
Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 23
Hoofstuk 23 – Die gevoel van ‘Behoort’
Die pad na die seders begin wanneer sy en Cordier op John F. Kennedy Internasionale Lughawe deurstap vir hulle aansluitingsvlug na die Rogue Valley International-Medford Lughawe, wat naby die Rehabilitasie Sentrum geleë is.
Geen kommer meer oor haarself of Cordier met die ingaan in enige land nie, sy weet hulle is beide soos ‘nuwe mense’, daar is geen geheue oor wie hulle was, of waar hulle regtig vandaan kom nie. Sy het ook vrede gemaak in die wete, dit is net sy wat glo almal wonder oor haar, sy het besef in die afgelope maande, dit is nie so nie.
Sy het besluit om eers te gaan uitvind hoe dit met Desmond gaan. Sy weet, sy wil werklik weet of sy die jongman se been gered het, hom gered het.
Sy het ook tyd nodig om haarself voor te berei vir die eerste sien van Mauritz. Nou, hier op die Amerikaanse bodem, so naby aan hom, is die twyfel terug, weet sy, sy is haar eie vyand in haar twyfel aan haarself, en sy vra haarself die vraag, ‘Kan sy die pyn verwerk indien Mauritz met sy Maxi daar is, indien sy net ʼn dierbare vriendin vir hom gaan wees?’
Hulle neem ʼn huurmotor van die lughawe na hulle verblyf in die Homewood Suites waar hulle tuis sal gaan, en wanneer hulle die suite ingaan, is dit twee kamers. Cordier kyk na haar en sy sien die vraag in sy ogies, “Ek sal van vandag af in my eie kamer slaap as dit reg is met Mamma?”
Sy kyk lank na hom, en hy sê amper verskonend, “Ek is nou ʼn groot man, ek moet my bang los, en in my eie kamer slaap.”
Sy sak op haar knieë neer, “Jy was van die begin af ʼn groot man, ons het net in een kamer geslaap sodat ons twee oor ons bang kon kom.”
“Vir wat was Mamma bang? Mamma het nie bang gelyk nie.” Sy vat ʼn oomblik om die vraag te verwerk, en vra haarself, ‘Waarvoor was jy bang Zuluika?’ en sy onthou al die ou vrese, sy weet, al haar ou vrese gekoppel aan haar jeug, Rudolph se moord, haar gevangenisskap, haar moeder se aanvaarding en liefde, is weg. Sy voel die wanhoop oor die laaste vrees, Mauritz se liefde en aanvaarding wat sy bo alles begeer.
Sy trek die klein lyfie teen haar vas, voel die armpies om haar nek, en die warm asempie teen haar oor, wanneer hy sê, “Ek het Mamma vreeslik lief, en sal alles waarvoor Mamma bang is wegvat,” en sy druk hom teen haar vas.
Sy en Cordier geniet ʼn aandete in die hotel se restaurant en sy voel ʼn dubbele vreugde wanneer sy besef sy is wel honger, en sy geniet die kos. Cordier se bevestiging, “Die tannie in hierdie plek se kombuis se kos is regtig baie lekker nè Mamma,” en sy glimlag vir sy onthou.
Cordier sit sy handjie op hare en sê sag, “Mamma dit is vir my baie lekker alles wat ek saam met Mamma doen. Al die nuwe plekke wat ons sien is regtig baie lekker vir my.”
“Dankie seun, dat jy by Mamma is,” is al wat sy kan sê, en sy druk sy handjie, sy weet ongeag wat voorlê in Corvallis, sy gaan altyd die klein mensie by haar hê. Hy wat haar lief gaan hê, vir wie sy lief gaan wees, en sy weet sy wil hom nooit teleurstel nie.
Na ontbyt die volgende oggend neem hulle twee ʼn huurmotor na die Rehabilitasie Sentrum.
Sy voel die opgewondenheid van lank gelede in haar wanneer sy in die sentrum instap, daardie opgewondenheid om te weet of haar handewerk aan hom teruggegee het wat sy gehoop het dit sou doen maande gelede toe sy hom geopereer het.
Met die voorstel by ontvangs en die vra of sy moontlik Desmond mag besoek, verbeel sy haar daar is openlike verbasing op die dame se gesig terwyl sy hulle vriendelik verwys na die saal waar hy is.
Die instap by die saalontvangs, die opgewondenheid en die verpleër se groet, laat haar besef, ‘hulle weet wie sy is’, en waar sy maande gelede ʼn vrees sou hê oor, ‘die weet wie sy is’, is dit nou ʼn feit wat alles so maklik vir haar maak, “Dit is ʼn eer om u te ontmoet dokter Zuess, sal u saamstap?”
Hy is daar, heelwat maerder, heelwat bleker, maar op sy eie twee bene, en hy is aangedaan wanneer hy haar spontaan teen hom vastrek, “Ek kan weer op albei my bene stap, en dit het ek aan u te danke Dokter, ek sê dankie en vra vergifnis vir ons almal se sotheid.”
“Daar is niks te vergewe nie Desmond, vir ons almal was dit ʼn tyd van nuwe dinge beleef en aanvaar, my grootste geskenk is om jou op jou twee voete te sien.”
Hy kyk na Cordier wat aan Zuluika se hand vashou, “Dokter het regtig ʼn pragtige seun,” en sy trek Cordier teen haar vas, beaam dit en stel Cordier aan hom voor.
“Sal Dokter en Cordier saam met my uitstap na die kafeteria en net ʼn koppie koffie saam met my geniet, ek het so ontsettend baie wat ek vir Dokter wil vra, en vir Dokter wil sê,” en sy houding is pleitend.
“Ja, dit sal heerlik wees Desmond, ook wonderlik wees om langs jou te stap, en te beleef wat ek so gebid het ek vir jou sou teruggee,” en hy knik sy kop terwyl die trane in sy oë opwel.
“Dit is trane van geluk en dankbaarheid Dokter. Ek het nie geglo ʼn volwasse man kan soveel trane stort nie, maar ek is dankbaar hiervoor,” en sy knik haar kop instemmend, “Ek weet van trane stort Desmond, dit bring genesing, hoop ook vir jou.”
Hy kyk een oomblik na haar, “Ja, dit het Dokter, dankie daarvoor. Ons dink ons is so magtig, nee laat ek eerlik wees, ek het gedink ek is so magtig, so sterk, maar vandag weet ek beter, selfs ek is in myself net so sterk soos wat my God my maak, niks meer nie.”
Zuluika voel die verwondering in haar, weet dit is waar woorde, ook vir haar.
Hy stap langs haar en Cordier, effens mank, en hy sê in die stap, “Die been is effens korter, maar my skoene is reeds deur die sentrum laat opbou om die verskil uit te kanselleer. Ek wil egter elke dag een stap, stap, sonder die hulpmiddels, net om te onthou hoe groot die geskenk is wat ek van my God, jy, die personeel in Corvallis, en die sentrum se personeel gekry het,” en Zuluika voel ʼn ontsettende toegeneentheid tot die man.
Hy stort sy hart uit oor die arrogante en belaglike vete wat hy en Hugo Grant se gevolg gevoer het, en Zuluika glimlag dit weg, “Desmond dit het my glad nie gepla nie, regtig moet nie een oomblik weer daaroor sleg voel nie.”
Hy neem haar hand in sy hand, “Dokter jy is ʼn edel mens, ʼn groter mens as ons almal,” sy wil hom stil maak, maar hy hou sy hand omhoog, “Hugo was verskeie kere hier by my, ek weet wat u daardie nag vir hom en Margret gedoen het. Jy het nie net Margret en die drie dogtertjies gered nie, in Hugo se eie woorde, jy het Hugo gered. Dit het hy my soveel keer gesê. Jy het deur jou onbaatsugtige geaardheid, my en my gesin ʼn geleentheid op ʼn toekoms gegee. Weet net Dokter, jy is ʼn soveel beter mens as ons hele spul saam.”
Sy glimlag dit weg, en bid dat dit altyd so sal wees vir haar.
Wanneer hulle terug in sy saal kom, is daar vier geneeshere wat vir hulle wag.
Daar is groot opgewondenheid by die dokters wanneer hulle Zuluika groet, hulself voorstel, en haar gelukwens oor die red van Desmond se been en sy lewe.
“Ons het die opname van die operasie gesien, en dit is reeds in die Mediese Joernaal gepubliseer, jy weet dit is briljante werk, veral in die omstandighede, en die optrede van u wat die operasie voorafgegaan het.”
Sy wil dit weg redeneer, maar dokter James Dalton skud sy kop en sê ernstig, “Ons werk elke dag met lewens wat gered is deur medici wat onder oorlogsomstandighede hulle werk uitvoer, en jy is in daardie klas Dokter, daardie briljante vreeslose klas.”
Sy voel die oorweldiging van haar besit neem, herroep die situasie, en vir een oomblik sien sy die been in die yskoue water, sy weet weer, die eer is eerstens aan haar God, en aan al die mense wat deur die ure haar bygestaan het, en sy sê dit vir hulle.
Hy vra haar om die gebeure in die bergstroom met hulle te deel, “Almal wat daardie dag in die koue gehelp het om Desmond aan die lewe te hou, kon nie uitgepraat raak oor jou heldhaftige daad, jou besluitneming, en die vreesloosheid wat jy aan die dag gelê het nie.”
Sy neem Cordier se handjie asof sy krag soek vir die onthou, sy herleef Mauritz se warmte, sy kommer oor haar daar langs die stroom, en sy praat hulle stap vir stap deur die paar minute se daad.
Dit is Desmond wat opstaan, na haar toe loop en haar weer aan sy hart druk, “Dankie Dokter, dankie dat jy so ʼn koel en kalm mens is, dat jy die besluit geneem het terwyl ek en almal weet, indien u nie daar was nie, sou ek sekerlik in daardie bergstroom gesterf het.”
Sy sit haar arms om sy rug en hulle staan vir ʼn paar oomblikke in ʼn gedeelde dankbaarheid teen mekaar.
Met die afskeid voor die hospitaal is die aanbod daar vir haar om te oorweeg, “Bly hier by ons en neem ʼn pos hier,” vra professor Hans Strauss, “Hier sal jy floreer.”
Sy sê dankie, maar nee, haar pad is ʼn ander pad, haar vrede en geluk ʼn ander plek, en sy en Cordier groet, sy weet, môre wil sy begin met die pad terug na daar waar haar hart agtergebly het.
Wanneer sy na Desmond draai om te groet buk hy vooroor en trek haar teen hom vas, “Ek is so bly, nee ons almal daar bo is bly u het terug na ons gekom,” hy stoot haar effens weg van hom en kyk in haar oë, “Daar is nog iemand daar bo wat elke dag vir u wag,” en sy wag in stilte, “Dominee Mauritz het my gereeld die afgelope maande besoek, hy is lief vir jou,” en sy maak haar oë toe, en by die aanhoor van die woorde is haar gebed amper ʼn belofte.
Wanneer hulle in die huurmotor sit vra Cordier ewe ernstig, “Was oom Desmond se been heeltemal af Mamma?”
“Ja seun, heeltemal af.”
“Het Mamma dit weer aangewerk?”
“Jip, Mamma het.”
“Ek gaan ʼn dokter soos Mamma word, ek wil ook mense se bene weer aanwerk,” hy hou haar blik en wag vir haar toestemming.
“Dit klink reg vir my, kom ons sien hoe jy daaroor voel wanneer jy groot is, wanneer jy al die ander wonderlike werk wat in die wêreld is, ook gesien het.” Hy knik sy kop soos ʼn grootmensie.
Zuluika besef die druk wat haar pa asgevolg van sy eie verwyt op die klein mannetjie geplaas het ‘om soos sy te wees’. Sy weet, sy moet die outjie lei om ook dit te verstaan wat oom Louis haar soveel keer gesê het, die woorde wat sy nou eers waardeer, ‘Hy is ʼn unieke mens, ʼn mens wat reg het om net homself te wees, nie in alles perfek hoef te wees nie, nie soos iemand anders hoef te wees nie’, en dit is ʼn belofte aan haarself wat sy weet sy gestand sal doen.
Die volgende oggend vroeg neem hulle ʼn huurmotor na die Rogue Valley treinstasie vanwaar hulle ʼn trein na Corvallis neem.
Zuluika glimlag wanneer sy Cordier se gesig sien sodra die trein aan die beweeg kom, en sy weet nie of Cordier, of haar opgewondenheid die grootste is nie.
Die treinrit is ʼn genot, elke kilometer wat verby flits bring nuwe dinge vir Cordier, en bring die opgewonde bang in haar, maar sy weet, hierdie is die teruggaan waarvoor sy al die maande gewag het, en sy probeer tot rus kom.
Hulle neem ʼn huurmotor van die stasie en hulle gaan tuis in die gastehuis waar sy, Werner en Mauritz tuis gegaan het maande gelede tydens die konsert, en die herinnering kom lê in haar.
Sy kry die begeerte om minstens vir Rhoda te skakel, of selfs met Bernhardt in aanraking te kom, maar sy kan dit nie doen nie, sy moet teruggaan sonder ophaal en waarskuwing, vir haar en Mauritz se onthalwe.
Wanneer sy en Cordier by die restaurant instap om elfuur die volgende oggend, is hulle daar, ‘Andrew Grube en Mitch Bell’. Sit hulle reeds by dieselfde tafel waar sy maande gelede vir hulle gewag het, met stomende bekers koffie voor hulle.
Met die oopswaai van die deur kyk albei op, en die uitdrukking op hulle gesigte bring ʼn warmte in haar. Dit is Mitch wat vinnig orent kom en na hulle stap, voor sy kan keer neem hy haar tas, haar mediese tas en die viooltas, en staar haar aan met openlike blydskap op sy gesig. Hy draai sy kop en staar na Cordier.
“Dokter maar julle is twee geweldige mooi mense bymekaar, waar was hy al die maande terwyl jy hier was?”
Sy sien Andrew by Cordier buk en sy tassie en viooltas neem, en sy weet, sy en haar seun is waar hulle hoort.
Hulle dra hulle twee omtrent na die tafel, vra wat Cordier wil hê, en bestel vir haar ʼn koffie.
“Wat is jou naam seun?” en Cordier trek sy gesig op ʼn frons, “Cordier, en Oom se naam?”
Die afwesigheid van die tweede ‘Cordier’, vat aan Zuluika, en dit bring die vraag, en die begeerte wat sy het, ‘Moet sy Cordier vra of sy, sy van, na haar eie kan verander?’
Die vrae is onophoudelik, maar die een vraag kom vroeg in die gesprek, “Gaan Dokter nou by ons bly?”
Sy kyk na hulle, “Die tyd sal leer, maar ek hoop so,” en sy sien die vinnige kyk na mekaar.
“Dokter weet, Dokter sal moet bly, anders sal hy doodgaan,” en hy kyk na haar en sy oë dwing haar stil.
“Is daar plek vir my en Cordier?”
Albei sê dadelik, “Ja, al moet ons julle op ons skote laat sit, maar dit is nie nodig nie, dit is net ons vandag, niemand anders nie, en of daar plek daar bo vir julle is, definitief, dit moet jy weet Dokter,” en die welkome toeval van die alleen rit na bo, maar veral ‘die plek daar bo’, bring Zuluika tot rus.
Hulle gesels met Cordier, probeer hom voorberei vir die rit, maar die vraag kom tog, “Kan jy viool speel?”
Sy antwoord is soos die dag aan haar, “Ja, en baie goed ook. Ek en Mamma het in ʼn konsert met ʼn hele orkes saam gespeel,” en hy vat haar hand asof hy haar wil intrek in die prestasie.
Albei glimlag, en Andrew sê ernstig terwyl hy sy oë gemaak hemelwaarts rol, “Wat anders kon ons verwag,” Dit neem die effense spanning weg, is hulle daar waar hulle die laaste maande met die ritte na Corvallis was, vriende en kollegas van die maatskappy wat soveel meelewing met sy mense het.
Die amper ‘intel’ van haar en Cordier in die viertrek in, bring goeie herinneringe van Mauritz se intel van haar in die viertrek bus, en sy probeer die vrees weg weer, ‘almal sinspeel op Mauritz se wag vir haar, en sy weet die dun garingdraad van hoop het in die afgelope paar dae tot amper ʼn ankerketting gegroei’.
Cordier sit eers op haar skoot in die middel van die sitplek, voor Mitch hom optel om by hom teen die venster te sit, sy weet hier gaan sy en haar seun gelukkig wees, ʼn familie hê, en sy wens haar ma is al hier by haar.
Sy voel die stramheid wanneer sy uit die vragmotor gehelp word deur Mitch. Voor sy kan besluit ‘waarheen nou?’ is Rhoda by haar, en in trane druk sy Zuluika teen haar vas.
“Jy is terug, jy het gekom soos jy beloof het,” en Zuluika is stil voor soveel verwelkoming.
“Jou huis is oop en wag vir jou, ons het gehoop en gebid.”
Die volgende oomblik is dit Cordier se stemmetjie hier amper tussen hulle, “Mamma?”
Sy sien Rhoda terug tree, sien die absolute vreugde-verbasing, “Zuluika hy is pragtig, hoekom het jy ons nie van die klein wonderwerk vertel nie?”
Terwyl sy nog oorweeg wat om te sê, is dit Cordier se stem wat die antwoord gee wat sy nie nou wou uiter nie, “Want Mamma het my eers nou die dag gekry,” en hy steek sy arms uit sodat sy hom moet optel, skielik net die klein seuntjie wat hy is in al die vreemdheid wat hy die afgelope maande deurgegaan het. Sy druk hom teen haar vas en sy lief hom meer as ooit.
Rhoda kyk na haar, skud haar kop en sê sag met trane van blydskap, “So perfek, alles so geweldig perfek.”
Zuluika kyk na haar en die effense verlorenheid is in haar oë, en Rhoda druk haar vir een oomblik teen haar vas, “Alles gaan regkom, alles is reg Zuluika.”
Zuluika kyk na haar, weet nie wat om in die stelling te lees nie, maar voel die gerustheid in haar.
Wanneer Zuluika omdraai om te help om hulle bagasie uit die viertrek te haal, sien sy Mitch en Andrew is al etlike meters weg met al hul bagasie op pad na haar huis anderkant die gras.
“Kom ons stap na jou huis, daardie twee gaan seker maak jy bly.”
Hulle stap in stilte saam oor die gras na die stil huis teen die rand van die berg, albei hou hulle oë weg van die huis langs die kerk. Rhoda omdat sy weet, Mauritz is nog nie terug van sy besoek aan die dorpie laer af teen die berg nie, en Zuluika omdat sy vrees Rhoda haar emosie sal sien.
Die twee jongmans wag vir hulle in die portaal en Zuluika beduie waar die bagasie heen moet gaan. Wanneer hulle terug in die sitkamer kom sit hulle die twee viooltasse op die eetkamertafel neer, en sy voel die welkom warmte van haar huis om haar, sy weet, ongeag wat gebeur, sy is sterk genoeg vir enige iets hier bo in die berge.
Rhoda skakel die kafeteria om twee geroosterde toebroodjies na Zuluika se huis te bring. Die opgewondenheid aan die anderkant van die lyn is duidelik hoorbaar, en Rhoda weet, die vreugde wat Zuluika se teenwoordigheid bring, is nou weer terug.
Rhoda trek haar aan die arm in die rigting van die studeerkamer wat sy nooit voorheen gebruik het nie. Wanneer sy die lig aanskakel sien sy die rekenaar met die gekoppelde drukker op die lessenaar, “En dit?”
“Sodat jy ook hier kan werk, of net boodskappe vir jou mense sal kan stuur. Die rekenaar is aan die internet gekoppel en jy sal deurgaans aanlyn wees. Daar is geen wagwoord op nie, dit kan jy self doen indien jy so voel.”
“Dankie Rhoda, baie dankie vir alles wat jy vir my beteken.”
Rhoda vat liggies aan haar wang, “Moet nooit jou waarde vir ons en die gemeenskap onderskat nie Zuluika, jy is so kosbaar,” en dit dwing Zuluika stil.
Wanneer die eienaar self die broodjies bring, druk hy Zuluika teen hom vas, “Ek is werklik bly om jou terug te sien Dokter, nou kan die musiek weer begin,” en sy woorde vind weerklank in Zuluika se gemoed.
Rhoda help haar koffie maak en bly by hulle totdat hulle, hulle broodjies geëet het, “Ons sien jou môre oggend by die hospitaal, nie te vroeg nie hoor,” en Zuluika beloof.
Wanneer sy Cordier in sy bedjie sit vra hy haar om ʼn bietjie by hom te lê, “Jy kan by Mamma kom slaap seun,” hy loer na haar, en met ʼn sekerheid, “Nee Mamma, ek weet jy is hier, ek is reg om in my eie kamer te slaap.”
Sy gaan lê langs hom en hy vryf haar hare oor haar voorkop, “Al die mense het Mamma lief,” en sy kyk na die klein mensie en sy druk hom teen haar vas, “Net so lief soos wat ek jou het, en hulle jou ook gaan kry.”
Sy bly by hom tot hy rustig slaap, en sy laat die bedliggie aan. Sy stap uit oor die grasperk tot onder die bome, daar waar hulle twee so baie gestaan het, en sy kyk na waar sy huis se lig nou brand, en die vrees is terug.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.