Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 22
Hoofstuk 22 – Hoe diep die vreugde
Hulle ry na ʼn laaste oggend koffie saam met haar mense by die kombuistafel. Die aanvaarding is in almal, Zuluika het nou ʼn ander pad om te loop, ʼn ander geluk om te gaan vind, en hulle is bly vir haar en Cordier.
Lize wag vir hulle by die gastehuis, en sy is openlik aangedaan wanneer sy almal groet, die wete is ook in haar, dit gaan ʼn lang tyd wees voordat sy al hierdie mense weer sal sien. Jonah neem tog haar hartseer effens weg wanneer hy beloof dat hulle Bruynse haar sal kom sien wanneer hulle Pretoria toe kom.
“Sal julle almal môre middag na die visa afspraak verby is by my kom kuier. Ek het die laaste twee dae by julle almal nodig om ook my hartseer oor julle weggaan te probeer verwerk,” en Zuluika, en die Bruyns familie weet die afskeid neem van hierdie mens bring ook vir hulle hartseer, want sy het oor die afgelope tien jaar so ʼn hegte eenheid met hulle gevorm, terwyl almal sonder ophou probeer het om Zuluika vry te kry.
Die Shengen aansoek verloop vlot, en na die beampte se aanvanklike ongeloof en verwondering oor hulle twee se onmaats oë, is die deurgaan van die dokumentasie, die onderhoud, die vingerafdrukke en die foto’s, alles sonder voorval.
Hulle kuier saam deur die volgende dag, en laat middag vra Lize Joe en Jonah om vir hulle ʼn vuur aan te steek om vleis te braai. Zuluika weet dit is een van die dinge wat sy saam met haar wil neem, die knetter van die brandende hout, die reuk van die vleis wat braai, en vir die eerste keer is daar ʼn stekie van ‘ek gaan dit mis’, in haar, terwyl sy gedink het sy sal niks van die land mis behalwe haar mense nie.
Wanneer hulle rustig langs die swembad sit, terwyl die mans die braai behartig, kom Cordier uit met die twee viooltasse wat agtergebly het by Lize na die uitvoering, “Kan ek en Mamma ons twee liedjies wat ons vir my pappa môre gaan speel, oefen?”
Zuluika voel die skok in haar, sien dit ook op die ander se gesigte, ‘Nooit een dag het sy eers daaraan gedink om haar musiek met daardie mens te deel nie’.
Hy staan voor haar met die smeking in sy onmaats oë, haar oë, “Sal Mamma asseblief saam met my vir my pappa môre speel?”
Thobile se woorde oor, ‘Weer totaal heel wees’, en die vereiste van ‘totale vergewing’, druk haar vas, ‘Om in vrede met jouself te wees, sal nie gebeur deur slegs gedeeltelik te vergewe nie. Daardie vergifnis wat jy nie gee nie, sal soos ʼn sweer in jou huiwer wat sal groei en jou vergiftig. Jou vergifnis moet jou in totaliteit insluit, dit kan niks uitsluit nie’.
Sy kyk na die ander se gesigte, en die uitdrukking op hulle gesigte weerspieël dit wat sy dink. Wanneer sy afkyk na die klein seuntjie, weet sy, ‘in hom is geen kwaad nie’, net vertroue en liefde.
Sy weet, voor sy aan die viooltas vat, moet sy die vraag antwoord, ‘kan sy in totaal vergewe?’ en sy hoor die woorde wat sy nie geglo het sy ooit sal sê nie, “Mamma sal, indien hulle ja sê,” en sy voel ʼn versekering in haar, ‘sy is sterk genoeg vir hierdie vergifnis’.
Hulle staan onder die sterre, en die klanke vloei oor die mure en deur die kompleks, wanneer hulle ophou hoor hulle handeklap verder in die kompleks en iemand wat skreeu, ‘speel nog asseblief’, en sy en Cordier speel Mendelssohn se Viool Konsert as ʼn ‘encore’ vir die onbekende luisteraars.
Die saam eet van die perfek gebraaide skaaptjoppies, die mieliepap met die bredie, die soet patat souttert, die aartappelslaai, alles bêre sy weg in haar ‘onthou’, vir die dae wanneer die verlange na haar mense en die land haar gaan versmoor.
Sodra Cordier slaap, skakel sy Eckhard en vra oor die moontlikheid om wel die vioolspel toe te laat die volgende dag. Hy klink ingenome en verseker haar daar sal geen probleem wees nie.
Hulle ry negeuur na Korrektiewe Dienste. Sy kyk na Cordier, aangetrek in sy ‘uitgaan’ klere, ‘want hy gaan vir sy pappa ʼn konsert hou’, en sy voel die tranerigheid in haar, ‘Here hou hom altyd so skoon en rein soos hy nou is, asseblief’.
Lize, Joe en die Bruyns familie sal koffie gaan drink terwyl sy en Cordier die besoek bring.
Eckardt wag hulle in wanneer hulle stilhou by Korrektiewe Dienste, die waardering is in sy groet en op sy gesig, “Dankie hiervoor,” en sy weet iewers vorentoe gaan sy ook daardie woorde vir haarself sê.
Met ʼn, “Skakel sodra ons julle kan kom haal,” sien sy die mense wat haar sonder ophou ondersteun het die afgelope maande vertrek, en anders as wat sy gedink het, is daar geen wens om saam in daardie viertrek te sit nie. Die wete is in haar, ‘Hierdie besoek wil sy vandag doen, nie net vir Cordier nie, maar ook vir haarself’.
Hy neem die twee viooltasse by hulle, en stap saam met hulle na die groot deure. Die bekendheid is daar, die tien jaar se gevoel steeds in haar, maar nou is daar geen spanning, geen vrees, ‘Hierdie mure sal haar nooit weer ingeperk hou nie weet sy’.
“Ek sal die viooltasse deur die sekuriteit neem, stap julle saam met die beampte hy sal julle vergesel,” en sy sien Eckhard wink in die rigting van ʼn beampte, sy vat Cordier se handjie en volg die beampte.
Dieselfde beampte wat die vorige besoek hulle vergesel het, wag hulle in, sy weet, die ‘Bond’ het ook hier ondersteuning, en sy voel die verligting in haar.
Met die oopstoot van die deur waar hulle die vorige ontmoeting gehad het, sit hy reeds by die tafel, en die sagtheid van die eens ontsettende streng gesig, vat aan haar.
Cordier gil sy opgewondenheid uit, en die twee groot hande vang hom net betyds wanneer hy op sy skoot spring, “Pappa, pappa ons het vir jou kom kuier, ons het vir jou ʼn konsert kom hou,” gil hy van plesier terwyl hy sy pappa aanhoudend soen.
Sy sien die trane, hoor die deur oopkraak, dit is asof sy alles hoor en voel op dieselfde oomblik, en daar is net vreugde in haar.
Eckhard trek vir haar ʼn stoel uit en sy gaan sit oorkant die groot man, en selfs hier in sy verval in sy smart, is hy steeds oordonderend groot vir haar.
Sy hoor Cordier sonder om een oomblik stil te bly, alles vertel wat hy in die afgelope weke gedoen het, beleef het, en sy wonder of hy enigsins verstaan wat die situasie is.
“Pappa, ek en Mamma het ʼn konsert in…,” en met ʼn frons op sy gesiggie, “waar was dit nou weer Mamma?”
“Brooklyn Teater seun,” “die Brooklyn Teater saam met ʼn groot orkes gehou,” en die trots op die hartseer gesig druk haar vas.
Hy kyk na haar en sy gesig sê ‘dankie’, en sy knik haar kop in erkenning.
Hy vertel ‘sy pappa’ van die plaas, van sy twee maatjies, Christopher en Kyle, van oom Nathan, van oom Joe en hy straal ʼn vreugde uit wat hulle ander vier in die vertrek omvou.
Hy vat ‘sy pappa’ se gesig met albei hande vas, kyk in sy oë en sê ernstig, “Nou gaan ons vir Pappa ʼn konsert hou sodat Pappa kan hoor hoe goed ek en Mamma saam speel, soos Pappa gewens het ons sal,” en die waarheid van daardie wens is op die hartseer gesig.
Zuluika haal die viool uit die tas, prik die snare effens, en die klank van die gebaar bring rus in haar.
Cordier stap om haar, neem sy viool uit die tas wat Eckhard oophou, kom staan langs haar soos die aand in die teater, sy weet, hierdie is ʼn geweldige groot gebeurtenis vir haar seun, en sy weet sy wil dit ʼn ondervinding maak wat hy in sy geheue kan saamneem vir sy verlangtye.
Wanneer die musiek hulle omvou, sluit sy haar oë, sy trek die herinneringe van Mauritz en Rudolph in haar gedagtes in, en sy voel hulle vrede in haar.
Dit is asof daar ʼn ademlose stilte in die vakuum van musiek kom, sy voel hoe al die verweer verdwyn, kry die gevoel wat sy nooit geglo het sy sal voel nie, die vreugde om vir ‘haar pappa’, musiek te maak, en nou het sy vrede daarmee, vir haarself, nie omdat dit Cordier se hartewens was nie.
Hulle speel deur die vier liedere sonder onderbreking, foutloos vir die mens wie se hartseer uit sy oë loop, en sy is jammer vir hom, nie net vir die oomblik se pyn nie, maar vir die lewe wat hy gemis het, en die een wat hy vorentoe gaan mis.
Wanneer sy haar oë oopmaak, sit hy daar, die mens wat sy so graag wou ken toe sy klein was, en sy ondervind in hierdie oomblik die vervulling van haar kinderwens, ‘Dat haar pappa trots op haar sal wees’, en hy sê dit terwyl hy haar in die oë kyk.
“Ek is so trots op jou, so geweldig trots oor wat jy alles vermag het, dankie dat jy so sterk was om uit te styg bo die onreg en hartseer wat ek jou aangedoen het,” en Zuluika staan sprakeloos, ‘Is dit hoe liefde klink?’
Cordier sit sy viool op die tafel neer, “Mamma nou moet ek piepie,” skielik is die spanning weg, lag almal, en voor sy haar hand kan uitsteek, is dit Eckhard wat hom in een swaai optel, “Dan moet ons manne gaan piepie seun,” en hulle stap uit by die deur, en is dit net sy, die beampte, en die hartseer mens.
Sy is onseker wat om te doen, “Sal jy asseblief net ʼn rukkie hier by my sit, net met my gesels, asseblief,” kom dit smekend.
Sy weet sy wil, en sy gaan sit weer op die stoel wat Echard vir haar uitgetrek het.
Sy laat hom, tot hy sy ewewig herwin, en vra sag, sonder verwyt, “Waarom het jy my weggeneem van my ma?”
Die dood kom in sy oë, sy weet hy staan nou voor die duiwel wat in hom was, hy skud sy kop stadig heen en weer, “Ek was van die duiwel besete, sy was nie van plan om die pad te stap wat ek vir ons beplan het nie, ʼn pad van haat en verwoesting, en ek wou haar seermaak, soos ek gedink het ek seergekry het oor haar verwerping van my ideologie. Daarom het ek dit weggevat wat haar hele lewe was – jy.”
Die woorde is uit, in die oopte vir haar om daarmee te maak wat sy wil, en sy bêre dit in haar hart, ‘wat haar hele lewe was – jy’.
Sy weet sy moet nou die vraag vra wat sy ʼn duisend keer aan haarself gevra het, “Waarom kon jy my nie liefhê nie?”
Hy begin praat soos ʼn persoon wat weet die tyd van verrekening het gekom, dat die tyd vir die smeek om vergifnis verstreke is. Sy sien die trane, sy sien sy oë leeg word, en sy hoor hoe die dood moet klink, “Ek was gevul met ʼn fanatiese ideologie wat my ʼn monster gemaak het. Ek het nooit liefde geken nie, nie geglo ek het kapasiteit vir enige iets behalwe ʼn liefde vir die ideologie nie. Jy was alles wat ek nooit geken het nie, mooi, sag, glimlaggend, liefde, en ek het geglo die liefde wat in jou is, sal my ideologie vernietig, my vernietig. Ek was so bang vir die gevoel wat jy in my wakker gemaak het.”
Sy kyk na hom, sy weet sy het so pas die waarheid gehoor, en sy is tevrede.”
Hy gaan hartseer maar beslis voort, “Ek wil hê jy moet weet, God het twee ervarings vir my gegee die dag in die hof.”
Hy sluit sy oë een oomblik, maak hulle oop en kyk in haar oë, “By die aanhoor van jou woorde, so eerlik en so vol respek, het ek ʼn liefde vir jou gevoel wat belangriker as al die ideologieë, magtiger as my haat, groter as my vrees, dieper as al die liefde wat ek tot daardie dag gevoel het, was.”
Zuluika hoor die woorde, voel die pyn, maar sy sit bewegingloos.
“Op daardie oomblik het ek geweet, ek het die kosbaarste skat en die diepste liefde wat ʼn mens kan hê, verloor. God het my gevul met diepe hartseer, en ʼn diepe liefde, ʼn hartseer en liefde wat ek elke dag in my dra, tot vandag, en tot daar waar my einde sal wees.”
Hy kyk na haar, en hy smeek, “Ek hoop Cordier sal vir jou die seuntjie wees wat jy en Rudolph kon gehad het, ek bid, hy sal daardie seuntjie wees,” en sy kry hom jammer, en sy sê dit wat die afgelope weke in haar, en vader James se gedagtes was, “Hy is, dankie vir hom, hy het soveel liefde in my, nee ons almal se lewens gebring,” en dit is genoeg vir vandag.
Wanneer Cordier terugkom, is dit tyd om te groet, die groot hande tel hom op, druk hom teen die groot bors vas, en die trane val op die swart krul hare.”
Hy vat ‘sy pappa’ se kop vas, en soen ‘sy pappa’ se lippe telkemale, “Ons gaan vir lank ver weg, maar ons sal weer vir Pappa kom kuier, nê Mamma?” en sy knik die ‘ja’ wat sy weet ʼn belofte is.
“Sal Mamma my pappa ʼn ‘tatta soentjie’ gee?” en daar is net een gedagte by haar, ‘Hoe sal dit voel om vir die eerste keer, ‘haar pappa’, ʼn ‘tatta soentjie’ te gee?’
Sy kyk na die beampte en die toestemmingsknik is daar. Sy stap om die tafel, sit haar hande aan weerskante van die groot kop, buk en soen hom sag op sy wang, hy draai sy gesig na haar, sy sien die trane oor die wange rol, en sy soen hom sag op sy lippe.
Hy sit sy groot hande op haar hande, hou dit teen sy kop vas, en die smart wat met die woorde uit die liggaam kom, breek haar hart, “Dankie Here vir hierdie genade,” en skielik is haar vergewing volkome.
Hy smeek-vra deur sy hartseer, “Sal jy asseblief net soms laat weet hoe dit met julle twee gaan?” en die instem is maklik, sy weet, sy sal dit gereeld doen.
Hulle laat die stukkende mens alleen in sy hartseer, en sy moet Eckardt se arm vashou om haar veilig na buite te help, ook haar skanse het gebreek, en sy voel hoe die trane wat oor haar wange loop die laaste pyn van die ou herinneringe weg was.
Thobile wag vir hulle by haar mense wanneer hulle in die sonlig uitstap. Zuluika weet dit is wat sy so graag wou hê, die geleentheid om vir Thobile weer dankie te sê vir haar aandeel aan haar ‘heel-wees’, haar kans op liefde en geluk, en sy sê haar dit.
Thobile neem haar hande in haar eie, en met ʼn glimlag “Ek wil jou vandag vra om ʼn klein verandering aan een van ons anker toue te maak,” en almal wag in stilte, “Ek het jou gevra om vir jouself elke dag die volgende sin meer as eenmaal te herhaal, ‘Ek sal elke dag, in elke opsig net aan die toekoms dink’, want dit sal daardie droom bewaarheid.” Sy sien Zuluika se glimlag, “Ek weet jou fiksasie met die verlede is verby, daarom is dit tyd vir ʼn nuwe droom.”
Zuluika staan een oomblik stil, weet indien sy kon tel hoeveel keer sy die woorde ‘toekoms en vorentoe’ gedink en gespreek het, dit duisende kere sal wees, en sy weet daardie selfopgelegde dwing van haarself na die toekoms en vorentoe het haar weggetrek uit die verlede se seer.
“Sal jy dit asseblief vervang met, ‘Ek sal elke dag, in elke opsig aan liefde en geluk dink’, want dit sal ook daardie droom bewaarheid,” en nieteenstaande haar twyfel oor die afgelope maande, glo sy die woorde.
Hulle kuier almal die laaste aand op die stoep van Lize se huis met koffie en worsbroodjies, en hulle herroep en herleef alles wat die afgelope maande hulle met soveel vergifnis, vrede en vreugde gevul het, en Zuluika weet, wat oorbly is die toekoms en die liefde, en sy hunker daarna.
Sy en Cordier pak hul laaste goedjies in hul tasse, en die afwagting vir wat voorlê is in albei se opgewonde stap na buite.
Die rit na Oliver Tambo Lughawe, die eet van die laaste ontbyt by ‘Wimpy’ saam met haar mense, is gevul met opgewondenheid, maar die hartseer van afskeid is ook daar. Sy beloof, ‘Ons kom weer terug na julle toe om te kom kuier wanneer my sake in plek is’, en hulle weet sy sal definitief daardie belofte hou.
Zuluika voel die pyn van afskeid wanneer sy Lize se trane van hartseer teen haar wang voel, en Joe haar teen sy hart vasdruk en sag teen haar hare sê, “Jou weggaan is soos die dood vir ons, ons sal jou elke oomblik van elke dag mis maat.”
Sy weet dit is ook hoe sy voel, maar sy weet om selfs net in die teenwoordigheid van Mauritz te wees, al sal sy nooit sy liefde besit nie, nooit sy kus beleef nie, dit is wat sy wil doen, net baai in die lig wat hy uitstraal, hom sien in sy kerk, hom hoor in die teenwoordigheid van sy God, dit is al wat sy vra.
Sy, Cordier en die Bruyns gesin sal saam deur die doeane gaan en koffie drink totdat die Bruynse se vlug vertrek, waarna sy en Cordier na hulle vertrek hek sal gaan.
Hulle waai daardie laaste totsiens na Joe en Lize, en later na haar skoonfamilie wanneer hulle deurstap na die vliegtuig, en Zuluika weet, ongeag die hartseer van die afskeid, het die ‘saamwees’ die afgelope weke berusting vir hulle almal gebring.
Hul eerste vlug is ʼn een en twintig uur vlug met British Air vanaf Oliver Tambo direk na die Esbjerg Lughawe, wat ʼn skamele tien minute van die middestad geleë is.
Zuluika kyk na die slapende seuntjie onder die ligte reisdeken langs haar, herroep hoe gefassineerd hy was deur alles wat op die klein televisie skerm te siene was. Voel nog die hitte van die soentjie wat hy haar gegee het voor hy aan die slaap geraak het, en sy weet, hy en al die wonderlike mense wat haar oor haar lewe liefgehad het, maak haar een van die mees bevoorregte mense in die wêreld.
Wanneer Cordier wakker word, neem sy hom na die toilet waar sy hom help om te was en skoon kleertjies aan te trek. Hy kyk ʼn rukkie televisie en vra of hy na ontbyt in die gangetjie kan loop. Sy gee toestemming vir ʼn vinnige op en af stap, wat hy ewe gehoorsaam doen, totdat van die passasiers die onmaats oë sien, en hy van stoel tot stoel moet stap vir almal om in sy oë te kyk, en hy geniet dit geweldig.
Zuluika is oorstelp met hoe soet Cordier is, sy weet, sy moet definitief hom meer geleentheid gee om net ʼn seuntjie te wees, nie net altyd hierdie ongelowige stil gehoorsame kind nie, nie die replika wat haar pa gedink het reg vir haar sal wees nie, hy moet ʼn unieke seuntjie wees, met sy eie unieke streke.
Hulle neem ʼn huurmotor na die Hotel Britannia wat naby die Esbjerg Performing Arts Sentrum geleë is. Hulle is verras met die pragtige ruim kamer en Cordier spring soos ʼn gewone seuntjie op die bed en wip op en af. Zuluika voel die versekering in haar, sy weet die mannetjie gaan regkom, hy gaan ʼn normale seuntjie wees, sy moet hom net tyd gee.
Hulle gaan lê vroeg, uitgeput na die lang vlug, en sy benut die alleen tyd om net te dink aan môreaand, môreaand wanneer sy haar moeder se musiek gaan hoor, haar in haar wêreld gaan sien. Sy wat van die oomblik wat sy haar naam gehoor het, nie een oomblik uit haar gedagtes was nie.
Sy raak aan die slaap met die beeld van hom, wie se nabyheid haar met soveel ekstase gevul het.
Zuluika besef die volgende oggend, sy moet haarself besig hou deur die dag, die afwagting om haar moeder te sien maak haar rusteloos en dit het ʼn impak op Cordier. Sy besluit na ontbyt om op ʼn dagtoer te gaan om die besienswaardighede in Esbjerg te gaan besigtig. Sy hoop die aktiwiteite sal haar rusteloosheid onder beheer hou.
Die toer is vir albei ʼn wonderlike ondervinding, hulle is in ekstase oor wat hulle sien, Fanø eiland, die Ribe Viking Sentrum, die nege meter hoë wit standbeelde van die mans wat toring oor die Wadden- en Noordsee. Hulle stap om die Water Toring wat in 1897 opgerig is, en sluit die toer af, hand aan hand deur die Kuns Museum, en sy weet die prag van wat hulle gesien het, het tog haar rusteloosheid bekamp.
Zuluika kyk na haarself in die spieël, en sy hoop sy sal vir haar moeder lyk soos wat sy hoop sy lyk, iemand om trots op te wees. Cordier kom staan langs haar, geklee in sy ‘uitgaan’ klere met die nuwe warm jassie wat hulle gekoop het, “Ons lyk mooi Mamma,” sy druk hom een oomblik teen haar vas, hoop dit is hoe sy vir haar moeder sal lyk, en sy stap met sy handjie in hare uit die kamer, en sy voel haar hart in haar keel klop.
Die oploop na die ingang van die teater met die wit pilare en wye glas panele, is kosbaar vir haar, en sy voel ʼn geweldige vreugde in haar om hier te wees, hier na haar moeder te kan luister.
Die instap in die teater verhoog haar afwagting, en die portaal gevul met die sagte musiek en die klank van die honderde mense stemme, vat haar gedagtes na haar moeder, en sy voel die angstigheid in haar.
Cordier gaan staan stil, kyk op na die dak en draai stadig in die rondte, “Dit is regtig baie mooi Mamma,” en sy beaam dit.
Met die instap in die teater, kyk sy oor die rye rooi beklede banke, sy sien die orkes op die rye swart stoele besig om hul instrumente te stem, en haar oë soek na die een wat sy so begeer om te sien.
Terwyl sy weet haar moeder as eregas, sal eers die verhoog betree wanneer die dirigent daar is, is daar tog teleurstelling wanneer sy na die sitplek by die groot klavier kyk, en dit leeg vind.
Sy voel Cordier haar hand druk, “Waar sit ons Mamma?” Sy buk af, soen hom op sy voorkop en begin stadig die trappe afstap na hulle sitplekke wat in die vierde ry van die verhoog af is.
Sy sluit haar oë wanneer die ligte gedemp word, te bang vir die eerste sien van haar moeder. Sy maak hulle oop, sien die klein vroutjie oor die verhoog stap, sien die dirigent ʼn saluut in haar rigting gee, hoor die handeklap van die gehoor, en die trane val spontaan uit haar oë, ‘Sy het haar moeder gevind, en sy is so volmaak’.
Sy voel die afwagting vir die eerste note, en die vreugde vul haar wanneer die suiwer klanke haar omvou. Sy voel Cordier se handjie hare druk, en sy hoor hom fluister teen haar oor, “Dit is mooi Mamma,” sy knik haar kop, sy weet sy is geseënd, weet hierdie is net die begin van al haar wonderlike dae vorentoe, en sy bid dat haar moeder haar wil ken.
Sy hou haar oë op die perfekte mensie, sien die meelewing met die musiek, sien die slanke hande sweef oor die note, sien die pragtige blonde kop saam met die musiek beweeg, en sy bêre die beeld in haar hart.
Hulle stap uit vir die pouse, sy vergesel Cordier na die ruskamers en wag vir hom buite. Wanneer hy uitkom is hy in vervoering, “Mamma moet sien hoe mooi hulle toilette is,” en sy glimlag oor die aanmerking, besef weer hoe geweldig verskillend Cordier van gewone kinders van sy ouderdom is.
Die tweede deel van die vertoning gaan vir Zuluika soos ʼn droom verby, die musiek, die mens, die orkes, alles ʼn perfekte droom.
Met die afsluitingsboodskap, kom die aankondiging, ‘Marcelle sal binne vyftien minute in die voorportaal CD’s teken vir die gehoor’.
Zuluika voel die blydskap, besef weer soos so vele kere voorheen, God gee ook nou vir haar die oplossing wat sy so nodig het.
In die voorportaal gaan sit hulle op een van die sofas teen die muur, weg van die tafel waar sy weet haar moeder sal sit. Sy sê vir Cordier die tannie wat die klavier gespeel het gaan vir hulle ʼn CD teken, en sy spontane “Ek wil ook een hê Mammie,” laat haar glimlag.
“Ons gaan vir ʼn rukkie hier sit totdat die meeste mense klaar is, voor ons twee in die ry sal inval,” en hy is reg daarmee.
Sy bly daar, die onsekerheid in haar, het sy die krag om net voor daardie mens te gaan staan? Wat sal sy sê, wat sal sy doen, en sy bly sit terwyl die tou al korter en korter word.
Zuluika besef indien sy vanaand haar moeder wil ontmoet, moet sy nou in die tou inval.
Sy kyk van Cordier wat rustig hier langs haar op die sofa slaap, na die paar mense wat oor is in die tou.
Een van die drie dames by die toonbank waar CD’s aangebied word, kom in haar rigting aangestap, en met ʼn glimlag vra sy, “Indien u ʼn CD wil neem vir onder-tekening, sal ek na u seuntjie omsien totdat u klaar is.”
Sy is effens verleë, besef in al die dae vandat sy alles oor hierdie vrou op die internet gelees het, kan sy op hierdie oomblik nie dink aan ʼn spesifieke CD se naam nie.
Die dame glimlag en sy bied die nuutste CD aan wat die afgelope ses maande se top verkoper is.
Zuluika neem dit en sy onthou Cordier se, ‘ek wil ook een hê Mamma’, en sy glimlag terwyl die vrou ʼn ander CD uit die rak haal, “Vir die pragtige mensie, een van haar ander top verkopers.”
Sy betaal met haar krediet kaart, en daar gaan ʼn ‘dankie’ deur haar vir die hulp die dag toe sy hierdie kaart gekry het.
Sy verwyder die plastiek omhulsels en die gesig van die pragtige mens op die omslag bring ʼn gevoel wat sy nie ken nie, ‘Hierdie is my moeder’, en sy voel ʼn ongelooflike vreugde.
Zuluika kyk na die titels en die liedere, en dit wil haar hart breek, ‘I will be right here waiting for you’, en sy kyk na die versameling van die twintig verwerkings van liedere wat almal oor die wag vir iemand gaan.
Die tweede CD, ‘I miss you’, en die eerste drie liedere se titels ‘I miss you, Wish you were here, So far away,’ en die hartseer en pyn weerklink in haar.
Hoe nader sy aan die mensie by die tafel kom, hoe meer hoor sy die mense voor haar in die tou se gesprekke. Sy verluister haar aan die vertellings, hoor grepe uit vorige optredes se hoogtepunte, en sy besef haar moeder is ongelooflik geliefd.
Sy voel die effense vrees in haar, ‘Wat as haar moeder haar nie wil ken nie?’ maar sy weer dit uit haar gedagtes. Sy gryp vas aan die woorde van haar pa, ‘Daarom het ek dit weggevat wat haar hele lewe was – jy’. Al wat deur haar gedagtes gaan, is, ‘fokus net op die eerste ‘naby sien’, die hoor van haar stem, ongeag wat verder gebeur’.
Sy maak die houer oop om die gedrukte boekie uit te haal vir die ondertekening, en die woorde omvou haar, ‘Vir jou my dogter, ek wag steeds’.
Met die woorde wat vasslaan in haar gedagtes, is sy voor haar, sien sy die slanke hande, die effense opstaan punt neusie, soos haar eie neus, die effense kepies in die wange, ‘haar kuiltjies’, en sy weet verseker ‘dit is my mamma’.
Wanneer die stem waarvoor sy ʼn leeftyd gewag het vra, ‘Vir wie skryf ek die boodskap,’ is dit die klank van haar eie stem wat die woorde uiter, sy hoor haarself sê, “Zuluika,” en dit is die weerklank van die vrou voor haar se stem. Marcelle Novel voel die skok in haar, en wanneer sy opkyk, voel sy die duisternis oor haar kom.
Die ongeloof is in haar, sy staar na die perfekte mens, die onpaar oë wat elke dag in haar gedagtes was, en sy is momenteel verlam. Sy vat die hand wat die CD na haar uithou, klou daaraan.
“Danielle?” kom dit deur die trane, en Zuluika weet, al het sy nooit die naam gedra nie, is die erkenning in haar oë.
Zuluika sien die blou oë se pupille vergroot en weer verklein, sy weet, die fyn mensie gaan enige oomblik haar bewussyn verloor.
Sy buk vooroor, vat die koppie wat knak tussen haar hande vas, dwing die blou oë om in haar onmaats oë te kyk, druk haar swart kop teen die blonde hare, en sê die woord wat sy ʼn duisend maal in haar vyf en dertig jaar wou sê, ‘Moeder’.
Marcelle Novel voel die helderheid terugkom in haar, sy staan op uit haar stoel, en is om die lessenaar voordat iemand kan beweeg, langs haar kind, en sy vat die dierbare kop van haar kind vas, behou haar positiewe, en trek haar teen haar vas.
In Marcelle Novel is een sekerheid, ‘My kind is hier’, en haar hart klop weer, haar soektog is verby, sy het haar hart gekry.
Sy tree terug en kyk in die oë wat vir ses en dertig jaar elke oomblik in haar gedagtes was, sy weet, niks kan die band tussen ʼn ma en haar kind breek nie.
“Waar was jy al die jare?” Zuluika kan haar nie antwoord nie, die trane loop oor haar wange, en sy kry die mensie voor haar so jammer. Sy wat elke dag haar kind gemis het, terwyl Zuluika besef sy nie eers van haar bewus was nie.
Sy sien die vrae, die soek na antwoorde in die oë, en sy weet hulle moet hier uit, hulle moet iewers alleen die ses en dertig jaar oorbrug, saam die wonderwerk gaan beleef.
Die volgende oomblik is hy daar, die man wat die aankondigings gedoen het, en die vrae is in sy oë, “Marcelle, wat het nou net hier gebeur, wie is hierdie mens?”
Sy hou Zuluika se gesig vas, en sonder om weg te kyk sê sy, “Hercules, hierdie is my dogter, hierdie is Danielle.”
Die stilte om hulle vul met klank, mense begin weer beweeg. Zuluika kyk na waar Cordier slaap, en die verkoopsdame wat by hom staan staar sprakeloos na hulle. Zuluika haal stadig diep asem, voel die warmte wanneer sy die lug uitblaas, en sy weet haar lewe het weer begin.
In Zuluika is daar net een wete, ‘Haar ma ken haar, haar ma onthou haar’, en vir nou is dit genoeg.
Skielik is die klein vroutjie hier teen haar hart in beheer, “Hercules, indien hier nog enige persone is wat ʼn CD wil laat teken, kry asseblief hulle besonderhede, ek sal dit later teken en dit deur ʼn koerierdiens laat aflewer, maar op die oomblik wil ek alleen met my kind wees.”
Sy neem Zuluika aan haar hand en begin stap in die rigting van die administratiewe kantore. Zuluika neem haar hand, raak haar moeder se arm aan om haar een oomblik tot stilstand te dwing, terwyl sy van haar moeder se vraende oë na Cordier se slapende lyfie op die sofa kyk.
Marcelle volg Zuluika se blik, sien die swartkop seuntjie op die sofa, bring haar hand na haar mond, en met oorstelptheid kom die woorde, “Jy het ʼn kind, ʼn seun, dankie Here vir U genade.”
Sy draai in Cordier se rigting, en Zuluika moet haar pas versnel om by die klein vroutjie te bly. Met die aanraak van sy armpie word hy wakker, en die onskuldige onpaar oë kyk van Zuluika na Marcelle, en kom dit in ʼn klein stemmetjie, “Mamma het die tannie ons CD’s geteken?”
Marcelle Novel voel vir die tweede keer vanaand of sy haar bewussyn gaan verloor, voel of sy in ʼn droom is, voel die vrees dat die droom soos al die duisende drome oor die jare, môre weg sal wees.
Zuluika sien die wanhoop, dieselfde wanhoop wat sy soveel keer beleef het, vat die slanke handjie vas en sit Cordier se handjie in die hand wat dit saggies vasvat, “Sê hallo vir die tannie seun.”
Hy kyk na Marcelle Novel, sien die trane oor haar wange loop, en die prentjie perfekte mensie staan op, maak sy armpies oop en Marcelle tel hom op, druk hom vas, voel die warm asempie teen haar wang wanneer hy haar saggies soen en sê, “Moenie huil nie tannie, Mamma sal na jou kyk.”
Zuluika sien haar moeder ineenstort, sit haar arms om haar, trek haar en Cordier teen haar vas, en dit voel so goed, so reg.
Hercules Bouchard stuur hulle met ʼn ferm hand deur die mense wat in verwondering staar na die mens wat hulle verafgod, en hulle begin saggies handeklap om hulle dankbaarheid oor die wonderlike gebeurtenis te wys.
Marcelle klou aan die klein seuntjie in haar arms, en die sterk hand van haar kind, en die vreugde wil haar versmoor, maar sy behou haar bewussyn, behou die wete in haar, ‘hierdie is nie ʼn droom nie, haar kind is hier by haar’.
Met die instap in die ruim vertrek, gaan staan Marcelle, sit Cordier versigtig neer, draai na Zuluika terwyl sy Cordier se handjie vashou, “Laat my net eers na jou kyk my kind, net alles van jou in my hart vaslê,” sy steek haar hand uit, vat aan Zuluika se gesig, en laat haar vingers stadig met liefde oor elke deel van die pragtige gesig gly, ‘My hart is hier, ek het my kind gevind’, flits dit deur haar gedagtes.
Zuluika sit haar hand op die pragtige slanke hand, hou dit vas teen haar wang en kyk in die blou oë, “En ek van jou moeder.”
Hulle staan voor mekaar met verwondering oor hoe baie hulle na mekaar lyk, sy voel ʼn plukkie aan haar rok, “Is die tannie Mamma se mamma?” Vir die eerste keer kan sy dit beaam, “Ja seun, sy is my mamma,” en dit voel so reg.
Marcelle weet, sy kan haar kind nie vanaand weer laat gaan nie, en sy sê dit, en Zuluika weet sy self het nie vandag die krag om weg te stap van hierdie mens nie.
“Waar is julle tuis?”
“In die Hotel Britannia,” sy sien die hartseer op die mooi gesig, “Ons drie is onder dieselfde dak en ek het dit nie geweet nie.”
Zuluika skud haar kop stadig heen en weer, nie by magte om iets te sê sonder om in trane uit te bars nie.
Dit is Hercules wat beslis sê, “Kom ons neem julle drie na die hotel waar julle privaat op julle tyd kan gesels,” en albei knik hulle koppe instemmend.
Met Cordier tussen hulle volg hulle Hercules deur die portaal tot waar die motor met die bestuurder wat die deur oophou, vir hulle wag.
Sy hoor die pragtige stem, “Dankie Clayton, ons kan direk na die hotel gaan asseblief,” en met trots, terwyl sy Zuluika teen haar vasdruk, “Hierdie is my dogter, Clayton.”
Zuluika sien die ongeloof, voel die ondersteunende hand onder haar arm, sien die intel van Cordier tot langs haar, en haar moeder wat skuif tot teen Cordier, haar hand op Cordier se skoot vasvat, na haar kyk met daardie pragtige oë, “Ek dank die Here, jy, julle, is hier,” en Zuluika wonder een oomblik hoe sy sal voel wanneer sy weet Cordier is haar pa se seun, maar sy laat dit gaan.
Met die stilhou voor die hotel staan die portier gereed om die deur oop te maak, sy weet, haar moeder beklee ʼn ereplek hier. Sy sien die oorbluftheid wanneer sy en Cordier uitklim, en sy hoor die trots in die stem, “David, ontmoet my dogter, en my kleinseun,” Zuluika sien die verbasing oorgaan in openlike vreugde, “Marcelle, werklik, jy het haar gevind?”
Zuluika besef soveel mense weet sy het haar kind gesoek, net sy, Zuluika, het dit nooit geweet nie.
Hulle stap die hotel binne, neem die hysbak en dit open in die dak suite, Zuluika weet, dit is waar haar moeder altyd woon wanneer sy hier optree.
Haar moeder trek haar aan haar hand na die sitkamer, skakel die televisie aan en help Cordier om op die bank te lê terwyl sy die kussing onder sy koppie instoot, “Lê hier grootman, en kyk bietjie televisie, ons gaan net gou koffie maak,” en Cordier knik sy koppie ewe gehoorsaam.
Zuluika voel die warm hand haar hand neem en haar deur die portaal tot in die kombuis trek, terwyl sy die arms om haar voel, voel sy die klein figuurtjie bewe terwyl die trane spontaan oor haar wange rol. Sy hou haar vas, streel die blonde hare, voel die warmte teen haar, en laat haar, haar hart uithuil.
Wanneer sy uiteindelik beheer oor haar emosies kry, glimlag sy, “Ek hoop jy is uitgerus, want ek kan nie gaan slaap voor ek nie alles van jou weet nie,” en Zuluika weet dit is presies soos sy voel.
Zuluika stap die een tree vorentoe, druk ʼn ligte soentjie teen haar voorkop, en beaam haar woorde, “Dit is hoe ek voel, kom ons maak koffie, en indien hier is, ʼn beker ‘milo’ of warm melk vir Cordier.”
Hulle maak die koffie en die warm drankie saam, so asof hulle dit voorheen saam gedoen het. Marcelle haal ʼn versameling varsgebakte beskuitjies uit die kas, en verduidelik skaam, “My middernag fees na ʼn vertoning,” en Zuluika koester die gedeelde geheim.
Hulle drink hulle koffie, eet van die beskuitjies, en wanneer hulle Cordier se rustige asemhaling hoor, weet hulle die tyd is reg om te gesels, mekaar te leer ken.
“Sê my net eers asseblief, waar was jy.”
Zuluika kyk haar lank in die oë, besef die pyn wat gaan kom uit die deel van haar lewensverhaal, en sy is ontsettend hartseer by die wete wat dit aan hierdie pragtige mens gaan doen.
“Voor ek enige iets vertel, wil ek hê Moeder moet eerstens weet, daar was so ontsettend baie hartseer in my lewe, dink asseblief baie ernstig of jy dit wil hoor.”
Sy wag vir die antwoord, weet wat ookal die besluit is, dit sal sy doen.
Marcelle vat haar hand vas, druk dit en sê met ʼn stem wat breek, “Ongeag wat dit is, indien jy dit kan deel, wil ek dit hoor, al die hartseer en al die vreugde, asseblief.”
Zuluika knik haar kop stadig, “Ek het in Suid Afrika grootgeword.” Sy hoor die skerp intrek van die asem, weet die ontsteltenis het sy oorsprong in die media verslae van al die onrus, al die konflik, al die moorde, en sy weet wat sy nog gaan deel gaan haar moeder platslaan.
Sy maak haar oë een oomblik toe, sy weet sy wil in haar moeder se oë kyk wanneer sy haar geskiedenis deel. Sy wil trots wees, nie met toe oë in skaamte vertel dit wat haar die mens gemaak het wat sy is nie.
Sy kyk na haar moeder en begin by die begin, die dertien jaar as Cordelia Cordier, die ideologie, die haat, die wegstap op dertien van die ‘hel-huis’, en die trane van die mens wat krampagtig aan haar hand vashou, was die leed weg.
Marcelle se stem dwing haar tot stilte, “Ag Here as ek net geweet het waar jy was, net jou kon gaan haal het uit daardie plek,” Zuluika troos haar, weet die verwyt sal ewig daar wees, weet hulle albei was totaal onmagtig om daardie jare te voorkom.
Sy vertel van die tyd wat sy as Zuluika Zuess by oom Louis, oom Nate en Laurie op die plase deurgebring het, en hulle reddende liefde vir haar. Haar universiteitsjare, haar mediese studies, haar musiek, Rudolph, en elke oomblik se liefde en geluk saam met hom.
Met die herroep van sy moord, en die daad wat sy gepleeg het, breek haar skanse, en beleef hulle die leed saam.
Die tien jaar in die gevangenis, dit wat die tien jaar weggeneem het, maar ook bygedra het tot haar groei. Die groei van haar mediese kwalifikasies en kundigheid met die werk in die gevangenishospitaal, en die geskenk van God om haar, haar vryheid te gee met die regering se amnestie in twintig vyftien.
Marcelle se gebrokenheid en die oplig van die slanke hand, dwing Zuluika op en terug kombuis toe om koffie te maak, om tot haarself te kom.
Wanneer sy met die twee koppies koffie instap is Marcelle kalmer en vra met die wink van haar hand Zuluika om asseblief weer te sit.
Hulle drink hulle koffie en Marcelle vra Zuluika om voort te gaan.
Sy vertel haar van haar skoonouers, van die vier maande in Corvallis, van die aanvaarding en liefde wat sy daar gevind het, en die teruggaan na die wit wonderwêreld.
Die vertel van die afgelope vier maande se gebeure, die onthul van die feite rondom die moorde, die skending van die lyke, die hartseer van die ander ses gesinne, en die vryskelding van haar van enige verdere parool of vervolging, breek die klein mensie se hart van vooraf.
Zuluika neem ʼn baie diep asemteug en stap deur die twee besoeke aan haar pa, die geskenk wat sy in Cordier gekry het. Sy herhaal haar pa se smeking om vergifnis van haarself, en veral van haar ma oor sy optrede, en die klein vroutjie gaan lê met haar kop op Zuluika se skoot, nie sterk genoeg vir al die bekentenisse nie.
Sy vra dit, want sy moet dit weet, “Sal Mamma Cordier kan liefkry, al is hy die kind van hom wat jou soveel onreg aangedoen het?”
“So lief as wat ek vir jou is, want hy het geen skuld aan enige iets nie, en hy is ‘jy’, Zuluika, ʼn replika van jou wat ek so lief het. Ek glo God self het hom vir ons gegee om te vergoed vir dit wat ek en jy verloor het,” en Zuluika druk haar vas, en die liefde wat sy nooit geglo het sy sal kan voel nie, is in haar vir hierdie mensie.
Sy vertel haar van haar en Cordier se opvoering met die Gautengse Filharmoniese Orkes, ook die opvoering vir haar pa, en Marcelle is verstom oor haar kind wat ʼn duisend keer meer as enige iemand in die wêreld is.
Sy vertel haar ma van Mauritz, van haar vrees, haar hoop, haar liefde, en Marcelle hou haar kind teen haar hart, sy weet, niemand in die wêreld kan haar kind nie liefhê nie, en sy verseker Zuluika van daardie feit terwyl sy haar teen haar vasdruk.
Wanneer die hartseer uitgewoed is vra Zuluika, “Sal Mamma my alles van mamma vertel, asseblief?”
Marcelle kyk haar lank aan, “My lewe kan in twee sinne opgesom word my lief, musiek, en my soektog na jou. Elke minuut, elke dag, elke gedagte, net om jou weer te vind,” Zuluika kry haar ontsettend jammer, weet sy sal nooit weet hoe diep die pyn vir haar moeder was nie, en sy hou haar moeder styf vas.
“Nadat die owerheid ophou soek het na jou pa, het ek ʼn privaatspeurder gehuur. Na ongeveer tien jaar het hy opgegee om my enige gelde te vra, net gesê, hy sal elke saak wat hy ondersoek gebruik om steeds na jou te soek. Ek weet nou, ons het op al die verkeerde plekke in die wêreld gesoek, elke steen is hier in Europa omgekeer, en ek weet nou waarom daar geen antwoorde was nie, jy was net ʼn paar dae hier.”
“Het Mamma enige familie?”
Sy sien die hartseer, “Nee my skat, my ouers is reeds meer as tien jaar gelede oorlede. Ek wens hulle kon jou sien, hulle het so gehoop, so gebid.”
Zuluika voel ʼn hartseer na ʼn ouma en ʼn oupa wat sy weet nie voorheen in haar was nie, sy dink aan Laurie se ryke beloning van twee stelle oumense, en sy voel werklik of sy ʼn verlies beleef het.
“Hulle sou so trots op jou gewees het my lief. Danielle was my moeder se naam, sy was so ongelooflik bly toe ons haar gesê het indien ons babatjie ʼn dogtertjie is, ons haar gaan vernoem.”
Zuluika voel ʼn vreugde in haar, ‘ook hierdie naam het behoort aan iemand wat soveel liefde gegee het,’ en sy vertel haar moeder die verhaal van die name Zuluika Zuess, en Cordelia Cordier.
Marcelle voel die pyn in haar om oor die hartseer tyd te praat, maar sy vertel Zuluika alles oor haar en Ziegfried Cordier se tyd saam, die pyn van haar ontnugtering oor iemand wat sy so ongelooflik liefgehad het, iemand wat haar soveel hartseer aangedoen het, en die praat daaroor na al die jare bring tog berusting.
Wanneer al die hartseer onthul is, en hulle siele leeg getap is, deel hulle die liefde vir musiek met mekaar, besef hulle, hulle is so eenders, maar elkeen ook so uniek.
Die rustigheid wat volg, kom lê in hul gemoedere, en albei weet hulle kan nooit weer die samesyn verloor nie.
“Jy kan nie weer weggaan nie asseblief,” en dit bring rus in Zuluika se gemoed, ook sy wil haar ma elke dag verder by haar hê.
“Bly hier by my vir ʼn tyd asseblief. Sodra die reeks konserte klaar is, het ek volgende jaar slegs twee weke se optredes in Vienna. Ek wil by jou kom bly indien dit reg is,” en Zuluika gryp haar hande vas, “Ja asseblief, ʼn duisend keer ja.”
Hulle kom ooreen, Zuluika en Cordier gaan nog tien dae by haar bly, saam met haar hier in haar suite woon, en dit voel so reg vir albei.
Dit is halfvier in die oggend wanneer albei weet hulle het die einde van hulle uithouvermoë bereik. Hulle tel Cordier op en laat hom slaap in die enkelbedjie in Marcelle se kamer. Moeder en dogter gaan lê op die groot bed met hulle hande ineengestrengel, en raak aan die slaap, rustig in die wete, vannag was die afsluiting van ses en dertig jaar se hartseer, en die begin van die res van hulle lewens.
Wanneer Zuluika wakker word, is sy alleen in die bed, sy weet onmiddellik waar sy is, wat alles gisteraand gebeur het, en sy voel die vreugde. Sy staan op en stap na waar sy Cordier se lag hoor.
Hulle sien haar die oomblik wat sy instap en haar moeder kom onmiddellik na haar, druk haar teen haar vas en soen haar sag, “Môre liefste,” en al wat sy kan sê is “Môre Mamma,” en die dag is perfek.
“Môre Mamma,” en hy gee haar met armpies wat om haar nek vou ʼn soentjie op haar lippe, “Hulle het vir ons kos van ʼn ander tannie se kombuis gebring, en dit ruik vreeslik lekker.”
Sy vang haar moeder se glimlaggende knipoog, sy weet, Cordier het reeds haar hart gesteel, ongeag of hy die kind is van die man wat haar eie kind gesteel het.
Sy draai na haar moeder en soos Cordier sit sy haar arms om haar ma en gee haar ʼn soentjie op elke wang en op die pragtige sagte lippe. Marcelle druk haar kop ʼn baie lang oomblik teen haar vas, “Sal jy elke dag wanneer jy by my is, hierdie soentjies herhaal, ʼn paar keer per dag, sodat ek dit wat verlore gegaan het, kan inhaal,” en hulle lag saggies oor die versoek, maar Zuluika weet dit is ook wat sy begeer.
Hulle bagasie word deur die hotel personeel na haar moeder se suite gebring en Zuluika voel ongelooflik gelukkig oor die deel van die volgende twee weke met haar moeder. Vir eers moet haar sien van Mauritz wag, moet sy eers dit ondervind wat ander dogters elke dag met hulle moeders gedeel het, en sy is gelukkig.
Die dae verloop rustig en wonderlik, hulle beleef al die eerste ondervindings waaroor albei gedroom het. Stap in die winkels, leer mekaar se voorkeure, smake, en liefdes ken, en besef hulle het so baie in gemeen.
Sy en Cordier woon elke aand die uitvoering by, sit by haar moeder wanneer sy die CD’s teken. Honderde mense deel hulle dank en goeie wense omdat die wonderlike mens dit teruggekry het waarna sy elke dag gesoek het.
Sy en haar moeder deel die intieme gevoelens wat net deur ʼn moeder en haar dogter gedeel kan word, hulle lewens weef vas aanmekaar, en Marcelle maak die besluit om na die seisoen geen verdere opvoerings te hou nie, maar om vir ʼn onafsienbare tyd by Zuluika te gaan woon.
Zuluika is buite haarself van vreugde, en sy hou die mens teen haar vas en sê dit vir haar. Marcelle neem haar gesig tussen haar hande, “Ek wil in werklikheid nooit een enkele dag nie by jou wees nie. Op hierdie oomblik dink ek nie eers weer aan enige opvoering enige plek indien jy nie by my is nie. Ek het ses en dertig jaar om in te haal my liefste.” Zuluika weet dit is hoe sy voel, en hulle twee neem die besluit, Marcelle sal by Zuluika aansluit na die twee weke se opvoerings afgehandel is, ongeag wat tussen haar en Mauritz gebeur.
Een middag bring Cordier die twee viooltasse uit die kamer, “Kan ons drie ons vier liedjies saam speel asseblief, Ouma op die klavier, en ons met die viole,” en die ‘ouma’ en die ‘saam speel’ is reg vir hulle drie.
Die uitdrukking van liefde op haar moeder se gesig bring ʼn warmte in Zuluika, en al wat deur haar gedagtes gaan, is, ‘Dankie Here vir die kosbare geleentheid’.
“Wat is julle vier liedjies seun?” vra Marcelle terwyl sy reeds in die rigting van die groot klavier stap wat in die hoek van die vertrek staan.
Voor Zuluika kan antwoord is dit Cordier wat antwoord, en Zuluika sien die verrassing op haar moeder se gesig by die hoor van die woorde uit die klein seuntjie se mond, “Mozart en Mendelssohn se Viool Konserte, en ‘Stairway to Heaven’ en ‘Morning has broken’ Ouma.”
Sy vat een oomblik aan sy koppie, en liggies aan Zuluika se wang, “Julle twee is ongelooflik, sal ons die viool konserte eerste doen?”
Zuluika knik haar kop, vat die viooltas by Cordier en haal haar viool uit. Die klanke omvou hulle, sy sien die uitdrukking op haar moeder se gesig, verwondering, ongeloof, liefde, en Zuluika voel om in trane uit te bars. Nooit tot vandag, was daar ooit ʼn gedagte om saam met haar moeder musiek te maak nie, en die dankbaar trane drup stadig uit haar oë.
Hulle speel sonder onderbreking, en wanneer die laaste klanke stil word, staan haar moeder op, maak haar arms oop, en Zuluika en Cordier loop spontaan in die omhelsing in.
Terwyl Cordier geen idee het watter wonderwerk sy onskuldige versoek meegebring het nie, besef die twee vroue hoe die gedeelde talent en liefde hulle verhouding verinnig, en Marcelle kan nie uitgepraat raak, oor, ‘haar kinders’, se talent nie. Sy vra Zuluika, “Sal jy dit oorweeg vir julle twee om iewers in die toekoms saam met my op te tree?”
Zuluika glimlag terwyl sy haar moeder se hand vashou, “Nie nou nie, maar wie weet Moeder, iewers in die toekoms gaan die geleentheid reg wees vir ons.”
Hulle laaste dag by haar moeder is emosie belaaide ure. Marcelle se hartseer om haar kinders te laat gaan is pynlik vir beide, maar albei weet, vir Zuluika om aan te gaan, is die kort verwydering nodig.
Marcelle het Hercules gevra of hy haar na die lughawe sal vergesel, “Ek het jou krag nodig my vriend, want ek weet nie hoe ek my kinders kan laat gaan nie,” en hy het ingestem. Zuluika het die teerheid in sy oë gesien, geweet hy het haar moeder lief, en die wete weggebêre.
Met die afskeid op die lughawe breek albei vroue se beheer en skanse wat hulle deur die oggend voorgehou het. Zuluika weet sy is die een wat al haar krag nodig het om haar moeder te laat gaan, hulle staan tussen al die mense wat toekyk, en hulle huil hulle hartseer op mekaar se skouers uit.
Die laaste wuif wanneer sy en Cordier deur die sekuriteitsarea stap, bring Zuluika tot stilstand wanneer sy sien hoe haar moeder ineenstort en Hercules haar teen hom vashou.
Hy kyk oor die pragtige blonde kop, wuif haar om voort te gaan, en sy weet, sy moet nou deurstap anders gaan hulle nie vandag op die vlug wees nie. Sy stuur ʼn soentjie in haar ma se rigting, en sien Cordier dit ewe nadoen, “Ouma en Mamma se hartjies is regtig baie seer, nè?” en hy vat haar aan die hand en druk dit.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.