argwaan
met tyd het verdenking
algemeen in volksgedagtes
tevoorskyn gekom
geen geskiedenis of filosofie
word meer opgeslurp, aanvaar
sonder hewige argwaan nie
selfs geloofsake en die Woord
is sedert neëntien vier en negentig
by die agterdeur uitgegooi, versaak
alles lyk soos ’n vrugteboord
wat skielik sonder versorging
sonder water of voedingstowwe
begin opkrimp in drakige karakter
van droë takke, verdroogde blare
sonder blom of vrug
die emansipasie
vanuit kindergelowigheid
na volwasse ongelowigheid
binne twee dekades voltooi
harte klop vinniger, breine werk oortyd
alles net gerig op tydelike rykdom en plesier
elke huishouding krimp na binêre bestaan
AI word die afgod, die hoeksteen, die altaar
alles lyk en word moontlik, sonder toerekenbaarheid
beweging teen kwantumspoed of gaan lê in die sloot
“luister tog na chatbot, vriend” sê die stemme
“want dit is die regte ding om te doen”
slagspreuk van die millenium
donker en dreigend
onder uit die
donkerste
sis
© Tearlach.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.