Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 15

Hoofstuk 15 – Hoe wreed die waarheid

Zuluika sê dit wat ook in Joe se gemoed is, “Ons kan nie hierdie sak plaas toe neem nie, ons moet dit so gou as moontlik vir oom Joos gee,” en hy stem saam.
“Joe stop asseblief, ek wil eers oom Joos skakel en raad vra.” Sy skakel Joos en hy antwoord onmiddellik, “Hallo nooi, waar trek julle?”
“Ons ry nou uit Villiers oom Joos, en ek wil iets na jou toe bring, iets belangriks wat die twee vroue vir ons gegee het.”
Joos bly een oomblik stil, maak sy oë toe en stuur ʼn gebed na bo, “Wat is dit nooi?”
“ʼn Sak met artikels in.”
“Watse artikels?”
“Daar is ʼn toegedraaide pakket, ʼn verseëlde koevert, en twee plastieksakke vol geld.”
“Waar kry die vroue dit?”
“Die vroue het geen idee wie die artikels gebring het nie. Die sak is deur iemand op die stoep van die huis hier in Villiers gelaat, terwyl die geld elke maand in hul posbus gelaat is.”
Hulle hoor die opgewondenheid in Joos se stem, “Die feit dat julle dit nie oopgemaak het nie is belangrik, dit moet in die teenwoordigheid van die polisie oopgemaak word. Ek gaan kaptein de Jager skakel en raad vra, hy is in beheer van die span. Ek bel jou terug sodra ek met hom gepraat het, moenie verder ry nie, wag vir my oproep.”
Zuluika en Joe kyk woordeloos na mekaar, die spanning duidelik op albei se gesigte, en dieselfde vraag druk hulle plat. ‘Is hierdie die bewyse wat hulle nodig het?’
Alhoewel albei die oproep verwag, skrik hulle wanneer die foon lui. Zuluika antwoord en skakel die luidspreker aan.
Voordat sy kan antwoord kom Joos se stem, “Nooi, jammer hieroor, maar julle moet deurry Pretoria toe. Jake de Jager en Lize sal julle by die Forensiese Laboratorium in Pretoriusstraat inwag. Lize sal vir jou ʼn ‘PIN’ stuur sodra sy daar is.”
Zuluika is vir een oomblik totaal onkant gevang en weet nie wat om te sê nie, “Is jy nog daar nooi?”
“Ja oom Joos, ek is nog hier, net onkant gevang.”
“Nooi, Jake stem saam, indien hierdie bewysstukke is, moet dit bo verdenking wees. Dit moet verseël bly, soos julle dit ontvang het, en eers oopgemaak word sodra die polisie teenwoordig is. Die rit kan moontlik totaal onnodig wees, maar dit sal ons eers weet wanneer die inhoud bekend is.”
Zuluika kyk na Joe en hy sien die effense swaai van die kop, hy weet die openbaarmaak van die waarheid is iets wat Zuluika miskien in haar gedagtes reg voor is, maar die spanning rondom ‘die waarheid’, daarvoor is sy nie reg nie. Hy weet iets vandag aan die brief wat sy in haar hande gehou het, was bekend vir haar.
Hy neem die besluit, “Joos dit is reg, laat Lize die ‘PIN” stuur, ons is op pad. Dit sal ons omtrent twee en ʼn half tot drie ure neem om daar te kom. Ons sal Lize deurgaans op hoogte hou van ons vordering en haar skakel sodra ons in Pretoria is.”
Hulle ry die volgende halfuur in stilte, met Zuluika wat stip voor haar kyk, sy draai terug, kyk na die sportsak op die agterste sitplek, hy hoor die veranderde toon in haar stem, en hy weet, sy het haar balans gevind.
“Joe, ek het die gevoel die sak se inhoud is waarvoor ons gehoop het.” Weer die effense twyfel, “Ek het ook die gevoel, dat ek hierna sal wens ek het dit nooit gesien nie,” en in Zuluika spook die tekstuur van die papier, en dit vat haar terug na haar dertiende jaar en vroeër.
Hy bly stil, konsentreer op die pad, hy weet die brief het iets met Ziegfried Cordier te doen, maar daardie pad wil hy nie vandag stap nie, en hy weet sy ook nie.
Sodra hulle op die R21 voor Oliver Tambo Lughawe verby gaan, hoor hulle die ‘ping’ geluid en hulle weet dit is die ‘PIN’ wat Lize aanstuur. Zuluika kyk na die foon se skerm en die knik van haar kop bevestig die vermoede.
Joe sien die spanning, weet Zuluika is van balans af, al probeer sy dit wegsteek, en hy sê gelykmatig, “Ons kan op ‘Google-maps’ ingaan sodra ons naby die stad is,” en sy knik haar kop instemmend.
Sy skakel Lize se foon, bevestig waar hulle is, en Lize is openlik verlig en versoek hulle om versigtig te ry.
Met behulp van ‘Google’ navigasie ry hulle foutloos tot by die Forensiese kantore. Joe stop in die straat en Zuluika skakel Lize se nommer. Lize antwoord onmiddellik, “Bly in die straat, ons kom na onder om julle te help om binne die gebou te parkeer.”
Zuluika sien Lize en ʼn lang man uit die gebou kom, klim uit die viertrek en waai haar arm totdat Lize met ʼn waai van haar hand die groet erken.
Lize kom vinnig oor die straat na hulle, en sy druk Zuluika spontaan teen haar vas, “Kom ek stel julle voor aan Jake, hy sal julle deur die sekuriteitsarea help.”
Jake de Jager se warm handdruk en kalm grys oë bring kalmte in Zuluika, en sy voel die spanning in haar effens verslap, ‘Hier is mense wat elke dag werk met die tipe spanning, hulle gaan haar hierdeur help’, flits dit deur haar gedagtes.
Hy beduie vir Joseph waar die gebou se ingang na die parkering is, en Zuluika klim terug in die viertrek terwyl Jake en Lize oor die straat stap in die rigting van die ingang.
Die polisieman by die hek is gereed om die voertuig en hulle besonderhede af te neem sodra hulle stilhou. Dit vat ʼn paar minute om deur die sekuriteitmaatreëls te gaan en te parkeer, maar vir Zuluika voel dit soos ʼn ewigheid, want die sportsak se teenwoordigheid in die voertuig wurg haar.
Joe parkeer waar Jake vir hulle aandui, Zuluika klim uit, maak die agterdeur van die voertuig oop, en dit is Jake wat die sportsak uithaal en bevestigend in haar rigting kyk.
Sy knik haar kop, hy neem die sak, wag vir Joe om die voertuig te sluit, en stap voor hulle in die rigting van die ingang van die gebou.
Hulle gaan op met die hysbak, klim uit op die derde vloer, en Zuluika voel die spanning in haar groei hoe verder hulle agter Jake aanstap.
Hy vra hulle om in die wagarea te wag, terwyl hy in ʼn groot vertrek agter die glasskeiding instap. Zuluika sien hom gaan sit, die foon optel en met iemand op die foon praat.
Binne minute kom twee mans in wit oorjasse aangestap in die rigting van Jake. Hulle praat ʼn paar oomblikke, neem die sportsak, en stap terug in die rigting vanwaar hulle gekom het.
Al drie kyk Jake vraend aan, “Die Forensiese afdeling sal die inhoud oopmaak en my laat weet wat hulle vind.”
Hy kyk na Zuluika, glimlag effens, “Ons hoop dit is wel iets wat ons sal help in ons navrae, maar dit is nie uitgesluit dat iemand die twee dames leed wou aandoen nie, die pakkette kan selfs plofstof bevat.”
Zuluika voel die skok in haar, ‘Sy weet, sy het die gebeure die afgelope dae toegelaat om haar, haar waaksaamheid te laat verslap. In so ʼn mate, dat dit haar, en ander kon uitlewer aan gevaar, en sy weet sy moet ʼn houvas op haarself kry’.
“Kom ons stap deur na die kafeteria en gaan drink ʼn koffie. Dit kan ʼn geruime tyd neem voor die span terugkom met enige inligting.”
Joe staan op, steek sy hand uit na Zuluika en trek haar op uit die stoel, hy besef, indien hy so ontsettend gespanne is, Zuluika en Lize dit onuithoubaar moet vind.
“Zuluika, ek glo ons moet sodra ons in die kafeteria is vir Nathan of Laurie laat weet waar ons is, en wat ons planne verder is, anders gaan hulle geweldig bekommerd wees indien ons nie teen vanaand op die plaas is nie.”
Zuluika besef, vandat sy die sportsak gesien het, is sy rigtingloos, en die verwyt versmoor haar. Thobile se woorde is terug, ‘Moenie in alles perfek probeer wees nie, jy is ʼn mens en jy het reg om soms ook jou eie visier effens te laat sak’, en sy weet, sy is geregtig om soms deurmekaar en verlore te voel, soos nou.
Skielik onthou Joe van die video wat hy geneem het, “Jake ek het ʼn video op aandrang van die twee vroue geneem van die oopmaak van die sak, wil julle dit hê?”
Jake voel die respek vir die mense, “Asseblief Joe, dit is belangrik.”
Joe gee hom die foon, gee hom sy wagwoord, en sonder om te huiwer stap Jake terug agter die glasskerm in, herhaal die oproep, en gee die foon vir een van die persone wat vroeër die sak kom haal het.
Wanneer hy by hulle kom sê hy in ʼn ligter toon, “Nou ja, kom ons gaan kry daardie versterking, ek het dit nou nodig, en ek dink julle ook.”
Al drie knik hulle koppe en stap saam met Jake.
Sodra hulle elk met ʼn koppie koffie sit, skakel Joseph vir Laurie en gee haar ʼn kort opsomming van die gebeure. Hy hoor haar ontsteltenis, hy weet, almal besef wat die inhoud se impak op Zuluika mag hê.
Hulle bly in die kafeteria aangesien hulle nie nader aan die waarheid oor die inhoud sal wees, indien hulle wel terug na die Forensiese eenheid se laboratorium gaan nie, almal besef dit sal meer senutergend wees om buite die laboratorium te sit.
Hulle bestel elk ʼn tweede koppie koffie en ʼn geroosterde toebroodjie, en steeds is daar geen antwoord om hulle kommer te verlig nie.
Dit is ʼn uur later wanneer die tegnikus die kafeteria instap. Hy wink vir Jake, en die ander drie weet, vir eers gaan die inhoud nie met hulle gedeel word nie.
Hulle sien Jake se knik van sy kop sodra die tegnikus ophou praat, die terugkyk na waar hulle drie woordeloos sit, en die saamtrek van sy skouers.
Met die stap in hulle rigting is die spanning duidelik op sy gesig te sien. Hy huiwer een oomblik, “Beide die koevert en pakket is oopgemaak, dit is nie plofstof nie. Ek is jammer hieroor, maar ek gaan nie nou die inhoud bekend maak nie, aangesien daar verdere forensiese toetse gedoen moet word om te bevestig wat ons vermoed.”
Hy wag ʼn oomblik, Zuluika voel ʼn naarheid in haar opstoot, sy weet verseker dit is iets wat haar persoonlik raak, en vir die eerste keer in meer as twintig jaar is dit nie sy gehate naam wat in haar gedagtes is nie, maar die gedagte, ‘Dit raak my pa’.
Jake sien die verlorenheid in die onmoontlike kleur oë, hy voel haar vrees aan, maar hy weet, ongeag hoe seer dit haar gaan maak, dit wat hulle het, is absoluut verdoemend vir wie ook al daaraan gekoppel is. “Maar ons is amper honderd persent seker dit is die bewysstukke wat ons benodig.”
Zuluika verbeel haar sy hoor hulle drie se hartklop in die stilte wat volg op sy woorde. Dit is Joe wat eerste tot verhaal kom, “Zuluika, Lize, ek dink ons drie moet vir eers na Lize se woning gaan, die span net ruimte gee om hul werk te doen.”
Hulle knik albei instemmend, “Hoe lank voor daar sekerheid sal wees en julle dit met ons kan deel Jake?”
Jake skud sy kop en kyk na die tegnikus wat langs hom kom staan het, “Wat dink jy Graham?”
“Moontlik ʼn paar dae, om al die stukke se egtheid te bevestig.”
“Julle moet by my oorbly,” sê Lize beslis, terwyl sy Zuluika se hand in hare neem.
Zuluika weet sy het nou ruimte weg van die bewysstukke nodig, maar ʼn gedeelde ruimte met die twee mense wat haar so ongelowig versterk.
Jake knik sy kop, “Dit is op die stadium die beste. Julle moet asseblief in Pretoria bly, ons mag julle dalk benodig met die ondersoek,” en die knik van die koppe bevestig hulle instemming.
Lize sê sy gaan saam met Jake en die tegnikus terug na die laboratorium stap om haar handsak te gaan haal wat sy vroeër in die dag in Jake se kas geplaas het.
Zuluika weet Lize soek ʼn geleentheid om met Jake te praat terwyl sy nie by is nie, en laat dit gaan. Sy weet wat ook al in daardie sak is, gaan haar platslaan, of die kennis daarvan vandag is, of môre, of die dag daarna, dit gaan haar hart breek.
Wanneer Zuluika in die viertrek langs Joe sit en haar oë sluit, is dit Rudolph wat in haar gedagtes is, en is daar ʼn rustigheid wat uit die beeld kom, sy weet die bewysstukke het niks met haar pa te doen nie, maar met Rudolph, en sy voel Rudolph se nabyheid soos sovele kere die afgelope tien jaar wanneer sy totaal platgeslaan was, sy weet, hy wil haar iets sê, wil haar bystaan.
Joe sien die wisselende emosie en ontsteltenis op haar gesig, “Wat is dit, maat?”
“Die artikels raak Rudolph, en ek voel sy nabyheid hier by my.”
Hy vat haar hand, druk dit styf vas, “Hou vas aan sy nabyheid Zuluika, en bid tot God, dat dit die einde van die nagmerrie en daardie mense se dade sal bring.”
Hulle wag in die viertrek vir Lize aangesien haar motor skuins voor hulle in die parkeerarea geparkeer is. Dit vat ʼn geruime tyd vir Lize en Jake om uit die gebou te kom, die ontsteltenis is duidelik in beide Lize en Jake se houding, en vir een oomblik ontwyk hulle albei Zuluika se vraende blik.
Zuluika maak die deur oop om uit te klim, maar Lize wuif haar terug die voertuig in, “Ons praat by die huis, nie hier nie,” albei weet, wat ook al in daardie sak was, is ontsettend ontstellend.
Lize lig Joe se selfoon sodat hy kan sien sy het dit in haar besit. Jake neem Lize in sy arms en druk haar een oomblik teen hom vas, maak die motordeur vir haar oop, en weer toe. Hy draai na Zuluika, en sy en Joe sien sy lippe die woord ‘sterkte’ vorm, en albei weet, dit wat kom raak Zuluika persoonlik en intens.
Joe wink Lize om voor hulle te ry. Hulle lê die rit in totale stilte af, net Joe se hand wat Zuluika se hand vasvat elke keer nadat hy ratte verwissel het, verbreek die amper gevriesde omstandighede, maar die gebaar verseker haar, sy is nie alleen nie.
Met die stilhou voor die eenheid voel Zuluika die ontsteltenis in haar, kyk smekend na Lize, maar Lize skud haar kop, “Kom ons gaan in, ons sal binne gesels.”
Lize wink hulle na die kombuis, “Eers ʼn koppie koffie voor ons gesels asseblief.” Zuluika sien die ontsteltenis, weet Lize probeer ʼn houvas op haarself kry, sy weet, vandag is ʼn toets vir haar krag en haar geloof.
Hulle sit by die tafel en drink die koffie, elkeen besig met sy eie gedagtes, dieselfde gedagtes, en die gevoel van onheil is versmorend.
Die klop aan die voordeur bring hulle terug na die hede, Lize wuif hulle om te bly sit, terwyl sy deurstap na die voordeur. Hulle hoor ʼn gesmoorde kort gesprek, gevolg deur Lize wat huiwerend in die deur sê, “Kom ons gaan deur sitkamer toe.”
Joe sien die oop voordeur en die man wat in een van die gemakstoele op die stoep sit, maar hy laat dit gaan.
Lize gaan sit langs Zuluika op die rusbank, sy wink Joe om sy stoel nader aan hulle te skuif, en sy neem ʼn hand van albei in hare, “Zuluika, wat ek julle nou gaan meedeel is ontsettend ontstellend, maar ek en Jake het dit met Joos bespreek, ons almal stem saam, dit moet met jou gedeel word.”
Zuluika knik haar kop, sluit haar oë, soek na Rudolph en Mauritz se nabyheid, en wag.
Die stem is gebroke, “Die verseëlde koevert bevat sertifikate van aanprysing uitgereik aan die twee jongmans as erkenning vir die moorde op ses ander persone.”
Die intrek van Zuluika se asem dwing Lize tot stilte, “Nee, nie dit nie.”
Lize druk haar hand, “Ons, en jy, het dit vermoed, jy het dit vir ons gesê in die woorde van daardie twee jongmans, nou is dit wat jy geweet het bevestig.”
Lize se oë vul met trane, en Zuluika weet, wat nou kom, is erger, “Die pakket bevat sewe mediese monster bottels, met elk ʼn ringvinger met ʼn troupand in versterk water.”
Zuluika hoor die woorde, sien in haar laaste herinneringe voor sy ineenstort die jongman tussen haar en Rudolph inbeweeg, sy weet wat hy gedoen het, en sy verloor haar bewussyn en gaan weg na daardie vergetelheid wat sy so na uitgesien het oor die afgelope tien jaar.
Joe strompel orent, nie by magte om helder te dink nie, hy tel Zuluika op waar sy skuins oor Lize se skoot lê, druk haar teen sy hart vas, en dra haar na die kamer.
Die man van die stoep is skielik langs die bed, “Dankie, u kan vir een oomblik opsy staan sodat ek na haar kan omsien.”
Die oopmaak van die mediese tas, die uithaal van die stetoskoop, die luister na haar hart, en die neem van haar bloeddruk is dieselfde as honderde kere in die twintig jaar wat hy na Nathan omgesien het, maar vandag bring die alledaagse bewegings erge onrus in Joe.
Hy knip sy oë, hou vas aan die bed se voetenent, voel die duiseligheid wat van hom besit neem, voel Lize se arm om sy middel, en voel die warmte wat dit bring, “Byt vas maat, byt vas vir haar,” en hy sit sy arm om haar skouer, en hulle steun mekaar in hierdie pynlike oomblik.
Hy sien die man ʼn inspuiting voorberei, dit in die waai van Zuluika se arm in die aar indruk, en die spuitstof stadig in die aar spuit, en hy dwing homself om tot rus te kom.
Die man gaan sit op die bed, en sonder om op te kyk kom die woorde, “Haar lewenstekens is effens abnormaal, maar nie kritiek nie. Sy is in ʼn koma wat kan gebeur na so ʼn geweldige skok. Ek glo hospitalisering is nie dadelik noodsaaklik nie, maar ons sal haar elke oomblik dophou totdat sy uit die koma kom.”
Joe besef, Lize, Joos en Jake het hierdie moontlikheid voorsien, en hulle het die geneesheer gereël, en hy besef hulle is baie sterker as hy.
Hy voel Lize se bewende lyf teen hom, sien die trane onbeheersd oor haar wange rol, en hy kry beheer, haal sy sakdoek uit, droog haar trane af, en neem haar in sy arms en troos haar.
Die kalm stem van die vreemdeling dwing hulle terug na die werklikheid, “Sodra julle sterk genoeg voel, maak vir ons koffie, en bring drie stoele in die kamer in sodat ons al drie hier kan waak tot sy uit die koma kom.”
Joe voel die kalmte wat die rustige stem in hom bring, herroep Laurie se optrede oor ʼn leeftyd se waak oor Nathan, hy weet, mediese mense is van sterker stoffasie as hy gemaak.
Hy draai om, trek Lize saam met hom die kamer uit, hy weet hulle moet iets normaals doen, net hulself tyd gee om oor die desperate hartseer te kom, daarna weer fokus op die feite wat alles moet oopmaak en regmaak vir Zuluika.
Lize se selfoon lui, en hy laat haar gaan, sien haar deurstap sitkamer toe en is dankbaar vir die effense ruimte, hy weet, daar is nog soveel huil oor in hom, en hy laat sy trane uit sy siel val, en hy bid vir Zuluika.
Hy hoor die traangevulde stem, hy weet dit is Jake of Joos op die foon, en hy hoor die woorde, “Sy is in ʼn koma, maar Le Roux is hier en het aangedui sy hoef nie gehospitaliseer te word nie.”
Hy hoor Lize se besliste stem, “Nee, moenie vir Laurie laat weet totdat Zuluika uit die koma is nie, dit sal hulle geweldig ontstel indien ons nie kan bevestig sy is veilig nie. Indien jy kan kom, ons, en Zuluika het jou krag nou nodig.”
Lize se kreet ruk hom, “Ag nee Joos, dit gaan Zuluika platslaan, haar in totaal breek, kom asseblief deur Pretoria toe voor sy wakker word.”
Joe vat sy kop tussen sy hande vas, hy weet een van die ringvingers is Rudolph se vinger, en nou moet hy gaan sit want die hartseer laat hom wankel.
Hy sien haar inkom, voel haar arms om sy skouers, voel haar trane op sy kop val, en die bevestiging, “Een van die vingers is Rudolph se vinger.”
Joe se hartseer kreet word gevolg deur onbeheersde snikke, en hy en Lize klou aan mekaar vas, en die gebed is in albei, ‘Here, wees ons genadig, hou U hand oor ons’. Die een vers uit die Bybel se versekering is skielik in Lize, ‘Ek het jou gemaak, Ek sal jou dra, Ek sal jou versterk, Ek sal jou red’, en sy vertrou Hom.
Sy haal Joe se selfoon uit haar sak en gee dit vir hom, “Jammer, met al die hartseer en spanning het ek vergeet om dit vir jou te gee,” hy neem dit, sit dit in sy sak, en hoop die video sal help om hulle wat die kwaad gesaai het, te laat boet.

Dit is dieselfde oomblik wanneer Mauritz saam met Rhoda afstap in die hospitaalgang, en daar is skielik ʼn gevoel van onheil in hom. Hy gaan staan stil, en wanneer Rhoda omdraai en na hom kyk, skrik sy, hy is spierwit in die gesig, en die verlorenheid in sy blou oë laat haar tot stilstand kom.
“Wat is dit Mauritz, wat het nou net gebeur?”
“Iets verskrikliks is met Zuluika verkeerd, sy is weg vir altyd.”
Rhoda neem hom aan die hand en trek hom deur die gang haar kantoor in. Sy maak die deur toe en help hom om te sit. “Praat met my Mauritz, hoe weet jy dit, sê my wat jy voel, wat jy sien?”
“Net ʼn ontsettende pynlike gevoel van haar verlorenheid, so asof sy die lewe verlaat het.”
“Mauritz,” en sy dwing sy oë om in hare te kyk, “Bid vir haar, bid nou vir haar.”
Hy hou haar hand vas, sluit sy oë en bid.
Rhoda sien hom sy hand lig en aan sy voorkop raak, die verwondering is op sy gesig wanneer hy vra, “Het jy my kop aangeraak?” en sy skud haar kop, “Nee Mauritz ek het nie aan jou geraak nie.”
Sy neem sy kop, druk dit teen haar vas en sy hand bly op daardie besondere plek waar hy die warmte van ʼn aanraking gevoel het.
Na ʼn lang tyd kom die kalmte stadig in hom, “Jy moet weet Rhoda, ek het haar so lief, en ek wil nie, kan nie sonder haar leef nie.”
Die verlorenheid in sy oë, en in sy stem breek Rhoda se hart, dit is een waarheid wat almal hier in die dorp weet, en sy is verlig dit is nou hardop gesê, “Ek weet Mauritz, ons weet.”
Sy stem is gebroke, “Sy sou dalk hier gebly het indien ek haar dit gesê het Rhoda.”
“Mauritz, sy het dit geweet. Ek glo sy het presies so oor jou gevoel, maar sy is te opreg om tussen jou en Maxine te kom, dit behoort jy te weet.”
“Ek weet, maar die verlowing tussen my en Maxi het ons verbreek.”
Rhoda voel die skok in haar, “Mauritz.”
Hy maak haar stil met sy pleitende oë, “Ons het albei iemand anders liefgekry Rhoda. Sy was hier om dit vir my te sê, maar sy het nie die moed gehad nie, en ek het nie moed gehad nie. Daarom is ek so vinnig weg om haar te gaan sê, ek wou terug wees voor Zuluika gaan, vry wees vir my en Zuluika.”
Rhoda maak haar oë toe, skud haar kop moedeloos, “Jy moet net glo aan wat sy gesê het, sy sal terugkom.”
“Maar sal dit na my toe wees?”
“Wat was in haar boodskap vir jou?”
Hy maak sy oë toe, herroep elke woord, en hy weet al sy geluk is gekoppel aan haar belofte, ‘Liefste Mauritz, Ek wil hê jy moet weet, dit is vir my ʼn hartseer dag om hier weg te gaan, van jou af weg te gaan. Ek sal jou in my hart saamdra, tot ons weer ontmoet’, en hy weet, sy het hom lief, hy sal haar weer sien.
“Bel vir Hermann en gee hom ʼn boodskap, jou gebed vir haar om oor te dra.”
Mauritz besef Rhoda weet van sy oproepe aan Hermann, hoe, weet hy nie, en dit maak nie saak nie, hy is net verlig vir haar ondersteuning in sy leed. Hy bel Hermann en gee hom ʼn boodskap, ‘Sê haar ek het haar liewer as die lewe, en wag vir haar’, nou weet hy, dit is wat hy sal doen, hy sal wag.

Die wakker word, is soos die terugkeer uit ʼn ander wêreld, en sy sien hom, voel sy groot hande warm om haar hand, hoor sy sagte gelykmatige asemhaling, sien die gryskop teen die stoelleuning, en sy voel veilig.
Daar is geen verwarring in haar nie, geen wonder oor wat gebeur het nie, sy is helder, onthou elke woord, voel steeds die pyn in haar, maar sy weet, iets het verander, iets binne haar het verander in die ure wat sy weg was van hierdie wêreld af, en sy voel verlig, sy weet sy sal die droom weer, en weer herroep.
“Oom Joos,” kom dit sag tot hom, hy maak sy oë oop, en sy is daar, wakker, helder en rustig.
“Is jy permanent terug?” en die glimlag in die ongelooflike oë, bring die versekering, “Permanent terug oom Joos.”
Hy staan op, soen haar sag op die voorkop, “Jy moet opstaan, al is dit middernag, jy moet opstaan,” en sy weet sy wil.
Hy help haar uit die bed, trek haar skoene vir haar aan, trek haar teen hom vas, en stuur haar deur die gang na die stort, “Sal jy regkom, of moet ek Lize roep?”
“Ek sal regkom oom, maar sal jy Lize ook wakker maak, ek wil haar sien.”
Sy sien haar nagtas en toiletware wat sy Vaalrivier toe geneem het op die wastafel in die badkamer, weet hulle het geweet sy sal terugkom. Sy spandeer ʼn lang tyd, stort, droog af, borsel haar tande, kry haarself terug in die ‘nou’, en ‘hier’, en die afgelope ure se ‘droom’ is by haar.
Lize wag haar in, hartseer maar verlig, “Jy het ons laat skrik liefste mens.”
“Jammer daaroor, maar ek weet nou, ek het die ‘weggaan’, na daardie ‘vergetelheid’ nodig gehad,” en Rudolph is by haar.
Lize sit haar arm om Zuluika se skouers en druk haar sag teen haar aan, “Kom ons gaan kombuis toe, almal wag vir jou.”
Hulle sit om die kombuistafel, maar staan op die oomblik wat hulle twee die kombuis instap, Joe, Jake, Joos en die vreemdeling wat by haar was terwyl sy weggegaan het na daardie ver plek.
Hulle wag tot sy sit, Joos stoot ʼn beker koffie in haar rigting, “Hier is beskuit indien jy daarna voel.”
“Dankie, ek glo ek sal een of twee stukkies beskuit wel eet, hoe lank het ek geslaap?”
Die vreemdeling kyk op sy horlosie, staan op, steek sy hand uit, “Le Roux, en jy het vyf en twintig uur lank geslaap.”
Sy maak haar oë toe, en sy is verbaas, ‘Het die leef van drie leeftye daar in die wydheid van vergetelheid, net vyf en twintig uur geneem?’
Hulle sien die emosie op die skraal gesiggie, hulle weet, ‘Sy was iewers tussen twee wêrelde in die vyf en twintig uur’, en dit is genoeg vir eers.
Hulle skerm weg van die wrede waarheid, te bang hoe dit haar sal tref, haar weer sal wegneem na daardie ruimte waar die gees vry van die liggaam kan bestaan, daar waar sy vir ewig kan bly, hulle weet, dit kan hulle nie weer deurleef nie.
Zuluika neem die besluit weg van hulle wat haar wil beskerm, “Was Rudolph se vinger in een van die bottels?”
Die hoor van die vraag ruk hulle, ‘Hoe kan sy na al die trauma dit so helder onthou?’
Jake se gesig bring die antwoord, sy weet, ‘Daardie pragtige slanke vinger, wat so sag kon vat, wat so liefderyk om die musiek instrumente kon streel, is een van die vingers’.
“Ja, een van die sewe houers het Rudolph se vinger bevat.”
Die trane val uit haar siel uit, hulle sien die kennetjie bewe, sien die wanhoop en hartseer, en hulle wil weghardloop van die seer, maar hulle is nie by magte om te beweeg nie.
Hulle sit in stilte tot sy uitgehuil is. Die vraag dra al die hartseer wat in haar is, “Is sy trouring in die bottel?”
“Ja, dit is waaraan ons die vingers geïdentifiseer het, die trouringe.”
Sy hoor dit, voel die seer in haar brand, maar dwing haarself verby dit, “Wanneer alles afgehandel is wil ek Rudolph se vinger en ring terug hê, asseblief.”
“Ek sal daarvoor sorg Zuluika, ek sal sorg dat elke familie terugkry wat aan hulle geliefdes behoort het,” en Jake se stem breek van die gemengde woede en wanhoop wat in hom is.
“Die ander vingers, weet julle aan wie dit behoort?”
“Ja, al ses is geïdentifiseer.”
“Mag ek weet wie hulle was?”
“Ja, hier tussen ons kan ons dit noem, daarbuite gaan dit nog ʼn paar dae neem om ook eers daardie families in te lig.”
Sy knik haar kop, sy weet almal hier het reeds die waarheid gehoor, en sy wag.
“Sydney Grey, Bright Gumede, Jerome D’Oliveira, Vernon Trigge, Peter Elliot en Daniel De Groot.”
Die waarheid wat in die name opgesluit is tref haar, en Jake se woorde bevestig dit, “Hulle ideologie het niemand ontsien nie.”
“Hoe het julle hulle identiteite so vinnig vasgestel?”
“Die name van die oorledenes en hul gades was in elke ring gegraveer, en ons glo dit was deur die paartjies self voor die troues gedoen, nie deur die wreedaards nie.”
Hy wag een oomblik, “Die sertifikate in die koevert het die volle identiteite bevestig van die ander slagoffers.”
Hy gee haar geleentheid om dit in te neem, “Sodra ons die families almal opgespoor het sal ons die besonderhede bekend maak.”
Zuluika kyk na die mense om die tafel, sy sien hulle ontsteltenis, en die een vraag bly in haar, ‘Was haar pa deel hiervan gewees?’
Jake se stem bring haar terug, “Daar was nie ʼn sertifikaat in Rudolph se naam nie, ons glo die twee is aangekeer voor die seremonie kon plaasvind. Hulle het natuurlik daardie aand na die daad, dadelik Rudolph se vinger versorg,” en die woord ‘versorg’ wurg Zuluika.
Hulle sien die hartseer, maar ook die vasberadenheid wat sy uit daardie ver-weg wêreld gebring het.
Jake gaan voort, “Die ander bewysstukke wat ons gesoek het, ‘wie die opdraggewers is vir die dade’, is ook deur die ses sertifikate bevestig.”
Zuluika kyk op, die vraag en die vrees tegelykertyd op die bleek gesig, “Agt hooggeplaasde faksielede het die sertifikate geteken, trots hulle name uitgeskryf en hulself onvoorwaardelik gekoppel aan die dade. So Zuluika, dit wat jy jouself ten doel gestel het om te kry, dit het jy, die twee vroue, en die onbekende medewerker vir ons gegee.”
Hulle sien die wisselende emosie, en hy sê sag, “Jou pa is nie betrokke nie, was nie by een van die voorvalle betrokke nie. Nie as deelnemer, of opdraggewer nie. In teendeel Zuluika, met die beslaglegging gister op alles in daardie kamp, is daar tot nou geen enkele iets gevind wat eers na Ziegfried Cordier verwys nie, nie sy naam of sy teenwoordigheid nie,” en die verligting versmoor haar, en sy weet nie waarom nie.
“En hulle wie wel gekoppel is aan die dade?”
Dit is Joos wat antwoord, “Hulle, en verskeie ander lede is reeds in aanhouding, hulle gaan nooit weer vryheid sien nie nooi, nooit weer nie.”
Sy sien hom huiwer, “Die geld, die brief, sowel as die waarskuwingsbrief wat ons ontvang het, is egter wel gekoppel aan jou pa, hy het dit gestuur, en hy het dit erken. Hy weier om verder te praat, hy het vir sy regspan gesê, ‘Hierna sal hy net met jou praat, niemand anders nie’.”
Zuluika voel die skok, staan op, blaas haar asem stadig uit, “Waar is hy?”
“In die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum hier in die stad,” en die ironie daarvan wurg haar.
“Waarvoor is hy in hegtenis geneem?”
“Op die stadium slegs oor die briewe en die geld, maar ons kyk ook reeds na sy koppeling aan die faksie.”
Zuluika oorweeg die uitlating een sekonde, trek haar skouers op, “Dankie hiervoor, dit bring oneindige hartseer, maar ook berusting, dalk kan ek van hier af aan beweeg.”
Jake staan op, stap om die tafel, neem haar hand in sy hand, “Ek weet jy sal altyd glo jy was nie geregtig om daardie twee mense se lewens te beëindig nie, maar hier waar ek staan, in die wete watse wreedheid daardie mense in hulle vertroetel het, wil ek vir jou sê, jou daad het moontlik tientalle ander moorde voorkom, tientalle families gespaar dit waardeur jy en ses ander families gegaan het, en dit is in my oë die mees regverdige daad wat ek ooit gesien het. So indien jy kan, vergewe jouself, vir jouself, vir hulle wat deel was van jou verlede, deel is van jou hede, en deel sal wees van jou toekoms.”
Zuluika hoor elke woord, vir die eerste keer in al die duisende ure van selfverwyt wat verby is, maak dit ʼn verskil aan haar oordeel van haarself, en vir geen rede nie, haar oordeel van haar pa.
Sy kyk na die mense wat haar in die uur van openbaring bygestaan het, sy sien kalmte en tevredenheid, en sy voel dit in haar, “Ek wil plaas toe gaan, sodra dit lig is ry, indien dit reg is met julle. Vir eers het ek die plase en die mense nodig om te verwerk wat binne in my gemoed is,” en hulle is reg daarmee.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak