Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 21
Hoofstuk 21 – Die laaste totsiens
Die uitdrukking op moeder Sally, vader James en Jonah se gesigte wanneer hulle deur die deure stap, is iets wat sy vir ewig gaan onthou, die verbasing, die vreugde, die liefde.
Sy wys in hulle rigting, “Daar is ons familie Cordier,” hy kyk van hulle terug na haar, glimlag, trek sy tassie nader, en stap vasberade in hulle rigting.
Hulle maak hulle arms oop, en wanneer sy daarin stap, tel Jonah Cordier met tassie en al op, druk hom teen hom vas, en sê met vreugde in sy stem, “Wow, maar jy is ʼn yslike groot man.”
Cordier sit sy armpie om Jonah se nek en klou verbete aan sy tassie vas, vader James neem die tassie, en sê gerusstellend, “Gee vir Oupa, ek sal dit vir jou veilig hou.”
Sy steek haar hand uit en neem Cordier se handjie in hare, “Ma Sally, vader James en Jonah, hierdie is Cordier Cordier, my seun.”
Hulle is oorstelp, moeder Sally vat aan sy wang en sê, “Jy is pragtig Cordier.”
Hy vat aan die plek waar haar hand geraak het, trek sy oë, en lag skaam.
Jonah kyk oor Cordier se kop na haar, maak ʼn gebaar na sy oë, sy weet, die onmaats oë en die swart hare maak die seuntjie vas aan haar, en aan hulle.
“Ons bly vanaand oor in Windhoek, en vlieg môre oggend na Grootfontein. Ons wil nie ons tyd met jou op die pad mors nie, ons wil dit op die plaas geniet om met julle te kuier.” is vader James se verduideliking wanneer hulle in die rigting van die besprekingstoonbanke begin stap.
Zuluika bly by Jonah wat steeds met Cordier op sy arm staan, terwyl Sally en James by die toonbank besig is. Wanneer Cordier praat voel Zuluika die verwondering in haar, en wanneer sy na Jonah kyk is dit net bewondering.
“Mamma hierdie mense het vliegtuie wat na ander lande toe vlieg.”
“Hoe weet jy dit seun?”
“Die bordjie bo die tannie se kop sê so.”
“Wat sê die bordjie seun?”
“In perfekte Engels gevolg deur die Duits, “Weekly non-stop flights to Frankfurt, Munich and London-Gatwick, en Wöchentliche Nonstop-Flüge nach Frankfurt, München und London-Gatwick.”
Sy voel die trots, “Waar het jy Engels en Duits geleer seun?”
“Elke dag by Pappa. Pappa het gesê ek moet ander tale as net Afrikaans kan praat as ek eendag saam met Mamma wil gaan.”
Sy sien die verbasing op Jonah se gesig, sy weet, hulle gedagtes is dieselfde, ‘ongelooflik briljant’.
Jonah skud sy kop en druk Cordier teen hom vas, “Jy is ʼn absolute briljante seuntjie Cordier.”
Dit kom dadelik, “Ek weet, Pappa het ook so gesê.”
Hulle bars uit van die lag, en Cordier lag skaam saam.
Jonah lig Sally en James in oor Cordier se taalvaardigheid, en vader James skud sy kop, “Een ding is seker Zuluika, hy gaan nêrens in die wêreld sukkel om aan te pas nie.”
Zuluika kyk na Cordier en besef die ontsettende voorsprong wat haar pa hierdie seuntjie gegee het, en sy sien weer die vrae in hulle oë, sy skud haar kop, en hulle weet, sy sal later verduidelik.
Hulle gaan deur die roetine om die huurmotor te kry, en Cordier stap ewe gemaklik met sy hand in vader James se hand. Zuluika besef weer, hy mis sy pa, en sy weet hy het iets beleef wat sy nooit die voorreg gehad het nie, om met haar hand in haar pa se hand te loop, en sy is bly vir hom, en in ʼn mate jammer vir haarself.
Zuluika is aangedaan wanneer sy besef hulle het ʼn familie eenheid bespreek, met vier kamers. Sy weet dit is wat sy verkies, en waar sy in die komende week elke oomblik wil wees, naby haar familie.
Hulle kuier saam, en eet hulle aandete in die suite, sy is werklik dankbaar om die tyd net hier by hulle om te kuier, en sy besef weer hoe wonderlike aanvoeling haar mense vir haar omstandighede en gemoedstemming het.
Na ete raak Cordier met sy koppie op haar skoot aan die slaap, sodra Jonah hom optel om hom kamer toe te dra, gryp hy Zuluika vas, “Mamma moet my in die bed sit en my gebedjie help opsê, want ek is baie moeg.”
Die uitdrukking op die ander drie se gesigte vat aan Zuluika, sy weet hulle gun haar elke oomblik se geluk, en sy tel hom op en dra hom kamer toe.
Met die instap in die vertrek, is die tyd reg om nie net oor Cordier te praat nie, maar oor haar pa, haar ma, en die verdoemende feite oor die moorde.
Die waarheid rondom die ander moorde en die ringvingers laat Sally, James en Jonah in totaal ineenstort, en terwyl Zuluika oor die weke geglo het sy het reeds al die trane wat sy kon stort, gestort, loop haar trane spontaan uit haar siel.
Die bevestiging oor Rudolph se vinger wat hier by hulle is, sodat hulle dit by hom kan wegbêre, bring tog berusting.
Cordier se bestaan, wie hy is, en hoe perfek hy in haar en Rudolph se gesin sou inpas, tel die vier mense op, gee hulle die vreugde wat hulle aan ʼn eie kleinkind sou gehad het, en Zuluika weet, dit wat sy geglo het haar pa weg-geneem het uit haar jeug, het hy deur Cordier teruggegee.
Met die lê langs die rustige seuntjie, weet sy, in hierdie week sal sy afskeid kan neem van Rudolph, dit het sy reeds geweet na daardie ure toe sy in die vergetelheid gehuiwer het, toe hy haar toestemming gegee het om aan te gaan met haar lewe. Sy beleef hier in die warm Namibië nag sy liefde, sy ongelooflike teerheid, sy weet, dit is wat sy verder altyd sal onthou, net hulle liefde, sy liefde, sy teenwoordigheid in haar gedagtes, en sy raak aan die slaap.
Die vlug op na Grootfontein, is ʼn nuwe ondervinding, met Cordier vasgenael met sy voorkop teen die venster, die voortdurend smeek van die klein mannetjie vir hulle om ook te kyk na die diere en die landskap, en sy onthou Rudolph se groot liefde vir hierdie landskap en diere, die mooi wat Cordier lewendig gaan hou.
“Goed die vlug is minder as ʼn uur, anders sal die mannetjie se nekkie redelik seer wees vanaand, en ons een teen tien gedaan gekyk na die diere,” lag vader James.
Die rit plaas toe met die oop viertrek deur die wye oop vlaktes, is vir Zuluika ʼn onthou ervaring, en Cordier se lag op Jonah se skoot, bring weer haar begeerte na iemand wat haar lief sal hê, die wens vir iemand wat die pa van haar kinders sal wees.
Die keuse van die kamer is reeds gemaak, hulle weet sy sal altyd in haar en Rudolph se kamer slaap wanneer sy hier is, en die deel van hierdie ruimte met hierdie klein seuntjie, voel so reg.
Zuluika weet, die besoek is anders as die een maande gelede, toe wou sy net treur, net vashou aan haar skuldgevoel, maar nou, met hierdie besoek is daar rus in haar. Sy is hier om naby die pragmens te wees, vir eers net totsiens sê, vir hom vertel van die persoon wat sy liefgekry het, en om sy goedkeuring en seën te vra vir haar geluk.
Hulle stap na ontbyt op na die begraafplaas en Jonah vra haar hoe sy die bêre van die vinger wil doen sodat hulle reëlings kan tref, hulle besluit saam om slegs die blad van die graf te verwyder en sy vinger in die sagte sand daaronder te begrawe, en James en Sally bevestig, dit is ook wat hulle wil hê.
Sy besin oor Cordier se teenwoordigheid by die graf, sy weet, dit is iets wat sy nie wil hê hy moet meemaak nie. Hulle besluit om die volgende oggend wanneer dit nog donker is, voor die seun wakker word, ʼn gebed by die graf te doen en die vinger aan die aarde toe te vertrou.
Met die oopmaak van die pakkie daar vroegoggend by die graf, is die vinger in die versterkwater, maar ook sy trouring in die sagte sakkie, en die sluise gaan oop, en die hartseer rol stadig oor vier bedroefde gesigte, maar hulle weet, nou is hul geliefde volledig teruggegee aan hulle, en aan die aarde.
Zuluika haal die kettingkie van haar hals af, laat dit deur Rudolph se ring glip, en Jonah help haar om die knippie weer vas te maak. Sy voel die ring teen haar hart, en sy is tevrede.
Sy vra weer vergifnis omdat haar verbintenis met hom sy dood veroorsaak het, maar hulle is eerlik in hul antwoord, “Ons kind was net by jou gelukkig, dit het ons toe geweet, en dit weet ons vandag. Gaan jy en kry jy weer lief en probeer gelukkig wees,” wens hulle haar toe wanneer hulle wegdraai van die verlede se seer.
Die dae wat volg is lekker dae, sonskyn dae, gevul met ou en nuwe herinneringe. Sy vertel hulle die besonderhede van die geboortesertifikate, haar pa se huweliksertifikaat met haar moeder. Sy noem haar name op die eerste geboortesertifikaat, en ook haar moeder se naam, en hulle is oorstelp.
Vader James bevestig wat sy reeds weet, “Jou ma en ook jy was nooit hier in Namibië nie nooi, dit is hoekom ons niks kon opspoor nie,” en sy is verlig, nou hou hierdie lieflike land net oom Louis, Rudolph en hierdie mense se liefde se herinneringe, nie die seer verbonde aan haar kindwees nie.
Hulle wil weet wanneer sy haar moeder sal gaan sien, en hulle sien die twyfel, ‘Wat as sy my nie wou hê nie, nie nou wil hê nie’.
Hulle neem die vrees weg, “Zuluika weet net, jou moeder sou jou nooit laat gaan het nie. Die vergifnis wat jou pa gevra het jy van haar vir hom moet kry, sê hy het jou sonder haar goedkeuring en haar wete geneem. Ons glo sy sal weet, die grootste skat wat sy ooit kan hê, staan voor haar wanneer sy jou die eerste keer sien,” en sy bid daarvoor.
Sy sê hulle van die konsertuitvoering op een en twintig Augustus, vra of hulle saam met haar terug sal gaan om dit by te woon, en hulle is in ekstase oor die vooruitsig. Sy meld ook die moontlikheid van haar en Cordier wat saam ʼn lied daardie dag sal speel, en hulle is verstom om te hoor hoe geniaal die mannetjie werklik is.
Hulle bevestig dadelik, hulle mis die uitvoering vir niks in die wêreld nie, en Zuluika laat weet Laurie om die bespreking by die gastehuis te maak vir almal, en om Lize ook te vra om die hoeveelheid kaartjies wat hul sal benodig na Rik deur te gee.
Cordier word die middelpunt van almal se dag, hy betower hulle met sy pragtige geaardheid en opgewondenheid oor alles op die plaas. Dit is vader James wat een middag terwyl hulle Cordier en Jonah dophou waar Cordier voor hom op die perd sit, ernstig sê, “Die gedagte daardie eerste dag, dat Cordier jou en Rudolph se seuntjie kon gewees het, is elke dag sterker by my, hy besit so baie van jou en Rudolph se kwaliteite, hy pas so perfek in ons almal se lewens in.”
Sy kyk hom lank aan, “Ek het dieselfde gevoel soveel keer oor die afgelope maande ervaar vader James, en dit maak my verwyt teenoor my pa soveel minder.” Hy druk haar hand een oomblik teen sy lippe, “Julle moet gelukkig wees Zuluika, julle moet die gesin wees wat julle drie saam sou wees, beloof my dit,” sy knik haar kop, “Ons sal vader James, ek beloof.”
Die afskeid die laaste oggend voor sonop by Rudolph se graf, is meer pynlik en hartseer vir Zuluika as wat sy geglo het dit sal wees. Sy staan op haar knieë by sy foto en sy sê totsiens, sy vra sy seën vir haar en Mauritz, indien hulle lewens wel saam sal loop, en sy voel sy liefde met haar wanneer sy wegstap.
Die vlugte vanaf Grootfontein na Windhoek en van Windhoek na Oliver Tambo is sorgvry en vol lag, Zuluika weet, dit is wat sy wil onthou, dit is wat sy weer en weer wil beleef wanneer sy en Cordier reis.
Hulle word ingewag deur die hele familie wat besluit het om op pad na Pretoria almal by Oliver Tambo te stop. Laurie bevestig, almal is saam in die gastehuis, en Zuluika voel ’n afwagting en vreugde om al haar mense in die laaste twee weke by haar te hê.
Moeder Sally vra of daar plek op die plaas sal wees vir hulle totdat Zuluika en Cordier vertrek, en Nathan klap hande, en sê onmiddellik, “Daar is oorgenoeg plek op die plase vir almal.”
Cordier maak ewe soos ʼn groot mens seker dat Laurie die twee viooltasse onthou het, en met ʼn, “Definitief, dit is waarom ons hier is,” en die deurmekaar krap van sy kuif, bevestig sy.
Lize kom eet by hulle by die gastehuis, en vra met ʼn pleitende uitdrukking, “Rik het gebel, en vir ʼn lied of twee aan die einde van die uitvoering deur jou en Cordier gesmeek.”
Zuluika weet, hierdie wens het ook haar wens geword oor die afgelope twee weke, sy sal dit baie graag wil doen. Sy stap uit op die grasperk en roep Cordier.
Wanneer die drie seuns by hulle kom, vra sy, “Wil jy saam met Mamma viool speel op die verhoog daar in die teater waar ons was?”
Hy klap sy handjies en gil dit uit, “Ja, ja, ek wil saam met Mamma daar speel.”
“Is jy nie bang nie?” Hy kyk haar met ʼn effense frons aan, “Hoekom sal ek bang wees, Mamma is mos daar?” en sy vertroue in haar raak almal diep.
“Goed Lize, bel Rik en sê hom twee liedere aan die einde van die opvoering saam met die orkes. Vra ook of die orkes sal voorberei vir Mozart en Mendelssohn se Viool Konserte,” en sy gee haar die besonderhede.
Die begin aantrek om teater toe te vertrek, bring ʼn openlike opgewondenheid in almal, en Zuluika voel die gevoel wat altyd in haar was voor ʼn opvoering, sy weet, sy het haar vrees vir optree voor mense in totaal oorkom, en sy bedank weer ‘die vyf’ en hulle ‘konsert’.
Sy maak haar oë een oomblik toe, en dit is Mauritz en Rudolph wat sy in haar ‘herinnering’ sien, en sy weet, die musiek smee hulle saam.
Rik wag hulle in wanneer hulle die teater instap. Hy is openlik in sy skik, nie net omdat sy en Cordier elk met ʼn viooltas instap nie, maar om die hele familie te sien, veral Rudolph se mense.
Hulle stap na die wag area, om Rudolph se foto vir almal te wys, en die drie mense wat net soveel soos sy verloor het, stort hulle trane oor hom wat weg is, soos sy daardie eerste dag.
Rik stap saam met hulle die teater binne, en wys hulle waar hulle sitplekke in die heel agterste twee rye van die teater is, “Sodat jy en Cordier op die punt van die ry kan sit en maklik kan uitglip om verhoog toe te kom.”
Hy vra haar en Cordier om saam na die verhoog te stap om hulle ʼn geleentheid te gee om hulle instrumente te stem, en die lede te ontmoet, en Cordier trek sy lyfie regop, klem sy viooltas onder sy armpie vas, en met sy hand in hare stap hy soos ʼn klein groot mensie saam.
Die orkeslede is reeds op die verhoog, en Zuluika is oorstelp wanneer sy verskeie van die lede herken, mense wat saam met haar en Rudolph meer as tien jaar gelede in die orkes opgetree het. Hulle knik hul groet na haar, lig die strykstokke in haar rigting, en dit lig haar gemoed.
Hulle twee staan agter die gordyne terwyl hulle saam met die orkeslede hul viole stem.
Sy sien die erns op Cordier se gesiggie, sy glimlag wanneer twee van die violiste hulle strykstokke na hom uitsteek in ʼn saluut, en hy ewe kordaat die saluut erken met die lig van sy strykstok.
Hulle laat hulle viole in die lokaal agter die verhoog, en stap terug na hulle sitplekke, skielik is die bevestiging daar, sy en haar seun gaan nog vele kere so saam in ʼn teater optree.
Die aankondiging dat die dag se uitvoering aan Rudolph gewy word, word met hartseer en dankbaarheid deur die gehoor erken. Zuluika besef, deur hierdie uitvoering bring hulle nie net hulde aan hom wat sy so liefgehad het nie, maar kry sy ʼn geleentheid om in sy herinnering weer by hom te wees in die plek waar hulle ontmoet het en soveel wonderlike ure saam deurgebring het.
Sy druk Laurie se hand een oomblik wanneer sy opstaan om weg te glip, Laurie stuur ʼn soentjie in haar rigting en Zuluika weet, sy het dit nodig.
Sy staan in afwagting agter die gordyn wanneer Rik die aankondiging doen van haar optrede, die applous lig haar gemoed, sy stap uit van agter die gordyn, en sy is oorstelp wanneer sy die aanhoudende applous hoor.
Sy besef daar is geweldig baie mense in die gehoor wat langer as tien jaar ondersteuners van die puik orkes is, mense wat haar en Rudolph onthou, en sy weet die berigte van ʼn paar weke gelede in die media, het ook baie met die herinneringe aan Rudolph te doen.
Cordier se stemmetjie kom helder deur die saal, “Daar is my mamma,” en by die hoor daarvan, is vader James se wens dat hulle twee Rudolph se gesin sal wees ʼn werklikheid, en die gehoor draai om, kyk na die hand-swaaiende seuntjie, en die applous is oorverdowend.
Die lig van die viool, en die neersit van die strykstok, bring ʼn doodse stilte oor die gehoor. Sy sien Rik vir haar knik, sy hand lig, en sy voel ʼn absolute oorgawe, sluit haar oë een oomblik, en die eerste note van Clara Schumann se ‘Three Romances for Violin and Piano’ vul die saal, en sy voel die liefde van die twee mans rondom haar.
Die finale klanke bring ʼn staande ovasie, en sy aanvaar dit met die lig van haar strykstok en ʼn buiging.
Sy wag vir die orkeslede om op te staan, en hulle gelukwensinge tel haar op, neem haar terug na daardie lank gelede samesyn, sy weet, sy is gelukkig in die wêreld van musiek, was altyd gelukkig gewees.
Haar familie wag in die voorportaal wanneer sy instap, “Dit was pragtig Zuluika,” kom dit van almal en sy baai in hulle liefde en trots. Cordier hardloop en spring spontaan in haar arms, “Mamma jy het mooier as ek gespeel,” en sy druk hom teen haar vas, sien Rudolph in haar gedagtes by hulle.
Na pouse neem Mozart se ‘Viool Konsert No 3’ Zuluika terug na ʼn opvoering saam met die orkes, toe Rudolph gestaan het waar Rik nou staan, en sy mis hom met ʼn pynlike hartseer.
Sy verlaat die verhoog en gaan haal Cordier. Hy is opgewek-opgewonde en beloof haar plegtig, “Mamma ek gaan soet wees, en ek gaan baie mooi speel,” en sy verseker hom, “Ek weet seun.”
Rik se aankondiging van haar en Cordier se speel van Mozart en Mendelssohn se Viool Konserte as ʼn encore vir die gehoor, bring ʼn spontane applous, en Cordier se gesiggie wys sy absolute vreugde.
Sy laat Cordier die eerste strofe alleen speel, en die gehoor is stomgeslaan oor die suiwerheid van sy spel. Zuluika kyk na hom, weet hierdie is ʼn ‘flits’ in die toekoms in, haar seun gaan ʼn groot musikant word, dit weet sy verseker.
Die gehoor se applous is luid en aanhoudend, en hulle pleit vir nog ʼn lied, en Cordier pleit saam, “Toe Mamma,” en met ʼn knik van haar kop, vul ‘Stairway to Heaven’ en ‘Morning has broken’ se note die saal, en die gehoor word stil.
Met die instap in die onvangsarea saam met die ander orkeslede, is die area vol mense wat vir hulle wag. Dit neem hulle ʼn geruime tyd om met almal te gesels, en vrae te antwoord. Cordier is ʼn absolute treffer, en Christopher en Kyle staan ewe in hulle skik by hom as sy ondersteuningsspan, en hy hou hulle hande vas, hou hulle naby hom, en sy sien haarself kleintyd met Laurie se hand in hare, en sy het begrip vir die krag wat daardie handjies uitstraal.
Zuluika weet, Cordier het in die weke wat verby is, gegroei in sy selfvertroue, maar ook in sy meeleef met ander kinders, en dit bring sekerheid dat hy sal aanpas waarheen hulle ook al gaan.
Rik stap saam na die motors en gee Zuluika ʼn CD, “Opname van die optrede vir julle vir die onthou.”
“Dankie hiervoor, ons het dit nodig Rik, en dankie vir die geleentheid, dit het my sluiting en vertroue gegee.”
“Dit het vir ons almal sluiting gebring, dankie daarvoor. Ek weet jou loopbaan is medies, maar moenie jou talent heeltemal verwaardeloos nie, en Zuluika, die seun wat jy gekry het, is werklik geniaal, help hom om dit te bereik wat sy talent regverdig,” en sy beloof.
Met die optrede agter hulle, weet almal die weggaan van die twee mense is naby, en hulle weet hulle wil die laaste paar dae elke oomblik by haar wees.
Die weggaan uit Suid Afrika, en die impak daarvan op Cordier, lê swaar op Zuluika se gemoed, meer as wat die verwydering wat die weggaan vir haal sal bring, druk die groet van haar pa haar vas. Sy weet, sy sal verkies om hom nie nou weer te gaan sien nie, maar Cordier is sy kind, hy het sy pappa lief, en dit is wat haar besluit moet stuur, nie haar persoonlike gevoelens nie.
Voor hulle gaan slaap, vra sy hom, “Seun sal jy baie hartseer wees as ons vir ʼn lang tyd in ʼn ander land gaan woon, daar waar Mamma ʼn dokter is?”
Hy draai na haar, leun met sy kennetjie in sy handjies, “Nee Mamma, ek sal nie hartseer wees nie, solank ek by jou is, sal dit reg wees.”
Hy kyk haar ernstig aan, “Waar werk Mamma?”
“In Amerika seun.”
Hy glimlag, “Dit is reg Mamma, ons kan daar gaan bly.”
Sy weet sy moet ook die groet van sy pappa bespreek, “Wil jy jou pappa gaan tatta sê voor ons Amerika toe gaan?”
Hy trek sy voorkoppie op ʼn plooi, “Ja ek wil asseblief Mamma, want ons gaan hom vir baie lank nie sien nie, en hy gaan na my verlang.”
Zuluika voel ʼn ongekende deernis vir die klein seuntjie wat soos ʼn klein grootmensie hier met haar gesels, sy weet, aan hom wil sy altyd reg laat geskied, “Goed seun, ek sal dit reël voor ons Amerika toe gaan.”
Hy knik sy koppie, draai om en met ʼn “Nag Mamma,” raak hy aan die slaap.
Maandagoggend, ry die hele gesin deur na Menlyn om hulle visum afsprake te maak, sowel as om ʼn vlug vir haar en Cordier te bespreek na Esbjerg in Denemarke. Sy en Laurie het bevestig haar moeder sal vir die volgende sewe weke in die ‘Esbjerg Performing Arts Centre’ optree.
Zuluika het geen idee hoe sy die ontmoeting met haar moeder sal reël nie, maar sy weet, dit is die volgende hekkie waaroor sy wil kom, verder as dit wil sy nie nou dink nie.
Die reisagent beveel aan dat hulle eerste Cordier se Amerikaans visa moet verkry, waarna hulle saam die Shengen visum aansoeke kan doen, aangesien Cordier se paspoort met beide aansoeke ingedien moet word.
Sy maak beide afsprake aanlyn, en tot hul verbasing is daar ʼn opening vir die volgende oggend om tienuur in Sandton vir Cordier se Amerikaanse visum aansoek. Vir Zuluika is dit ʼn teken dat haar besluit om te gaan, die regte besluit is.
Die reisagent verseker hulle beide die Visas sal ʼn maksimum van sewe tot tien werkdae na die aansoek neem, en sy maak daarvolgens die Shengen Visa afsprake, en ʼn voorlopige bespreking vir die vlug na Denemarke. Die verlengde tydperk tussen die visa afsprake is vir Zuluika ʼn geskenk wat die laaste kuier effens uitrek met al haar mense.
Sy skakel Eckard en vra of hy kan reël vir ʼn besoek aan haar pa in die tydperk wat hulle in Pretoria sal wees in afwagting van die afhandeling van die Shengen visa aansoek, sodat Cordier hom kan groet.
Hy is aangedaan oor die gebaar van toegeneentheid, “Baie dankie hiervoor, ek sal die afspraak maak, kom julle maar deur, alles sal reg wees.”
Zuluika besef skielik, daar is geen negatiwiteit in haar oor die weersien van haar pa nie, en sy weet dit is deel van die genesing wat sy aan haarself verskuldig is.
Hulle besluit om almal in Pretoria aan te bly om inkopies te doen en saam na Sandton vir die visum afspraak te gaan, waarna hulle terug plaas toe sal gaan en wag vir die ontvangs van Cordier se paspoort.
Die Bruyns gesin dui aan dat hulle in Suid Afrika gaan aanbly tot Zuluika en Cordier na Denemarke vertrek, en dit seël Zuluika se geluk.
Hulle neem die Gautrein na die Sandton Stasie die volgende oggend. Die ondervinding van die treinrit met die drie seuns wat oorstelp is deur die spoed van die trein, en die ontbyt saam in die kolossale sentrum is ʼn ongelooflike ondervinding vir almal. Moeder Sally en vader James is vir die eerste keer in jare uitgelate, “Jy het vir ons sluiting gebring nooi, jy het verseker dat ons verby ons hartseer kan beweeg,” en hulle druk haar teen hulle harte wanneer sy en Cordier regmaak om deur te stap na die Ambassade gebou.
Die afwagting wanneer sy en Cordier deur die Ambassade deure stap, is net die versameling van herinneringe vir Zuluika, daar is geen twyfel of vrees nie. Sy weet dinge gaan reg loop vir haar en Cordier, hulle is nuwe mense met skoon rekords.
Die onmaats oë verrassing is ʼn belewenis vir almal, en die persoon wat die finale onderhoud behartig verseker hulle dat dit absoluut ʼn wonderlike ervaring is om hulle met daardie oë te ontmoet, sy verseker Zuluika verder dat die aflewering van die paspoort ongeveer vyf tot sewe werksdae sal neem, en Zuluika kom tot rus.
Hulle gaan terug plaas toe, en die afskeid begin. Joos kom oor vir aandete en hy sê haar reguit, “Ek is bly vir jou, maar hartseer vir ons. Soek jou geluk by hom wat na aan jou hart is nooi.” Sy kyk hom lank in die oë, “Bid vir my, want sonder hom sal my dae baie eensaam wees.” Joos kyk na haar, glimlag en sê, “Ek het reeds,” en sy weet nie wat sy in die opmerking moet lees nie.
Hy gee haar die nuus wat haar vry maak, “Ons het bevestiging van Justisie gekry, jy is volkome vry, daar is geen sprake van enige parool of enige inperkings verder nie. Die vonnis van Zuluika Bruyns sal egter altyd op rekord wees, dit kan niks wegneem nie. Jou betaal vir jou daad is volbring volgens die regsstelsel. Maak seker dat jy in jou eie oordeel dit ook beleef.”
Zuluika voel die verligting, die rekord is reg, sy het gemoor en niks wat hulle nou weet regverdig haar optrede nie, maar die bevestiging van haar vryheid bring vrede vir haar.
“Ek het gedink oor die trustgeld, en ek weet om dit nie te neem nie, sou oom Louis se hart breek. Ook het ek nou Cordier om aan te dink. Sal oom Joos dit weer belê en bestuur vir my. Iewers in die toekoms mag dit dalk benodig word vir my seun se toekoms.”
Hy voel die genoegdoening in hom, ‘Hy het gedoen wat Louis so begeer het’, en hy is verlig.
Joos skakel Mauritz, gee hom die nuus, maar ook die bevestiging van die reëlings vir haar en Cordier se ‘huis toe gaan’.
Die volgende oggend ry Mauritz na Corvallis en gaan sien sy vriend Pierce Olufson. Hy wys hom die opaalstene, gee hom die klein vriendskapsringetjie wat Zuluika vir hom gelaat het saam met haar brief, en vra hom om vir Zuluika ʼn verloofring en trouring te set met die twee stene in beide ringe.
Hy vra hom om vir hom ʼn trouring te maak wat in elke opsig soos Zuluika se ring sal lyk, en Pierce is absoluut uit sy vel van vreugde vir sy vriend, “Jy weet ons passie lê in die gebruik van natuurlike gekleurde stene in ons juweliersware. Ek sal vir jou, en die een wat jy liefhet die mooiste ringe maak wat jy nog gesien het.”
Hy neem sy tyd om deur die winkels te stap, daar waar hy en sy hand aan hand gestap het. Hy gaan eet ʼn middagete in die koffiekroeg waar hulle met die studente gesit het, en hy verlang na haar.
Zuluika, Joe en Cordier ry deur na vader Maurice, terwyl Laurie en Matthew, moeder Sally, vader James en Jonah deurneem na Emafweni om hulle die hospitaal en plaas te gaan wys.
Vader Maurice is verstom oor Cordier, “Iewers in die Vader se plan vir jou was hierdie wonderwerk besig om te vorm, vir die regte tyd my kind,” en sy stem saam.
Hulle kuier tot na sononder, en met die groet gee hy haar dieselfde boodskap, “Wees gelukkig my kind, onthou jou geluk bepaal baie ander se geluk,” en sy besef dit.
Lize laat weet die volgende Maandag Cordier se paspoort is afgelewer, Zuluika weet dit is tyd om te gaan, en sy pak die laaste goedjies van haar en Cordier in, en daar is ʼn bruisende opgewondenheid in haar, ‘Sy gaan haar ma sien, haar ma miskien teen haar hart voel’.
Met die laaste koppie koffie op die stoep wanneer die son sak, trek Laurie Zuluika uit die geselskap na haar kamer, “Ek het wonderlike nuus vir jou,” en Zuluika sien die vreugde, “Ek is swanger maat, ons gaan ʼn baba hê.”
Zuluika gryp haar vas en hou haar teen haar vas, “Dit is die wonderlikste afskeidsgeskenk wat jy my ooit kon gee. Laurie ek is werklik bly vir jou en Matthew, mag die babatjie vir julle al die liefde bring wat ʼn eie kindjie verteenwoordig.”
Die besluit is geneem, Joe sal haar en die Bruyns familie alleen deurneem Pretoria toe aangesien Laurie vir eers die ryery moet beperk, en Zuluika sien Matthew se trots wanneer hulle die res van die familie inlig oor die swangerskap.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.