Jongste aktiwiteit:

Vlak voor haar oe

(250 woorde)

“Jy’s nie lui nie, net oorweldig; gevries,” mompel Maria.

“Dit is nou goed en wel dat Hendrik altyd wíl kook, maar kyk net hoe lyk die kombuis!” kla sy hardop.

“Slegs vyf dinge vlak voor jou oë, Maria,” herhaal sy die facebook advertensie. “Vee vyf taai sousbottels skoon en bêre dit weg. Herbedraad jou brein.”

“O.R. Tambo is bésig vanoggend. Vier vliegtuie in minder as vyf minute,” gesels sy  by die wasgoeddraad.

Die éintlike probleem begin aan haar knaag.

“Begin net weer skryf, Maria.”

“Ek het niks om te sê nie,” praat haar kop. “My woorde het gevries.”

“Skryf net één paragraaf vandag – met jou beste woorde,” sê beterweterige self.

“Waaroor nogal?”

“Dít wat vlak voor jou oë is,” herinner sy haarself.

“Vliegtuie?” spot haar moedswillige kop. “Vliegtuie sit vol van potensiële stories.”

 

“Maria! Ma-riee-ja!” roep Hendrik van binne af.

“Ja?” skree sy vies terug.

“Maria …! Waar is jy? Wat máák jy?” klink Hendrik ongeduldig.

“Hendrik kan nie so ver hoor nie en ék gaan nie die wasgoed die hele buurt vol hang nie.”

Impulsief los sy die wasgoed en stap blindelings die woonbuurt in.

‘n Stil kop.

Een paragraaf.

“Selfdissipline moet iéwers begin,” mompel sy.

Dan omklem brute fors haar nek van agter. Sonder om te dink versmelt witwarm woede haar tot ‘n vuurspuwende vulkaan. Sy skop hard, met bomenslike krag na agter.

“Vat so! Jou vuilgoed!”

Voordat sy begin hardloop is die monster se gesig vlak voor haar oë; word vir ewig in haar brein geëts.

©Rika Gerryts




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed