Die vere maak nie die voël
Die vere maak nie die voël
Pa was ʼn pastoor, ek ʼn middelkind en die enigste dogter.
Pa het ʼn huisstem gehad maar wanneer hy Sondae op die preekstoel klim sou hy die Huilige Geus aanroep en elke sin met ʼn uitroepteken eindig. Sy hel en bliksemstraal preke het elke hoekie van die kerkgebou gevul terwyl ou tannies met styfgepermde hare en Crimpelene rokkies, hande saamgeklem voor die bors, aan sy lippe hang en saamstem met elke woord wat Pa sou predik.
Pa was streng en ek was ʼn rebel.
Op skool het die seuns draaie om my geloop – Pa se preke was verder as sy eie kerk se mure bekend. Vir die hel en swaelsuur wat oor hulle sou reën as hulle aan my raak was hulle heeltemal te bang. My eerste kêrel het ek op Onderwyskollege gekry.
Wynand se vag bruin krulle het tot in die middel van sy rug gehang, sy kuif windmakerig in ʼn krul gebrylcreem. Die peace sign tattoeërmerk op sy linkerskouer was sigbaar vir die hele wêreld, die moue van sy hemde altyd so half opgerol wanneer hy nie in ʼn help-my-sterk-lyk onderhempie rondgeloop het nie. Sy geel Ford Cortina se suspensie was gedrop, die uitlaatpyp en mags gechroom, die enjin opgejooz sodat sy brul drie blokke ver gehoor kon word. Hy het perfek by my rebelse pastoriedogterbeeld gepas.
Pa het amper ʼn koronêr geskiet toe ek Wynand die eerste keer by die huis aanbring. Hy het niks gesê toe die Cortina backfire toe ons voor die huis stop nie. Hy was stil toe die hele buurt se jong seuns om die kar saamdrom. Die “Hoezit my oom” is met ʼn kopknik beantwoord. Ek kon die wit kring om Pa se saamgepersde lippe sien toe die vredesteken uitbult terwyl Wynand Pa se hand skud. Die vulkaan het uitgebars toe die Cortina om die hoek brul aan die einde van ʼn baie ongemaklike uur.
“Wat dink jy doen jy? Wat moet die gemeente van my dink as jy met so ʼn tang hier aankom. Hoe gaan ek ooit weer op daardie preekstoel kan klim en preek oor die onsedelike gedrag van ons jeug as my dogter haarself skuldig maak aan presies dit waarteen ek preek? Het jy die duiwelsteken op sy arm gesien? Weet jy wat dit beteken? Was Rodney Seale nie net verlede jaar by die kerk om aan julle uit te wys wat die betekenis is van daardie onheilsdinge nie? Ek verbied jou om enige iets verder met daardie Satanskind te doen te hê!” Pa was woedend, siedend kwaad. Skuimbolle om die mond kwaad. Ma het mooigepraat, die boeties het gedreig … ek sou van Wynand moes afsien. Pa se woord was wet – ek gehoorsaam of hy onterf my daar en dan.
In ʼn poging om my tot gehoorsaamheid en ʼn beter lewe te bekeer het Pa vir my ʼn afspraak gereël met die kerk se voorsanger se seun. Frikkie wat eintlik Frik moes wees want Frikkie was groot. Groot van aansien, groot van stem en volgens Pa, groot in geloof. Frikkie sou met trane wat oor sy wange rol, snotstrepe uit die neus en hande omhoog halleluja wanneer Pa ‘preuk’ oor die ‘onhuile’ wat soos ʼn leeu in die nag lê en wag om die jeug te verslind. Frikkie was Pa se droomskoonseun. Ma het begin troue beplan en baba booties brei. Die gemeente het ʼn dankseggingsdiens gehou – Pastoor se wilde dogter het haarself bekeer.
Ek is toe nie met Frikkie getroud nie. Pa se wet kon my net tot op my 21ste verjaarsdag beheer. Ek het maar my rebelsheid by die koshuis gelos wanneer ek naweke en vakansies huis toe is, my koekerige klere uitgehaal en aangetrek en sedig saam met Ma in die voorste kerkbank gesit. Pa het my beloon met ʼn karretjie, ʼn geel Volla sonder gechroomde wiele. Ek het my onderwysdiploma met onderskeiding geslaag en ʼn pos baie ver van die huis af gekry, by ʼn skool wat my en my boheemse kleresmaak aanvaar het.
Van Wynand kon ek nooit vergeet nie. In die paar kort maandjies wat ek en hy saam was het ek die mens agter die uiterlike gesien. Die klein seuntjie wat eintlik maar net liefde gesoek het. Die hippie wat homself voorgeneem het dat hy nooit ʼn dronklap soos sy pa sou word nie. Die jong man met ambisie.
Jare later sou ek hom op Facebook gaan opsoek. Dr Wynand Vosloo, hoof uitvoerende beampte van een van die land se grootste staalmaatskappye, netjies geklee in ʼn pak klere, sy hare steeds net daardie tikkie te lank. Ek het deur sy foto album geblaai. ʼn Willis Jeep in die garage langs ʼn bekende geel Cortina. ʼn Mooi versorgde huis in een van die armer woonbuurte in Pretoria. Twee blondkop dogtertjies op hulle ma se skoot, “Rykdom is nie geld nie. Rykdom is mense wat jou aanvaar vir wie jy is” in vetgedrukte letters onder die foto.
En Frikkie? Ma sê hy het in ‘onhuiligheude’ verval. Suip blykbaar soos ʼn vis.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2021 – Metaforiese projek