Jongste aktiwiteit:

ʼn Stem wat roep in die woestyn

“En hoor jy die magtige dreuning, oor die veld kom dit wyd gesweef. Die lied van ʼn volk se ontwaking wat harte laat sidder en beef”. Hoor jy dit? GLO jy dit? “Dit is die lied van jong Suid-Afrika” – W.J. Erlank.

Ons, die kinders van Suid-Afrika, het al van tevore hierdeur gegaan: pogings om ons van ons taal, kultuur en menswees te ontneem. Voorouer legendes vertel hoe die kinders wat ‘uitgevang’ is dat hulle Afrikaans praat, met ʼn bordjie met woorde “Ek is ʼn donkie” moes rondloop en so gespot is. Ons het altyd terug geveg; nie met swaarde en gewere nie, maar met die pen. Skryf was nog altyd die beste wapen vir ons talentvolle skrywers en digters.

Vir die buitewêreld is ons as Afrikaanssprekendes op die oomblik soos die osse in Jan F.E. Celliers se gedig ‘Die Ossewa’: “Die osse stap aan deur die stowwe, geduldig, gedienstig, gedwee; die jukke, al drukkend hul skowwe, hul dra dit getroos en tevree”. Afrikaanse skole word verengels; nie so dadelik en duidelik nie, maar soos osse wat stadig die opdraande aanvat. En ons vat dit? Onderwysers in minder gegoede areas sit met vyftig of meer leerders in een klas bestaande uit Engelse én Afrikaanse kinders. Dieselfde les moet dus in twee tale in een periode aangebied word. Geen ekstra kurrikulumtyd, geen verskonings, “Jy word mos betaal”. Ek weet, want ek was deel van hierdie drukkende onderwysjuk en -skof.

Die Tweede Afrikaanse Beweging het na die Eerste Wêreldoorlog en na die Anglo-Boereoorlog geveg vir die erkenning van Afrikaans. Geskok in hulle vertroue in die Britse owerheid, het die soeke na eie waarde en nasionaliteit ontstaan. Die stryders se belangrikste spreekbuis? Digters, skrywers en opvoedkundiges wat Afrikaans as kultuurtaal bevorder het. Christelike Nasionale Onderwys, die CNO-skole, het klem gelê op Afrikaans as onderrigmedium. Ons taalprofeet Totius en eerste ware Afrikaanse nasionalis, het veral ʼn groot rol hierin gespeel: “Al lyk ek nou so dubbel dood – ek sal weer herontwaak” en terwyl ek so deur my ‘Groot Verseboek’ blaai en dink aan wat nou met ons taal gebeur, wil ek ook uitroep: “maar bliksemstrale sonder tal, laat my binneste brand en bloei”.

Afrikaanssprekendes word daagliks aan hulle aandeel in die vorige bedeling herinner. “Jy het mos doringstruikie, my ander dag gekrap; en daarom het my wiele jou kroontjie plat getrap.” Praat jy Afrikaans, word jy snaaks aangekyk en niemand ‘verstaan’ jou nie. “Maar tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde druppel die salf van eie gom”.

Ja, ons sal weer die pen opneem, want oor ons wonde druppel die salf van INK. J. Lion Cachet beskryf ons opstaan goed: “Want ek het onder in myn kis, ʼn ware towerstaf. Hef ek die staf op, “Moedertaal”, dan volg die land my na: En ek is netnou koningin van heel Suid-Afrika!”

Die stem wat roep in die woestyn? Die taal waarin ons bid “Berei die weg van die Here, maak Sy paaie reguit!” Mattheus 3:3.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed