Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 18

Hoofstuk 18 – Die laaste waarhede

Hulle vat die pad vroegoggend, twee dae later na Paulpietersburg, na haar pa se plaas. Zuluika weet sy wil by die begin, begin, eers die plaas, en daarna die pad wat sy daardie dag geloop het toe sy besluit het om nooit weer terug na die plaas te gaan nie, nie meer in daardie verwerping wou leef nie.
Die rit verloop rustig, drie ure se gesels oor alles wat vir hulle kosbaar was, en nou weer is. Die afwesigheid van haar pa op die plaas, dra by tot Zuluika se rustigheid, maar meer as dit, sy voel geen vrees meer vir die grond, of die mens nie.
Zuluika is verstom oor haar herroep van die pad, en wanneer hulle die Bivanrivier oorsteek, lê die opstal regs van hulle anderkant die wuiwende grasvlakte, soos wat sy onthou.
Die plaashek staan oop, nie geketting soos wat sy onthou nie, en dit is opvallend vir haar, maar sy laat dit verby gaan. Laurie bring die viertrek tot stilstand voor die hek, hulle kyk na mekaar, “Gaan ons net inry?” vra Zuluika met ʼn trek van, ‘Kom ons doen dit’, op haar gesig.
Terwyl Laurie dit oorweeg, is die bravade wat sy gehad het die dag voor die Ruben opstal in Engeland, terug in haar, sy knik haar kop instemmend, en albei se kindertyd bravade is terug.
Laurie sit die viertrek in rat, vat Zuluika se hand vas op die sitplek langs haar, en stuur die viertrek deur die hek die pad op na die groot woning.
Die voordeur gaan oop voor die voertuig tot stilstand kom, die man in die kakie klere bring iets bekends saam met hom, bring ʼn gedagte aan oom Louis saam met hom, en hulle kyk na mekaar om die gewaarwording met mekaar te bevestig.
Hulle bly onseker in die viertrek sit, gestroop van die bravade, met oë op die man wat om die voertuig stap en Zuluika se deur oopmaak.
Zuluika kyk na hom, en die gevoel van ‘ken’ bly vassteek.
“Gerhard Vosloo, goeie dag, sal julle inkom,” en hy sien die huiwering, “Zuluika.”
Albei is totaal oorbluf, hy steek sy hand uit na haar, en sy vat dit onwillekeurig.
Hy hou haar hand vas, kyk verby haar na Laurie, en sê net so duidelik, “Kom asseblief in Laurie.”
Hy sien hulle twyfel, “Indien julle die moed het om die huis te betree, kan ons na binne gaan en gesels asseblief.”
Hulle kyk na mekaar, klim uit die viertrek, volg hom die stoep op die huis binne.
Die effense skemer in die vertrek laat hulle tot stilstand kom, en dieselfde gewaarwording wat Zuluika gekry het toe sy in die huis langs die Vaalrivier ingestap het, is in haar, ‘Niks, werklik niks, het hier verander nie’.
Die stem is sag, “Bitter min het verander, maar daar is wel dinge wat verander het vandat jy hier weggegaan het,” en sy laat dit daar, nie nou nie, nie terwyl sy totaal verward is nie.
Hy beduie hulle in die rigting van ʼn groot opening wat uit die ontvangsvertrek loop, Zuluika weet dit is die groot kombuis waar sy elke ete in hierdie huis by die kombuistafel geëet het.
Hy trek die twee stoele langs mekaar onder die tafel uit, wuif hulle om te sit, en die een woord vraag, “Koffie?” laat albei staar na die ketel wat op die ‘AGA’ koolstoof staan en kook, en die bekendheid van die stoof, en die stomende ketel koffie, ʼn replika van wat in oom Louis se huis is, wurg hulle albei.
Zuluika voel hoe sy haar kop knik, weet, dit is die laaste iets wat sy in hierdie huis sou wil doen, en sy en Laurie praat gelyk, “Swart asseblief.”
Hy haal drie bekers van die hakies af waaraan hulle hang onder die kas met die loodglasvensters, en die ooreenkoms met die huise waar hulle twee in liefde gewoon het, druk hulle vas.
Hy sit die bekers neer, skink die koffie uit die ketel, stoot die bekers oor die tafelblad na hulle, trek ʼn stoel oorkant hulle uit, en gaan sit met sy eie beker koffie voor hom, “Zuluika, sê my hoe ek jou kan help?”
Sy herhaal Thobile se roetine, ‘Haal diep asem, voel die energie, en blaas stadig uit’, gaan dit deur haar gedagtes, en sy doen dit.
“Wie is jy in my, nee, ons lewens?”
Hy wag ʼn lang oomblik, “Ek is Louis Olivier se halfbroer, ons het dieselfde moeder. Louis se pa is oorlede toe hy een jaar oud was en sy ma is met my pa getroud, ek is ʼn jaar later gebore,” en die skok van die bekentenis laat Laurie en Zuluika stom.
Laurie voel die hartseer in haar, “Indien ek geweet het, sou ek jou van sy dood laat weet het.”
“Ek weet, moet jouself nie blameer nie, dinge was reg tussen my en my broer, is nog steeds daar waar hy nou is. Ek het elke dag met hom gepraat, en dit is vir my genoeg.”
Laurie voel die weemoed in haar, ‘Here, hoeveel hartseer het ons nie al beleef deur al die geheime nie.’
Hy sien die hartseer, hy weet, hy moet al hulle vrae vandag beantwoord, indien hy hoegenaamd wil doen wat Louis elke dag vir die twee mense bedoel het, veiligheid, vrede en geluk, en hy vra, ‘Moet ek by die begin, begin?’
Die instemming is net die twee koppe wat knik, albei nie by magte om ʼn woord te sê nie, hulle weet, vandag gaan soveel waarhede wat hulle lewens raak, oorgedra word.
“Ons is albei in Namibië gebore, en het toe ons omtrent vyf en ses jaar oud was, saam met ons ouers verhuis en hier in Noord Natal kom woon, waar my pa ʼn plaasvoorman posisie beklee het. Ons was in die koshuis in Greytown, en na ons ouers in ʼn motorongeluk gesterf het, is ek en Louis in die Greytown kinderhuis geplaas. Dit is waar ons Soekie Smit leer ken het, ook sy was ʼn weeskind daar. Die driemanskap wat ons in die kinderhuis gevorm het, het ons end-uit aan mekaar gekoppel.”
Hy kyk na die twee vroue, sien die vrae, maar hy weet, hy moet deurdruk met die vertelling, dit is wat Louis en Ziegfried sou wou hê.
“Ek, Louis en Soekie is albei na matriek universiteit toe, met geld wat Gregor Armsby bewillig het. Ek en Louis het landbou studeer en Soekie het in ʼn Sielkunde rigting haar studies voltooi. Na ons afgestudeer het, is Soekie terug na die kinderhuis, en het sy as ʼn welsynsbeampte in Greytown gewerk, en later die bestuur van die kinderhuis oorgeneem. Louis is na Gregor toe, en ek het in Pongola ʼn plaasvoorman posisie geneem.”
Hy gee hulle geleentheid om te verwerk wat hy hulle meegedeel het, sien die verbasing, weet voor die gesprek verby is, sal hy alles opklaar.
Ons het soos dit met broers en susters gaan, kontak behou deur die jare, en ons lewens het rustig verloop. Tot die dag in die begin van Junie negentien vier en negentig.”
Hy bly ʼn oomblik stil, hy, soos Zuluika en Laurie, verskuif sy gedagtes terug na negentien vier en negentig.
“Soekie het die Maandagaand ses Junie Louis geskakel en hom ingelig oor die klein dogtertjie wat by die kinderhuis opgedaag het, en gevra het of sy asseblief daar mag bly.”
Nou is die pyn van die gebeure net te veel vir Laurie en sy snik openlik, terwyl Gerhard sy hand in sy sak steek en ʼn skoon gevoude sakdoek na haar uithou, wat sy neem en teen haar oë druk.
Zuluika hoor die woorde, sien die trane, maar haar gedagtes is terug by die plek waar sy die eerste keer veilig en vertroetel gevoel het.
Die datum bring ou herinneringe terug, Junie, alles in haar kleintyd in Junie, en nou weer, is dit toeval, of is dit die manier waarop God haar een lewe wil afsluit, en ʼn ander vir haar wil begin, en sy bid woordeloos vir albei.
“Die gebeure ken jy beter as ek, maar daar is feite wat ook jy nie ken nie. Louis het my gebel en ons het onmiddellik op aandrang van Soekie ingestem om vas te stel wat op die plaas aan die gang is. Sy het dit duidelik gestel, sy moet die waarheid weet voor die saak in die Kinderhof sal voorkom op 23 Junie. Ek het vir ʼn paar dae van Pongola gekom, en onder die dekmantel dat ek ʼn voorman posisie in die omgewing soek, het ek die plaas en ʼn paar van die buurplase besoek.”
Gerhard moet homself dwing om nie te verval in daardie lank gelede herinneringe nie, hy weet, hy het ʼn pad om met hierdie twee mense te stap vandag, indien hy wil doen waarmee Louis hom vertrou het.
“Voordat ek voet op hierdie plaas gesit het, het elke buurman my ingelig oor ‘Ziegfried Zander Cordier’ en sy ‘ideologie’. Nodeloos om te sê, ek het ʼn weersin in die man gehad voor ek my voete op die grond gesit het.”
“Jou pa,” en hy sê die woorde asof hy verwag om gekorrigeer te word, maar sy laat dit gaan, ‘Dit maak nie meer aan haar saak nie’, “het onmiddellik belanggestel en aangedui hy soek ʼn voorman. Die salaris en voordele wat hy aangebied het, was ‘astronomies’ in vergelyking met my verdienste in Pongola, en ek was ook skielik ernstig oor die moontlikheid om vir hom te kom werk, ongeag die omstandighede.”
Hy huiwer een oomblik, oorweeg wat Zuluika wil hoor, “Die dag, met die sit in hierdie kombuis, by hierdie tafel, het ek niks gesien van die ‘boosheid van die ideologie’, waarvan die bure gepraat het nie, hy was effens ‘afwesig’, indien ek dit so kan noem, nie die vuurvreter wat almal my teen gewaarsku het nie.”
Hy gee homself geleentheid om die gebeure te herroep, “Ek is hier weg met die belofte om hom spoedig te laat weet. Louis het deurgekom Greytown toe, en ek, hy en Soekie het by die kantore van die Kinderwelsyn ontmoet. Ek het hulle meegedeel wat die bure sê, en Soekie het besluit om enige aansoek om jou terug na hom te laat gaan, teen te staan van die staat se kant af.”
Zuluika hoor die woorde, dank daardie wonderlike mens weer in haar gedagtes omdat sy haar, daardie verlore kind, ingeneem het, en bo alles beskerm het, “Louis, en soos ek later meegedeel is, die ‘Bond’,” en hy kyk na hulle, en albei knik hul koppe, “het in die paar dae voor die hofsaak alles rondom jou pa en die ideologie uitgevind. Ook jou pa se verlede in die ou dae se Suid-Wes-Afrika is deeglik deur hulle nagegaan. Met al die besonderhede bekend, het Soekie ons verseker, ‘jy sal nie terug na hom gaan nie’.”
“Ek is die volgende dag terug Pongola toe, maar die werksaanbod het in my gedagtes vasgesteek, ek het met die Senior voorman daaroor gesels, en hy het my verseker, hy sal nie in my pad staan indien ek wel die pos wil aanvaar nie.”
“Volgende wat ek hoor is toe Louis 27 Junie op die plaas in Pongola opdaag. Hy was so opgewonde, hy het met die hulp van Soekie en vader Maurice Jackson, ʼn aansoek by die hof ingedien om jou by hom te laat woon, jou aan te neem as sy eie, indien dit ooit moontlik sou wees.”
Hy kyk van Zuluika na Laurie, “Jy het geen idee hoe belangrike rol jy in die aansoek gespeel het nie. Binne ʼn paar dae het Louis van elke mens in, en om Ladysmith, briewe gekry wat getuig het hoe goed jy, nie net versorg was nie, maar hoe goed jou teenwoordigheid vir Zuluika sou wees.”
Laurie kyk na Zuluika, “Ek waardeer die deel hiervan, en die rol wat my teenwoordigheid op die plaas by oom Louis en my pa gespeel het in die besluit van die hof.”
Die meedeel van die aksies wat Louis Olivier se inbors en liefde vir haar en vir Laurie bevestig, omvou hulle. Zuluika kry die gevoel wat Louis Olivier altyd by haar gebring het, ‘om gekoester te wees’, terwyl Laurie se trane spontaan uit haar oë op die tafelblad val.
“Maar die werklike rede waarom Louis my besoek het, was om te vra of ek die pos op jou pa se plaas sal aanvaar, om elke beweging wat jou pa maak te volg, en hulle op hoogte te hou. Louis wou seker maak jou pa sal nooit naby jou kom sonder sy wete nie,” en Zuluika besef weer wat dit geneem het om haar veilig te hou.
“Ek het die vyftiende Julie saam met Soekie gery toe sy jou vir Louis geneem het,” hy vat Zuluika se hand in syne, “Jy was so ʼn verskrikte hartseer mensie, dit het ons harte gebreek, maar almal het geweet hoe ʼn brawe mens jy was, om nie net die plaas te verlaat nie, maar om te sê wat jy in die hof vir jou pa gesê het.”
Alhoewel Laurie vraend na beide kyk, brei hy nie verder uit oor die gebeure in die hof nie, nie sy waarheid om te vertel nie.
Hy kyk verskonend na Zuluika, “Ek moet dit wat ek gaan sê, vir jou sê, sodat jy ook insae sal hê van wat jou weggaan gebring het,” en sy laat hom begaan.
“Ek het sewentien Julie hier op die plaas begin werk, en ʼn gebroke mens hier gevind. So groot en sterk wat hy in postuur was, so klein en gebroke was hy in sy siel. Ek het ʼn groot man sien huil, ʼn duisend keer sien huil,” en dit wil Zuluika nie hoor nie, maar sy luister, haar emosies geslote vir die twee mense aan die tafel, maar sy voel hoe die seer haar versmoor.
Hy staan op en neem Laurie se hand, “Kom help jy my asseblief om in die koelkamer vir ons iets te ete te gaan haal,” en Laurie volg hom, weet Zuluika het nou ruimte nodig, net sy, en dit wat in haar is, vir ʼn rukkie.
Zuluika sluit haar oë, probeer ʼn beeld kry van die oordonderende ses voet ses reus, aan die tafel met trane in sy oë, en sy kan nie daardie beeld oproep nie.
Haar oë sien na al die jare weer die loodglasdeurtjies met die twee tulpe, die geel koppies, die blaartjies wat aan mekaar raak asof hulle hande vashou. Sy sien die sirkel van lood om hulle, en die groen glas wat dit omring.
Sy herroep haar lank-gelede wens, sluit haar oë, en onthou, ‘Sy wou soos die twee tulpe ʼn maatjie hê wat altyd haar hand sal vashou, ʼn silwer loodring van veiligheid om hulle wat alle hartseer sal weghou, en die hand aan hand stap met haar maatjie in groen grasvelde’.
Sy maak haar oë oop, kyk na haar hand wat Laurie vasgehou het, sy weet, alles van haar wens het reeds waar geword, Laurie is die maatjie, oom Louis en oom Nate die silwer ring, en die groen grasvelde was altyd by hulle.
Die beeld van haar en Mauritz, hand-aan-hand oor die grasveld, op pad hospitaal- of huis toe, kom lê in haar ‘onthou’, en sy weet, sy het ook daardie hand, daardie silwer band, en daardie groen grasveld in haar toekoms, indien sy dit wil hê, indien sy bereid is om daarvoor haar vrees te laat gaan.
Die gevoel dat haar God hier by haar is, is terug, en sy weet, Hy was altyd hier vir haar. Sy staan op, stap by die kombuisdeur uit soos daardie laaste dag op die plaas.
Haar oë volg die pad wat sy twee en twintig jaar gelede geloop het, met net drie stukkies klere saam met haar boeke in haar skooltas.
Sy sluit haar oë, hoor die gerammel van die vragmotor waarmee sy elke dag self haar pad skool toe gevind het. Onthou die laaste terugkyk, die verligting toe oom Danie Malan met sy elke dag se gemaakte opgewektheid, haar die heel laaste keer in die voertuig se kajuit ingetrek het, en sy wonder oor hom, voel die hartseer omdat sy in haar poging om alles hier te vergeet, ook hom vergeet het.
Met die omdraai en terugstap na die huis waar hulle vir haar wag, besef sy, haar voorneme, ‘om nooit weer na hierdie huis te stap nie’, is uitgewis, dit maak nie meer saak nie, daar is geen vrees verder vir hierdie plek nie.
ʼn Koppie koffie en ʼn stukkie souttert in ʼn bordjie, wag vir haar, sy gaan sit, sê dankie, en die eet aan die tafel voel so bekend.
Gerhard gee haar geleentheid om klaar te eet, “Die woon van my op die plaas om jou pa se hoeder te wees, gee my vandag die vrymoedigheid om vir jou te sê, hy was nie by enige iets wat jou leed aangedoen het betrokke nie, hy het nooit verder as die dorp gegaan nie.”
Hy besin een oomblik of hy haar moet vertel wat agter die toe kamerdeur is, die honderde koerant uitknipsels, elke woord wat ooit oor haar en haar talent gepubliseer was, en hy besluit daarteen, wat sal die waarde van die weet daarvan vandag vir haar hê?
Meer as dit wat eie aan haar is, dit wat die kamer langs haar ou kamer veilig hou, en hy bid ʼn gebed soos soveel keer die afgelope jare, maar hy swyg, dit is ook nie sy waarheid om vandag te deel nie.
Hy vra of sy deur die huis wil stap, sy weet, sy wil nie, dit is ʼn pad wat sy nooit weer wil loop nie, die hartseer agter die kamerdeur, nooit weer beleef nie, en sy sê nee.
Sy vra na oom Danie Malan, en hy sê haar hy is reeds in twintig twaalf oorlede, maar hy haal aan, “Hy het elke keer wanneer hy hier was, dieselfde woorde vir jou pa gesê, ‘As ek die laaste dag geweet het Cordelia het besluit om die grond te verlaat, sou ek haar self tot aan die einde van die wêreld gevat het’.”
Hy soek weer haar oë op, “Hy was gebroke Zuluika. Iets wat gebeur het nadat jy weg is, het hom gebreek. Nie jou aanvanklike wegloop nie, maar iets wat daarna gebeur het.”
Die leegheid in Zuluika se oë moes die teken gewees het, al drie weet, die verlede se vertel vir vandag is verby, maar Zuluika weet, sy het wel deur die besoek en die gesprek rus gevind.
Gerhard staan op, vra of hulle hom een oomblik sal verskoon. Met die terugkom het hy ʼn fotoraam in sy hand, hy sit dit onderstebo op die tafel neer, en Zuluika voel ʼn afwagting, en sy weet nie waarom nie.
“Ek weet nie of jy ooit gewonder het waarom jy die naam Zuluika Zuess gekry het toe Louis jou aangeneem het nie,” en sy gesig wys ʼn weemoed.
“Ja ek het, maar met tyd het ek aanvaar dit is slegs ʼn naam wat iemand gekies het om my ʼn nuwe identiteit te gee, en ek het opgehou om daaroor te wonder.”
“Ek weet ook nie of jy ooit meegedeel was dat Louis jou wettig aangeneem het nie, jy was nie ʼn weeskind na wie hy omgesien het nie, jy was die dogter wat hy so graag wou hê.” Zuluika hoor die wonderlike woorde weer, en sy voel die liefde wat sy van die besondere mens gekry het steeds warm in haar.
Hy glimlag, “Louis het jou na ons moeder vernoem. Sy begeerte was om jou die naam te gee van die persoon wat ons lewens met liefde gevul het tot die dag van haar afsterwe.”
Zuluika maak haar oë toe, hoor die welkom woorde, en wanneer sy weer na Gerhard kyk, sê hy, “Louis het altyd geglo ʼn mens ontwikkel die eienskappe van die persoon wie se naam jy dra, en dit het hy vir jou begeer, liefdevol, iemand wat sal omgee vir ander, iemand wat lief sal kry en liefgekry sal word. Dit Zuluika, is jy, al die wense van Louis vir jou, is jy.”
Hy draai die raam om en gee dit vir haar, “Ons moeder,” en sy vat die raam en sy kyk na die pragtige gesig met die glimlaggende oë, en sy bid dat sy die pragtige mens se naam tog eer aangedoen het.
Asof hy haar gedagtes lees sê hy, “Ek en Louis weet jy het haar naam met soveel eer gedra, en ek wil vir jou dankie sê daarvoor. Indien jy wil kan jy die foto vir jou neem, dit sal vir my ʼn eer wees indien jy dit sal neem.”
Zuluika weet, indien daar een iets is wat sy sal wil saamneem uit hierdie huis, is dit die foto van die pragtige mens wat haar ʼn naam gegee het, ʼn identiteit gegee het. “Asseblief, ek sal die foto so graag wil neem, want sy het my ʼn identiteit gegee.”
Hy knik sy kop, voel die verligting in hom, en hy weet, dit wat almal vir Zuluika toegebid het, is besig om weer ʼn werklikheid te word, veiligheid, geluk en liefde.
Met die groet beloof hy om te kom kuier op The Buttress, en hy weet hy sal gaan om die man wat soveel invloed, ook op hom gehad het, se graf te gaan besoek, net om totsiens te gaan sê.
Met die opry in die grondpad, vra Laurie, “Waarheen maat?”
“Kan ons na die kinderhuis gaan, ek wil net voor die gebou staan, net die beskerming van die plek en die mense onthou.”
Laurie druk haar hand, knik haar kop, “Dan is ons op pad.”
Hulle ry vir ʼn tyd in totale stilte, elkeen met sy eie gedagtes besig. Laurie kyk na die eensame pad, “Hoe het jy tot hier gekom? Dit is amper twee honderd en vyftig kilometer.”
Vir die eerste keer in meer as twintig jaar, is die begeerte in haar om iemand van daardie paar dae te vertel. “Ek het die oggend na oom Danie my afgelaai het, na die motorhawe gestap en vir die mans wat daar gewerk het gevra waar die naaste weeshuis was. Hulle het gesê dit is in Greytown en my die pad verduidelik.”
Laurie hoor die hartseer, weet haar maat is reeds vandag deur geweldige pyn, en sy besef die pynlike onthou, is nog nie verby nie.
Zuluika maak haar oë toe, onthou die pad, “Ek het net begin loop met die pad wat hulle gewys het. Toe dit aand word, het ek onder die bome langs die pad gebly, en vroeg oggend het ek weer begin stap. ʼn Greyhound bus het by my gestop, ʼn man het die deur oopgemaak en gevra waarheen ek op pad is. Ek het gesê Greytown toe, toe vra hy of ek saam met die bus wil ry, hulle sal my daar aflaai.”
Laurie luister na die paar sinne wat ʼn skrikwekkende ondervinding vir ʼn dertienjare kind moes gewees het, “Was jy nie bang nie?”
“Ek was, maar ek het geweet ek kan nooit weer terug gaan na ʼn huis waar ek niks was nie, nie oor die wegloop nie, ek kon net nie meer niemand wees nie.”
Nou huil Laurie spontaan, stop die viertrek langs die pad, trek Zuluika teen haar vas en saam huil hulle oor die wreedheid van die lewe.
Hulle bly sit met net die lang bome se skadu’s wat val oor die viertrek, kom net eers tot rus, probeer om net verby die hartseer te kom. Hulle ry verder en hou stil by ʼn motorhawe, vul die viertrek met brandstof, en vra die petroljoggie die pad na die kinderhuis.
Die ironie val hulle op, na al die jare is dit weer ʼn petroljoggie wat die pad na die kinderhuis aandui, en nou lag hulle daaroor.
Hulle parkeer in die straat voor die kinderhuis, en Zuluika se onthou stap ʼn ver pad. Meer as die gebou is dit die klein vroutjie se beeld wat in haar gedagtes bly, soos by sovele onthou in die afgelope tien jaar. Sy voel die arms wat haar teen die dierbare mens vasgedruk het, sy hoor die stem, ‘Jy is veilig hier, niemand sal jou hier wegneem indien jy nie wil gaan nie’, en Zuluika weet sy het haar belofte gestand gedoen.

Zuluika voel die rus in haar, vandag het die verste onthou wat oom Nate van gepraat het teruggebring, en sy weet dit is volbring, sy kan nou wegdraai met vrede oor ʼn tyd wat soveel pynlike herinneringe gehou het.
Hulle ry op in Shepstonestraat en stop by die Stables Takeaway. Hulle nuttig ʼn middagete in die rustige stilte, albei voel die vrede, die seer is verby, Zuluika weet, die braafheid wat die krag vir die wegstap van die seer gebring het, was die fondasie van al die geluk wat later gekom het.
“Ek is reg Laurie, ons kan huistoe gaan,” en dit is reg met Laurie.
Die kort rit terug na Ladysmith ry hulle geselsend, onthou hulle, hulle saamwees dae op die plase, en die vreugde oor ʼn leeftyd saam is terug in hulle.
Oor ʼn laaste koppie koffie vertel Laurie en Zuluika die familie wat hulle beleef het. Daar is sprakeloosheid, nie net oor wat Zuluika deurgemaak het nie, maar oor Louis se liefde vir sy mense, oor die bestaan van ʼn halfbroer wat niemand ooit geken het nie, maar veral oor die braafheid van die dertienjarige dogtertjie.
Hulle liefde omvou haar en vir die eerste keer in maande is daar geen trane nie, voel Zuluika sterk in haarself, seker van haarself en die pad wat sy sal loop.

Hulle neem die volgende paar dae om net saam te kuier, net die ure om te gesels, deur die bloekombos te stap na waar oom Louis rus. Met die seuns te speel by die draai van die spruit, en hulle is gelukkig, hulle weet daar sal weer hartseer wees, maar daar gaan meer vreugde as hartseer wees.
Joos bel haar Maandag 20 Junie en bevestig, haar pa sal haar Donderdag 23 Junie sien, en sy weet, dit is nie net God wat alles op die datum wil doen nie, maar ook haar pa, en sy weet nie wat sy daarin moet lees nie.
Hulle maak ʼn bespreking by Castle Ridge vir Woensdag- en Donderdagaand. Sy skakel Lize en hulle reël om Woensdagaand saam te kuier by Castle Ridge, Zuluika weet, sy wil die besondere mens se krag beleef voor die instap in die gevangenis in.

Die rit na Pretoria is rustig, gevul met die afwagting en genot van die universiteitsdae se ritte. ʼn Herhaling van ʼn rit wat altyd lekker was, ʼn rit wat nou ʼn belofte hou van, ‘dalk sal ek antwoorde kry’.
Die inboek en aandete saam met Joe en Lize, die sonsondergang deur die groot glasdeure, die luister na die stem van die sterk vrou, bring die krag wat Zuluika voor gewens het, en albei sien die afwagting, die effense angstigheid, en hulle bid vir haar.

Die stilhou voor die gevangenis bring die ou benoudheid in haar. Joe se handdruk wanneer sy die viertrek se deur oopstoot bring die kalmte, en sy onderdruk die vrees met ʼn vasberade geweld, ‘Nie vandag nie, nooit weer sal sy bang wees vir hom nie’.
Die ontvangs wat sy kry maak dit duidelik, sy word verwag. Daar is professionaliteit, maar ook vriendelikheid wanneer sy aanmeld, sy weet hulle weet wie sy is, is bekend met die helse feite, en sy sê dankie aan die persoon wat sy weet haar saak op die hart dra. Herroep die woorde van die superintendent die dag in Desember toe sy hier uitgestap het, en vandag is die woorde se waarde soveel groter vir haar, ‘Net jy kan jou toekoms bepaal Zuluika, net jy kan verseker dat jy weer heel sal wees, weer die briljante mens sal wees wat jy was en wat jy bedoel was om te wees. Gaan maak vir jou ʼn nuwe lewe, en maak dit ʼn mooi een, probeer die afgelope tien jaar agter jou sit, wees weer gelukkig’.
Hier waar sy staan, weet sy, sy is besig met die ‘bepaal’ van haar toekoms, is al maande daarmee besig, en sy weet, sy gaan ʼn mooi toekoms hê, en sy is reg vir wat agter die deure en tussen die mure wag.
Hy wag haar in, kort, sterkgeboude man, met diep plooie om sy mond, “Eckhard Wolff, jou pa se advokaat, bly te kenne.”
Sy vat die sterk hand, kyk na sy gesig, en al wat deur haar gedagtes gaan is, ‘Duits, wat het sy verwag’, maar sy laat dit daar, dit maak nie meer aan haar saak nie.
“Dankie dat u ingewillig het tot die gesprek,” en vir een oomblik twyfel sy aan die hier wees, vir hierdie gesprek.
“Ek gaan u vergesel na binne, maar julle alleen laat vir julle gesprek. Indien u enige vrae het, vra net, ek sal sover moontlik probeer om u tot hulp te wees,” en Zuluika kan vir geen oomblik dink wat die mens glo hy haar mee kan help nie, hierdie is ʼn baie private aangeleentheid tussen haar, en haar pa, waarvan hy sekerlik niks weet nie.
Sy stap saam met hom en die korrektiewe diens beampte, alles voel so bekend, en daar is geen vrees nie.
Wanneer die korrektiewe beampte die deur oopmaak en haar wuif om na binne te stap is die benoudheid vir een sekonde terug, maar sy byt op haar tande en stap die vertrek binne.
Sy sien hom sit by die tafel met die twee stoele, sien alles wat sy probeer vergeet het asof daar geen tyd verloop het nie. Sy sien die groot hande in ʼn, ‘kom sit asseblief’, gebaar, “Sal jy asseblief by my sit,” en sy ken die stem nie, en haar verstand weier om haar liggaam opdrag te gee om te gaan sit.
Met sy opstaan uit die stoel, kyk sy na die gesig wat meer as twee koplengtes oor haar toring, sien sy net die blou oë, maar meer as dit, trane wat uit daardie oë oor sy wange loop, en dit ken sy nie aan ‘hom’ wat sy onthou nie.
Die korrektiewe beampte stap vorentoe, sy oë dwing die groot man terug in die stoel, en sy staan, en sy staar net na die trane.
Sy hoor die deur toegaan, sy weet dit verteenwoordig Eckhard Wolff se wegstap van die toneel af, en sy wens sy kon hom volg, maar sy weet, nie vandag nie.
Sy hoor weer die stem wat sy nie ken nie, “Ek is uit die diepte van my hart jammer vir die leed wat ek jou aangedoen het. Die Here weet hoe ek vir drie en twintig jaar gebid het vir hierdie oomblik om in jou oë te kyk en om vergifnis te smeek vir al die hartseer en onreg wat ek jou aangedoen het.”
Sy bly staan, voel die ou afsluit van haar wanneer hy gepraat het, veg daarteen, want vandag wil sy hoor wat hy te sê het.
Hy praat soos ʼn mens wat sy rede verloor het, onsamehangend sonder om asem te haal om alles te sê wat in hom is, “Ek sweer voor God, ek was nie betrokke by Rudolph se moord nie,” sy hoor die pragtige mens se naam, sag, toegevou in leed en trane, uit ʼn mond wat sy dit nie uit wou hoor nie, sy voel die ou magteloosheid teen die trane en hartseer in haar, en die trane kruip stadig, versigtig oor haar wimpers en val op die vloer tussen hulle.
Sy sien die groot grys kop op die groot hande neersak, sien die breë skouers ruk, en hoor die onbekende stem pleit, “Asseblief vergewe my,” maar waar sy staan weet sy nie hoe om dit te doen nie.
Hy praat gesmoord deur die skans wat sy arms om sy gesig maak, “Ek het die faksie begin, en soveel onskuldige mense verrot met die duiwelse ideologie, daaraan is ek skuldig, maak dit my ook skuldig aan elkeen se dood wat daardeur veroorsaak is, en daarvoor sal ek boet, wil ek boet.”
Sy bly staan, sien die verlorenheid in die oë wanneer hy opkyk na haar, en sy weet nie wat sy voel nie.
“Sal jy vir die twee vroue vra om my te vergewe vir wat die ideologie aan hulle, en hulle kinders gedoen het. Sê vir hulle die ideologie het my en hulle van ons kinders beroof, en ek is jammer daaroor. Sal jy hulle vra om die geld te neem, nie as ʼn skuld erkenning nie, maar omdat ek uit die diepte van my hart wil bydra tot hul versorging.”
Sy knik instemmend, nie sterk genoeg om te praat nie. Hy wag ʼn baie lang oomblik, “Daardie dag in die Kinderhof, vandag presies drie en twintig jaar gelede, het jy nie net jouself gered nie, maar ook vir my,” en sy weet nie waarvan hy praat nie.
“Toe die advokaat jou gevra het of jy iets te sê het, en jy met trane wat uit jou siel geloop het na my gekyk het, het ek gevoel hoe God sy rug op my draai, maar,” en die trane maak hom een oomblik stom, “Toe sê jy met soveel respek, respek wat ek nie verdien het nie, ‘Pappie kan ʼn baie goeie pappie vir iemand anders wees, maar nie vir my nie, ek wil liewers in die kinderhuis bly’.”
Sy sluit haar oë, druk haar hande teen haar ore, sy wil nie sy hartseer hoor nie, nie sy trane sien of beleef nie.
“Ek het geweet wat jy daardie oomblik gesê het, was reg, my haat sou jou totaal vernietig het, ek het geweet, ek moet jou laat gaan, jou, jou vryheid gee weg van my, en my duiwelse natuur, dankie vir die genade van jou daardie dag vir my.”
Die wete is in haar, ‘Sy wou terugkom Suid Afrika toe om vergifnis te gee, en vergifnis te kry’, en hierdie is die laaste vergifnis wat sy moet gee, en sy weet, sy wil hom dit gee, want dit is die vergifnis wat haar vry moet maak van haar kleintyd se seer.
Sy stap vorentoe, steek haar hand uit, en vir die eerste keer raak sy die mens aan, voel sy die bewing onder haar hand, hoor sy haar stem asof uit ʼn ander se mond, “Indien daar enige iets is waarvoor ek Pa moet vergewe, dan vergewe ek jou dit.”
Hy vat haar hand, en die aanraking is lig en sag, hy soen haar hand, en laat haar gaan, en die gevoel in haar vat elke greintjie helderheid vir een oomblik weg, sy weet sy wil hom vra oor die datum, oor haar ma, maar sy weet, nie vandag nie, nie hier nie.
Die woorde kom deur sy trane, “Ek wil vandag, op hierdie dag waarop jy lank gelede my en jou lewens gered het, jou ʼn guns vra, nie vir my nie, maar vir iemand net so ontsettend kosbaar soos jy.”
Die skarniere van die deur kraak, sy voel die aanwesigheid, en wanneer sy omdraai staan hy daar, ʼn klein-seuntjie replika van haar, onmaats oë en swart hare. Sy voel die donkerte om haar vou, hoor die stemmetjie, en dit ruk haar terug uit die ver-weg donkerte, “Jy is Cordelia, wat nou Zuluika is, en ek is Cordier Cordier, sal jy my vat sodat ek by jou kan bly,” en die stemmetjie is so bekend.
Sy voel hoe al die beheer wat sy die afgelope maande opgebou het verdwyn, probeer aan die oomblik vashou, en sy sien haarself die dag op die plaas toe Louis Olivier voor haar op sy knieë gesak het, sy arms vir haar oopgemaak het, haar teen sy hart gedruk het, en onwillekeurig sak sy op haar knieë, maak haar arms oop, en hy loop met traantjies wat oor sy wange loop in hulle in, sit sy koppie op haar skouer, en met die warm asempie teen haar nek, hoor sy haar stem, “Ek sal Cordier Cordier.”
Hulle hang-lê teen mekaar, hou mekaar regop, en die warmte van sy lyfie bring haar terug na die werklikheid, Thobile se woorde maande gelede vind weerklank in haar, ‘Aanraking is die salf tot die genesing van ons emosies en ons fisiese self’, en sy voel dit nou.
Eckhard Wolff en die beampte se gesigte is wasig deur haar trane, hulle trane slaan teen haar vas, en sy weet hierdie is daardie groot man se vergifnis vir alles.
Die woorde omvou haar, maar sy draai nie om nie, “Die ‘imperfeksie’ wat ek teen jou gehou het, weet ek nou, kan net in my ʼn ‘imperfeksie’ wees, nooit in julle nie, in julle is dit ʼn unieke perfeksie, en ek dank God daarvoor.”
Haar rug wat na hom gekeer is, is die skerm wat keer dat hy nie sal sien tot daar waar niemand ooit gesien het nie, en sy bly staan, “Dit is die guns wat ek vra, sal jy vir jou en Cordier ʼn nuwe lewe saam begin, hom inneem, hom die edel mens maak wat jy is?” Dit hoor sy wel, en sy weet, dit sal sy doen.
Die klein lyfie verslap en sy trek hom teen haar vas, staan op met hom teen haar hart, en weet, sy moet nou hier uit.
Sy woorde haal haar in, dwing haar tot stilstand, “Zuluika, die naam Cordelia was my moeder se naam, ʼn wonderlike, sagte en opregte mens, soos jy,” en die wete is in haar, soos die dag by Gerhard op die plaas, ‘Die goed in haar, kom ook van daardie mens’.
Dit dwing haar tot stilstand, en sy wag, en die stem kom van ver af, “Jou moeder is Marcelle Novel, die Deense pianiste. Sal jy vir haar sê ek is jammer oor die leed wat ek haar en jou aangedoen het,” en in die erkenning lees sy dat hy weet sy leef nog.
Zuluika voel haar knieë knak, voel hoe twee paar hande haar vasgryp, haar regop dwing, en sy weet nie watter naam haar die meeste tref nie, Cordelia, Zuluika of Marcelle nie, name wat sy nooit tot vandag geglo het, sy ooit uit die mens se mond in liefde sou hoor nie.
Nou draai sy wel om, sien sy die gesig, wens sy dit was sy gesig toe sy klein was, en sy voel iets vir hom, “Dankie.”
Hy glimlag ʼn glimlag wat die trane saambring, “Ek is so trots op jou, ek wens ek kon al die leed wat ek help skep het wegvee uit jou herinnering,” en vir ʼn oomblik is hulle net pa en dogter, is al die seer ʼn oomblik uitgedoof. “Bid vir my indien jy kan.”
Sy weet dit is die toets wat sy nog moet slaag, en sy weet sy sal, “Ek sal elke dag vir jou bid,” en dan is sy deur die deur, weg van die hartverskeurende trane, en klou sy en die seuntjie in haar arms aan mekaar vas asof dit die wêreld se pyn sal uit doof.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed