Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 16
Hoofstuk 16 – Die pad na Vrede
Joe en Joos besluit om agtermekaar te ry terug Ladysmith toe. Hulle stop by Villiers vir ʼn koppie koffie en ʼn toebroodjie, en Zuluika weet wat sy moet doen, “Oom Joos, Joe, ons moet Marie en Julia gaan inlig oor wat ons weet, voor dit in die media verskyn.”
Joe knik sy kop, “Ek stem saam Zuluika. Ek is bekommerd oor hulle veiligheid sodra die nuus rugbaar word.”
Joos knik sy kop, “Ek het baie gedink aan die twee vroue. Die ontnugtering, die hartseer, en nou die impak wat hulle kinders se dade op hulle veiligheid het. Ek is bevrees, ek moet saam met Joe stem, ek dink hulle kan wel in gevaar wees sodra die feite bekend gemaak word. Ek sal Jake se mening vra oor hulle beveiliging. Sodra ons weet, moet ons deurry en hulle gaan sien.”
Joos stap uit na buite, en hulle oë volg hom, sien hom praat, en aan sy houding weet hulle Jake stem saam.
Sodra hy sit, praat hy, “Jake stem saam, hy vrees ook vir hulle veiligheid. Hy stel voor ons ry deur en praat met hulle, sodra ons weet hoe hulle voel, sal Jake reëlings tref indien nodig. Hy glo geen van die ander families sal ooit enige verbintenis tussen die gebeure, die jongmans en die vroue kan maak nie, maar vertrouelinge van die opdraggewers mag wel.”
Joos laat sy motor by die motorhawe en hulle drie ry saam na die vroue.
Die huis is stil wanneer hulle stilhou, maar met die opstap met die paadjie gaan die deur oop en die twee vroue kyk na hulle met die vrae duidelik op hulle gesigte.
Zuluika stel Joos voor, en sonder om te verduidelik vra sy of hulle binne kan gesels.
Joos is die een wat die gesprek begin, en hy lig hulle so kalm moontlik in oor die inhoud van die koevert en toegedraaide houer.
Die twee vroue se ontsteltenis is hartverskeurend, en die trane wat volg breek Zuluika se hart. Zuluika besef weer, hierdie twee mense dra ʼn groter verwyt in hulle, ʼn groter hartseer as wat sy ooit in haar gedra het, en nou met die kennis van die ander ses moorde is die verwyt onbeskryflik groot.
Hulle sit elk met hulle eie hartseer, laat elkeen in hulle eie tyd tot hulself kom. Joos neem die besluit om die saak waaroor hulle hier is aan te voer, “Ons is bekommerd oor julle veiligheid. Eerstens aangesien iemand daarbuite weet julle het die bewysstukke gehad, en julle het dit aan die polisie oorhandig. Tweedens omdat julle kinders daarby betrokke was.”
Die twee vroue neem mekaar se hande terwyl Marie sê, “Ons het daaroor gepraat oor die tien jaar wat verby is. Ons glo slegs die persoon wat die sportsak hierheen gebring het, die draer van die geld, en die opdraggewer vir die aksies ken ons verbintenis aan die seuns. Ons het oor die tyd aanvaar daardie persone is ons nie net goedgesind nie, maar het hulself blootgestel aan dieselfde gevaar as ons asgevolg van hulle optrede teen die faksie, anders sou ons dit nooit ontvang het nie.”
Hulle swyg en laat haar voortgaan, “Ons harte is aan flarde vir Zuluika en die ander ses gesinne, en ons sal so graag ook vergifnis van hulle wil vra, maar ons sal nie weet of hulle ons leed bedoel nie, dit sal net die toekoms ons leer.”
Joos wag ʼn oomblik, “Indien julle dit sal oorweeg kan ons julle bystaan om julle name te verander, selfs te verhuis indien dit nodig is.”
Hulle kyk na mekaar, “Alhoewel julle ons aan die twee vanne koppel het ons meer as vyftien jaar gelede ons nooiensvanne amptelik teruggeneem. Daar is geen rekord van ons as Roux en De Swart oor die afgelope vyftien jaar nie.”
Zuluika voel die eenwees met die mense, sy, en wie sy lank gelede was, bestaan ook nie meer nie.
Joos knik sy kop, “Dit bring effens gerustheid, maar ek glo ons moet vir die volgende paar maande tot die saak weer stil word, julle of verskuif, of ʼn sekuriteits-maatskappy aanstel om julle te beskerm. Oorweeg dit asseblief.”
“Liewers die sekuriteit reëling, indien ons nie hier is nie, is Zuluika se eiendom in gevaar.”
Zuluika voel die hartseer in haar opstoot, en die gedagte is terug, ‘Dankie Here vir al U welwillendheid vir my’.
“Julle veiligheid en lewens is vir ons meer werd as enige eiendom op die aarde. Asseblief, julle moet veilig wees. Julle en dit wat julle bygedra het, het my weer ʼn kans op vrede en vreugde gegee.”
Marie druk Zuluika se hand, “Dit is reg, kan julle met ʼn sekuriteitsmaatskappy die reëlings tref asseblief, maar ons het nie geld om dit te betaal nie.”
Joos se stem is beslis, “Laat die reëlings en die betaling aan ons oor Marie, ons gaan dit nou reël voor ons vertrek, sodat ons weet alles is in orde.”
Joos en Joe stap na buite en met die terugkeer is hy opgewek, “Indien julle nie omgee nie, sal ek graag ʼn koppie koffie wil hê. Die reëlings word nou getref, en die sekuriteitsmaatskappy behoort binne die volgende uur hier te wees. So kom ons drink koffie en probeer ontspan terwyl ons vir hulle wag.”
Die sit met hulle wat haar ondersteun om haar en Rudolph se tafel, bring ʼn warmte in Zuluika, sy weet hierdie mense se omgee oor wat met haar en Rudolph se eiendom gebeur, maak haar vry van enige skuld-gevoelens.
Dit is halfvier wanneer Joe die viertrek aanskakel en hulle met ʼn laaste groet die pad terugneem na Villiers. Joos draai om na Zuluika waar sy op die agterste sitplek sit, “Alles sal reg wees nooi, glo my hulle is veilig. Dit is nie ʼn gewone sekuriteitsmaatskappy wie se mense dag en nag hier sal wees nie, hulle werk is om mense veilig te hou, nie net huise op te pas nie,” en Zuluika is tevrede.
Hulle ry weer agtermekaar vanaf die motorhawe by Villiers, tot waar Joe vir ʼn paar minute by die afdraaipad stilhou sodat hulle Joos kan groet voordat hy voortry na Ladysmith.
“Mooi ry, laat ons mekaar skakel sodra ons almal veilig tuis is, asseblief,” is Joos se afskeidswoorde, en Zuluika voel ʼn rustigheid in haar.
Zuluika en Joe is nie verbaas wanneer hulle stilhou op The Buttress, om Laurie, Matthew en al die ouers die huis te sien uitkom nie.
Laurie maak haar arms oop en alhoewel Zuluika glo sy het nie meer trane oor om te huil nie, huil sy soos ʼn baba wanneer Laurie haar teen haar vasdruk.
“Lize het ons laat weet julle is op pad terug, ook gesê julle het ontsettende hartseer en ontstellende nuus gekry, sy wou nie die besonderhede deel nie, het gesê julle sal ons inlig.”
Die deel van die besonderhede rondom die ontstellende bewysstukke, en die hartseer wat sewe families deurgemaak het breek almal se harte. Hulle sit in stilte, herleef weer die pyn en ellende waardeur hulle oor soveel jare gegaan het.
Laatnag in die stil donkerte, breek die skanse en Zuluika sluit haar oë, en sy wens om weer te wees daar waar sy vir vyf en twintig uur tussen daardie twee mense wat sy liefhet gehuiwer het, maar sy gaan nie terug nie, sy bly in hierdie hede, en uiteindelik wanneer die slaap kom, is dit Mauritz wat vir haar in haar drome wag.
Sy bly vir die volgende paar dae op die plaas, gebaai in die liefde en omgee van haar mense.
Hulle stap na Louis se graf, kuier onder die bloekoms by hom, stap af na die spruit se draai om die vrede wat hulle lank gelede verloor het, weer te beleef.
Sy en Laurie staan in die vlak water, en wanneer sy opkyk na waar oom Louis en oom Nate altyd gestaan het wanneer hulle hier gespeel het, staan Nathan met Christopher en Kyle elk met ʼn arm om sy bene, en die wens vir eie kinders, en ʼn oupa soos Nathan vir haar kinders, is terug in Zuluika.
Laurie vra haar om saam Emafweni toe te ry, maar sy wys dit van die hand, nie nou terwyl sy nog so rou is nie, nog soveel het om af te handel nie, en dit is reg met Laurie.
Sy gebruik die tyd om haar skoonouers te skakel, vertel hulle van die moorde, nie die ringvingers nie, en hulle stort ineen wanneer sy hulle die wrede waarheid vertel, maar die liefde is daar wanneer hulle smeek, ‘Kom vir ʼn tyd na ons toe my kind, asseblief’, en sy beloof, ‘nie nou nie, maar ek sal kom’.
Jonah kom die volgende dag van die Noord Kaap na haar toe, en hy bly drie dae op die plaas by haar. Beleef hulle twee weer daardie noodlottige dag voor die hof, smeek hy haar soos soveel keer tevore om vergifnis vir sy aandeel aan die tragedie.
Vandag maak sy hom stil, en herhaal sy Jake se woorde vir hom, “Jonah, Jake het die volgende woorde vir my gesê, sal jy dit asseblief ook neem en op jou verwyt en jou pad vorentoe toepas. Weet net, daar was dalk tog ʼn hoër doel, wat ons nie verstaan nie.”
Hy het gesê, “Hy weet ek sal altyd glo ek het nie die reg gehad om daardie twee mense se lewens te beëindig nie. Met die wete van die wreedheid wat daardie mense in hul vertroetel het, wou hy hê ek moet weet, en ek wil hê jy moet ook weet, daardie daad het moontlik tientalle ander moorde voorkom, tientalle families die pyn gespaar waardeur ek, en jy, en ses ander mense en hulle families gegaan het. Hy het gesê, in sy oë is dit ʼn regverdige daad. Ek en jy moet onsself vergewe, indien jy kan, vergewe jouself, vir jouself, vir hulle wat deel was van jou verlede, deel is van jou hede, en deel sal wees van jou toekoms.”
Jonah Bruyns gaan op sy knieë, sit sy kop op sy skoonsuster se skoot neer, en huil sy hartseer uit. Wanneer hy die volgende dag terug Noord Kaap toe vertrek, trek hy haar teen hom vas, “Dankie sus, ek voel beter, ek dink ek kan nou vorentoe gaan,” en sy weet hulle albei het genade ontvang.
Die volgende dag bel Joos en vra sy en Joe moet deurkom Ladysmith toe, ‘Daar is verwikkelinge’, sê hy.
“Die ander ses slagoffers se mense is opgespoor,” kom dit onmiddellik wanneer sy en Joe in Joos se kantoor gaan sit.
Zuluika voel die spanning in haar opbou, “Drie van die persone het reeds die land verlaat, en die ander drie se emigrasie aansoeke na Europa is baie ver gevorder.”
Sy besef, soos sy, wil hulle ook nie meer in ʼn land woon waar soveel van hulle weggeneem is nie, en dit verminder Zuluika se verwyt oor haar voorneme om die land permanent te verlaat sodra hierdie nagmerrie verby is.
“Kontak is reeds gemaak met al ses vroue en onderhandeling om hulle in die volgende week of twee terug in Suid Afrika te kry is in die proses om afgehandel te word.”
Zuluika voel ʼn hartseer vir die ses gesinne, “Waarom hulle terugbring na die hartseer oom Joos?”
“Al ses insidente is soos met Rudolph as ‘toevallige kapings’ hanteer, en na al die jare steeds onafgehandel. Hulle teenwoordigheid is nie net nodig om die saak teen die faksielede te versterk nie, maar soos in jou geval nooi, om ook vir hulle sluiting te gee.”
Joe steek sy hand uit en vat haar hand vas, “Ek dink julle moet mekaar ontmoet, mekaar troos, weet daar is ander wat ook gely het.” Zuluika weet, dit is die waarheid, en sy is reg daarmee.
Joos bevestig die vind van verdoemende getuies tussen die dokumentasie waarop die polisie beslag gelê het. Bewyse van aanvalle op mense, geboue en staats-instellings, inligting wat nog baie ander persone koppel aan die faksie.
Hy antwoord die vraag wat elke keer in haar is, “Hy is nie in daardie bewyse nie nooi, nêrens nie. Ons twyfel of hy oor die afgelope twintig jaar enige iets met hulle te doen gehad het.”
Hy gee haar geleentheid om die feite te verwerk, “Jy sal Gert Roestof gaan sien, nê Nooi?” Sy knik, “Ek sal voor ek weggaan dit doen, dit is ook vir my belangrik.”
Sy vra na Marie en Julia se welstand, en hy verseker haar hulle is veilig, en sal veilig bly.
Met die groet sê hy sag teen haar slaap, “Mauritz het ʼn boodskap vir jou gestuur,” en wanneer sy stil word teen hom, herhaal hy Hermann se woorde, “‘Sê haar ek het haar liewer as die lewe, en wag vir haar’.”
Sy staan stil in haar vreugde teen hom, en sy bid dit beteken, ‘Liefde soos ʼn man vir ʼn vrou, nie net vriendskap nie’, en die twyfel is terug, ‘Wat van Maxi, wat van haar daad?’ Sy sê dit sag, “Laat weet hom ek sal terugkom, hy moet vir my wag.”
Sy stap na Joe, sit haar hand in die rustige groot man se hand, skielik is daar hoop in haar, die hoop wat Mauritz se boodskap gebring het.
Wanneer hulle in die viertrek klim vra Zuluika Joe om deur te ry na Winterton, sy wil vader Maurice Jackson gaan sien. Sy weet, vandag het sy die wonderlike Godsman nodig om haar met vrede terug na haar God te help.
Vader Maurice is bewoë, maar oorstelp van vreugde wanneer hy die deur van sy huis oopmaak en Zuluika en Joe sien. Die trane in sy oë vind weerklank in die onpaar oë se trane.
Sy stap in die sterk arms in, en die sluise gaan oop, iewers hier binne in haar ontstaan die gevoel, ‘Ek het huis toe gekom Here’.
Joe streel haar liggies oor die rukkende skouers en wanneer die twee groot mans se oë ontmoet is die trane en die gedeelde liefde daar. “Ek gaan vir ’n paar uur vir my mense kuier wat verderaan woon, bel my wanneer ek terug moet kom.”
Vader Maurice se mond vorm daardie een woord ‘Ngiyabonga’ en Joe knik sy kop en vou sy hande saam teen sy hart in sy gedeelde dank.
Hy hou haar teen sy hart vas tot die klein lyfie rustig raak, en met sy arm styf om haar skouer stuur hy haar sy huis binne.
Hy vat haar deur kombuis toe, help haar langs die tafel sit, en skink vir hulle elk ʼn beker koffie, “Swart met een suiker?” sê-vra hy, en sy knik haar kop en die pikgitswart kuif val oor die oë wat soveel hartseer dra. Hy weet vandag sal hy saam met hierdie lieflike mens die Here weer op ʼn besondere wyse ontmoet.
Sy praat deur al die pynlike waarhede van die afgelope dae, en hy voel hoe hy as Godsman rebelleer teen soveel haat en geweld. Hulle drink hulle koffie, en deur die stilte tussen hulle kom dit gebroke, “Vader al sou die wêreld my vergewe, al sou ek myself vergewe, sal God my vergewe?”
Hy sien die verlorenheid, die soeke na dit wat haar weer heel moet maak, haar terug na haar God moet neem, haar terug na vrede moet neem.
Sy vra met trane in haar oë, “Sal jy my hand vat en my terug help na my God, asseblief.”
Hy vat haar hand oor die tafel vas in sy groot hande, en wanneer sy opkyk in sy oë sê hy sag, “Ek sal my kind, maar ek wil hê jy moet weet, al het jy in afsku vir jou daad weggekruip vir jou Here, het Hy jou nooit een oomblik verlaat nie. Ons Here versaak nie sy kinders nie, nooit en vir geen rede nie. Hy was, en is elke sekonde van elke dag en nag by jou, ongeag wat ons glo ons sonde is, want Hy is vergifnis.”
Sy klou aan die twee warm hande, vandag wil sy gered word, wil sy weer welkom en veilig voel in die huis van haar Vader, wil sy die pad terug stap sodat sy in Mauritz se oë sal kan kyk.
“God vra jy moet jou sonde bely en tot bekering kom, en dit het jy oor die jare ʼn duisend keer gedoen my kind.”
Vader Maurice Jackson wag tot haar oë na hom kyk, “Ons Vader het jou vergewe my kind, maar jy het nie, en sonder daardie vergifnis sal jy nooit heel wees nie.”
Zuluika hoor die woorde en weet dit is waar, “Zuluika jou onvermoë om jouself te vergewe kom ver terug uit jou verlede. Jy het toegelaat dat ʼn persoon wat net haat aangehang het, jou laat glo het dat jy geen waarde het nie, en daardie gevoel in jou het jou altyd laat glo jy moet perfek in alles wees, die beste, skoonste en reinste van almal moet wees.”
Hy sien die knip van haar oë, die tref van die waarheid waar dit saak maak, en die trane, “Hoe kan ek van die ‘onding’ in my ontslae raak. Wat sal ek doen om net heel te wees Vader, net met myself te kan saamleef?”
“Neem die vergifnis wat God jou reeds gegee het, en glo dit. Moenie weer terugkyk nie my kind, kyk net na jou Here, en Sy genade.”
Sy maak haar oë toe, weet wat hy sê is waar, die waarheid wat almal kan sien, net nie sy nie, en Thobile se woorde maande gelede bevestig dit, ‘Zuluika moenie in alles perfek probeer wees nie, jy is ʼn mens en jy het reg om soms ook jou eie visier effens te laat sak. Bo alles moet jy jouself vergewe, en jy moet geduldig wees met jouself in jou groei terug na vry wees. Jy moet glo en aanvaar die tien jaar wat jy ingeboet het, het jou skuld betaal. Gaan uit na die vryheid en vind weer geluk, want jy verdien dit’.
“Vader sal jy saam met my bid en die Here vra om my te help om myself te vergewe en te aanvaar, om my los te maak van die haat van my kleintyd wat my vernietig het?”
Met die knik van sy kop staan sy op, “Kan ons dit in die Huis van die Here doen, kan jy saam met my in Sy Huis ingaan asseblief?”
Hulle stap hand aan hand deur die gang die klipkerk binne, kniel voor die beeld aan die kruis, en hy bid tot hul God, en sy voel die genade van haar Vader oor haar kom. Sy weet die toekoms sal nog twyfel bring, maar sy is sterk genoeg vir vergifnis, vir die ingaan en neerkniel voor haar God, vir die aanvaar van Sy vergifnis en van haarself.
Hulle eet ʼn middagete van koue vleis en slaaie by sy kombuistafel, en die rus in haar duur voort.
Wanneer Joe haar vieruur teen sy hart druk en hy in vader Maurice se oë kyk, weet hy, die selfvergifnis het begin, en dank hy sy God woordeloos vir die genade vir die spesiale mens. Albei weet, vandag was die dag wat tien jaar lank gewag het om te gebeur, en hulle is dankbaar vir die geleentheid om deel daarvan te wees.
Hulle gaan huistoe en Zuluika baai in die liefde van die mense op die grond waar sy so gelukkig was. Sy onthou klein dingetjies uit haar dae hier, vind rus langs die koolstoof saam met Nathan saans wanneer almal reeds gaan lê het, en voel ʼn rustigheid in haar wanneer sy Laurie se geluk en liefde saam met Matthew sien.
Zuluika weet sy het nog vergifnis om te gee en te kry. Sy vra Joe om ʼn tas te pak vir ʼn dag of twee, en sy en Joe vat die Maandagoggend die pad na die plaas tussen die Witteberge.
Hulle ry kuier-kuier na die Victoriaanse dorpie Ladygrey in die hart van die Wittebergberge. Hulle gaan tuis in die Grey Lady Gastehuis, en nuttig ʼn laat middagete in die boomryke voortuin.
Beide weet die uitry na die plaas kan nog vandag gebeur, maar Zuluika weet, sy het vanaand die rustige atmosfeer van hierdie dorpie en hierdie huis nodig om haarself voor te berei vir die besoek.
Hulle ry na ontbyt die volgende oggend, vat die pad na die plaas wat tussen Ladygrey en Dordrecht geleë is. Met die opdraai in die plaaspad sien hulle die twee netjiese huise, die buitegeboue wat spierwit langs die klipmure van die skaapkraal staan, en die twee klein hout chalets, aan die oewer van die Kraairivier, en die skoonheid en rustigheid is nie wat sy die afgelope tien jaar met Gert Roestof vereenselwig het nie.
Hy is oud en grys wanneer hy op die stoep uitkom, die magtige regter Gert Roestof wat haar met soveel oortuiging lewenslank tronk toe gestuur het, en agter hom ʼn klein vroutjie wat met die uitkom Zuluika herken, en die trane loop oor haar wange.
Wanneer sy voor hom staan is hy bewoë, “Joos het my die afgelope dae se waarheid laat weet, en ek is diep beskaamd en bedroefd, nie net oor wat jou oorgekom het nie.” Sy lig haar hand, wil hom stilmaak, want sy hartseer en boetedoening is nie nodig nie, al het die waarheid nou alles so vererger vir hom, maar hy smeek haar tot stilte met sy hartseer oë.
“Ek is diep beskaamd oor my optrede tien jaar gelede teenoor jou, my ego, my verwaandheid, my grootheids-waan. Ek wil voor jou op my knieë gaan en weer en weer jou vergifnis vra.” Hy sak in sy grysheid op die sementvloer neer, en Zuluika se hart breek vir hom, hy wat so ʼn groot deel van haar ‘saamleef’ met haarself help skep het deur daardie fel vonnis.
Zuluika sak langs hom neer op die klipvloer, sit haar arms om sy skouers, en met trane wat uit haar siel loop sê sy dit wat sy so gehoop het sy eendag vir hom sal kan sê, “Die straf wat ek gekry het, was reg, dit het ek verdien, die wegvat van my vryheid en my besittings, dit was reg, ek wil hê u moet weet, indien dit minder as dit sou wees, sou ek nooit vergifnis kon vra of vrede kon vind nie. Die Bybel sê duidelik, vir my het die wraak nie toegekom nie, ongeag wat ons nou weet, ek was verkeerd en niks kan dit regverdig nie. U soeke na geregtigheid tien jaar gelede, het dit vir my moontlik gemaak om aan te gaan, indien ek nie daardie straf wat u my gegee het uitgedien het nie, sou ek nooit weer met myself kon saamleef nie, so ek sê dankie daarvoor, dit was reg.”
Sy weet in haar eie leed, sy kan nie hierdie leed aanskou nie, sy wil net weghardloop soos die dertienjarige kind lank gelede, iewers in haar alleen wees wil sy gaan treur oor al die hartseer, maar die klein vroutjie se hande wat haar probeer optel van die sementvloer af, die smekende stemmetjie teen haar hare, “Kom asseblief in, kom sit net by ons vir ʼn wyle,” hou haar hier in hierdie oomblik.
Sy laat haar ophelp deur die oumens hande, sien hoe Joe hom ophelp, sien hoe hy aan Joe hang en Joe toelaat om hom die huis in te help tot op die rusbank in die skemer vertrek.
Sy vra met smeking in haar oë of hulle koffie sal drink en Zuluika stap saam met haar na die kombuis. Sy draai om, maak haar arms oop, en Zuluika stap daarin, “Dankie vir jou genade vir ons vandag, daarsonder kon ons nie die afgelope jare, of vorentoe weer heel wees nie.”
Hulle bly daar, maak die koffie saam, en Zuluika voel die vrede in haar.
Hulle laat hulle daar in trane, maar in vrede, vrede om weer te probeer leef. Die terugkyk en waai versterk die gevoel van vrede in Zuluika.
Die volgende week smeek Laurie, “Kom asseblief saam na Emafweni vir ʼn paar dae.” Zuluika stem in, sy weet die tyd is reg vir nuwe dinge, sy kyk op teen die berg, en die klein dogtertjie gevoel die dag toe sy die eerste keer in Louis Olivier se arms opgekyk het na die berg, is terug, die vorentoe gaan oortuiging is terug.
Die ou opgewondenheid is in Zuluika wanneer hulle oor die Sani Pas gaan met die berge wat rondom hulle troon. Die vryheid wat die berge haar gegee het, is terug, en sy weet sy vind elke dag ʼn bietjie van die ‘lank gelede’ Zuluika terug.
Laurie vertel haar hoe sy gevoel het toe sy die eerste keer oor die pas na Emafweni gery het, haar vrees, maar ook haar afwagting om Matthew te sien. Hoe sy gevoel het toe sy die eerste keer langs haar motor gewag het vir hom om haar te sê waar sy heen moet gaan. Die gevoel toe die twee seuns uit die huis uit gehardloop het en haar ‘mamma’ genoem het, en Zuluika wens weer haar wens.
Matthew, die seuns, en Metando kom uit die huis voor hulle stilhou, Zuluika weet hulle het gewag vir Laurie, en die gevoel daar in die berge wanneer sy uitgestap het en gewag het vir Mauritz om uit sy huis te kom, is in haar, en sy verlang na hom en die vrede wat hy bring.
Die liefde in Matthew se oë wanneer hy na Laurie kyk, die tere aanraak van haar wang, die vastrek van haar teen sy breë bors, kom kruip in Zuluika se hart in, en sy vra haar God die vraag, ‘Kan ek weer so geliefd wees Here?’
Die bouwerk aan die kliniek en nuwe opstal is reeds dakhoogte, en Laurie roep haar groet na die span van die boukontrakteur wat Matthew aangestel het om die bouwerk te bespoedig. Zuluika besef die meelewing van Matthew met alles wat Laurie na aan die hart lê, sy weet, dit wys sy liefde, die liefde wat alles oorsien, wat alles wil gee, en sy bid daarvoor.
Wanneer hulle omstap na die kliniek sê Laurie, “Duanne gaan aanbly by die kliniek,” en met ʼn vat aan Zuluika se hand, “Ek wens jy kon hier kom werk,” maar Zuluika weet, daar is ʼn ander hospitaal in die berge wat vir haar wag, en sy sê dit vir Laurie.
Die hartseer oor die verlies wat kom, is op Laurie se gesig, maar sy weet, wanneer ware liefde kom, moet ʼn mens dit aangryp, en sy gun Zuluika daardie liefde.
Die gesels gaan oor wie waar sal woon sodra die bouwerk voltooi is, en Zuluika besef hoe die liefde Laurie oorgeneem het, haar uit die ou Laurie se oortuiging van, ‘Net my pa en die medies, en niks verder nie’, geneem het, sy besef dit is waar sy na die paar maande in die wit wêreld is, ‘daar sal medies wees, daar sal werk wees, maar dit is nie meer die kroon van haar begeerte nie’.
In die dae wat volg deel hulle elke oomblik, haal jare se gesels in, deel hul diepste geheime soos lank gelede, en baai in mekaar se liefde.
Die rit terug na The Buttress bring die wete in albei, ‘Zuluika se tyd in die land is besig om uit te loop’, albei voel die hartseer oor die verlies, soos oor die tien jaar wat Zuluika weg was, maar daar is ʼn verskil, albei is vry van hartseer.
Zuluika vat haar hand en sê met oortuiging, “Ons twee is vir die eerste keer in al die jare vry om mekaar te sien wanneer ons tyd kan maak, ons is nie meer gebonde aan die dinge wat ons hier vasgehou het nie,” en Laurie weet dit is waar.
Joos kom sien haar op die plaas, sonder haar af, en vra, “Sal jy jou pa gaan sien?” Sy weet sy moet, maar sy het nog nie die selfvertroue opgebou om hom in die oë te kyk nie, en sy sê hom dit.
Hy neem haar hand en sê dit wat sy weet die enigste rede op die oomblik vir ʼn besoek sal wees, “Hy is al wat iets van jou ma weet nooi, en jy verdien die inligting. Ook waarom hy die geld vir die twee vroue stuur, julle al drie verdien die waarheid,” sy weet, ook dit is waar.
Hy hou haar terug wanneer sy wil wegstap, “Van geld gepraat my kind, Louis het vir jou ʼn trust geregistreer waar daar ongeveer tien miljoen rand in is.” Sy lig haar hand om hom stil te maak, maar hy keer haar, “Nee nooi, die is ʼn saak waaroor ek ernstig is, en Louis ernstig was. Die geld is joune, dit was nie deel van sy boedel nie. Sy wens was altyd vir jou om dit te kry, en ek gaan sy wens enduit neem, so asseblief nooi, hou die wete in jou vir ʼn tyd voordat jy besluit. Ek het die geld nie op langtermyn herbelê nie, dit is beskikbaar in ʼn kort periode.”
Zuluika knik haar kop, sy weet, ‘Eers net deur hierdie tyd kom, voor sy besluit’.
Die dae wat volg is saamkuier dae, sonder trane en hartseer, en ʼn oortuiging kom in Zuluika se gemoed, sy gaan weer gelukkig wees.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.