Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 19

Hoofstuk 19 – Soveel seëninge

Hy haal haar in voor sy deur die sekuriteitshekke gaan, “Kan ons asseblief net eers sit om oor Cordier te praat, oor wat gedoen moet word sodat jy en hy ʼn eenheid kan wees.”
Die woorde dwing haar tot stilstand, maak haar besin, maak haar helder dink, Zuluika weet die gedagte toe sy hom ontmoet het, ‘Dat hy haar met niks kon help nie’, was so ver van die waarheid na dit wat sy nou weet.
Die beampte maak die hek oop, hy lei haar na ʼn kantoor, sy sien die lêers op die tafel, sy weet Eckhard Wolff het homself voorberei vir vandag, en wanneer sy opkyk na hom, sê sy lippe woordeloos, ‘Dankie, baie dankie’, en sy weet dit is die woorde wat sy vir daardie gebroke man wat haar hierdie geskenk gegee het, sou wou sê, maar ook vir haarself wil sê.
Hy lees die inhoud van elke dokument vir haar, en sy hou die seuntjie wie se toekoms tussen die tronk se mure bepaal word, teen haar hart vas. Sy teken die dokumente waar hy aandui, en sy vra die vraag wat haar wil versmoor, “Sal hulle ooit ja sê in die lig van wat teen my op rekord is?”
Hy kyk haar in die oë, vra sag, “Wat is op rekord Zuluika Zuess?”
Die woorde bring die duidelikheid, hy het niks met ver-regse bedrywighede te doen nie, hy behoort aan die ‘Bond’, en vir vandag is dit genoeg.
Sy weet sy moet hom sê van haar voorneme om die land te verlaat, en hy verbaas haar wanneer hy ʼn volgende lêer oopvou en die dokumente na haar stoot, Cordier se paspoort en ʼn onverkorte geboortesertifikaat, “Met die formele aanneming afgehandel, sal niks jou keer om jou seun saam met jou na enige plek in die wêreld te neem nie,” en die woorde bring ʼn ander hunkering in haar.
“Hy kan met hierdie dokumente in jou besit, reeds die land verlaat, na Namibië gaan indien jy daarheen wil gaan. Jy sal net deur die normale visum proses moet gaan indien dit na enige ander land is,” en Zuluika besef, Eckhard weet baie meer van haar doen en late as wat hy te kenne gee, en dit gee haar vertroue in hom, hy sal uitkyk vir haar en Cordier.
Hy maak die lêer toe, maak ʼn volgende lêer oop en stoot twee dokumente na haar, hy plaas sy vinger op sy lippe om haar tot stilte te dwing. Sy lees die inhoud van die dokumente, die sterfte sertifikaat van Sofie Greyling, en die geboorte sertifikaat van Cordier Cordier, en dit het dieselfde datum. Sy bereken Cordier se ouderdom, vyf jaar en agt maande, en haar hart breek oor hierdie seuntjie se verlies. In haar is die wete, indien haar pa die seuntjie se ma liefgehad het, het ook hy pyn beleef.
Hy gee haar tyd om haar balans te herwin, sit die dokumente in die lêer en maak dit toe, “Dit gaan ongeveer drie weke neem om die formaliteite af te handel, ons het net vir jou handtekening gewag.” Sy kyk na hom en die twyfel is op haar gesig.
“Ons is lankal besig hiermee Zuluika, ons het so gebid jy sal doen wat jy vandag gedoen het, hierdie is slegs die laaste fase, net ʼn formaliteit.”
Hy staan op, tel ʼn tassie van die vloer af op, en probeer Cordier by haar neem, maar die seuntjie klou aan haar vas, en sê beslis, “Nee, moenie my weg vat van Zuluika af nie,” en met die sak van sy hande, is die glimlag op sy gesig, en sy weet, hy gee werklik vir hierdie seuntjie om.
Sy hoor die deur oopgaan, voel die teenwoordigheid, en hulle is daar, die drie mense wat haar so ontsettend ondersteun het in die tien jaar wat verby is, superintendent Winnie Balooi, Thobile Mathe, en professor Jean Roux.
Sy stap met die klein seuntjie in hulle omhelsing in, hulle hou hulle twee vas, en sy dank die Here vir die krag wat dit bring.
Wanneer die trane stil word, vra Jean Roux, “Sal jy en die mannetjie ʼn koffie saam met ons kom drink,” voor sy kan antwoord, kom die dun stemmetjie teen haar nek, “Ja asseblief,” en sy druk hom vas, en sy kry hom lief.
Eckhard Wolff gee die tassie vir Thobile en dit kom verskonend, “Dit is al wat hy wou saambring, ek is bevrees hy sal klere nodig hê.”
Sy kyk na die tassie, sy herroep die klein skooltassie wat sy geneem het, en die ironie, soos met die aanwysings deur die petroljoggie, is weer daar.
Daar is soveel meelewing en simpatie vir haar met die nuwe waarhede wat onthul is, en hulle treur saam met haar oor die vermorsde jare, maar sy verseker hulle, die straf was regverdig, dit maak die pad vorentoe moontlik, die pad wat alles inhou wat almal vir haar gewens het, alles wat sy nooit geglo het haar ooit weer sal toeval nie.
Jean Roux vra haar oor Desmond se operasie, sê haar Bernhardt Crafford het dit gepubliseer. Hy druk haar hand, “Jy is op die regte plek daar in die berge Zuluika, onthou dit altyd,” en dit vat alle twyfel oor haar besluit weg.
Daar is nie net verbasing oor Cordier nie, daar is ware blydskap, “Julle is so identies, julle gaan saam so gelukkig wees, julle hoort bymekaar,” en die woorde van Thobile seël haar verbintenis met die klein seuntjie.
Hulle vergesel haar uit deur die groot deure die son in, sy draai om, kyk na die gebou, en sê eerlik, “Die tien jaar hier was nodig vir my om te voel soos ek vandag voel, ek het my skuld betaal, ek kan weer vry voel sonder die ewige verwyt.” Hulle druk haar daardie druk van vriendskap en liefde, “Maak seker julle twee is gelukkig Zuluika,” en sy druk Tobile se hand, voel die versekering in haar, “Ek sal.”
Sy sien die verbasing op Joe se gesig waar hy verstom langs die viertrek staan, sy voel ʼn benoudheid, ‘wat sal die seuntjie se reaksie wees wanneer hy sien Joe is nie blank nie?’ en sy voel die pyn.
Joe se verbaasde “Zuluika,” laat die klein koppie teen haar nek draai, sy hou haar asem op, “Gaan jy ons huis toe vat Oom?” en sy voel die verligting in haar, ‘Dankie Here, dankie Pa’, en sy weet die Ziegfried Cordier wat sy geken het, is lankal dood.
Sy neem die klein bruin tassie by Jean Roux, sit dit voor in die viertrek neer, groet die drie wonderlike mense en tel die seuntjie saam met haar die viertrek in.
Hulle ry na die Gastehuis in totale stilte, en Cordier sit met gevoude beentjies en armpies op haar skoot, en hy lyk rustig.
Die dames by ontvangs is oorstelp oor die pragtige seuntjie, en dui aan hulle sal dadelik ʼn enkelbed in haar kamer in dra, maar Cordier is beslis, “Ek wil by jou in jou bed slaap, nie weg van jou af nie,” en dit is reg met haar.
Hulle nuttig aandete in die stoepkamer met die groot glasdeure, Cordier staan op en stap tot teen die glas waar hy met sy koppie teen die glas na die son kyk wat sak. Hy draai om en oor die breedte van die vertrek sê hy met ʼn besliste trek op die pragtige gesiggie, “Ek is bly ek is by jou Zuluika,” en in haar beaam sy elke woord.
Sy weet, sy moet die mense in haar onmiddellike groep in kennis stel van Cordier voor hulle op die plaas aankom, en Joe knik sy kop, maak ʼn gebaar van iemand wat sy selfoon teen sy oor hou, en sy weet, hy sal dit doen.
Die onsekerheid oor die deel van haar ma se identiteit wurg haar, maar voor hulle deurgaan kamer toe sê sy hom, en die vreugde in haar stem, laat hom haar teen hom vasdruk, “Nou moet jy haar net gaan opsoek maat,” en sy weet sy wil.
Met die inhoud van die klein tassie oop voor haar, voel sy die hartseer, ʼn broekie, ʼn hempie, ʼn onderbroekie, ʼn stelletjie nagklere styf opgerol in rolletjies en platgedruk op die bodem van die tassie, en die tandeborseltjie en tandepasta, dit breek haar hart, en haar gedagtes loop ver paaie.

Wanneer Cordier met sy hand in hare op die bed lê, vra hy ernstig, “Kan ek vanaand my gebedjie op my rug in die bed vir Jesus sê?”
Zuluika voel ʼn gevoel van bewondering in haar, vir die seuntjie, maar ook vir die man wat ook haar pa was, “Jy kan liefste, Jesus sal vanaand verstaan jy is baie moeg.”
Hy sê die twee sinnetjies voor die slaap hom kom haal, “Liewe Jesus dankie dat Zuluika my gevat het, en Jesus sal jy na my pappa kyk asseblief,” Zuluika voel hoe die weemoed oor haar kom.
Saam met die seuntjie se rustige asemhaling, neem die oorstelptheid van die dag se gebeure van haar besit, en kan sy die trane wat geluidloos oor haar wange loop nie keer nie.
Sy kyk na die seuntjie met die glimmende swart hare, besef daar was niks in haar herroep van haar verlede, wat haar kon voorberei op hierdie seuntjie se bestaan nie, en sy herleef weer die ongelooflike vreugde wat sy gevoel het toe sy hom vandag gesien het.
‘Kan ek die verantwoordelikheid dra Here’, vra sy met geslote oë, en Thobile se woorde, ‘Onthou Zuluika, elke persoon vervul sy doel wanneer die tyd reg is’, bring die versekering, ‘die tyd is reg vir haar’.
Sy klim met haar klere langs die seuntjie in die bed in, die tien jaar se ritueel is verby, sy is ontslae van die reëls waarmee sy haarself vasgepen het in haar gevangenisskap in haarself, en sy draai op haar sy, sit haar arm om die klein lyfie, noem haar ma se naam sag ‘Marcelle Novel’, en raak aan die slaap.

Hulle ry Menlyn toe en hulle koop vir Cordier klere en ʼn paar tekkies, en hy is werklik konserwatief in sy aankope, ‘Net een of twee van elk’, en sy vind iets van haarself in hom.
Deur die ry terug plaas toe sit hy op haar skoot, met haar hand in syne. Hou hy haar hand in die Wimpy by Villiers, en slaap met sy koppie op haar skoot die laaste kilometers na die plaas. Joe skud sy kop, stort sy trane, en Zuluika weet, die knapie het ʼn familie gekry.
Die ontvangs op die plaas is soos Zuluika gebid het dit sal wees, almal is daar, die twee moeders en vaders, Laurie en Matthew met Christopher en Kyle wat hang aan oupa Nathan se hande, en sy voel die lyfie teen haar beweeg wanneer hy hulle sien, “Is dit jou mense Zuluika?”
“Ja, en nou ook jou familie, Cordier,” en sy sien die skalkse glimlag op die gesiggie.
Die vrae is op hulle gesigte, maar hulle weet, nie nou nie, later wanneer die outjie rustig is. Wat Joe hulle reeds meegedeel het, is genoeg vir nou. Hulle kyk na die twee mense, kan nie glo dat twee mense so identies kan wees nie, maar hulle hou dit vir hulself, vir nou.
Sy soek Laurie uit waar sy alleen is, en met ʼn stem wat breek sê sy, “Hy het my, my ma se naam gegee,” Laurie kyk vinnig op, sy voel die vreugde en die vrees gemeng, ‘Ag Here laat sy asseblief leef’, flits dit deur haar gedagtes.
“Marcelle Novel,” en alhoewel die naam geen bekendheid inhou nie, sê sy dadelik, “Ons moet haar ‘Google’ Zuluika.” Zuluika kan net haar kop knik, vertrou haarself nie om te praat nie.
Hulle stap na die studeerkamer, en Laurie trek die deur toe. Die insleutel van die naam wat soveel belofte vir Zuluika inhou versmoor haar, en met die ‘klik’ van die ‘soek’ knoppie, is daar ʼn paar duisend verwysings na Marcelle Novel, en Laurie voel ʼn vreugde wat alles oorheers, ‘Sy leef, sy is ʼn wêreld beroemde pianis, en sy tree tans op in Denemarke’, en sy gryp Zuluika vas, en hulle staan stil in vreugde teen mekaar.
Die deel van die nuus, die verbasing en vreugde, bring die versekering dat dit nie net ʼn droom is nie, maar die werklikheid, en die vasdruk van haar teen hulle, bring rus.
“Wanneer en hoe gaan jy haar kontak?” vra Laurika Ruben, sy herleef die dag toe sy Laurie by die BBC se kantore se trappe sien stap het, en sy weet daar is nog ʼn moeder in die wêreld wat die grootste geskenk wat God ʼn moeder kan bied, gaan kry.
“Ek weet nog nie, maar dit sal in persoon wees, geen telefoon of rekenaar ontmoeting nie, ek wil ʼn armlengte van haar af wees wanneer ek haar vir die eerste keer sien,” en almal stem saam.
“Wanneer wil jy gaan?”
“Sodra Cordier se sake in orde is, ek sal nie sonder my seun gaan nie,” en hulle aanvaar dit.
Teen aandete is Cordier op die mat saam met Christopher en Kyle by die voete van Nathan, pak hulle diertjies in kampe, ry hulle met die trekkertjies oor die mat land toe om te gaan ploeg, en hy lyk gelukkig en ontspanne.
Wanneer sy opstaan om te gaan help in die kombuis, is die vrees en onsekerheid daar, “Ons gaan in die kombuis help om die ete klaar te maak, wil jy saamkom?”
“Wat doen julle wanneer julle ‘die ete klaarmaak’.”
“Ons vroue maak julle aandete.”
Hy kyk na Christopher en Kyle, “Gaan hulle saam?” en Christopher skud sy kop, “Nee Mamma sal ons roep wanneer die kos op die tafel is,” en hy kyk na Zuluika, “Dan sal ek hier bly tot julle roep.”
Na ete kom die vrae oor Cordier, en sy antwoord hulle deur hulle te vertel wat met haar gedeel is, die pyn van die verlies wat die seuntjie op sy geboortedag gehad het, en die hartseer vir hom is daar.
Sy bespreek die aanneme wat nou geprosesseer word met hulle, bevestig haar voorneme om na alles hier klaar is, eers tyd by haar skoonouers in Namibië te gaan deurbring met Cordier, voor sy en Cordier haar moeder gaan opsoek in Europa.
Sy weet sy moet haar voorneme om die land permanent te verlaat vanaand met hulle deel. Daar is hartseer, maar die belofte is weer tussen almal, hulle gaan by mekaar kuier, hulle sal die familie band stewig hou.
Oor die volgende drie weke kuier hulle met die seuns tussen die drie plase, en Cordier verloor sy vrees, is reg om weg van Zuluika te wees vir tye, en hy sê dit vir haar, “Ek weet jy sal my nie los nie,” en sy druk hom teen haar hart vas, “Nooit nie seun, ek gaan jou by my hou vir solank jy by my wil wees,” en hy knik sy kop asof hy verstaan.
Zuluika kyk na hom terwyl hy tussen Christopher en Kyle speel en die besef wat sy van die eerste dag gehad het oor die seuntjie is terug, hy het nog nie een keer oor haar pa, ‘sy pa’ gepraat nie, nie ʼn enkele woord oor die plaas of homself nie, en sy weet sy sal hom op een of ander manier moet help om te verstaan hy kan daaroor praat met haar, met almal.
Joos bel haar weekliks om te vra hoe sake vorder, hoe sy en Cordier vorder, en die wonderlike ligstraal, om haar Mauritz se boodskap te gee. Hy stuur sy liefde elke week, en die belofte wat die boodskappe inhou, laat haar die gevoel kry dat hy en Maxi miskien nie meer verloof is nie. Die onsekerheid is daar, maar sy voel die hoop in haar opbou, maar ook die pyn vir Maxi.
Sy het reeds vrede gemaak met die voorneme om hom alles te vertel, sy weet, indien haar verlede hom verhoed om haar lief te hê, sy daarmee sal saamleef, want dit het sy verdien. Sy bid elke aand dieselfde gebed, en hoop haar Here hoor haar.

Joos voel die knelling waarmee hy nou weke worstel, hy neem ʼn besluit wat hy weet ʼn groot fout mag wees, maar hy hoop en bid dit sal die regte besluit wees. In sy hart glo hy dit is, want dit wat Hermann Helder hom van Mauritz vertel het, en daardie aanhoudende bevestiging van sy verlange en liefde vir Zuluika, wys die inbors van ʼn goeie man.
Hy neem die foon, skakel Hermann en vra hom Mauritz se foonnommer en epos adres. Hy sê dit wat hy in sy hart weet reg is, “Hermann, jy was tot hier ʼn wonderlike skakel tussen wat was, en wat kan wees vir Zuluika,” hy swyg een oomblik, “Ek weet nie of jy die intieme dinge van hierdie mensie ken nie, maar ons, ek, het haar lief, ons het haar probeer veilig en gelukkig hou, en ek weet ek kan dit net doen indien ek oop kaarte met daardie jongman speel wat soveel liefde vir Zuluika koester.”
Daar is ʼn voelbare stilte wat volg op sy woorde, en die stem klink skielik baie moeg, “Joos, ek ken Zuluika Zuess en Laurie Kilber se lewensverhale, alles rondom die twee mense ken ek.”
Joos voel die spanning, “Wat bedoel jy Hermann?”
Hermann Helder oordink dit wat hy wil doen, en hy weet, hy wil vandag ʼn einde aan die maskerade maak, sy rol in Laurie Kilber en Zuluika Zuess se lewens, en hy hoop dit is die begin van die einde van sy eie maskerade.
“My naam is Steven Carter, Hermann Helder is een van die skuilname waaronder jy en Laurie my ken as deel van die organisasie wat die plasing van mediese personeel reg oor die wêreld moontlik maak.”
Joos weet, vandag gaan ʼn geheim oopgemaak word oor Laurie en haar mense, maar ook oor hierdie man wat so baie bygedra het tot hulle veiligheid, en hy wil dit hoor.
“My verantwoordelikhede in die ‘Bond’ strek oor vele dissiplines, waaronder ook die beveiliging van hulle wat die ‘Bond’ beskerm. My skuilnaam in Laurie Kilber en haar mense se lewens is Pearson.”
Joos maak sy oë toe, laat die twee name tot rus kom in sy geheue.
“Ek het in negentien ses en negentig die hoeder van die vier vlugtende mense geword, en soos jy weet, is ook daardie hartseer verhaal op ʼn einde.”
Joos voel die kalmte stadig oor hom kom, “Waar in Engeland woon jy Steven?”
“In Dorset,” en Joos bring die man in verband met Laurie se mense wat ook in Dorset County woon, en hy weet eendag wil hy Dorset County besoek, net die mense gaan ontmoet, net dankie gaan sê.
“Waarom het jy by ons mense betrokke geraak, by Suid Afrikaners betrokke geraak?”
Steven Carter laat die woorde stil word, hy weet, hy kan vandag die een waarheid deel, wat net hy, sy vrou en ʼn klein groepie mense weet, “Ook ek is met ongelooflike pyn en ontnugtering uit Suid Afrika weg,” en dit bring nie net die verbintenis nie, maar die begeerte om eendag met hierdie mens te gesels, te help as hy ooit kan.
“Waarom dit vir my vandag sê?”
“Ook ek het die punt bereik wat Laurie en Zuluika deurgegaan het, ook ek wil die waarheid weet, vergifnis gee, en vergifnis kry, ek wil rus kry Joos,” en die opening om sy wens te laat waar word, is daar.
“Kan ek jou van hulp wees Steven?”
Die stem is moeg, “Wanneer ek Suid Afrika toe kom vir daardie vrede, sal ek jou hulp en ondersteuning nodig hê, moontlik vroeër ʼn guns te vra hê.”
Joos voel die vreugde, “My ondersteuning, en die van al die mense wat jou goeie dade hier aangeraak het, ons sal by jou staan. Laat weet my net wanneer en waar.”
Die stemtoon is ʼn tikkie ligter, “Dankie Joos, ek sal definitief van jou aanbod gebruik maak, ons sal spoedig weer gesels,” en Joos voel hoe hy afstap van sy eie omstandighede, eerder as wat die woorde dit deurgee, “Ek stuur vir jou al Mauritz Melville se besonderhede, hy is ʼn skoon mens, ʼn edelman.”
Die groet is die van twee vriende, iets het vandag tussen hulle ontstaan, en albei voel dit, en daar is meer vrede in hulle gemoedere as in baie jare tot nou.
Hy gaan sit in sy studeerkamer, sy gedagtes weier om weg te beweeg van Steven Carter se openbaring af, hy weet, soos met Zuluika en Laurie se mense, daar sal geen verwysing na wie Steven Carter voorheen was, op die internet media wees nie, so hy sal nie eers probeer om hom op te soek nie, hy sal wag totdat Steven dit self deel.
Hy wag tot die boodskap op sy skerm verskyn, bevestig op ‘Google’ hoe laat dit in Corvallis is, en skakel die nommer.
Mauritz sien die ‘+27’ kode voor die nommer op die skerm, en hy voel sy hart een oomblik stil word, ‘Dankie Here, dankie’.
Met ʼn ‘kortasem’ stem antwoord hy onmiddellik, “Hallo, is dit jy Zuluika?” Joos hoor die hoop in die mens se stem.
“Nee, jammer Mauritz, ek is Joos Terblanche, ʼn vriend van Zuluika, kan ons twee gesels asseblief?”
Joos hoor die stilte, hoor die stem die trane saambring, “Waar is sy Meneer, is sy veilig?”
“Sy is hier in Suid Afrika, en sy is veilig Mauritz.”
Hy gee hom ʼn paar minute om sy ewewig te herwin, hoor hoe Mauritz met homself worstel, en dit kom hartseer deur die trane, “Ek het haar so lief, en verlang so vreeslik na haar.”
Joos weet, hy hoor die waarheid, en dit wat hy nou gaan sê, is ook waar, daarvoor is die vreugde gemeng met hartseer te duidelik elke keer wat sy die man se naam hoor.
“Ek weet nie wanneer sy terug na julle sal gaan nie Mauritz, maar ek weet verseker, sy gaan definitief terug na julle.”
Dit kom hartseer, “Wat is verkeerd met Zuluika, is sy siek?”
Joos voel die jammerte vir die man in hom, “Nee Mauritz, sy is nie siek nie.”
“Wat is dit wat haar weghou van hier af?”
Joos trek sy asem in, voel die versekering oor wat hy nou gaan doen, “Daar is iets anders wat gebeur het, wat haar hier vashou. Dit is waaroor ek met jou wil praat.”
“Sê my asseblief, enige iets, niks sal ooit te erg wees vir my nie.”
“Dit is ʼn lang en pynlike verhaal Mauritz, is jy seker jy wil dit hoor.”
“Ek is.”
Joos begin by die begin van die dertien jarige dogtertjie wat Louis Olivier so liefgehad het, hy loop Zuluika se pad tot hier waar hulle vandag gesels, en Mauritz Melville huil sy hart uit, “Waarom my dit nie net vertel nie?”
“In haar eie woorde, ‘Jy is verbind aan ʼn ander, jy is ʼn Godsman, en sy het gemoor’.”
Joos hoor die groot man daar ver in die berge se skanse breek, en skielik is sy eie krag wat hy deur die afgelope paar jaar aan geklou het te min, en hy huil saam met hom.
Na ʼn wyle kom Mauritz se stem meer beheers en kalm, “Ek weet ons God het haar lankal vergewe, by Hom is daar geen haatdraendheid nie. Ook weet ek, sy met haar edel siel kan haarself nie vergewe nie, en dit verstaan ek ook, maar daar is niks in hierdie hartseer feite wat u my vertel het waarvoor sy my vergifnis nodig het nie, God stuur ons paaie, al kan ons dit nie sien in ons dade nie.”
Joos hoor die sug, besef waardeur die man gaan, “Al sou die wrede waarheid wat nou bekend is, nie bekend gewees het nie, sal ek haar steeds tot in die hiernamaals liefhê.”
Joos voel die vreugde, “Ek het in die weke terwyl ek met myself geworstel het of ek jou moet kontak, gebid jy sal sê wat jy nou sê, en sal voel soos jy nou voel.”
Dit kom duidelik, “Joos, sodat jy weet, sonder Zuluika kan ek nie leef nie, dit het ek geweet voor sy weggegaan het. Sodat jy dit weet, ek en Maxi het ons verlowing verbreek in die week toe Zuluika weggegaan het. Ons het albei ʼn ander liefgekry, ons het albei besef ons tien jaar lange verlowing is eintlik net ʼn vriendskaps-band, niks meer nie.”
Joos voel die laaste spanning uit hom gaan, weet dit was die regte besluit om Mauritz te vertel, die regte besluit om hierdie twee mense se kans op liefde en geluk te beveilig, totdat hulle mekaar in die oë kan kyk.
“Ek wil na haar toe kom in Suid Afrika.”
Joos hoor die hartseer, maar hy weet, Zuluika het nog ʼn pad om alleen te stap voordat sy reg sal wees om weer te begin, en hy sê hom dit.
“Wanneer sal sy kom?”
“Ek glo iewers net na Augustus gaan sy by jou wees.”
Hy vra dit want hy moet weet, “Sal jy Cordier liefhê soos jou eie seun?”
Mauritz beloof hom, “So lief, en soveel meer, want hy is deel van haar en dit wat haar vrygemaak het, ek beloof.”
“Ek gaan vir jou ʼn groot hoeveelheid berigte deurstuur, sodat jy sal verstaan wat die wonderlike mensie deurgemaak het, en Mauritz, sal jy die gesprek, en die artikels asseblief geheim hou totdat sy jou self vertel het, voor jy haar sê,” en Mauritz beloof.
“Sal jy dit gou stuur asseblief?”
“Ek het die epos reeds gestuur, dit sal binne enkele minute by jou wees.”
Met die gaan lê is Joos vir die eerste keer in maande ontspanne, weet hy, alles gaan vir Zuluika en Cordier reg wees, en hy raak rustig aan die slaap.

Mauritz tel die minute tot die epos met al die ingeslote dokumente op sy skerm verskyn, en hy voel ʼn afwagting en ʼn hartseer vir wat in hierdie dokumente verskuil lê, oor haar wat hy bo alles lief het.
Hy lees elke berig, kyk na elke foto, sien die pragtige jongmens tien jaar gelede, sien die gesig van die man wat haar so gelukkig gemaak het, hy wat so talentvol was, en hy huil sy hart uit. Hy kry ʼn beklemming in hom wanneer hy twyfel of hy selfs net in Rudolph se skadu sal kan staan. Hy gaan op sy knieë, bid tot sy God en beloof in sy gebed om Zuluika elke oomblik liewer as die lewe te hê, om Rudolph se liefde saam met hulle tot aan die einde van hul lewens te neem, en hy kom tot rus.
Wanneer hy later opstap na die hospitaal, waar hy weet Rhoda sal wees, weet hy, dit wat hy nou weet kan hy nie met haar deel nie, maar hy het nou meer as voorheen haar krag nodig totdat Zuluika weer by hom is. Hy vertrou haar met sy gevoel, en met Zuluika se verlede.
Hy trek haar kantoordeur toe, en sy kyk vraend na hom, “Ek kan nie die detail van wat ek oor Zuluika gehoor het, nou met jou deel nie, sy moet eers terugkom en dit self vir ons vertel. Ek wil hê jy moet weet, sy is beproef tot daar waar ander mense reeds lankal moed op sou gegee het.”
Hulle stort hulle hartseer saam uit, en die gedeelde leed maak die wag tot hulle hart terug is, moontlik.

Laataand twee weke later wanneer hulle koffie op die veranda drink, is dit Nathan wat die aankondiging maak, “Ons het besluit om weer ʼn braaivleis vir die hele gemeenskap te reël. Ons wil soos toe Laurika en Selma teruggekom het, die gemeenskap, wat ons, en jou so getrou bygestaan het, inlaat in die waarheid rondom jou hartseer, maar veral rondom die waarheid wat ons en die wêreld nou weet,” en met ʼn skadu wat een oomblik in die blou oë huiwer, “Ook ʼn afskeid vir jou.”
Zuluika hoor die hartseer, maar ook die spontane aanvaar van die voorstel, sy weet, sy sal daarmee saamgaan, meemaak ʼn geleentheid soos die geleentheid wat hulle vrede gegee het maande gelede.
Hulle skakel Gerhard Vosloo en Laurie vra hom om die geselligheid by te woon. Hy stem in, en Zuluika weet sy sien uit na sy koms. Sy het soveel vrae om hom te vra. Sy weet hy weet alles van Cordier, want hy was elke dag in die huis waar Cordier gewoon het.

Die braaivleis op The Buttress is ʼn reuse byeenkoms. Zuluika en Cordier word gedra en gesteun deur die mense van die kontrei. Almal beleef die pyn en hartseer van die bose daad wat al die hartseer veroorsaak het. Hulle hoor die ware feite, en hulle huil oor die verlore lewens en verlore jare, en Zuluika ondervind dieselfde liefde van hulle wat haar lank gelede in hulle gemeenskap en in hulle harte ingeneem het, en sy voel die vrede.
Die mense is verstom oor Cordier, so prentjie perfek soos Zuluika met die twee onmaats oë, vol medelye wanneer hulle die waarheid oor die verlies van sy moeder hoor, en hulle sonder hom ui saam met Kyle en Christopher, en hy geniet dit terdeë.
So oorstelp as wat hulle oor Cordier se bestaan is, is hulle oor Gerhard Vosloo, en Selma is verslae oor die ooreenkoms tussen hom en Louis, en sy sê hom dit, en hy lag skaam.
Hy deel Louis se lewenslange plan om Zuluika se veiligheid te probeer verseker. Hulle deel hulle dankbaarheid vir sy bydrae en opoffering, en hulle is oorstelp oor hoe baie hy soos Louis is.
Zuluika neem foto’s met haar selfoon vir die verlang dae. Die foto’s wys Nathan met die drie seuns by hom, Laurie en Matthew saam met hulle ouers, binne die kring wat die familielede en die gemeenskap om hulle onder die bloekombome maak.
Die drie seuns wat om Nathan hardloop wanneer hulle terug stap huis toe, en Christopher en Kyle met hulle hande in die van Cordier stuur Zuluika se gedagtes na die droom wat sy gehad het die dag toe Margret se kinders gebore is, kinders vir haar en Mauritz, en sy bid weer haar gebed.
Sy sonder Gerhard Vosloo af, en hy is gereed om haar vrae te antwoord, “Waarom het jy my nie van Cordier gesê daardie dag nie?”
“Dit was nie die regte tyd nie Zuluika.”
“Wat as ek my pa nie gaan sien het nie?”
“Ek sou jou kom sien het. Jou vertel het van hom.”
Hy vertel haar die hartseer verhaal van die kort geluk van haar pa en Sofie Greyling. “Sy was ʼn jong onderwyseres by die Paulpietersburg Laerskool, jou pa het haar ontmoet in haar eerste kwartaal by die skool toe hy sy maandelikse skenking van kruideniersware vir die skool se voedingsprogram deurgeneem het.”
Sy sien die effense glimlag en sy weet daar was geluk.
“Hy was oombliklik versot op haar, maar het nie geglo dat so ʼn pragtige jongmens in hom belang sal stel nie. Hy was verkeerd, sy was openlik verlief en hulle is binne ses maande getroud.”
Sy sien hom ver oor die bome kyk, “Daar was soveel lag en sonskyn in die huis, veral toe sy besef het sy is swanger. Vir my was dit wat hy verdien het na al die jare se pyn, maar sy het reeds voor die bevalling siek geword, en het aan die lewe vasgeklou met alles om haar kind te baar, en hom te sien.”
Zuluika gee hom geleentheid om te herstel, “Het sy Cordier gesien?”
“Ja, hy was langs haar in die bed tot sy ʼn paar uur later gesterf het, sy het hom gesien en vasgehou.”
Zuluika besef sy ontsteltenis, en vra hom om saam met haar na binne te gaan om hom geleentheid te gee om tot homself te kom.
“Jy was lief vir haar?” en hy knik sy kop, en sy kry hom bitter jammer.
“Waar woon haar mense?”
“Sy het niemand gehad nie, sy was ʼn weeskind.”
Zuluika voel die hartseer, sy weet, hy, Soekie Smit en oom Louis het verseker dat sy nie ʼn weeskind was nie, het haar ʼn familie gegee, ʼn wonderlike lewe gegee.
Wanneer hulle weer buite sit, elk met ʼn koppie koffie, vertel hy haar wat agter die toe deur van haar kamer is, “Elke foto, elke berig, elke woord wat ooit oor jou gepubliseer was, is in daardie kamer. Hy het ure elke dag daar deurgebring, nooit een dag oorgeslaan nie.”
Sy hoor dit en dit pyn in haar, en al wat sy kan vra is, ‘Waarom al die leed Here’.
“So Zuluika, al is jy op openbare platforms uitgewis, weet net, jy en wie jy was is veilig tussen jou kamer se vier mure op die plaas, indien jy dit ooit wil hê,” en sy bêre die wete.
“Hy wou jou veiligheid verseker, deur my, sonder Louis se wete het ek hom probeer op hoogte hou van jou veiligheid. So ek het eintlik al die jare ʼn dubbele rol gespeel, met dieselfde einddoel, jou veiligheid bo alles.”
Hy wag voor hy aangaan, “Ek weet jy sal dit kwalik van hom glo, maar die dag toe jy en Rudolph getroud is, was hy opreg bly vir julle,” en sy weet sy kan hom glo, maar dit is ver weg van die man wat sy geken het.
Die hartseer is terug in sy stem, “Die dag toe Rudolph se dood in die media verkondig is, en jy daardie twee jongmans op die trappe van die Hooggeregshof dood-geskiet het, het sy wêreld vergaan. Hy was gebroke, hy kon jou nie veilig hou teen presies wat hy geskep het nie. Hy was platgeslaan, en hy het nooit werklik daaroor gekom nie.”
Zuluika voel die tamheid in haar, sy weet alles wat sy gehoor het die afgelope weke het tog hul tol geëis, sy is geestelik tam, amper te tam om verder te luister, maar sy weet, sy het hierdie geleentheid, en sy moet dit aangryp.
“Hy het die week na jy lewenslank tronk toe gestuur is, begin werk om jou nie net vry te kry nie, maar om hulle wat dit aan jou gedoen het, aan die man te bring. Dit het hom ʼn baie lang tyd geneem om iemand binne in die faksie geplaas te kry, maar hy het, en hy het al die bewyse gekry wat julle gekry het.”
Zuluika maak haar oë toe, besef sy het geen idee wat dit van hom gevra het om dit wat sy alles was te vernietig nie. Die wete dat hy die persoon is wat die bewyse vir die twee vroue gegee het, sal sy wegbêre, nooit rugbaar maak nie, want dit sal die einde van hom beteken, en waar sy vandag sit, wil sy hom vir Cordier in die lewe hê.
Hy bly by hulle deur die volgende week, en hulle deel grepe uit die verlede met mekaar. Selma deel flitse uit haar en Louis se saamwees, en hulle besef hoe lief hulle dieselfde mens gehad het.
Hy speel met Cordier, en hulle sien sy liefde vir die seuntjie, en hulle besef dat hy almal wat in sy lewe was verloor het, en hulle vra dat hy weer moet kom, en wanneer hy ry, beloof hy, hy sal.
Eckhard Wolff skakel haar in die vierde week, ‘Die proses is voltooi, jy en Cordier kan deurkom om die dokumentasie te kom haal’.
Hy gee haar sy kantore se straatadres, en hulle maak reg om die volgende dag deur te ry na Pretoria.

Met die besluit oor die rit en die tydperk wat hulle weg sal wees, deel sy haar voorneme om by Marie en Julia aan te gaan. Sy wil Cordier vir hulle gaan wys, die waarheid oor haar pa se bydrae tot die saak se oopmaak bekend maak, en aan hulle die woorde oordra wat hy haar gevra het sy vir hulle moet sê.
Sy weet sy wil die twee vroue smeek om die geld te neem, nie net vir hulle nie, maar vir vrede vir hom wat sy in die gevangenis agtergelaat het.

Met die stilhou voor die huis langs die Vaalrivier, wag die twee vroue vir hulle op die stoep, “Ons het elke dag gewag, geweet jy sal kom,” die vrae is in hulle oë by die sien van Cordier, maar hulle laat dit gaan, aanvaar die feite sal gedeel word in die kameraadskap wat gebring is deur die saam oopmaak van die waarheid.
Die sit op die stoep, met koffie en eetgoed, bring ʼn rustigheid in almal, en Joe vra vir Cordier of hy in ʼn roeibootjie met hom wil gaan roei, en die seuntjie is uit sy vel van opgewondenheid. Marie gee hulle die sleutel van die boothuis en herinner hulle om reddingsbaadjies aan te trek, en hulle beloof met die wegstap. Zuluika weet Joe wil hulle geleentheid gee om alleen te gesels.
Sy vertel hulle Cordier se verhaal, hulle is oorstelp maar deel haar vreugde oor die pragtige kind wat sy gekry het.
Sy stap deur die besoek aan haar pa, vertel hulle alles wat hy gesê het, gee hulle die pynlike boodskap wat hy gestuur het, ‘Ons het ons kinders verloor oor ʼn bose ideologie wat ek gevoed het, en dit is ek skuldig aan’.
Hulle aanvaar die boetedoening, en Julia onderneem om dit vir hom in ʼn brief te laat weet, en Zuluika weet dit sal gebeur.
Sy smeek hulle om die geld te neem, gee hulle die woorde wat hy gestuur het, en hulle aanvaar dit, en sy kom tot rus.
“Ek sal Jake laat weet, hom vra om met julle te skakel rondom julle bank besonderhede,” en sy voel ʼn ongelooflike verligting, en haar gedagtes raak aan die groot man met die trane wat oor sy wange geloop het.
Hulle eet middagete langs die rivier onder die Wilgerbome, Zuluika weet sy en Cordier gaan altyd wanneer hulle Suid Afrika besoek hier welkom wees. Sy besef nou, die bevestiging wat Eckhard haar gegee het rondom haar identiteit in die land, haar pa se boete-doening, en veral Cordier se verbintenis met haar pa, het die, ‘Kom nooit weer terug nie, wegkruip’, weggeneem.

Sy skakel Lize sodra hulle die rit hervat Pretoria toe, en vra haar om die aand by hulle by die gastehuis te kom eet. Sy vra ook of Lize kan vasstel of daar eerskomende Saterdag of Sondag ʼn uitvoering in die Brooklyn Teater aangebied word, en vir hulle vier kaartjies te kry indien wel.
Die inboek by die gastehuis is ʼn roetine wat Zuluika geniet, die gasvryheid, die sekermaak hulle kamers kyk uit oor die wye grasperk, en ʼn verwelkomingspakkie vir Cordier, bring die gevoel van normaal wees in hulle albei, die gevoel wat Zuluika weet vir ʼn baie lang tyd afwesig was.
Lize daag vroeg op, ‘Ek het weggeloop van die kantoor af, ek wil tyd by julle deurbring en het môre verlof geneem om saam met julle te gaan’, alles in een asem, en Zuluika besef, sy het soveel mense wat haar lief het, haar altyd liefgehad het, en altyd lief sal hê.
Alhoewel Zuluika Lize laat weet het van Cordier, is sy oorstelp wanneer Cordier na haar toe stap en sy handjie na haar uithou, “Hallo, ek is Cordier Cordier, wat is Tannie se naam?”
Sy vat sy handjie, trek hom nader en soen hom sag op die voorkop, “Ek is Lize, Zuluika en Joe se vriendin,” hy laat haar toe om hom een oomblik teen haar vas te druk, draai tevrede om en gaan sit by Joe op die bank.
Sy haal die koevert uit haar handsak, “Kaartjies vir Saterdagmiddag se drieuur vertoning van die Gauteng Filharmoniese orkes,” en gee die koevert aan Zuluika.
Met ʼn groot-oog trek, “Ek laai julle drie eenuur Saterdag op, en môre oggend om negeuur vir die besoek aan Eckhard se kantoor.”
Die vraag is op haar gesig, “Het jy gedink aan Rik se wens?”
“Ja ek het, dit is deels rede waarom ek wil hê ons moet gaan.”
“Jippie, watter datum het jy ingedagte?”
“Iewers in Augustus wanneer ek terugkom van ons besoek aan vader en moeder Bruyns, my wens is om hulle te vra om dit ook by te woon.”
Lize druk haar hand, “Dankie hiervoor, dit gaan onvergeetlik wees.”
Zuluika weet dit is die woord wat sy ook koppel aan haar verwagting van die optrede, “Ek glo vir my ook. Ek sal baie oefentyd moet insit sodra ons terug op die plaas is,” en sy wens Mauritz was hier by haar, soos die aande met haar oefening vir die konsert, en sy voel ʼn pynlike verlange na hom.
Sy kyk na Lize, sê wat sy tot nou dig gehou het, “Ek wil alles hier afhandel Lize, probeer om hulle wat oor die jare in dieselfde pyn vasgevang was, afsluiting te gee. Dit sluit die konsert in, die begrawe van Rudolph se vinger, en die vind van my moeder. Dit moet eers afgehandel wees voor ek teruggaan na die mense, en veral hom wat ek so lief het, hulle wat beloof het om vir my te wag.”
Lize se blydskap oor die vind van haar moeder, is aandoenlik, veral die feit dat sy nog leef, maar veral oor daardie persoon wat Zuluika liefgekry het, en sy verseker haar, “Ek weet, wie hy ook al is, hy sal daar wees, hy sal jou onvoorwaardelik liefhê,” en met die vasvat van Zuluika se hand, “Wie is jou moeder en waar is sy?”
Zuluika voel die vreugde in haar wanneer sy daardie besondere naam sê, daardie talentvolle mens haar ma kan noem, en Lize is absoluut oorstelp van vreugde.

Die besoek van hulle vier aan Eckhard se kantore, is ʼn vreugdevolle ondervinding. Hy vra hulle al vier om saam na die konferensiekamer te gaan, en wanneer hulle instap, is Joos, Jake en al die kantoorpersoneel daar. Hulle sien die koffie en versnapperings, besef dit is ʼn feesviering, en Zuluika weet alles is werklik reg vir haar en Cordier.
Die oorhandiging van die dokumente wat Cordier haar kind maak, laat haar hom vasgryp en teen haar vasdruk, en sy sê saggies naby sy gesiggie, “Jy is nou my seuntjie, hoe voel jy daaroor?”
Hy kyk haar lank stilswyend aan, en in ʼn stemmetjie wat baie oud klink, sê hy “Dit is wat Pappa gewens het, en ek is vreeslik bly.” Hy sit sy armpies om haar nek, druk haar en soen haar op haar voorkop, en sê net so sag, “Kan ek jou nou Mamma noem, soos Christopher en Kyle, hulle mamma noem?”
Sy druk hom vas, “Ja asseblief, noem my van vandag af vir altyd Mamma.” en hy knik sy koppie en druk haar kop teen hom vas.
Eckhard werk deur al die dokumente met haar, en Joos en Lize sit by deur die verrigtinge.
Met die oorhandiging van die dokumente is Eckhard skielik ernstig, “Joos en Lize sal jou van hier af verder ondersteun en bystaan indien daar enige iets is wat jy nog nodig het, of wil weet.”
“En jy?”
“Nou met die vervulling van jou pa se grootste wens, wil ek aan ons wens werk, om hom of vry te kry, of die ligste moontlike straf te verseker. Al my en my praktyk se werk vorentoe is net hy, want ongeag die verlede Zuluika, hy is ʼn goeie mens, was ʼn goeie mens vanaf die dag toe jy weggegaan het, en hy verdien ons respek en hulp.”
Sy kyk hom in die oë, knik haar instemming, woorde is nie nodig nie, die seer is verby, sy het soveel seëninge die afgelope maande ontvang, ook van hom.
Twee ure later wanneer hy hulle groet in die parkeerarea van die gebou, wens hy haar alle voorspoed toe, en wanneer hy oor Cordier se kuif vryf sê hy ernstig, “Wees gelukkig mannetjie.” Cordier druk die groot hand bo-op sy kop vas, “Ek is gelukkig Oom.”
Zuluika voel die trane in haar opstoot, voel Joe en Lize se hande haar gelyk aanraak, en sy dwing dit terug, vandag is nie ʼn trane geleentheid nie, vandag bring nuwe emosies wat sy nooit geglo het sy sal beleef nie, en sy druk die klein lyfie teen haar vas.
Met die aanskakel van die motor, sê Zuluika gemaak streng, “Nou gaan ek vir meneer Cordier ‘uitgaan’ klere koop.”
Hy trek sy lyfie regop, “Hoekom, waarheen gaan ons uit?”
Sy lag, “Ons gaan môre konsert toe Meneer,” en hy trek sy oë groot en hulle lag, al drie weet, hy het geen idee wat ‘konsert’ beteken nie.
Die aankope is ʼn genotvolle ervaring, Cordier trek ewe gewillig die langbroekie, hempie en baadjie aan, en stap ewe gedwee voor hulle verby en draai in die rondte sodat hulle kan verseker die klere pas. Hy staan stil voor Zuluika en vra ernstig, “Is dit wat Mamma gedink het ek moet kry?” Sy vryf die swart kuif en lag, “Perfek Meneer, perfek.”
Lize drink ʼn laaste koffie saam met hulle by die gastehuis, en met ʼn, ‘Sien julle môre eenuur’, sit sy die motor in rat en ry deur die hekke van die gastehuis, in haar vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd is daar ʼn totale gerustheid oor Zuluika.
Hulle drie sit rustig in die sitkamer en wanneer Cordier aandui hy wil gaan lê, sê hy, “Mamma kan my net in die bed sit en saam met my, my gebedjie opsê, dan kan Mamma die deur oop los en weer by oom Joe kom gesels.”
Hulle oë ontmoet bo die swartkoppie, albei weet, die outjie is besig om selfvertroue te kry.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed