
Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 24
Hoofstuk 24 – Die Laaste Vergifnis
Mauritz staan vasgenael agter die kantgordyn, ‘daar is lig in haar huis’, en hy bid hardop, ‘Here laat dit sy wees asseblief’, hy hardloop die berghang af, en wanneer hy die stoeptrappe opspring voel hy haar teenwoordigheid aan. Hy draai om, kyk na die opening tussen die bome, en sy is daar, daar waar hy gedroom het sy sal wees.
“Zuluika, dit is regtig jy, jy het teruggekom?” Sê-vra hy onseker, te bang om sy oë te glo.
Sy tree uit die donker van die skadu, en hy weet nie hoe hy van die stoep afgekom het, of die meters na haar toe afgelê het nie. Hy trek haar teen hom vas, en hulle lê vir een oomblik woordeloos teen mekaar, en Mauritz voel hoe die trane onbeheersd oor sy wange loop.
Zuluika beleef alles gelyk, sy warmte, sy skeerroom se aroma, sy mond teen haar hare en al wat sy kan uiter is, “Wat van Maxi?”
Hy stoot haar effens weg, soen haar sag op haar voorkop, en met oë waaruit die trane stroom, kom dit sag, “Sy is gelukkig met haar Claus, sy het, soos ek, ʼn ander liefgekry.” Zuluika hoor die woorde en dit registreer stadig by haar.
“Ek het jou lief Zuluika Zuess, ek sal wag vir altyd, probeer net om my ook lief te kry, asseblief,” smeek hy, hier teen haar hare.
Die gevoel in Zuluika is die van totale vreugde wat besit neem van alles wat sy was, alles wat sy is, en alles wat sy sal wees. Sy voel hoe al die hoop van die afgelope maande oorgaan in ʼn werklikheid, hoe al die hartseer verlange uit haar gaan, hoe sy heel word.
Sy staan teen die sterk hart, voel dit opgewonde klop, kry die begeerte om net die oomblik te laat voortleef, om die verlede te laat waar dit is, maar sy weet, voordat hy of sy enige beloftes kan maak, moet die waarheid tussen hulle wees, en sy tree effens weg, “Voordat jy dit sê moet jy eers luister na my, moet jy weet wat in my verlede verkeerd is, dit wat tussen ons twee staan.”
Hy voel hoe alles in hom rebelleer teen die pyn wat sy beleef het, dit wat sy nou weer gaan beleef om te kan aangaan, en hy knik sy kop terwyl sy hart smeek dat hierdie bitter beker net verby kan gaan, hy weet hy moet haar die geleentheid gee om self dit te vertel wat haar so verlore laat lyk, maar hy weet, niks kan ooit tussen hulle staan nie, definitief nie die dood van die twee mense wat so wreed was nie.
Hy trek haar terug teen sy hart, voel die bewing in haar en praat sag teen haar voorkop, “Kom ons kom uit die koue, kom ons gaan sit in jou kombuis se warmte, drink koffie en praat oor alles wat ons glo tussen ons staan, asseblief?”
Hy hou haar teen hom vas wanneer hulle stap, voel haar warmte teen hom, hy voel die opwelling van nuwe trane, en hy laat dit oorloop, ‘sy is hier’, en dit is al wat tel, niks anders maak meer saak nie.
Sy mik na die ketel om dit aan te skakel, en hy voel die onwilligheid in hom om haar te laat gaan, maar hy laat haar gaan, die wete is in hom, ongeag waar hulle sal gaan, sy sal altyd terugkom na hom, en hy na haar.
Hy wil deurstap na die sitkamer, maar sy wink hom om by die kombuistafel te sit, sy weet, daar moet nou ʼn skeiding tussen hulle wees, want die passie wat sy voel, sien sy in Mauritz se oë.
Sy huiwer een oomblik, die vraag is in haar, ‘Waar moet sy begin?’ Sy weet, net eers dit wat tussen hulle twee staan, Rudolph se dood, haar onbesonne daad, en daarna, alles verder.
Sy vertel hom van Rudolph, haar liefde vir hom, sy ongelooflike talent, sy ongelooflike mooi karakter, die wonder van sy liefde, die moord deur die twee wrede mense, en haar boetedoening, “Ek het hulle drie dae later op die trappe van die Hooggeregshof doodgeskiet, en myself oorgegee. Ek is skuldig bevind en het lewenslank tronkstraf gekry. Met die Regering se amnestie welwillendheid om hul twintig jaar bewind te vier het ek amnestie gekry,” en sy is terug daar waar sy maande gelede was, en sy huil haar hart uit.
Hy voel die begeerte om op te staan, om die tafel te stap, haar in sy arms te neem, sy vinger op haar mond te sit sodat sy nie die hartseer verhaal hoef te vertel nie. Hy wil haar verseker dit maak nie saak nie, dit nooit tussen hulle sal staan nie, haar die hartseer spaar om dit alles weer te deurleef, maar hy weet, sy moet die lengte van die pad self stap, anders sal sy nooit heel wees nie, en hy hou haar hande vas, streel dit met sy vingers, en dwing homself om in stilte te wag vir haar.
Sy probeer die trane wat uit haar siel vloei onder beheer kry, en met die verlorenheid wat hy so baie maande gelede gesien het op haar gesig, “Wat ek gedoen het, was verkeerd, ongeag wat ons vandag weet van hul boosheid. Ek het vergifnis gegee, en ek het vergifnis gekry, ek kan weer in my Vader se huis ingaan en sy woord aanhoor, maar kan jy my vergewe, kan jy my liefhê, wetende wat ek gedoen het?”
Nou staan hy op, stap om die tafel, trek haar teen hom vas, weet hy wil haar teen hom voel wanneer hy haar die versekering gee, en hy huil saam met haar oor wat aan haar gedoen was, “My liefste, daar is niks wat ek moet vergewe nie, wat ek nie sal vergewe indien dit enigsins van my afgehang het nie, ons God het jou lankal vergewe, al die mense het dit lankal gedoen, net jou eie vergifnis is nodig vir jouself. Ek het jou onvoorwaardelik lief, niks wat gebeur het, of nog sal gebeur, gaan dit verander nie.”
Hulle bly teen mekaar se warmte staan, gee hulself die geleentheid om tot rus te kom. Hulle gaan sit weer oorkant mekaar, sy vertel hom van al die gebeure uit haar kleintyd, die hartseer, maar ook die liefde wat sy van almal ontvang het, en hy luister stilswyend, hy weet, hy sal haar aan die einde van vannag van hom en Joos vertel, want hulle moet sonder geheime die res van hulle saamwees ingaan.
Sy staan op, stap om die tafel en trek hom op om saam met haar te stap, sy weet sy wil langs Cordier staan wanneer sy die mensie se bestaan met hom deel.
Hy kyk na die klein prentjie perfekte seuntjie in die bedjie, maak sy oë toe en sien hom op die opname met die klein handjies die viool speel, en sy vreugde vir hierdie seuntjie in hulle lewens kom spontaan uit sy hart, “Liefste, naas jou is hy die mooiste, perfekste mensie wat ek ooit gesien het, dankie vir hierdie geskenk wat jy saamgebring het vir my, vir jou en vir ons almal.”
Hulle stap deur na die sitkamer, daar waar die twee viooltasse vir hulle wag, en sy vertel hom alles van Cordier, alles wat haar pa gesê het, dit wat hy vir haar beteken. Die respek in haar stem, die vreugde oor hierdie seuntjie se toevoeg tot haar lewe, laat Mauritz weer besef hoe ongelooflike edel mens sy is, hy kyk na haar en die liefde wat hy vir haar voel, is meer as wat hy ooit vir enige iets, of iemand tot hierdie dag gevoel het.
Sy vertel hom van haar moeder, en nou neem hy haar in sy arms terwyl hy haar sag soen en teen haar voorkop prewel, “Ek is so dankbaar sy leef, dat jy haar ontmoet het, en sy hier na ons sal kom. My begeerte is om haar hier by ons te hê, elke dag verder.”
Hy praat oor hom en Maxi, die besef wat tot hulle albei gekom het oor die afgelope maande, moontlik jare, hulle is maats, was altyd soos ʼn suster en ʼn broer, nooit die ekstase wat ware intieme liefde bring nie, dit wat sy gebring het nie. Die besef wat hulle met mekaar gedeel het, die verlowing wat hulle geval het omdat hulle ouers altyd gedink het hulle hoort bymekaar. Hy verseker haar van Maxi en haar Claus se geluk en liefde.
Hy stoot haar effens weg, kyk in haar oë en sê sag, “Wat ek nou wil sê, wil ek sê wanneer jy in my oë kyk. Zuluika Zuess, ek het jou ongelooflik lief. Jy bring ʼn passie in my wat ek nog nooit ondervind het nie. Jy begin my dag en jy dra my deur my nag. Jy raak my aan in plekke wat ek nie eers geweet het bestaan nie, en ek kan net heel wees met jou by my.”
Terwyl hy haar saggies op die voorkop soen sê hy die woorde wat sy so baie oor gewonder het, dit is die teenoorgestelde van wat sy kleintyd geglo het, en ʼn wonderlike versekering vir haar, “Jy moet weet liefste, my liefde vir jou sal nooit eindig nie, ek sal dit saam met my neem tot in ewigheid, tot anderkant die graf in my Vader se hiernamaals, soos ek glo dit ook met Rudolph is,” en haar geluk is volmaak.
Hy sak op sy knieë voor haar neer, haal die dosie met haar ring uit sy sak, daar waar dit teen sy hart gelê het, vanaf die dag toe Pierce dit vir hom gegee het. Hy maak dit oop, vat haar hand en sit dit op haar oop hand neer, “Zuluika Zuess, sal jy asseblief my lewensmaat word, sal jy asseblief vir ewig en ewig by my bly, want sonder jou is ek niks nie?” en sy probeer die trane wat uit sy oë loop vang met haar ander hand.
In hierdie een oomblik is Rudolph by haar, sien sy hom soos toe sy in die ver vergetelheid was, hoor sy dit wat hy gesê het, ‘Ek het jou bo alles lief, maar gaan terug na hom wat ook my liefde vir jou, vir my verder sal neem, tot aan die einde van jou lewe’. Sy druk die swart krulkop teen haar hart vas, en terwyl haar trane soos pêrels op sy hare val, kom dit sag maar seker, “Ja, vir ewig ja, want ook ek is niks sonder jou nie.”
Hy neem die ring uit die kissie, stoot dit stadig oor die slanke vinger, kyk op na haar en sê dit wat Rudolph lank gelede vir haar gesê het oor haar onpaar oogkleur, en sy is verwonderd daaroor,
‘Die swart opaal gaan die harmonie wat ons in ons toekoms saam wil hê, vir ons bewaar, die blou opaal sal genesing van ons siele bring, en saam sal die twee stene, soos ook jou oë, verseker dat ons liefde die vrede bring wat ons deur ons lewens wil hê’.
Sy neem Rudolph se ring wat aan die kettinkie om haar hals hang, neem Mauritz se hand en sit dit op die ring neer, “Ek wil hê jy moet weet liefste, Rudolph het in die ure wat ek tussen vergetelheid gehuiwer het, vir my hierdie woorde gesê, ‘Ek het jou bo alles lief, maar gaan terug na hom wat ook my liefde vir jou, vir my verder sal neem, tot aan die einde van jou lewe’.”
Hy neem die ring liggies tussen sy vingers, en terwyl hy haar op haar voorkop soen sê hy, “Ek het jou weggaan beleef daardie dag, en Rhoda het my gesê om vir jou te bid. In my gebede het ek ʼn warm gevoel op my hoof gekry, asof iemand my aanraak, en ek het geweet jy sal terugkom.”
Hy vat aan haar wang en sê net so sag, “Ek wil hê jy moet altyd Rudolph se ring dra, want ek wil sy liefde saam met my liefde, saamneem tot aan die einde van ons lewens,” en sy huil skaamteloos, en sy is gelukkig.
Wanneer hulle albei hul hartseer uitgehuil het, vra sy, “Vertel my van jou familie asseblief, ek weet niks van jou nie.”
Hy glimlag, trek sy oë, vat haar hand en draai haar ring effens in die rondte, en sê amper verskonend, “Ek het nie so ʼn uitsonderlike familie soos jy nie lief, ons is maar gewone mense.”
Sy buig vorentoe, en vir die eerste keer is dit sy wat hom spontaan op sy mond soen, met ʼn passie wat sy nie kan keer nie. Albei voel oombliklik die reaksie in hulle liggame, en wanneer hy haar teen hom vastrek sê sy baie sag teen sy oor, “Glad nie ‘gewoon’ vir my nie, definitief uitsonderlik en verfrissend.” Sy hoor hom lag teen haar hare en sy weet sy wil dit elke dag hoor.
Wanneer albei, nou effens skaam terugsit, trek hy sy oë vir haar en knik sy kop, “Al my familie leef nog, my oumas, my oupas, my moeder en vader, ʼn suster en twee broers, en ek is die oudste.”
Zuluika voel die vreugde in haar en haar kreet van geluk sê alles, “Dit is wonderlik liefste, nou het ek regtig ʼn familie en ook oumas en oupas.”
Hy lag, “My familie woon in Astoria, en my vader is ook ʼn predikant, my moeder ʼn onderwyseres, Pierre ʼn ambagsman, en Jean, my ander broer en Emily my sus, die tweeling, is nog albei op universiteit, fluit, fluit my storie is uit.”
Sy kyk verwonderd, maar met ʼn skud van haar kop na hom, “ʼn Tweeling, en nee, vertel nog asseblief.”
Hy lag nou hardop en trek sy oë op die manier wat haar raak waar sy weet niemand anders ooit geraak het nie, “Goed, ek het ooms en tannies, en nefies en niggies by dosyne,” en Zuluika weet sy is in so baie opsigte geseënd, was altyd, van die dag toe Louis Olivier haar in sy arms geneem het, “Uiteindelik het ek alles wat my hart begeer het, ʼn regte groot familie.”
Hy vertel haar staaltjies van sy familie, en Zuluika leer hulle ken, hulle name, hoe hulle lyk, waar hulle werk, en waar hulle bly, en sy is tevrede.
Hulle bly in haar sitkamer deur die nag, sy lêend teen sy bors, en hy met sy arms beskermend om haar, hulle beplan ʼn toekoms vir hulle hier in die nedersetting, en hulle is gelukkig. Hulle sluimer in en wanneer hulle wakker word sit Cordier op die mat voor hulle met ʼn frons op sy gesiggie, en sy lippies styf op mekaar gepers.
Zuluika sit regop, steek haar hande uit en wink Cordier met haar hande om na haar te kom. “Môre seun, het jy lekker geslaap?”
Hy staan op, en klim op haar skoot met oë wat nie een oomblik van Mauritz se gesig wegdraai nie, net ʼn klein seuntjie in sy twyfel.
“Hierdie is oom Mauritz seun.”
Hy knik sy koppie, “Hy het hare soos my hare, en Mamma se man wat dood is.”
Zuluika voel hoe sy haar asem intrek, “Maar dit is baie mooi Mamma.”
Sy maak haar oë toe, voel die trane oor haar wange rol, voel hoe die klein handjies, en Mauritz se groot hande saam dit probeer wegvee, en sy weet hulle drie gaan regkom.
Sy kyk na Mauritz, “Mauritz, hierdie is my seun Cordier.”
Mauritz staan op, steek sy hande uit, en Cordier steek sy arms spontaan uit om opgetel te word deur die groot man. “Hallo groot seun, ek is so bly jy is hier by ons.”
Wanneer hy in die onpaar ogies kyk flits die woorde onwillekeurig deur sy gedagtes, ‘So uniek, so ongelooflik kosbaar Here’.
“Kom ons gaan maak koffie, wat dink jy Cordier?”
Hy sit sy een armpie om Mauritz se nek, en steek sy ander handjie uit na Zuluika, “Kom saam Mamma.”
Hulle drink koffie en besluit om te stort en saam op te stap hospitaal toe om ontbyt in die kafeteria te gaan nuttig. Mauritz laat gaan Zuluika se hand met onwilligheid wanneer hulle by die deur staan, “Ek wil nie meer weg van jou wees nie.”
Sy glimlag, vat sag aan die dierbare gesig en sê gemaak opgewek, “Dan sal jy dringend ʼn verpleeg kwalifikasie moet kry liefste.”
Hy rol sy oë en sit sy hand op sy hart, “Ek dink daaraan,” hy soen haar lank en innig en albei voel die oombliklike opwelling in hulle.
Hy spring die stoeptrappe af, sê met ʼn oogtrek, “Jy raak my aan waar ek nog nooit geraak was nie liefling,” stuur ʼn soen in haar rigting, en stap op na sy huis.
Hy kom haal hulle, en hulle drie stap hand aan hand oor die gras na die hospitaal, die ontken van die gevoel tussen hulle, die wonder wat die mense sal sê, is weg, en die gevoel van geluk en vryheid wat dit hulle gee is wondersoet.
Met die instap in die hospitaal, wag die personeel vir hulle. Zuluika kyk na al die mense wie se liefde haar so versterk het maande gelede, en teen haar besluit om nie vandag te huil nie, loop die trane uit haar oë.
“Ek hoop dit is trane van geluk Zuluika,” en ou dokter Friedrich maak sy arms oop en sy stap spontaan daarin, en sy weet hier is waar sy wil wees.
Zuluika kyk oor sy skouer en dit is Rhoda met die studente, en Zuluika voel die vreugde in haar, “Julle is nog hier?”
“Ja, ons het vir Dokter gewag, ons gaan ons volle finale jaar hier by Dokter bly, indien dit reg is?” kom dit opgewek van Jeremy.
“Natuurlik is dit reg met my.”
Dokter Friedrich laat haar gaan, en wanneer sy omkyk is dit Cordier se fronsende gesiggie op Mauritz se arm wat haar laat lag, “Kan ek my seun aan julle voorstel asseblief,” en sy tree terug, vat sy hand in hare, “Almal ontmoet asseblief vir Cordier.”
ʼn Koor van stemme praat gelyk, ‘Hallo Cordier, ons is so bly om jou te ontmoet, jou hier by ons te hê’, en dit kom in ʼn baie dun stemmetjie, “Hallo.”
Sy vat Mauritz se hand en daar is ʼn spontane handeklap, “Uiteindelik,” sê Werner, “Geluk Mauritz, het jy uiteindelik wakker geword.”
Skielik is al die spanning weg, die wonder oor hoe hulle alles aan die mense sal verduidelik, en albei weet hulle sal openlik oor hul verhouding praat, hulle het niks om weg te steek of om skaam oor te wees nie, net hierdie wonderlike liefde wat tussen hulle is.
Met die deurstap na die eetsaal, vat hulle haar hande, hou dit vas, gee haar en Mauritz net goeie wense. Met die instap in die eetsaal besef Mauritz en Zuluika ontbyt is vir almal voorberei, en die erkentlikheid is in beide se dankie knik na Rhoda. Hulle weet, sy wil hulle geleentheid gee om as ʼn paartjie die begin van hulle ‘saamwees’, aan almal te kommunikeer.
Na ontbyt groet Rhoda voor sy saal toe gaan, en sê, terwyl sy Cordier se kuifie vryf, “Zuluika hierdie is sekerlik die mooiste kind wat ek ooit gesien het, baie geluk met so ʼn pragtige seun.”
“Dankie Rhoda,” en beide besef die oopmaak van Zuluika se verlede is onafwendbaar indien sy sonder enige skadu wil leef. Mauritz sien die effense wanhoop terug in die ongelooflike oë, hy vat haar hand en sê sag, “Ons sal daaroor praat lief, saam besluit hoe ons dit sal doen, gee jouself net eers geleentheid om tot rus te kom.”
Na ontbyt stap Mauritz en Cordier saam met haar na die spreekkamers en wanneer sy die naambord met haar naam op haar spreekkamer se deur sien, is sy aangedaan.
Hy trek haar teen hom vas, “Hulle het nie een oomblik getwyfel aan jou terugkoms nie liefste, ek was die een wat getwyfel het.”
Sy druk haar kop teen sy bors, “Ek is die een wat nie geglo het jy kan my liefhê nie, so ons is ewe liggelowig liefling.”
“Ek is so dankbaar jy het my verkeerd bewys,” en sy sê met ʼn stem wat effens hees is, “En jy vir my.”
Later die middag is dit Mauritz wat die onderwerp wat haar nog so vasdruk ophaal, “Het jy gedink hoe ons, ons mense hier sal inlaat in jou verlede?”
“Ek weet nie hoe om dit te doen nie, maar ek sal my moeder by my wil hê wanneer ons dit doen. Ek het haar saam met jou en Cordier langs my nodig.”
“Goed, dit is hoe dit sal wees. Moenie nou antwoord nie, maar oorweeg dit asseblief, sal jy dit saam met my in die huis van die Here te doen?”
Zuluika voel die skok, ‘Kan sy dit doen?’ Sy sluit haar oë, herroep die dag saam met vader Maurice op haar knieë voor haar God, sy weet sy kan, sy weet sy moet dit in Sy huis doen, daar waar sy haar vergifnis gekry het.
Hulle eet ʼn ligte aandete saam by haar tafel, en wanneer Cordier gaan lê neem Mauritz haar na die sitkamer en vertel haar alles rondom Joos se gesprekke met hom. Die berigte, die artikels wat Joos gestuur het, hy wys haar die pragtige opname van haar en Cordier se vioolspel, en sy oë pleit vir haar aanvaarding, en sy verseker hom, dit is reg met haar, en hy kom tot rus.
Hy hou haar teen sy hart in die maanlig voor hy opstap na sy huis, “Sal jy en Cordier môre middag by my in my huis kom eet, asseblief?”
Sy voel ʼn blydskap in haar, ‘Hierdie eerste opgaan na sy huis, geen struikelblokke, geen terughouding, sy en hy is vry om bymekaar te wees’.
Sy skakel haar moeder en die hoor van haar stem bring trane van verlange, “Wanneer vlieg Mamma?”
Die bevestiging bring ʼn diepe vreugde, “Ek land oor drie dae op John F. Kennedy, vanwaar ek reeds die aan-sluitingsvlug na Corvallis bespreek het. Ek is oor drie dae by jou my lief.”
Zuluika gee ʼn kreet van plesier, “Ons sal by die lughawe wees Mamma, ons sal vir jou wag.”
Die oordra van Mauritz se huweliksaansoek, en haar aanvaarding daarvan, bevestig Marcelle se wete, ‘Niemand in die wêreld sal nie haar kind kan liefkry nie’, en sy weet, sy sal Mauritz so liefhê soos haar eie kind.
Sy wil weet hoe dit met Cordier gaan, en die trane is in haar stem wanneer sy sê, “Ek mis julle twee ongelowig baie, ek wens ek was reeds by julle.”
Die oproepe na Laurie, Lize en haar skoonouers is met vreugde gevul. Met haar deel van Mauritz se huweliksaansoek en die unieke ring wat hy laat maak het, is almal dit eens, hulle wil betyds die troudatum weet, hulle kom almal Corvallis toe en hulle hoop daar is genoeg plek in die dorp vir almal, en sy verseker hulle, daar is.
Sy gaan sit, stuur vir Eckhard ʼn boodskap en vra hom om sy epos adres vir haar deur te stuur sodat sy vir hom ʼn boodskap vir haar pa kan deurstuur. Sy maak die rekenaar oop, skakel hom aan en lê die woorde en die boodskap vas wat ʼn kind vir haar pa sou stuur wanneer sy ver weg is van die huis. Sy vertel hom alles van Cordier se ondervindinge, hulle ondervindinge, en sy stuur hom die vergifnis van haar moeder.
Wanneer sy die ‘ping’ geluid van haar selfoon hoor, weet sy, dit is Eckhard se boodskap en sy maak dit oop, tik die epos adres in op die epos, en stuur die epos uit na hom.
Sy neem haar foon en stuur al die foto’s wat sy die afgelope weke van Cordier geneem het, deur na Eckhard, om ook dit vir haar pa te gee. Sy het haarself voorgeneem om weekliks ʼn boodskap deur te stuur sodat haar pa tred met sy seun se vordering sal hou, ongeag die verlede, geen ouer moet die vreugde van hulle kinders se lewens misloop nie, so ook geen kind die lewe van sy ouers nie. Sy sal nie dieselfde fout maak wat hy gemaak het nie, dit weet sy.
Zuluika stap vroegoggend saam met Cordier, wat ewe opgewonde is oor ‘Mamma se werk’, na die hospitaal. Sy het Rhoda en ou dokter Friedrich laat weet sy is gereed om kontrak te teken, en indien moontlik, wil sy dit graag vanoggend bespreek.
Sy laat Cordier in die eetsaal by Amanda Gardner wat na hom sal kyk terwyl Zuluika besig is. Amanda het ook gevra of Zuluika dit sal oorweeg om Cordier in die voorskoolse klassie in te skryf waar haar kleinding is, en Zuluika weet haar volgende gesprek sal met Darryl Gauche wees oor Cordier.
Sy het reeds die vorige dag so bietjie voelers uitgesteek oor hoe Cordier voel om skool toe te gaan. Hy was onmiddellik opgewonde en wou weet of hy nog meer musiek kan leer, en of hy kan begin om vir ʼn dokter te leer. Zuluika glimlag weer wanneer sy die opgewonde gesiggie en antwoord herroep.
Sy stap deur na die spreekkamers, en verskeie personeellede wag in die gang om haar te groet. Sy besef haar besoek vandag is definitief bekend gemaak, sy voel weer die geneentheid tot die mense, en veral Rhoda.
Hulle wag reeds in ou dokter Friedrich se spreekkamer en wanneer sy haar hand uitsteek om te groet, trek hy haar weer spontaan teen hom vas, “Welkom terug Zuluika, ek is regtig bly jy is terug waar jy behoort,” en die ‘behoort’ kom lê in haar.
“Dankie, ek ook, glo my.”
Sy groet Rhoda, en sy weet haar glimlag weerspieël haar waardering vir die vertroue wat hierdie kontrak bevestig.
Sodra hulle sit, stoot dokter Friedrich ʼn lêer na haar, “Hier is die nuwe kontrak, lees dit bietjie deur.”
Zuluika kyk verbaas na hulle, “Ek dog jy het my ʼn kontrak gegee voor ek gegaan het?”
“Dit was om seker te maak jy weet ons wag vir jou, hierdie is om seker te maak jy bly,” kom dit laggend.
Zuluika is ontsteld wanneer sy die gunstige terme lees. Sy kyk na die twee wat in afwagting sit, “Dit is te veel dink ek, ek sal vir ʼn heelwat laer salaris die pos neem.”
Albei lag verlig, “So jy gaan bly?”
“Natuurlik gaan ek bly, julle weet ek wil.”
“Ja, maar met al die ander aanbiedinge van die universiteit, sowel as die Rehabilitasie Sentrum was ons baie onrustig,” en hy rol sy oë gemaak hemelwaarts. Dit is Mauritz se gesig met die bekende rol van sy oë wanneer hy haar terg, wat in haar gedagtes is, en sy mis hom.
“Ek wil eers baie dankie sê omdat julle my toelaat om in die huis te woon voordat ek ʼn vaste kontrak geteken het. Jammer hieroor, maar kan ek asseblief eers oor twee weke voltyds begin werk, intussen sal ek uithelp indien daar nood is.”
Sy sien die vrae op hulle gesigte, sê die woorde wat sy nog soveel keer wil sê, “My moeder kom oor twee dae hier na my toe, sy gaan vir ʼn tyd, ek hoop vir altyd, hier by my kom woon.”
“Dit is wonderlike nuus Zuluika, natuurlik is dit reg,” en, terwyl sy nie weet waarom nie, sê sy dit terwyl die trane spontaan uit haar oë val, “Ek het my moeder vir die eerste keer drie weke gelede ontmoet.”
Die skok, ongeloof, en simpatie is op albei se gesigte, en dit is Rhoda wat haar hand vinnig neem en vashou, “Sal jy ons van haar vertel, vertel wat jou so hartseer en tegelykertyd so gelukkig maak.”
Sy weet sy kan hierdie mense en die gemeenskap met haar geheime vertrou, en haar moeder se geheim is die eerste wat sy wil deel. Die oomblik wanneer sy haar moeder se naam noem, is die opgewonde verbasing in albei se uitroep, “Marcelle Novel, die Deense pianiste!” en sy knik haar kop.
“Liewe Vader Zuluika, geen wonder jy is so talentvol en uniek nie,” Zuluika is stomgeslaan oor Friedrich se uitlating.
Dit is Rhoda wat dadelik sê, “Jy weet, jou moeder is definitief die grootste en talentvolste pianiste oor baie jare, sy is wêreldwyd bekend en geliefd. Haar besoek gaan opslae maak, hier, en in Corvallis, julle gaan oorval word met mense, en smekinge om haar te ontmoet, om nie eers te praat oor opvoerings nie.”
Zuluika voel die trots in haar, “Nog nie so daaraan gedink nie, maar ek besef, terwyl ek nie van haar bestaan bewus was nie, was sy so bekend, so geliefd.”
Sy herwin haar ewewig, “Ek, Mauritz en Cordier gaan môre af na Corvallis sodat ons haar op die lughawe kan ontmoet en deurbring hiernatoe.”
“Wel, maak geen reëlings vir die aand nie, ons, en ek bedoel, almal wat ons in die eetsaal kan inpas, gaan julle hier in die restaurant onthaal, so waarsku jou moeder asseblief betyds,” kom dit ernstig van Rhoda.
Zuluika glimlag, “Dankie Rhoda, dankie vir die inneem van my en my gesin.”
Dit is Friedrich wat haar in die rede val, “So van gesin gepraat, waarom is ons nie gewaarsku oor die pragtige seun nie?”
Zuluika maak haar oë toe, wonder hoe om dit te verduidelik sonder om aan haar kinderjare te vat, sy hoor Cordier se verduideliking, “Omdat sy my eers nou die dag gekry het’, en sy sê dit so.
“Hy is my halfbroer, en ek was nie bewus van sy bestaan tot ʼn paar maande gelede nie. Ek het sedert ek dertien was, my vader nie gesien nie, en Cordier is uit sy tweede huwelik gebore,” en vir een oomblik wonder sy of haar ma en pa ooit geskei was? Sy skud die gedagte af, dit maak nie meer saak nie.
“Dit kan amper nie wees nie, twee mense amper identies dieselfde, met die mees uitstaande eienskap, julle oogkleur, so uniek, so eenders. Iewers wou God seker maak Hy bewys ʼn punt,” kom dit van Friedrich, en Zuluika kry deur sy woorde weer die bevestiging van wat haar pa se antwoord was, maar sy weet dit maak ook nie meer saak nie, ook hy het erken, die imperfeksie is in werklikheid ʼn uniekheid, en dalk wou God net ʼn punt bewys, wie sal ooit weet.
Met die opstaan vra Friedrich, “Sal jy omgee indien ek vir Bernhardt en Jonathan Crosby van jou ma laat weet, dit is ʼn te groot voorreg wat ons gaan hê om hulle nie ook in te sluit nie.”
“Nee, dit is reg, miskien moet ons by die universiteit omgaan voor ons opkom, wat dink julle, dit sal hulle geleentheid gee om haar te ontmoet?”
Die ingenomenheid is openlik, “Asseblief, maar maak seker julle is betyds vir aandete terug.”
Mauritz, met Cordier op sy skouers, wag hulle in, “Uiteindelik, gedink julle gaan die heel dag vergader,” en die trek op sy gesig maak dit baie duidelik vir almal, hierdie mens is die een wat hy lief het, wat hy elke oomblik by hom wil hê, en die uitdrukking op Zuluika se gesig beaam dit.
Hulle lig Mauritz in oor die ete en die universiteitsbesoek, hy dink een oomblik, “Ek dink ons moet reeds vanmiddag afgaan Corvallis toe, net vir Bernhardt en Jonathan gaan groet en reëlings tref vir môre se besoek.” Met die vat van haar hand, “Jy moet dalk jou moeder inlig lief, haar vra of sy kans sal sien na die lang vlug.”
Die vat van haar hand, en die openlike ‘lief’ vat aan almal, en Zuluika voel die warm liefde in haar, “Ja, ek gaan haar definitief bel sodra ons tuis is, voor sy lughawe toe vertrek.”
Die foon het skaars gelui voor haar moeder se stem helder oor die lug kom, “Hallo my lief, dit is wonderlik om jou stem te hoor, is alles reg by julle?”
“Ja, alles reg en beter noudat ek Moeder se stem hoor, daar is iets spesiaals wat ek u wil vra?”
“Vra my lief.”
Zuluika vertel haar van die universiteitsbesoek, en die aandete, en sy is oorstelp, “Ja, my lief, ʼn honderd maal ja, enigiets solank jy en ons seun by my is.”
“Hulle gesels nog ʼn paar minute en Zuluika hoor Hercules se stem in die agtergrond, “Is Mamma op pad lughawe toe?”
“Ja, Hercules gaan saam vlieg tot op JFK, hy gaan sy familie besoek, en ek kom na julle toe.”
“Wat is Mamma se vlugnommer van JFK na Corvallis? Ek wil die vlug se landingstyd dophou wanneer ons by die lughawe is.”
Marcelle gee haar die besonderhede en in haar is die wonderlikste warm gevoel, ‘Ek sien my kind in een dag’, en sy voel die afwagting.
‘My gesin, ons gesin’, gaan die gedagte deur Zuluika, wanneer sy na Cordier en Mauritz kyk waar hulle saam by sy tafel in sy kombuis sit en middagete eet. Die sien van sy huis, die pragtige meubels, al die dinge so eie aan hom, is vir haar ontsettend kosbaar, sy weet, Mauritz is so uniek en wonderlik vir haar, soos wat Rudolph was.
Mauritz steek sy hand uit, vat haar hand vas wanneer hulle in die viertrek sit, gereed om te ry, hy knik, “Ons gesin is amper volledig lief, nog net by jou moeder haar seënwense kry vir ons huwelik.”
Sy woorde neem haar terug na die dag toe Rudolph oom Louis en oom Nate om haar hand gevra het, en die onthou lê warm in haar.
Bernhardt en Jonathan wag hulle in wanneer hulle die universiteitsgebou instap, en die openlike vreugde oor die weersiens, die feite oor haar moeder se identiteit, en veral oor Cordier, vat aan almal.
Hulle drink koffie in Bernhardt se kantoor, en hy en Jonathan kan nie ophou praat oor haar moeder en Cordier nie. Wanneer Cordier ewe kordaat vertel van, ‘hy en sy mamma se konsert in Pretoria’ en ‘die musiek saam met sy ouma’, is veral Jonathan oorstelp, “Julle weet wat ek bo alles begeer,” en hulle weet wat kom.
“Kan ons asseblief die maandeinde geselligheid in ʼn konsert met ʼn ete omskep?” Hulle kyk na hom maar geen een sê ʼn woord nie, “Asseblief, hierdie is een van die grootste gebeurtenisse in dekades vir ons.”
Sy voorstel word met ʼn kopknik van die ander drie aangehoor, en Mauritz sê, “Ja, miskien kan die kore van die kompetisie elk hulle een liedjie sing, ek en Zuluika ‘ons liedjie speel’, en natuurlik kan die drie wonderwerke ook ʼn liedjie of twee speel,” en hy draai sy oë, en lag gemaak.
Dit kom ewe kordaat van Cordier, “Nee ons vier liedjies,” en die volwassenes bars uit van die lag.
Daarmee is dit gereël en hulle besluit om die volgende dag wanneer Marcelle by is weer daaroor te gesels.
Met die opstaan vat Cordier spontaan Mauritz se broek aan die bobeen, en Mauritz buk af, tel hom op, en met ʼn swaai sit hy hom op sy skouers, “Kom groot seun, kom ons gaan losieshuis toe.”
Al wat Zuluika voel is net liefde, ‘Here hoe wonderlik het jy nie my weë gerig nie’.
Wanneer Mauritz later totsiens sê om na sy eie kamer te gaan, sê hy sag, “Probeer slaap liefste, ek weet hoe opgewonde jy is, maar jy sal jou krag môre nodig hê.”
Sy laat haar kop teen sy sterk bors rus, voel die woeling in haar liggaam, voel sy manlikheid se reaksie. Hulle staan stil in die omhelsing, wag tot hulle liggame tot rus kom, en wanneer hy haar saggies op die hare soen sê hy, “Soos ek reeds gesê het liefste, jy raak my aan op die mees sensitiewe plekke,” en hy tree terug, stap die gang af, net om, om te draai, ʼn soen na haar te stuur, en hulle is gelukkig.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.