Jongste aktiwiteit:

“’n Mens erf die land by jou voorouers, maar jy deel hom met jou kinders.”

Die nag gooi sy fluweelkaros saggies oor die Kalahari soos ’n moeder wat haar slapende kind besorg toemaak. Die sand van die saggolwende duine klou vir oulaas nog vas aan die hitte van die dag en die sterre skitter soos blinkende oë aan die uitgestrekte hemelruim.
Pieter sit langs sy Boesmanvriend, Buks Appelblaar, by sy vuurtjie in die hartjie van die Kalahariwoestyn.

“Buks,” sê Pieter, “vanaand is dit my beurt om vir jou ’n storie te vertel wat julle Boese’mense nie ken nie.”

Buks kyk Pieter fronsend aan, terwyl hy die kole van die vuur met ’n stok regkrap.

“Ek sal eers vir jou ’n prentjie teken, Buks,” sê Pieter. Hy buk vooroor en teken met sy vinger ’n kaart van die Kalahari in die sand. Hy dui die Kalahariwoestyn met ’n hopie sand aan, en teken ook ’n plaas met met grenslyne asook ’n opstal. Naby die opstal druk hy ’n stok in die sand en bind sy sakdoek daaraan vas om ’n vlag voor te stel. Langs die vlag teken hy ’n man wat die eienaar van die plaas is en trots regop staan.

“Myse groot vriend … ” sê Buks, terwyl hy lank na Pieter se prentjie sit en staar en sy kop stadig heen en weer skud. “Hierdie prent van jou ek verstaan hom nie.”

Pieter vat ’n stok dan verduidelik hy vir Buks die prentjie wat hy geteken het.

“Jy sien, Buks, hierdie man wat so trots regop staan langs die vlag van sy land, hy is ook die eienaar van daardie baie mooi plaas.”

Buks kyk … en kyk … en hy kyk … sonder om ’n woord te uiter.

“Jy sien, Buks, daardie man ons noem hom ’n Patriot in ons taal. ’n Patriot is iemand wat baie trots is op sy grond, sy taal, sy land, sy mense en sy land se vlag … ”

Buks sit aandagtig na Pieter en luister met ʼn diep frons tussen sy oë wat lyk soos ’n droë rivierbedding. Dan fluister hy sag, soos die wind wat liggies deur die gras van die duineveld waai: “Patri… patriotise,” knoop hy sy tong. Wat se goete, myse groot vriend, is hom die patriotise?” Vanaand jy praat vreemde woorde by my.” Buks Appelblaar kyk in die verte. “Patriotise,” sê hy kopskuddend vir homself.

“’n Patriot,” verduidelik Pieter weer, “is iemand wat baie lief is vir die grond waar sy pa op gebly het. Ons noem dit Vaderlandsliefde.”

“Oo … , nou verstaan ek, myse groot vriend …” Hy vat ’n diep teug aan sy pyp dan sê hy, “maar onse Boese’mense hier by onse Kalahariland onse het hom nie die woord jy roep hom die patrio … patriotise, by jouse taal. Onse Boese’mense onse leer hom nie saamet die woorde nie.”

“Pieter, myse groot vriend, jy praat hom van dari patr … patriotise, soos dit iets is wat jy kan hom maak vas om op jouse vlagge te sien,” begin hy op stadig, “maar vir onse Boese’mense hier by onse Kalahariland is dit nie ’n woord nie. Onse Boese’mense ons leef dit soner om dit te praat by mekaar. Ek sal jou wys hoe. Ek sal jou vertel van die stories wat die sand hier by onse Kalahariland hy onthou.”

“Jy sien Pieter, myse groot vriend, daar was hom aner Boeseman’seun. Toe dari seun hy vra by homse pa: “Pa, aan by watter plek behoort ek?” Syse pa hy vat daari seun van hom en hulle loop oor by die vlaktes van die dyn se veld, oor die sanddyne vani woestyn ver … ver … By eleke plant, eleke klip, eleke watergat hulle het gaan staan hom stil staan, om dari Boeseman’seun te laat hom luister. Toe die son hoog kom, dari pa sê by homse seun: “Hier! is jouse plek, my seun … Híér, omdat jy is hier om te leer hom luister na die asem van die sand van onse Kalahariland waarvan jy is hom deel.”

Buks glimlag breed terwyl die vlamme van die vuur in die spieëls van sy oë dans soos babbelende Boesmantonge. “Onse Boese’mense, onse trots is soos die sand van onse Kalahariland agter by die dag se loop wanneer die son hy loop om te gaan hom slaap agter by die dyne.”

“Onse Boese’mense is trots mense wat eleke dag loop op die spore van onse voorvaders. Onse mense, ons luister na die stories wat onse voorvaders het hom vertel. Onse mense ons luister wat die wind en die sand by onse vertel … Ons lees die dier se spore by die sand … ”

Buks gooi ’n takkie in die vuur. Die vlam wat ontspring gooi skaduwees oor sy gesig. “Pieter, myse groot vriend, jy dink patriotise is hom iets wat jy opsê, iets wat jy wys hom met vlagge of die lyne soos by hieri prentjie hier jy het hom gemaak by die sand,” sê Buks beslissend terwyl hy ’n stok optel en half ontstoke Pieter se prentjie in die sand deurmekaar krap.

“Vir onse Boese’mense patriotise is hom lewe. Dit is eleke dag se loop, eleke gedeel hom die water, eleke kind wat leer watter plante hy kan hom eet, watter bome maak hom die skaduwee, watter spore bring hom die gevaar … Onse Boese’mense onse sê hom nie die Kalahari is net myse land nie; onse Boese’mense onse sê: hier by onse Kalahariland onse leef alemal saam. Onse mense ons gee, ons deel, ons leer, ons luister, alemal saam.”

Buks staan op, buk vooroor en tel ’n handvol sand op. Hy laat dit stadig deur sy vingers gly. Dit waai soos rook liggies weg in die aandwindjie asof dit nuwe stories in Buks se ore wil fluister. Dan sê hy na ’n lang stilte tussen hulle: “Pieter, my groot vriend, lank … lank … sy tyd daar was hom die groot droogte gewees hier by onse Kalahariland. Die bome was hom kaal, die sand was hom hard, die diere was alemal weg. Die mense het gesê: die sand is hom dood, maar ons het geweet, dat soos die sand hy praat, jy moet hom net luister.

“Onse mense het gestaan hom saam by mekaar. Onse mense het hom gedeel alles, nie vir onse eie self nie, maar omdat dit is hom reg is, omdat onse Boese’mense by onse Kalhariland onse leef alemal saam. Dít, myse groot vriend, dít is hom die patriotiseme. Die patriotiseme by onse Boese’mense is hom nie besit nie, maar onse mense onse gee, onse leef, onse eer hom die onse voorouers en onse respekteer die ou mense en ok alemal mekaar.”

Buks kom sit weer langs Pieter en staar lank na die kole van die vuur. Dan vertel hy vir Pieter van twee Boesmangroepe wat oor dieselfde stuk grond in die Kalahari gestry het.

“Daari Boese’mens hullle het hom aan mekaar baklei, en op mekaar geskree. Toe die oumense het hom gekom en gevra: “As die grond hy kon hom praat, wie sou hy kies?”

“Daar was hom die groot stilte by alemal daari Boese’mense, want hulle het hom geweet die grond hy kies nie, die grond hy gee, en onse mense moet leer om te ontvang. Patriotiseme is om saam met die grond te lewe, myse groot vriend, nie om dit te besit nie.”

Buks buk vooroor en vat weer ’n hand vol sand. “Hierdie sand hy het hom die mense gesien wat lank voor by my geleef het, en dit sal mense sien wat lank ná by my en myse kinders kom. Om lief te wees vir die sand van onse Kalaharilandland beteken nie om dit te hou nie, maar om dit te verstaan en om hom deel te wees van sy storie.”

Terwyl Buks vir Pieter stip in die oë kyk, sê hy op gedempte toon. “Myse groot vriend, ek sê by jou weer, jy kan hom die vlagge hys. Jy kan hom die lyne trek by jouse boek en jy kan hom die lyne maak met die draad by jouse grond. Onse Boese’mense doen hom nie dit nie. Onse mense ons luister na die wind, ons leer onse kinders om hom te deel die water en die kos en ok om te respek die diere en plante hierso by onse Kalahariland. Die patriotiseme, hier by onse Kalahariland, my groot vriend, jy leef hom eleke dag. By onse Boese’mense patriotiseme is hom nie die woord nie, maar is hom die asem en die loop van die lewe, die lewe hier by onse Kalahariland.”

Buks beduie met ’n stok na die uitgestrekte naghemel bokant hulle. “Kyk die sterre, Pieter, myse groot vriend, eleke ster is hom die vuur wat Naoea Hy het hom gemaak lank … lank … sy tyd. Daardie vure hulle brand nog eleke aand vir alemal onse Boese’mense hier bo by onse Kalahariland sonder om hom te besit.”

Buks vat weer ’n lang teug aan sy pyp en blaas kringetjies rook die lug in. “Om lief te wees vir onse Kalahariland beteken hom nie om dit te hou nie, maar om dit te verstaan en om hom deel te wees van syse storie.” Hy glimlag, kyk vir Pieter en sê: “Pieter, myse groot vriend, hier by onse Boese’mense se Kalahariland, jy is hom net die voetspoor in die sand, maar jy kan kies hoe jy trap. Jy kan kies om lief te hê, om te gee, om te luister.”

Buks staan op en gooi ’n handvol sand in die lug. Die wind neem dit weg soos geheime boodskappe wat net die aarde verstaan. Dan sê hy: “Myse groot vriend, jy erf hom die land by jouse voorouers, maar jy deel hom met jouse kinders …”
—————————————-oooOooo————————————-
Pieter Mostert
[woordtelling =1600]

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed