Rentmeester van God, jou dade spreek harder as jou woorde!
Ek wil graag hierdie artikel afsluit met ’n gedig oor die aarde, as boodskap aan elke rentmeester van God se aarde, synde as herinnering aan die mees kosbaarste deel van Sy skepping, naamlik, die aarde, wat Hy aan ons rentmeesterskap toevertrou het.
God dig die natuur (aarde)
poësie haar uit legio korreltjies sand
metafoor reënwoude in haar oë
oseaan haar boesem tot bruisende koor
liriek haar riviere strome watervalle
mos haar berge en heuwels in dou
sluier haar oor waar sy Sy eggo’s hoor
geur die bloeisels van haar wenkbroue
spons die wange van haar vleilande
toonset hul simfonieë met geveerde koor
vleg die goue grasvlaktes van haar hoof
wasem Sy asem in wolkies soos spookasem
waarin Sy gedig die reën stoor
——-ooo000ooo——-
©Pieter Mostert
[woordtelling = presies 800 woorde]
Bibliografie
1. Chekhov, A 1955. Uncle Vanya (Translated by Srart Young). Re-issued by Sameul French Inc.
2. Scharper, S.B. & Cunningham, H. 1993 The Green Bible. Maryknoll: Orbis Books.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek