Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 17

Hoofstuk 17 – Seëninge uit die Verlede

Die oggend van nege en twintig Mei skakel Joos, en vra of Zuluika reg sal wees om die volgende week in Pretoria te wees. Die SAPS ondersoek is afgehandel, hulle is gereed om eers die betrokkenes in te lig oor hul bevindinge, voor hulle die feite openbaar sal maak.
Zuluika voel die vrees in haar, maar sy ruk haarself reg, ‘Wat kan erger wees as dit wat sy reeds weet, wat sy reeds beleef het?’ Die vraag is in haar, ‘Het die ander ses mense geweet van die afgesnyde ringvingers, of is dit net sy wat nooit die feite gehoor het nie, haarself nooit die tyd gegee het om dit te hoor nie’.
“Dit is reg oom Joos, ek sal gereed wees.”
“Ek gaan ook saam met julle Pretoria toe, so jy en Joe kan saam met my ry.”
“Dankie oom, ek sal vir Joe sê.”
Die kommer is in almal wanneer sy hulle inlig oor die gebeure. “Ek is gereed hiervoor, ek twyfel of die sessie meer pynlike inligting vir my kan onthul as wat ons reeds weet, my simpatie lê by hulle wat vir die eerste keer die pynlike waarhede gaan hoor.”
Sy glimlag, weet sy moet nou ʼn besluit neem, “Ek het die sessie nodig, want ek moet alles weet voordat ek my pa gaan sien.”
Die skok vries almal se gesigte, “Wanneer gaan jy hom sien?” Kom dit bekommerd van Nathan.
“Sodra sy prokureur die besoek kan reël.”
“Waar is hy?”
“In die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum in Pretoria.” Soos vir haar weke gelede, val die ironie daarvan almal op, maar hulle swyg.
Dit is Selma Townsend wat vorentoe stap en Zuluika se hande neem, “Die in die oë kyk van hom is reg, daar is sekere feite wat net van aangesig tot aangesig gedeel kan word, al is dit die laaste mens wat jy ooit wil sien, moet julle albei die emosie van die waarheid beleef om rus te vind. Ook ek moes die persoon uit my verlede in die oë kyk om te verstaan waarom hy ons deur agt en twintig jaar se ellende gesit het. Dit het my vrede gegee, my die krag gegee om my rug op hom te draai, en weg te stap van die seer.”
Zuluika kyk haar lank in die oë, “Dankie tannie Selma, ek het nodig om dit van iemand te hoor wat deur dieselfde hartseer is. Al is die ‘klein-dogtertjie bang’ nog daar, weet ek, ek het vrae wat hy moet antwoord terwyl hy my in die oë kyk.”
Joe dui onmiddellik aan, ‘Hy is enige dag gereed om te ry, hy bestuur, en Zuluika kan Joos so inlig’.
Sy bevestig met Joos en hy stem in. Met die totsiens sê, gee hy haar die boodskap, “Mauritz het jou boodskap gekry nooi,” en sy voel die warmte in haar, ‘Dalk Here, dalk net is daar liefde vir my in my toekoms’.
In die dae wat volg is die rus terug in Zuluika. Sy kuier haar ure om met haar mense, stap saam met Selma na oom Louis se graf, sit onder die bloekombome en gesels met haar, vertel haar van die onbeskryflike lekker en veilige dae wat sy hier by hom gewoon het. Vertel haar van haar en Rudolph, en die wonderlikhede wat tussen hulle was, en sy kry stadig maar seker die vrede terug wat sy lank gelede op die grond ervaar het terug.
Die laataand sit op die stoep bring herinneringe by Laurie, en die begeerte om Zuluika se viool se klank te hoor soos lank gelede aande op hierdie stoep. “Speel asseblief vir ons ʼn paar liedere op die viool,” en sy sê ja, die vrees is weg, haar liefde vir musiek is terug, en sy verlang na Rudolph, Mauritz en ‘die vyf’.
Sy speel die liedere wat ‘die vyf’ gekies het, en die bekendheid bring hulle naby haar, en dit lig haar uit haar hartseer verlange. Skielik is die oortuiging in haar, al die twyfel weg, sy sal hulle weer sien, hierdie jaar weer sien, en vir eers is ook die wete genoeg.
Sy sluit af met haar en Mauritz se lied, ‘Every Breath you take’, en sy weet, sy wil naby hom wees, sy asemhaling sien, sy nabyheid inadem, sy prag elke dag sien.

Die applous is spontaan en dit is Laurie wat sê, “Zuluika jy moet definitief weer eendag in die teater optree, al is dit net sodat ons jou weer daar kan sien.”
Sy deel Rik van Dijk se uitnodiging spontaan, op hierdie oomblik weet sy, sy sal dit doen voor sy weggaan, “Indien julle almal deur sal kom Pretoria toe om dit by te woon, sal ek dit doen.”
Die instemming is onmiddellik daar, en Zuluika besef, sy het spontaan weer begin beplan. Nie meer die onsekerheid oor alles nie, en sy is verwonderd oor die krag in haar wat vir so lank weg was.

Die Maandagoggend ses Junie ry hulle deur na Pretoria, en terwyl sy geglo het sy is sterk genoeg vir die laaste waarhede, is die vraag in haar, ‘Is sy sterk genoeg om die ander ses mense in die oë te kyk, sonder om ineen te stort soos weke gelede’, en skielik maak dit nie saak nie, ‘Sy het reg om te treur, sy het reg om nie perfek te wees nie, sy is net ʼn mens soos al die ander’, en nou is die aanvaarding hiervan ook genoeg vir haar.
Hulle ry direk na die Castle Ridge Gastehuis wat hulle na die vorige wonderlike verblyf aangeneem het as die gastehuis waar hulle wil woon wanneer hulle in Pretoria is. Die personeel is openlik ingenome wanneer hulle Zuluika en Joe eien en neem hulle deur na drie kamers op die grondvloer langs die noordelike grasperk wat vir hulle gereserveer is.
Die sit op die stoep, elk met ʼn koppie koffie, Joos wat vir Lize en Jake skakel, Joe wat lomerig sy oë toemaak, en alles is so normaal, so weg van die hartseer onsekerheid, en die rus is in haar.
Joos se woorde bring haar terug, maar die krag bly in haar, “Die samekoms is gereël vir môre elfuur by die Forensiese Kantore in Pretoriusstraat.”
Hy kyk na haar, “Is jy reg hiervoor nooi?”
Die onmaats oë knip een oomblik, “Glo nie ek sal ooit heeltemal reg wees nie oom Joos, maar ek weet hierdeur moet ek kom indien ek met my lewe aan wil gaan, so, ek is so reg as wat ek kan wees.”

Die stilte aan die ontbyttafel duur voort met die inry stad toe. Joos en Joe weet, hulle moet haar geleentheid gee om in haarself die krag te vind, sy sal praat wanneer dit nodig is.
Met die instap in die hysbak voel Zuluika die angs in haar, voel sy die ‘klein-dogtertjie bang’, maar voel sy ook Joe se hand om hare, “Byt vas my maat, vertrou en glo,” en sy klou aan die sterk hand vas.
Jake wag hulle in voor die hysbak, en dit bring ʼn mate van rus by hulle al drie.
Hy groet die mans en wanneer Zuluika haar hand uitsteek, vat hy dit, trek haar nader en druk haar een oomblik teen hom vas, “Ek is bly jy is hier, weet net ons is hier vir jou.”
Hulle stap in die teenoorgestelde rigting van die laboratoriums waar hulle ʼn paar weke gelede was, en Zuluika voel verlig.
Met die oopstoot van die deur trek Jake haar saggies saam met hom die vertrek binne. Sy sien alles en almal in die vertrek in een sekonde, maar dit is net die ses vroue met die pyn wat sy in haar hele wese voel, in hulle oë, wat haar blik hou.
Sy weet sy ken hulle definitief nie, maar in die hartseer oomblik is dit die gedeelde leed wat hulle na haar uitstraal wat hulle saam bind. Sy laat gaan Jake se hand, stap spontaan na hulle toe, en hulle maak hulle arms oop vir haar, en die trane vloei vry oor hulle wange, sy weet, hulle weet wie sy is, en dit is reg met haar.
Dit vat hulle sewe ʼn lang tyd om tot hulself te kom, maar wanneer hulle stil langs mekaar gaan sit, in die stoele wat in die vorm van ʼn halfmaan geplaas is, is die krag in die warm hande wat hul eie hande vashou.
Zuluika sien die ander persone in die vertrek, hoe hulle ongemerk agter elkeen van hulle kom staan, Mediese personeel weet sy, en die pyn aan wat gedeel gaan word met die ses mense, wurg haar.
Sy kyk op en Joos en Joe se oë dra die simpatie en liefde wat sy nodig het, en sy voel veilig by hulle.
Wanneer dit stil word kom dit sag maar duidelik van elke vrou, ‘Riana Grey, Sydney se vrou, Doreen Gumede, Bright se vrou, Elizabeth D’Oliveira, Jerome se vrou, Rochelle Trigge, Vernon se vrou, Marjorie Elliot, Peter se vrou, Maureen De Groot, Daniel se vrou.’
Zuluika voel hoe haar keel toetrek, maar sy weet, sy wil met dieselfde trots vir hulle sê wie die wonderlike mens was wat sy so ontsettend liefgehad het, en sy hoor haar eie stem belaai met die ‘trane-emosie’ in haar, “Zuluika Bruyns, Rudolph se vrou.”
Hulle is stil by die herinnering van die persoon wat hulle so liefgehad het, die besondere mens wat van hulle weggevat was deur soveel haat, en daar is troos in die wete, ‘Hulle elk het iemand gehad wat hulle onvoorwaardelik liefgehad het, die liefde wat ander net voor kan hoop’.
Jake wag ʼn paar minute, die spanning duidelik op sy gesig, “Dankie vir die geleentheid om nie net julle sake af te handel nie, maar om te probeer om vir julle die waarheid te gee wat ons hoop ook vir julle berusting en sluiting sal bring.”
Sy hoor die meegevoel, weet wat die eerste waarheid is wat die ses vroue nou gaan hoor, en haar leed loop in dun straaltjies oor haar wange.
“Die waarhede wat ek vandag met julle gaan deel, gaan julle diep en pynlik raak, dit sal julle terugneem na ʼn ontsettende hartseer en pynlike periode in julle lewens.” Hy wag een oomblik, “Is julle gereed om weer daardeur te gaan, weer die hartseer te beleef?” Zuluika sien die koppe knik, en sy wag vir die pyn wat kom.
“Ons het in ons besit onomkeerbare bewyse rondom die insidente wat gelei het tot die dood van julle geliefdes, wat bevestig dit was nie ‘toevallige kapings wat verkeerd geloop het nie’.”
Zuluika sien die skok, sluit haar oë, en bid, ‘Here, wees met ons asseblief’.
Jake se woorde bring die trane, “Dit was gereëlde moorde, gemik teen paartjies waar die huweliksband veelrassig was.”
Die bevestig van wat al ses vroue vermoed het, bring die leegheid wat hulle voel na hulle gesigte, en Jake weet, hy moet nou deurdruk, “Die bewyse wat ons ontvang het van persone wat vir die afgelope tien jaar gepoog het om die waarhede bekend te maak, het bevestig wat ek julle so pas meegedeel het. Ons het ook die identiteite van die persone wat gemoor het, en hulle wat opdrag tot die moorde gegee het bevestig.”
Zuluika sluit haar oë, skielik totaal gedaan, amper nie instaat om weer deur die pynlike waarhede te gaan nie, maar sy weet, vir haar en vir almal wat deur dieselfde pyn en hartseer is, moet sy bly sit, moet sy sterk wees.
Sy voel Joe se hand op haar skouer, hoor die verdoemende feite oor die sertifikate, en sy wens sy kan haar ore toedruk, want sy weet, die volgende woorde sal die onmenslike daad van die skending van hulle geliefdes wees.
Sy maak haar oë oop, sien die pyn en verdwasing op die gesigte om haar, dit wat die wete van die daad bring, sien die beamptes se hande troostend op die vroue se skouers, die stap om die stoele, die kniel voor die ses huilende vroue, en sy wens om terug te gaan na daardie ver plek waar sy die vyf en twintig uur was.
Sy voel Joe se hande op haar skouers, voel sy voorkop teen haar kop, en sy sagte woorde, “Sien die leed en hartseer wat jy gestop het Zuluika, klou vas aan die wete dat jou daad die onmenslike dade tot net sewe moorde beperk het.”
Zuluika hoor die woorde, voel die kalmte stadig oor haar kom, sy weet wat hy sê is waar, sy weet na vandag wil sy, indien dit vir haar beskore is, nog net aan een persoon haar verwyt noem, daarna wil sy nooit weer daaraan dink nie.
Dit vat die vroue ʼn geruime tyd om met die hulp van die mediese beamptes te kalmeer, en Zuluika weet, ongeag die hartseer wat die waarheid gebring het, was dit ʼn waarheid wat vandag gedeel moes word, ʼn waarheid wat die twee vroue se soeke hulle vandag bring.
Zuluika hoor die woorde van die vraag wat sedert die dag wat die waarheid oor die ring vingers oopgemaak was, in haar vassteek, “Waar is die vingers van ons geliefdes?”
Jake se woorde vat die laaste seer weg, “Die vingers, sowel as die trouringe is hier in die Laboratorium. Die forensiese toetse is afgehandel, die verslae reeds voltooi en ingedien. Ons het reeds terugvoer van die regsafdeling rondom die volledigheid daarvan ontvang. Dit het ook bevestig dat die vingers en ringe aan julle oorhandig kan word indien julle dit wil hê. Ons het aanbeveel dat dit so gou as moontlik aan julle gegee word, aangesien die feite wat ek vandag met julle deel, oormôre rugbaar gemaak sal word in die media.”
“Ek wil asseblief Rudolph se vinger en sy ring hê, sy vinger behoort in die aarde by hom, en sy ring by my teen my hart.”
Sy hoor hoe al ses vroue bevestig wat sy gesê het, en sy weet die stap is nodig vir die afsluiting wat Jake genoem het.
“Dit is reg, sodra die verrigtinge afgehandel is, sal ons dit vir julle gee.” Hy knik in die rigting van een van die laboratorium personeel wat dadelik die vertrek verlaat.
Haar, Marie en Julia se pynlike verhale volg, en sy is reg daarmee, sy weet, hierna wil sy dit wegbêre, net die mooi onthou.
Hulle staan op, omhels haar, voel haar pyn oor die vermorsde jare, bedank haar vir die voorkoming van moontlik soveel meer moorde, en Zuluika weet, hierdie is woorde wat sy elke keer wil onthou wanneer die verwyt, wat haar vir tien jaar vasgedruk het, weer in haar opkom.
Die laaste aankondiging, “Daar is duisende rande wat deur die jare aangebied is vir inligting rondom die kapings.”
Almal kyk na Zuluika, sy skud haar kop, “Nee daardie pad wil, en sal ek nie stap nie, moet nooit weer vra nie. Daarmee kan gehandel word soos die staat bepaal,” en almal is reg met haar besluit.
Hulle spandeer tyd met mekaar, luister na die hartseer wat die dood van hulle geliefdes gebring het. Hoor die hartseer stryd van elk om weer aan te gaan, en verbly hulself in die wete dat hulle weer opgestaan het, voort-gegaan het met hulle lewens.
Met die terugkeer van die assistent en die oorhandiging van die kartondoos aan Jake, daal ʼn doodse stilte oor die vertrek, almal weet, na daardie pynlike dag, is hierdie die pynlikste ervaring ooit.
Jake stap na hulle, sê die woorde verskonend, “Ons het die trouringe verwyder uit die versterkwater houers, en dit in ʼn aparte sakkie geplaas. Die vingers ongelukkig is wat dit is, pynlik om te aanskou.”
Hy bly stil, en dit is Maureen wat deur haar trane die woorde duidelik sê, “Dankie Jake, ons besef daar is geen maklike manier vir jou om te doen wat nou gedoen moet word nie, gee dit net vir ons, ons sal self besluit of ons dit vandag hier, of ʼn ander tyd alleen, of by ons families sal oopmaak.”
Hy haal een vir een kleiner dosie uit, kontroleer die naam en gee dit aan hulle.
Die trane val spontaan uit Zuluika se oë, sy weet, hierdie dosie sal sy in haar alleenwees oopmaak, en sy sê dit vir hulle.
Sy neem die dosie en sit dit in die sakkie wat sy haar persoonlike items in dra, sy sien hoe elkeen die kartondosie een oomblik vashou en haar voorbeeld volg.
Die beloftes is daar wanneer hulle afskeid neem en selfoonnommers uitgeruil word, ‘Hulle gaan in kontak bly, en weer ontmoet in die toekoms.
Jake vra Zuluika om eers na sy kantoor te kom, en sy stap in stilte saam met hom, die gevoel is in haar, dit raak haar persoonlik, dit raak haar pa.
Hy vra haar om te sit terwyl hy agter die lessenaar gaan sit en ʼn lêer oop maak.
“Ons het wel iets van jou pa tussen die dokumente waarop beslag gelê is gevind.”
Zuluika voel ʼn teleurstelling, en sy weet nie waarom nie, ‘Het jy regtig gedink daardie man sal blaamloos wees?’ flits dit deur haar gedagtes.
“Sy naam is vermeld in die oorspronklike manifes van die faksie wat in die tagtigs opgetrek is, hy was ʼn stigterslid.”
Sy laat dit verbygaan, kyk hom net in die oë.
Hy neem ʼn bladsy uit die lêer en stoot dit oor die lessenaar na haar. Sy voel die weiering in haar om dit aan te raak, maar hy stoot dit tot voor haar.
“Lees dit Zuluika.”
Sy kyk daarna, herken die handskrif, herken die papier met die tekstuur wat deur die afdruk van die “Cordiersohn” embleem in die papier gemaak word, en sy haat dit. Maar sy lees die woorde gerig aan ‘Die Broeders van Aryan’,
· Hiermee dien ek my bedanking in as lid van Die Broeders van Aryan
· Hiermee doen ek afstand van alle reg tot die eiendom en bates van Die Broeders van Aryan
· Die besluit is van ʼn persoonlike aard en sweer ek voor ons God dat Die Broeders van Aryan en hulle ideologie nie deur my openbaar gemaak of geskaad sal word nie
· Hiermee distansieer ek myself vanaf hierdie dag, van alle aktiwiteite en optredes van Die Broeders van Aryan.

Geteken 23 Junie 1994
Ziegfried Zander Cordier

Zuluika is versteend, nie oor die inhoud nie, maar die datum op die papier is die dag waarop haar saak in die Kinderhof in Pietermaritzburg afgehandel was, die dag waarop sy vry was van die haat en veragting, en dit bring ʼn naar gevoel in haar.
Jake sien die skok, die bleekheid, die verlorenheid, en hy weet iets in die verklaring het ontstellende herinnering by haar wakker gemaak, en hy kry haar uit die diepte van sy hart jammer.
“Van daardie dag af, was daar nooit niks weer nie, maar sy betrokkenheid tot op daardie dag, koppel hom aan terreurdade wat wel deur die faksie uitgevoer was tot op daardie stadium, of hy persoonlik betrokke was, en of hy dit slegs ondersteun het, daarvoor sal hy wel tereg staan,” en Zuluika is ook reg daarmee.
“Dit is wat ek met jou alleen wou deel. Gaan jy hom nog besoek?”
Zuluika weet sy sal nou verseker gaan, die vraag is in haar, ‘het die hofsaak se uitslag enigsins iets met sy besluit te doen gehad’, “Ja, ek sal. Ek sal oom Joos vra om sy prokureur te vra om die besoek te reël.”
Sy staan op, kyk hom in die oë en sê eerlik, “Dankie hiervoor, dit is vir my persoonlik belangrik.”
Hulle wag vir haar, en sy neem hulle hande, “Kom ons gaan kuier by Lize, en gaan eet iewers ietsie saam met haar.” Hulle sien die verandering in haar, hoor die effense ligmoedigheid, en hulle weet, iets wat belangrik vir haar is, is gedeel.
Laataand terug by die gastehuis, vra sy Joos om die besoek aan haar pa te reël. Hy is openlik in sy skik, en hy vra hoe gou, en sy weet sy het eers tyd nodig om die pad te gaan stap wat sy as kind gestap het, wil eers vrede gaan maak met haarself en hulle verstaan.
Wanneer Zuluika die deur toemaak, maak sy haar sak oop, haal die toegedraaide houertjie uit, kus die papier, en sit dit op die bedkassie voor haar bed neer. Sy weet sy sal die pakkie eers oopmaak wanneer sy langs sy graf in Namibië staan.
Zuluika skakel haar skoonouers en deel die pynlike waarheid oor die ander moorde, dit breek Sally en James Bruyns se skanse en hulle drie huil saam, soos toe sy die eerste keer by Rudolph se graf gestaan het, maar daar is nou berusting. Sy besluit om die hartseer waarheid oor die ringvinger te laat tot sy by hulle is.

Laurie is op die plaas, wagtend op hulle, “Ek het gekom om hier by jou te bly Zuluika, ons sien te min van mekaar en ek het die gevoel jou tyd in Suid Afrika is aan die uitloop.”
Zuluika voel ’n vasberadenheid in haar, “Ek wil my pa se plaas en die kinderhuis in Greytown volgende week besoek.” Sy sien die verbasing, “Maar ek wil eers net hier in die beskerming van die plaas bly totdat die feite die wêreld ingestrooi word, indien jy reg is daarmee.”
Laurie is beslis, “Hierdie is ʼn pad wat ek saam met jou gaan stap, Joe moet die rit uitsit.”
Joe trek sy oë, maar Laurie is beslis, sy gaan saam, en Zuluika weet, Laurie is die persoon wat sy by haar op hierdie rit wil hê.

Vrydag 10 Junie word die feite openbaar gemaak in die media, dit gaan soos ʼn skokgolf deur die land, en deur die wêreld, ruk mense terug na die gebeure tien jaar gelede, vat die ses gesinne wie se geliefdes weg is terug na die tye van intense leed in hulle lewens.
Die bekendmaak van die identiteite van hulle wat die wrede besluite gemaak het, ruk die gemeenskap waar die faksie vir soveel jare tuis is, ontketen ongekende woede teenoor die faksie.
Dieselfde nag word elke gebou op die grond deur onbekende persone afgebrand, en Joos skakel hulle die Saterdagoggend en stel hulle gerus, ‘Die geboue is deur die faksie self afgebrand, moontlik met die hoop om enige leidrade wat nog op die grond is, tot niet te maak’.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed