Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 20

Hoofstuk 20 – Toekoms uit die verlede

Die opgewondenheid wanneer hulle begin aantrek is voelbaar, Zuluika weet, vandag is die begin van haar en Cordier se stap na die wêreld waarheen sy hom wil saamneem, sy wil haar seun in ʼn wêreld van musiek grootmaak, ʼn wêreld waar sy met Rudolph so gelukkig was, ʼn wêreld waar sy hoop om met hom en Mauritz gelukkig te wees.
Joe wag reeds in die sitkamer wanneer sy en Cordier instap, en met ʼn oogtrek sê hy, ‘Fancy Pansy’, en sy en Cordier bars uit van die lag.
Lize se ‘wow’, wanneer hulle in die motor klim, bring dieselfde gevoel van aanvaarding by hulle, en die rit na die teater is vol lag en gesels.
Met die instap is Rik by die deur, sy vasdruk van haar is spontaan, sy kyk na Lize en die uitdrukking op haar gesig gee haar weg, ‘Zuluika weet sy het Rik laat weet hulle is op pad, en sy is bly daarvoor’.
Hy stoot haar effens weg en kyk van haar na Cordier, en sê ernstig, “Waar het jy die perfekte knapie al die tyd vir ons weggesteek?”
Sy trek Cordier teen haar vas, en dit kom natuurlik, “Rik, ontmoet my seun Cordier. Cordier hierdie is oom Rik.”
Terwyl Cordier sy hand uitsteek, sê sy gelykmatig terwyl die genot van die oomblik in haar bruis, “Daardie geheim is vir my en Cordier om te weet, en vir julle om uit te vind,” en sy trek groot oë vir Cordier. Die seuntjie vat sy handjie, maak of hy sy mondjie sluit, en die sleutel oor sy skouer gooi, en Zuluika en die ander drie is verstom oor die mannetjie se skerpheid.
Rik draai na haar sodra die groet verby is, “Is daar goeie nuus vir my?”
Zuluika knik haar kop, “Ja, kan ons dit bespreek oor ʼn koppie koffie en koek hier in Cafe Artiste na die uitvoering?” en hy vou sy hande voor sy bors in ʼn ‘dankie’ gebaar.
Sy weet sy wil weer die foto van Rudolph in die laer vlak ontspanningsarea sien, wil dit met Cordier en Joe deel. Sy neem Cordier se handjie en vra Lize en Joe om saam met haar te stap.
Die sien van die pragtige mens bring heimwee, maar ook ʼn vreugde aan die herinnering van sy liefde, “Hierdie was Mamma se man, maar hy is dood.”
Hy sit sy klein handjie in hare en sê ewe sedig, “Net soos my ander mamma, ek is jammer Mamma.”
Sy voel die skok, maar ook die dankbaarheid teenoor die man wat Cordier soveel lewenswaarhede geleer het. Sy trek sy koppie teen haar vas, “Mamma is baie jammer oor jou mamma wat dood is,” en hy druk haar hand teen sy koppie vas, en sê, “Toemaar, ons het mekaar nou,” en Zuluika voel of sy in trane kan uitbars.
Sy voel Joe se arm om haar skouers en sy woorde bring rus in haar, “Hy was regtig ʼn uitstaande man Zuluika, ek is so jammer oor wat gebeur het,” en sy knik haar kop, nie by magte om te praat nie.
Hulle stap terug na die teateringang, koop vir Cordier ʼn botteltjie water, en stap die trappe op die teater in. Cordier gaan staan doodstil sodra hulle binne die teater is, en hy die orkeslede sien sit terwyl hulle, hulle instrumente stem.
Die uitdrukking op sy gesiggie is oorblufte plesier, hy laat haar toe om hom versigtig voor haar na hul sitplekke te stuur, terwyl hy nie een oomblik sy oë wegneem van die verhoog af nie.
Die oomblik wat hulle sit, vat hy haar hand en dwing haar om na hom te kyk, “Mamma, ek kan ook viool speel soos daardie mense.”
Zuluika voel die skok in haar, sien dieselfde ongeloof op die ander twee se gesigte, “Waar is jou viool seun?”
“In my kamer op die plaas Mamma.”
“Wanneer het jy dit gespeel seun?”
“Elke dag, oom Bruwer van die dorp het my elke dag op die plaas kom leer. Ek hou baie daarvan Mamma, bel asseblief oom Gerhard en vra om dit vir ons te bring?”
Steeds oorbluf hoor sy haar eie stem, “Ek sal seun, ons sal dit vanaand doen.”
“Oom Bruwer het gesê ek speel baie goed. Kan Mamma viool speel?”
“Ja liefste, Mamma kan.”
“Kan Mamma so goed soos ek speel?”
Sy hoor Lize lag, “Ek hoop so liefste, ek en jy moet saam speel sodra jou viool by ons is, dan sê jy my.”
“Dit sal lekker wees Mamma,” hy trek sy lyfie regop, sit sy koppie teen die leuning van die stoel, en staar na die verhoog met openlike verwondering op sy gesiggie.
Dit is Lize se stem wat sag hier by haar oor fluister, “Jy gaan ʼn perfekte gesin hê Zuluika,” en sy knik haar kop instemmend.
Met die verdoof van die ligte, voel sy die klein handjie na hare soek, sy neem dit, maak haar oë toe, en die musiek van Mozart vul haar, maak haar rustig, en sy voel volkome gelukkig.
Hulle sit saam, met sy handjie in hare deur die totale eerste helfte van die konsert, wanneer die ligte aangeskakel word, en die orkeslede opstaan, is die teleurgestelde stemmetjie bo die lawaai hoorbaar, “Mamma, hulle moet nie nou ophou nie, ek wil nog luister.”
Joe tel hom met een swaai in sy arms, verseker hom daar is nog musiek wat kom, en vra hom of hy die toilet wil gebruik, aangesien hy na die ruskamer toe gaan. Hy sit sy arm om Joe se nek, en ewe tevrede laat hy Joe hom na buite dra. Zuluika voel die dankbaarheid teenoor hom wat hierdie seuntjie soveel vertroue in ander geleer het, ongeag van kleur.
Terwyl hulle oë die twee volg, kom dit sag, “Die seun van jou is gelukkig Zuluika, hy gaan jou baie gelukkig maak,” en Zuluika weet Lize is reg.
Cordier se totale inleef met die musiek laat Zuluika aan Rudolph dink, hy was ook so vasgevang in die wonderlike wêreld van musiek, en sy weet, indien sy en Rudolph ooit kinders sou hê, hulle soos Cordier sou gewees het.
Na die vertoning gaan sit hulle vier in die oop area van die restaurant wat uitkyk op die grasperk agter die teater, “Kom ons wag vir Rik voor ons koffie en iets te ete bestel,” stel Lize voor.
Joe staan op, hou sy hand uit na Cordier, “Kom ek en jy gaan kyk wat by die stalletjies aangaan seun,” en Cordier staan op, gee sy hand en stap huppelend saam. In haar gedagtes sien Zuluika die seuntjie se hand in Mauritz se hand, sy weet, sy sal dit iewers in haar toekoms sien.
Met die sit, vra Rik dadelik, “Voor jy die twee terug roep, waar kom die ewebeeld van jou vandaan? Ek weet hy is nie joune nie.”
Sy deel Cordier se kort geskiedenis met hom, en sy sien die medelye, “Hy is jou ewebeeld Zuluika, dit moet iets beteken?” sy knik haar kop, die antwoord ken sy reeds, haar pa het dit in die gevangenis reeds bevestig.
Hulle wink die twee by die stalletjies terug, en bestel koffie en koek. Rik draai na haar, die afwagting duidelik op sy gesig, “So, wat is my goeie nuus?”
Sy glimlag, “Ek sal baie graag weer eenkeer hier wil optree saam met die Gauteng orkes, moontlik iewers later in Augustus, indien dit enigsins ingepas kan word.”
Sonder om een oomblik te weifel, “Sondag een en twintig Augustus om drieuur, Clara Schumann se ‘Three Romances for Violin and Piano’, voor pouse en Mozart se ‘Violin Concerto No 3’, direk na pouse,” en hy kyk na haar met openlike uitdaging, “Wat sê jy?”
Zuluika kyk hom stip aan, sy weet, hy weet dit is twee van haar mees geliefde konserte, en sy knik haar kop, “Goed, indien jy dit kan reël, is ek reg daarmee.”
“Klaar gereël, wag net vir jou instemming,” sy laat dit daar, nie nuuskierig oor hoe hy die datum gekies het nie, sy neem aan, enige datum sou reg vir hom gewees het.
“Indien dit ook reg is met jou, wil ons die uitvoering aanbied ter herinnering aan Rudolph en hulle wie se lot dieselfde was,” hy kyk pleitend na haar, en knik haar instemming.
Cordier sit sy handjie op haar arm, “As Mamma bang is om alleen te speel, kan ek saam speel,” sy onthou die krag wat sy uit Rudolph en Mauritz se ‘saamwees’ gekry het, en sy weet Cordier pas perfek in haar ondersteuningsspan in.
Rik vra vinnig, “Kan jy viool speel?”
“Ja, en my pappa en oom Bruwer sê, baie goed.”
Hy kyk na Zuluika en sy beweeg nie, nie nou enige beloftes nie.
“Watter liedjies kan jy speel?”
“O, baie. Ek gaan dit vir Mamma speel sodra oom Gerhard my viool plaas toe bring.”
Hy kyk na haar, sien haar weiering, “Dink daaraan, net een lied waarmee hy bekend is, as ʼn heel laaste geskenk aan die gehoor,” en sy laat dit gaan sonder om dit goed-, of af te keur.
Met die totsiens, hou hy haar hand lank vas, “Dankie dat jy terug is.”
“Ek gaan nie in Suid Afrika bly nie Rik.”
“Ek weet, dit is omdat jy hier is, niks te doen met waar jy gaan woon nie,” en hy glimlag.
Met die terugry pols sy Cordier oor ander artikels wat Gerhard vir hom moet saambring, en sy antwoord is eerlik, “Niks nie Mamma, net die viool noudat ek by Mamma is.”
“Werklik seun, nie eers klere of speelgoed nie?”
“Niks nie Mamma, regtig niks nie.”
Deur die aandete en laaste koffie, bly Cordier se antwoord by haar, sy weet sy moet vir Gerhard vra om dinge te bring wat vir Cordier dierbaar was, daar moet iets wees.
Sy bel Gerhard laataand en praat oor Cordier en die viool. Hy is in sy skik wanneer sy vra of hy die viool die naweek sal deurbring plaas toe, en hy stem in.
“So hoe vind jy toe uit van die mannetjie se talent?”
“Hy het my vandag gedurende die uitvoering in die teater gesê. Hy sê julle sê hy is baie goed.”
“Zuluika, die outjie is alles wat jy is, hy is so geniaal soos jy, hy wil soos jy wees.”
“Wat weet hy van my Gerhard?”
“Elke detail wat jou pa van jou geweet het, jou talent, jou prestasies, jou liefde vir die musiek, en daarom wou Cordier elke dag ure lank viool oefen.”
Zuluika voel die hartseer, dink hoe sy net altyd perfek wou wees, en die hartseer wat dit gebring het vir haar. Sy weet, dit is nie die pad wat Cordier gaan stap nie, daarvoor sal sy moet sorg.
Sy dink aan die klein seuntjie, sy weet, hy het haar gedagtes die afgelope weke oorgeneem, en sy koms in haar lewe het soveel liefde gebring.
“Al wat jou pa elke dag probeer doen het, was om seker te maak Cordier is gelukkig, en iemand wat jy lief sou hê, ʼn klein replika van jou.”
Zuluika hoor die woorde, weet die Ziegfried Cordier wat haar kleintyd ʼn hel gemaak het, is definitief lankal dood, en sy dank God vir die weergawe van die mens saam met wie Cordier opgegroei het. Sy weet die woorde wat sy lank gelede in die hof vir haar pa gesê het, het tog waar geword – ‘Pappie kan ʼn baie goeie pappie vir iemand anders wees’, want alles wat sy in hierdie seuntjie sien is daardie bewys.
“Sal jy kyk of daar iets van Cordier se moeder is wat hy kan kry, ʼn foto, enige iets wat dierbaar vir haar was. Eendag sal dit wel aan hom saak maak, soos my moeder in my later jare aan my saak gemaak het,” en hy beloof.
Sy gaan lê laataand langs Cordier, maak haar oë toe, en die beeld van die twee mans wat sy so lief het, is in haar, en sy verlang ontsettend na albei.

Die familie en Gerhard wag hulle in wanneer hulle op die plaas stilhou, en Cordier hardloop en spring in Gerhard se arms in, en met sy armpies om sy nek soen hy hom telkemale wanneer Gerhard bevestig hy het die viool gebring.
Hy waai ʼn vinnige groet in die ander volwassenes se rigting, en met ʼn ‘hallo almal’, hardloop hy reguit na Christopher en Kyle wat in sy rigting aangehardloop kom.
Zuluika weet, talent of nie, hy is eerstens ʼn klein seuntjie, met die behoeftes van ʼn klein seuntjie, en sy weet, sy moet dit altyd onthou en eerste stel.
Gerhard vra haar later om saam te stap na die eetkamer. Hy lig die viooltas van die tafel en gee dit vir haar, “Cordier se viool.”
Zuluika maak die tas oop, sien dit is ʼn ‘Knilling Silver Medallion’, ʼn kwaliteit viool vir ʼn student, en sy weet, haar pa was baie ernstig oor Cordier se vioolspel.
Hy beduie na die kartondose op die vloer, “Klein dingetjies wat hy waarde aan geheg het, en ʼn paar dingetjies van sy moeder wat ek gedink het hy moet hê. Wanneer jy tyd het, kyk daarna, jy sal weet wanneer hy reg is om dit te kry, en te waardeer.”
Hy maak die tas oop wat langs die kartondose staan, en haal ʼn A4 grootte bruin koevert uit, en gee dit vir haar, “Die inhoud is vir jou, om oop te maak wanneer jy alleen is.”
Zuluika neem die koevert en kyk vraend na hom, “Wat is dit?”
“Jy sal sien wanneer jy dit oopmaak, dit behoort aan jou.”
Sy kyk hom in die oë, weet dit het iets met haar moeder te doen, en al wat sy kan sê is, “Dankie.”
Hulle laat die viooltas op die eetkamertafel, en hy help haar die kartondose na haar kamer neem. Sy sit die koevert op die bedkassie neer, sy weet sy sal dit vanaand wanneer sy alleen is oopmaak.
Zuluika weet die koevert bevat iets van haar moeder, en vir die eerste keer is sy verlig wanneer almal uiteindelik nagsê en kamer toe gaan.
Christopher vra of Cordier by hom en Kyle in hulle kamer kan slaap. Zuluika voel die twyfel in haar, nie seker of Cordier dit sal kan doen nie, maar hy druk haar hand en sê ewe ernstig, “As Mamma nie te bang gaan wees nie, sal ek graag by hulle wil slaap.”
Sy knik instemmend, “Goed as jy reg is, maar jy kan enige tyd na my toe kom hoor.”
Hulle juig hulle vreugde uit en al drie drafstap saam om Cordier se nagklere te gaan haal.
Met die nagklere stewig onder sy armpie vasgedruk, gee hy haar ʼn soentjie en hardloop hulle na waar Laurie en Matthew vir hulle in die gang wag.
Sy stap kamer toe, skeur die koevert versigtig oop, haal die inhoud uit en sit dit op die lessenaar neer.
Sy skuif die drie bladsye langs mekaar op die lessenaar, en sy voel hoe sy haar asem ophou terwyl sy daarna kyk.
Sy lees die eerste dokument, dit is in Duits, maar haar Duits is perfek, en sy verstaan elke woord. Dit is die huweliksertifikaat van ‘Ziegfried Zander Cordier en Marcelle Novel, 5 Mei 1979, uitgereik in Munich’.
Die tweede dokument is ook in Duits, die geboortesertifikaat van ‘Danielle Marcelle Cordier, 8 Maart 1980, met Ziegfried Zander Cordier en Marcelle Novel aangegee as vader en moeder, uitgereik in Munich’, sy weet dit is haar oorspronklike geboortesertifikaat.
Die derde dokument is nog ʼn geboortesertifikaat, uitgereik in Afrikaans in Pretoria, ‘Cordelia Cordier, 18 April 1980, met ‘Ziegfried Zander Cordier en Gretchen Rabe aangegee as vader en moeder’.
Zuluika maak haar oë toe, voel die oorbluftheid in haar, skielik is alles opgeklaar, sy is in Duitsland gebore, en sy weet nou waarom vader James geen rekord in Namibië kon opspoor nie, haar moeder was nooit op die Afrika kontinent nie.
Die registrasie in Suid Afrika en die naam Gretchen Rabe, bevestig haar pa se daad, en die verwyt teen ʼn onbekende moeder omdat sy haar by iemand gelaat het wat haar deur soveel pyn gesit het, is ook weg, sy is van haar ma gesteel, en dit vat alle verwyt weg.

Sy laat die dokumente op die lessenaar en gaan lê op die bed, eindelik weet sy wie sy werklik is, ‘Danielle Marcelle’, en vir nou wil sy dit net eers verwerk, môre dink aan wat die dokumente vir haar sal beteken.
Met die instap in die kombuis in die oggend, is Gerhard en Laurie reeds daar. Hy vra haar direk, “Het jy die koevert oopgemaak?” en sy knik haar kop.
Laurie kyk vinnig na haar en die vrae is in haar oë, “Dit is my oorspronklike geboortesertifikaat, my ouers se huweliksertifikaat, asook ʼn Suid Afrikaanse geboorte-sertifikaat waar my pa my geboorte ʼn maand na my geboorte in Duitsland, hier in Suid Afrika geregistreer het, met ʼn onbekende vrou as my moeder.”
Laurie is openlik geskok, “Waar is jy gebore?”
“In Munich, Duitsland, en Marcelle Novel is as my moeder daarop aangedui. My oorspronklike name was ‘Danielle Marcelle’.”
Dit is Gerhard wat die stilte verbreek, “Die rede waarom ek die dokumente vir jou gebring het, is om jou nie net die bewyse te gee indien jy jou moeder gaan opsoek nie, maar sodat jy die naam wat jou moeder jou gegee het, sal ken.”
“Kan ek die familie sê?” Zuluika knik haar kop, dit is reg met haar, sy weet nou wie sy regtig is, en vir haar is dit werklik vir nou genoeg, en sy sal bly wees as haar mense dit weet.
Aan die ontbyttafel deel Laurie die inligting met die familie, hulle is oorstelp, maar dankbaar vir Zuluika se onthalwe, eindelik is die waarheid bekend vir hierdie pragmens.
Gerhard vra of hy vir die week kan oorbly, en Zuluika en Laurie is dankbaar vir sy meelewing wanneer hulle hom en Selma Townsend later rustig langs oom Louis se graf onder die bloekombome sien sit, hulle weet, die gesprekke is die salf wat albei nodig het oor die wonderlike man wat weg is.
Zuluika en Cordier haal hul viole elke aand uit om te oefen, en almal is oorstelp oor die genialiteit van Zuluika en die seuntjie. Hulle twee kies vier liedere wat hy ken om te oefen, en sy is verwonderd, nie net oor sy talent nie, maar ook oor die keuse van die vier liedere, liedere wat meer senior musikante soms sukkel om te bemeester.
Die gesin vra wat hulle twee gaan speel, maar sy lag, “Vir ons om te weet en vir julle om te identifiseer wanneer ons dit oefen.”
Hulle vra Cordier, en hy maak weer die gebaar van sy mondjie sluit en die sleutel weggooi, en hulle skater van die lag.
Die musiek saans, dwing almal stil, luister hulle na die wondersoete klanke, en hulle weet, daar was meer as net ‘onmaats oë’ in daardie groot man se familie lyn.
Zuluika bespreek vliegtuigkaartjies vir die volgende Dinsdag na Namibië, en haar skoonouers is oorstelp van vreugde en afwagting, “Ons sal op die lughawe wees nooi.”
Sy weet sy wil Cordier as ʼn verrassing vir hulle hou, maar sê tog in voorbereiding, “Ek bring iemand saam as ʼn verrassing vir julle, net sodat julle voorbereid is,” en hulle aanvaar dit, maar wonder en bespiegel oor die persoon.
Voor slaap, wanneer hulle op die bed lê, vra sy, “Het jy al in ʼn vliegtuig gevlieg seun?”
Hy kyk vinnig na haar, “Nee Mamma, maar ek wil baie graag.”
“Ek is bly want ek en jy gaan nog baie, en ver vlieg. Ons eerste vlug gaan in so twee weke Namibië toe wees, is jy reg daarvoor?”
Hy gaan sit regop en sy gesiggie wys sy opgewondenheid, “Ja Mamma, ek is reg,” en hy sit sy armpies om haar nek en gee haar ʼn soentjie.
Zuluika voel die verligting in haar, maar ook die onrus, sy weet sy moet hom sê van hulle verblyf in Amerika, en sy weet nie hoe hy daaroor sal voel nie.
Sy worstel met ʼn ander kommer, sy wil haar pa nie weer sien nie, maar sy weet, sy moet Cordier ʼn geleentheid gee om hom te gaan groet indien hy wil.
Sy sluit haar oë en bid vir wysheid, en met Mauritz in haar gedagtes raak sy aan die slaap.

Mauritz bel Joos elke dag, en elke dag dieselfde verlange en vrae, “Hoe gaan dit met haar? Is sy veilig? Wanneer kom sy terug?”
Joos gee hom die antwoorde en die versekering, “Indien daar een iets is wat Zuluika met haar hele hart wil doen, is dit teruggaan na jou, en jou wêreld.”
“Hoe kan jy seker wees?”
“Die verlange en die vreugde is duidelik op haar gesig te sien wanneer ek haar jou boodskappe gee. Wees net nog ʼn rukkie geduldig, sy is besig om al die los drade vir almal hier op te tel en vas te maak, en ons het dit nodig.”
Mauritz vra oor Cordier, is alles reg met die seuntjie, en Joos voel die respek in hom groei. “Ja hy is, blyk die mannetjie is ʼn musiek genie, ons wag nog vir die eerste viooluitvoering van hom wat hy Saterdagmiddag saam met Zuluika by die braaivleis wat Nathan gereël het, gaan gee, ek sal jou laat weet.”
Hy vra wie Nathan is, wie is Laurie, en Joos maak die deur vir hom oop, hy heg die mense uit Zuluika hede aan haar, en Mauritz luister en hy kan nie genoeg hoor van die mens wat hy so lief het nie.
“Eendag wanneer alles met my en Zuluika reg is, kom ons plaas toe sodat ek elke mens aan my hart kan druk en bedank vir hulle liefde vir Zuluika.”
Joos voel die blydskap, vir die tweede keer het God haar ʼn wonderlike mens gegee, en hy gun haar die liefde van hierdie man.
Mauritz se stem is pleitend, “Joos sal jy ʼn opname maak van die twee se uitvoering en vir my stuur asseblief, ek het haar en hom hier teen my hart nodig, sodat ek staande kan bly elke dag.”
“Ek beloof, ek sal.”

Die Saterdag se braaivleis is ʼn wonderlike dag. Die klanke van Mozart en Mendelssohn se Viool Konserte sweef oor die grasvelde, op teen die Drakensberg se hange, en hulle bêre elke noot in hul harte vir die ver weg dae se verlang.
Die bonus wanneer die twee, ‘Stairway to Heaven’ en ‘Morning has broken’, met geslote oë, in absolute oorgawe speel, laat almal weer besef, hoe verskriklik geniaal die twee mense is. Joos luister na hulle en sy hart breek by die wete dat die groot man uit haar verlede, dit nie in hierdie pragmens kon sien nie, maar hy weet, hy weet dit nou.
Hy neem ʼn video op sy foon van die begin van die opvoering tot aan die einde van die laaste noot. Hy lê hulle twee vas wanneer hulle die viole bêre en laggend in sy rigting stap. Sy sien hom en sy maak groot oë, en dit lê hy vir Mauritz vas.
Hy stuur die twee video’s na die nommer met die 548 area kode, hy weet, alhoewel dit nog vroeg in Corvallis sal wees, Mauritz reeds op sal wees, en sal wag.
Die twee regmerkies in blou naas die boodskap kom onmiddellik, en die twee klappende handjies wat volg, bevestig Mauritz het gewag vir die boodskap.

In Corvallis gee Mauritz ʼn kreet van blydskap wanneer die twee pragmense op sy foonskerm verskyn, hy weet, sonder haar is hy niks nie. Hy kyk na die twee mense in die opname, onthou die sagtheid van haar vel toe hy haar daardie laaste dag in haar slaap gesoen het, en hy weet, dit is die mooiste mense wat hy ooit gesien het.

Laurie, Matthew, Nathan en die twee seuns neem hulle deur na Oliver Tambo Lughawe aangesien Nathan vir ʼn opvolg besoek by dokter Carl Rutovich moet wees. Hulle het besluit om onmiddellik na die besoek terug plaas toe te vertrek sodat hulle sewentien Augustus terug sal wees in Pretoria, saam met die hele familie, om Zuluika se uitvoering by te woon.
Zuluika en Laurie glimlag wanneer Christopher, Cordier se nuwe tassie wat hulle hom as geskenk gegee het, uit die viertrek haal en Cordier ewe behendig die handvatsel uittrek, “Klaar ʼn wêreld reisiger hierdie knapie,” lag Laurie, en die waar van die woorde val beide op, Laurie se stem dra haar hartseer, “O Zuluika, ek gaan julle so verskriklik mis wanneer julle weggaan.”
“Ons sal kom kuier,” en daar is geen twyfel meer nie, sy en Cordier sal gereeld terugkom, hulle het mense hier waarvoor hulle lief is.
Die deurgaan deur die doeane, bring ʼn effense vrees in Zuluika, nie meer vir haarself nie, net vir hierdie eerste doeane ondersoek van Cordier se dokumente?
Die beampte gaan deur die ritueel van inligting en gesigte vergelyk, die ongeloof oor die onpaar oë, die oopvou van Cordier se dokumente, die stempel van die paspoorte met ʼn glimlag, en Zuluika voel gerus, daar sal nêrens in die wêreld ʼn probleem vir hulle twee wees nie.
Die dophou van die klein gesiggie, van die oomblik wat hulle die vliegtuig instap, deur die opstyg, die kyk deur die venster, die tientalle kere wat hy haar dwing om deur die venster te kyk, alles onvergeetlike ervarings wat sy nooit geglo het sy sal beleef nie, haar seun in al sy wonderlike kinderlike opgewondenheid op sy eerste vlug saam met haar, en sy weet, sy is so geseënd.
Cordier se oomblik van vrees wanneer sy tassie amper verby hulle op die band beweeg, die trots wanneer hy dit raakvat en afhaal van die band, en die soek van haar goedkeuring wanneer hy opkyk na haar, en sy weet hoe ʼn moeder voel oor haar kind, en sy wens haar wens oor haar eie moeder se aanvaarding en trots.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed