Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 25
Hoofstuk 25 – Die Som van Liefde
Die wag op die lughawe met haar hand in die van Mauritz, en Cordier wat op sy skoot sit, is vandag gestroop van enige vrees, net gevul met ʼn wonderlike vooruitsig om haar moeder te sien, haar warm liefde teen haar te voel, en in daardie pragtige oë te kyk.
Die verskyn van die kennisgewing wat die passasiers se ontruiming van die vliegtuig aankondig, bring die gevoel van ‘onwagbaarheid’ wat oom Louis altyd aan die jeug gekoppel het, in haar, en Mauritz sien dit.
Hy neem haar hand, “Kom ons stap nader na die deure, ons sal haar moontlik deur die glasafskorting sien.”
Die sien van haar moeder met al die opgewonde medereisigers om haar, bring haar gemoed tot rus, ‘Sy is hier’, en dit is al wat nou saak maak.
Met die glasdeur se oopskuif, sien Cordier haar, en hy skree bo die lawaai van die vertrek dit uit, “Ouma!” en hy waai sy armpies verbete vir haar.
Marcelle hoor die stemmetjie, kyk in die stem se rigting, sien haar kind, en dit is al wat tel. Sy vra verskoning, maak haarself los van die groep, versnel haar pas en maak haar arms oop. Zuluika loop in die omhelsing in, die gevoel soos wat sy as ʼn klein dogtertjie sou gevoel het wanneer haar mamma terugkom, en dit is ʼn heerlike gevoel.
Hulle hou vas aan die omhelsing, die prewel van die woorde wat hulle een maak, en Cordier wat aan ‘sy ouma’ se jas pluk, en in ʼn verontwaardige toon sê, ‘Ouma, ek is ook hier, ek wil ook ʼn soentjie hê.”
Marcelle los haar kind vir een oomblik, buk, tel Cordier op, en soen hom regoor sy gesiggie.
Mauritz weet hy moet die spanning verlig vir Zuluika se onthalwe, en hy sê ook in ʼn ewe verontwaardige stem, “Moeder van die een wat ek geweldig lief het, ek is ook hier, ek wil ook ʼn soentjie hê.”
Almal bars uit van die lag, en Marcelle steek haar hande uit na hom, “Kom hier die een wat my hart, se hart, besit, sodat ek jou ʼn soentjie kan gee,” en Mauritz voel ʼn warm toegeneentheid tot die pragmens, hy weet, sy gesin is nou volmaak.
Die rit na die universiteit is gevul met al die wonderlike gedagtes waaroor Zuluika en Marcelle net gedroom het deur die jare, moeder en dogter styf langs mekaar met hul hande ineengestrengel. Cordier wat elke nou en dan oor die sitplekleuning loer, voor by Mauritz, en die gesels rondom al die dinge wat hul lewens volmaak maak.
Marcelle is openlik geraak deur die moontlikheid om saam met ‘haar kinders’, ʼn optrede te doen by die universiteit, die droom wat sy koester sedert hulle ‘saam speel’, in haar suite.
Mauritz skakel Jonathan en bevestig waar hulle is, en Jonathan se vreugde kreet kom luid oor die foon.
Die stilhou by die universiteit versterk weer die respek wat Zuluika vir die mense gekry het, tientalle studente en personeel wag voor die ingang vir hulle, en wanneer Mauritz die voertuig tot stilstand bring is dit Jonathan wat self die deur oopmaak.
Zuluika kyk van haar moeder na die skare, die openlike bewondering wat hulle gesigte weerspieël, lig haar tot daar waar sy nie in jare was nie, en sy besef watter geweldige geskenk sy gekry het in ʼn moeder soos die.
Jonathan neem hulle deur na ʼn konferensie kamer aangesien die studente onverbiddelik is, ‘Hulle gaan saam by Marcelle bly tot sy vertrek’. Zuluika luister na die grepe uit haar moeder se opvoerings wat opgehaal word, en sy voel die verlies omdat sy haar ma se hele lewe gemis het, eers deur onkunde, en toe deur haar eie optrede. Sy weet, van hier af sal sy elke dag alles weet van die mens wat haar kom heelmaak het.
Teen die tyd dat hulle vertrek na die saagmeule, is alles bepreek en bevestig, die maandeinde geselligheid sal deur ʼn konsert met ʼn buffetete vervang word. Die opbrengs van die konsert sal aan een van die universiteit se vele ondersteuningsprogramme gaan.
Marcelle druk Zuluika se hand, “Ek sien uit na die geleentheid om met jou en ons seun op te tree, dit is ʼn droom wat waar word vir my,” en Zuluika beaam dit met die druk van haar ma se hand.
Die ontvangs by die dorp laat Zuluika oorbluf, die vreugde van die mense om haar moeder te ontmoet, haar hand te skud, haar mooi stem te hoor, gaan alles wat sy tot nou ondervind het van die populariteit van ikone te bowe.
Die aandete is ʼn wonderlike byeenkoms, haar moeder word oorval deur belangstellendes en Zuluika bewonder haar vir die gemaklike en vriendelike manier waarop sy al die aandag hanteer, elke persoon spesiaal laat voel, en sy weet dit is nie net al die jare se blootstelling nie, haar moeder het soveel inbors, soveel liefde vir ander, en sy is so trots op haar.
Mauritz dra Cordier, trek sy skoentjies uit, sit hom in die bed en die teerheid van sy optrede bring die gerustheid in die twee vroue, ongeag wat die toekoms bring, Mauritz sal daar vir hulle gesin wees.
Hulle drie stap deur na die kombuis, maak ʼn laaste koppie koffie om saam te drink, en stap deur na die sitkamer.
Wanneer die twee vroue langs mekaar op die sofa sit, sak Mauritz op sy knieë voor hulle. Hy neem albei se hande in syne, kyk van Zuluika na Marcelle, “Marcelle, Zuluika het reeds ja gesê om my lewensmaat te word, maar ek vra jou ook nou om haar hand, kan ek asseblief met jou dogter trou, sal jy ons jou seën gee op ʼn verbintenis wat net die dood sal verbreek?”
Marcelle se trane loop spontaan oor haar wange, sy vat Zuluika se hand met haar hand vas, en met die drie hande ineengestrengel gee sy haar seënwense aan hulle, en al wat deur haar gedagtes gaan is, ‘Here dankie dat U my heelgemaak het, dankie dat ek hierdie gebeurtenis met my kind kan beleef’.
Mauritz sien die emosie in die blou oë, hy besef hoe kosbaar hierdie dinge vir die mens moet wees, en hy voel jammer vir dit wat sy gemis het, “Dankie dat jy my met jou kosbaarste skatte vertrou.”
Hy weet hy moet die hartseer verlig, trek groot oë, en sê gemaak bekommerd, “Nou nog net Cordier se ‘ja-woord’, kry voor ons reg is om saam as ʼn gesin te beplan en te begin.”
Die twee vroue lag helder, “Ja, Cordier mag dalk ander planne hê, maar dit is iets wat tussen julle twee mans uitgepraat moet word,” sê Marcelle ook gemaak ernstig.
Die volgende oggend terwyl hulle vier saam in die kombuis koffie en ontbyt maak, trek Mauritz groot oë en wink die twee vroue met sy kop die kombuis uit. Hulle trek oë terug, hulle weet, dit is nou tyd vir die ‘iets wat tussen julle twee mans uitgepraat moet word’, en hulle stap uit die kombuis met die verskoning om die tafel in die eetkamer te gaan gereed kry.
Marcelle en Zuluika bly net buite die kombuisdeur uitsig, hulle wil definitief hierdie gesprek hoor.
Mauritz voel die senuweeagtigheid in hom, wil amper vir homself lag daaroor, maar hy weet, hierdie knapie se aanvaar van hom is baie belangrik vir die res van hulle almal se lewens, en soos Zuluika wil hy hê Cordier moet weet, sy mening is belangrik vir hulle almal.
“Cordier.”
Hy kyk op met die pragtige onmaats oë, en vra met ʼn frons op sy voorkop, “Ja oom Mauritz?”
“Ek wil met jou mamma trou, ek wil saam met julle in een huis woon.”
Die mannetjie vernou sy oë, trek sy mondjie op ʼn skewe plooi, “Het oom Mauritz dit al vir Mamma gesê?”
“Ja, ek het haar gevra.”
“Wat het sy gesê?”
“Sy het ja gesê.”
Hy frommel sy neusie, en trek sy mondjie meer op ʼn tuit, “Dan dink ek dit is reg, jy moet net ook vir Ouma vra, want sy is Mamma se mamma.”
Mauritz raap die mannetjie op, gee hom ʼn drukkie en swaai hom deur die lug, “Dankie seun, baie dankie, jou ouma het ook ja gesê. Jy weet dit beteken ek kan jou tweede pappa wees as dit ook reg is met jou, wat dink jy?”
Die plesier is terug op Cordier se gesiggie, “Ek sal baie daarvan hou, want my pappa gaan nie hiernatoe kom om my pappa te wees nie, maar nou het ek nog ʼn pappa. Ons moet hom ook net laat weet sodat hy nie meer bekommerd sal wees oor my en Mamma nie.”
Mauritz en die twee vroue voel die trane opstoot, ‘So klein, en so opreg en eerlik’.
“Ons twee sal dit saam doen, ons sal hom bel en met hom dit uitpraat.”
Cordier knik sy kop, “Kom ons gaan vertel vir Mamma en Ouma, hulle hoef nie meer bang te wees en te huil nie, want jy gaan na ons kyk.”
Die drie volwassenes hoor die woorde, hulle besef, selfs trane van vreugde ontstel hierdie sensitiewe mannetjie, hulle weet, hulle moet definitief let op hul optrede voor hom.
Zuluika herroep Gerhard se woorde, ‘Ek het ʼn groot man sien huil, ʼn duisend maal sien huil’, sy besef, Cordier se lewe tot hier was belaai met trane, en sy neem haar voor, tot hier met die gehuil, nou moet sy haarself regruk en selfs haar vreugde sonder trane wys.
Wanneer Mauritz met Cordier instap waar die twee vroue nou ewe bedeesd wag, steek hy sy duim in die lug, gaan staan voor Zuluika en sê, “Dit is ʼn ‘ja’ van Cordier, al wat nou oorbly is die datum, moet my asseblief nie te lank laat wag nie, ek wil nie meer saans wegstap van julle af nie.”
Zuluika bevestig die tyd in Suid Afrika, en skakel Eckhard. Sy stel hom voor aan Mauritz, en Mauritz neem die foon en rig sy versoek om die reël van ʼn oproep met Zuluika se pa. Hy vertel hom waaroor dit gaan, en Eckhard is openlik aangedaan, “Ek reël dit vir enige dag en tyd wat jy reg is.”
“So gou moontlik asseblief, indien dit môre kan wees nog beter, ek glo Cordier sal volkome gelukkig wees wanneer hy seker is dit is reg met sy ‘pappa’.”
Eckhard onderneem om die oproep vir die volgende dag ongeveer tienuur in die oggend Corvallis tyd te reël.
Na die oproep besluit hulle drie saam, Mauritz sal na die Sondagdiens Zuluika se verhaal vanaf Rudolph se moord aan die gemeente bekend maak. Zuluika voel die vrees, maar meer die verligting, sy weet, wanneer alles openbaar gemaak is, wanneer sy nie meer in ʼn leuen hoef te leef saam met hierdie wonderlike mense nie, sal sy ʼn datum vir haar troudag kan bepaal.
Die volgende oggend sodra Mauritz vir Cordier sê sy pappa se oproep gaan ʼn bietjie later wees, vat hy sy viool en staan by Mauritz terwyl hy oefen, “Ek gaan vir my pappa een liedjie op die foon speel,” en Zuluika voel sy hartseer, weet, hy het sy pappa lief, en die skeiding is nog rou en seer in hom is. Sy weet, een of ander tyd sal hulle gereeld na Suid Afrika met hom reis om sy pappa te sien.
Mauritz kyk na die klein handjies wat die viool vashou, hoor die ongelooflike musiek wat die mannetjie maak, sien hom soos in die video, en hy weet, soveel talent het bitter min mense in die wêreld, en hy is ongelooflik dankbaar vir hierdie outjie in sy lewe.
Marcelle en Zuluika sit woordeloos en luister na die gesprek tussen Mauritz en Ziegfried Cordier. Die respek waarmee Mauritz praat, ongeag die wete waardeur Zuluika gegaan het as kind onder die dak van die mens aan die anderkant van die lyn, hy weet die persoon wat met hom praat, het reeds soveel keer tot daar in die verlede en die toekoms in sy smart gegaan, en hy glo ook dit was genoeg.
Ziegfried Cordier stort sy trane, bedank Mauritz vir die liefde vir sy kinders, en gee sy seën op die huwelik. Sy laaste woorde dra sy twyfel oor sy vryheid oor, “Indien dit reg is met Cordier, en met jou en Zuluika, sal dit my seën wegdra indien jy hom aanneem as jou eie, en hom jou naam gee.”
Zuluika neem die foon, groet haar pa en gesels met hom soos ʼn dogter sal doen wanneer sy haar ouers bel, en sy voel die rus in haar.
Cordier gesels met sy pappa, speel sy liedjie en troos sy pappa wat bitterlik huil, “Oom Mauritz gaan na ons almal kyk, Pappa kan ophou huil.”
Wanneer Marcelle die foon neem, stort Ziegfried Cordier ineen, hoor hulle sy smeking om vergifnis, sy boetedoening oor wat alles vergiftig het, en sy vergewe hom, en ook haar vergifnis is skielik volbring.
Dit neem hulle as gesin tot die volgende dag om die hartseer van die gesprek met Ziegfried Cordier te verwerk, maar hulle voel die vryheid wat vergewing bring, en dit is al wat tel.
Die deel van die pyn van Zuluika se verlede in die huis van die Here, slaan die gemeentelede plat, huil hulle openlik, omring hulle haar wanneer die diens verby is, lig hulle haar in dat sommige van hulle reeds vroeër in die media die ontsettende hartseer feite gelees het, en Zuluika en Marcelle weet, hulle is waar God wou hê hulle moet wees, by mense wat in liefde leef.
Die studente kom gesels met haar wanneer almal na die diens in die hospitaal kafeteria tee en koffie geniet. Hulle is opgewonde oor die komende konsert waarvan Jonathan al die groepe oor ingelig het, en is verstom wanneer hulle besef haar moeder is Marcelle Novel. Zuluika voel weer die verlies wanneer sy besef hoeveel hierdie jongmans van haar moeder weet, terwyl sy geen kennis van haar moeder se loopbaan het nie.
D’Artnel dui aan sy ouers gaan by die konsert wees, en vra nederig of hy hulle asseblief aan Marcelle kan voorstel, en Marcelle bevestig haar ingenomenheid dadelik.
Zuluika kyk na die jong man, besef hoe baie hy gegroei het in sy selfvertroue sedert die dag wat hy getwyfel het aan sy eie vermoeë, en sy voel tog of haar, ‘hier wees’, ʼn bydrae gemaak het tot sy lewe.
Zuluika beleef weer God se werking wanneer Hugo en Margret Grant met die drieling by hulle tafel aandoen. Hugo is ʼn totaal veranderde mens van die man wat sy met hul eerste ontmoeting gesien het. Hy trek vir hom en Margret stoele nader en sit aan by hulle tafel, wys trots sy drie dogters vir Zuluika en Marcelle, “Ons wil oor twee weke ons dogters doop, sal Dokter asseblief ook in die kerk wees om die seën van ons dogters by te woon,” en die woorde wat Zuluika amper weer in trane laat uitbars, “Ons oudste dogter noem ons Zuluika, na Dokter, ek hoop dit is reg met u?” en dit is reg met haar, en sy sê dankie vir die voorreg.
Cordier is absoluut verstom oor die klein babatjies, en eie aan sy uitgesprokenheid sê hy hard sodat almal in die nabyheid dit hoor en uitbars van die lag, “Gaan ons ook sulke babatjies kry as Mamma hulle getroud is?”
Zuluika voel hoe haar gesig warm word, en wanneer sy in Mauritz se rigting kyk, is daar geen skaamte nie, net sy hand op sy hart soos in ʼn gebed, en sy sê ja, hulle gaan.
Sy opgewonde uitroep, “Wanneer?” laat almal skater van die lag. “Ons moet eers trou seun,” kom dit laggend van Mauritz, en in ʼn verontwaardige stemmetjie, “Wanneer trou julle dan?”
“Dit gaan ons nog in hierdie week besluit, ek beloof.” Daarmee is hy tevrede en draf na waar Amanda Gardner se kleinding vir hom wuif vanaf die speel area.
Hugo vat haar hande vas tussen sy groot hande, en hy bedank haar weer vir die lewens wat sy vir hom behou het, vir die impak van haar daad op sy lewe, daardie onbaatsugtige optrede wat hom laat besef het wat waarde het, en dit wat geen waarde het nie.
Die troudatum word nie vasgemaak nie, te veel mense wat hulle graag by hulle wil hê op die besondere dag, wat hul eers moet inlig, en seker maak dit pas hulle ook.
Hulle besluit om die week elke aand in die kafeteria te oefen vir die konsert wat aan die einde van die week sal plaasvind, en die kafeteria is elke aand stampvol besoekers wat kom luister. Die geleentheid om Marcelle hier by hulle te hê, en haar musiek te beleef, bring nie net ʼn opgewondenheid nie, maar smee hulle saam as ʼn gemeenskap.
Meeste persone bevestig hulle voorneme om wel die konsert by die universiteit by te woon, en Zuluika weet, hierdie gemeenskap sal altyd daar wees vir haar en haar gesin.
Deur die week is daar voortdurend persone wat hulle by die huis besoek, en Zuluika besef weer watter unieke mens haar moeder is.
Marcelle beleef die een element wat by haar lewe gevoeg is vandat sy haar dogter gevind het, liefde soos wat sy nooit geweet het bestaan nie, sy vir haar kind, Zuluika vir haar, Mauritz en Cordier se liefde, en die gemeenskap vir hulle almal. Sy is tevrede om net hier in die warmte van haar kind se liefde te baai, geen begeerte om deur die wêreld te toer of om gehore te vermaak nie, net die liefde wat sy hier het, weet sy.
Die rit af teen die berg na Corvallis is in lag en gesels gebaai, die hartseer is weg, die kommer oor wie, wat van haar sal uitvind, is nie meer deel van haar gedagte gang nie, die wete is in haar, sy het alles wat sy ooit begeer het gekry, ʼn moeder wat haar lief het, ʼn man soos Mauritz, klein Cordier, hierdie gemeenskap, hulle daar ver in Suid Afrika, en die wondersoete onthou van Rudolph wat haar lank gelede so liefgehad het, en daar is amper nie genoeg plek in haar vir al die liefde nie.
Die oomblik wanneer die voertuig voor die universiteit stilhou, weet almal, die besoek van Marcelle Novel en die konsert is wyd bekend. Daar is honderde mense wat voor die gebou wag.
Zuluika vat haar moeder se hand en die kommer is in haar oë, “Wat ʼn ontvangs, is Mamma reg hiervoor?”
Sy glimlag, druk Zuluika se hand en sê laggend, “Was altyd, en nou met julle by my, is dit een van die grootste voorregte wat ek ooit gehad het, om my kinders aan die wêreld voor te stel, ek is reg, maar is jy reg hiervoor liefste?”
Die betekenis van haar woorde is ʼn wonderlike gerusstelling vir Zuluika, sy oorweeg haar antwoord, en met ʼn glimlag en ʼn sekerheid, “Al is ek nie Moeder, ek sal regkom, want ek wil elke oomblik by u wees,” en hulle beker loop oor.
Alhoewel meeste van die passasiers in gastehuise tuis sal gaan, is almal gereed om eers uit die bus te klim, weet hulle hoe belangrik vandag en al die volgende dae vir Zuluika en Mauritz as ʼn gesin, maar ook vir hierdie Universiteit en gemeenskap sal wees.
Bernhardt en Jonathan staan gereed by die deur van die voertuig, en albei steek hande uit om Marcelle uit te help. Zuluika sien die trots op beide gesigte wanneer hulle opkyk na haar, Mauritz en Cordier.
Wanneer Jonathan die vraag op Zuluika se gesig sien, kom dit effens verskonend, “Ons het julle koms vanmiddag genoem, en dit het soos ʼn veldbrand versprei.”
Sy skud haar kop, “Alles reg, ons is almal in hierdie ding.”
Die toeloop van mense is sonder ophou, en Zuluika voel die trane in haar opstoot van trots, en sy hoor teen haar hare, “Dit is reg lief, jy kan maar ʼn paar trane stort, ek voel ook so. Ons is so verskriklik geseënd om haar by ons te hê.”
Na amper ʼn uur staan Jonathan op en spreek die persone toe, “Dankie almal vir julle verwelkoming, maar ek dink ons moet ons eregas nou eers laat gaan, anders gaan sy te gedaan wees om die opvoering te gee.”
Zuluika sien Jonathan met haar moeder praat, en opkyk na die skare, “Marcelle beloof om na die konserte weer handtekeninge uit te deel.”
Dit kom gelyk van Zuluika en Mauritz, “Konserte?”
Marcelle kom laggend aangestap, “Ja, die vertoning vir vanaand is uitverkoop, en daar is tweekeer soveel mense wat gepleit het vir ʼn geleentheid, so, ek is bereid om môreaand ook op te tree, indien jy, Cordier en die groepe kans sien.”
Zuluika weet sy wil dit doen, net die wonderlike samesyn met haar moeder, in haar moeder se wêreld uitrek, want dit is wat sy bo alles begeer, en sy knik instemmend, “Ons is in.”
Dit is Jonathan wat handeklap, “Dankie Zuluika, jy het geen idee hoeveel oproepe en besoeke ons die afgelope week gekry het nie. Die mense is uit hulle velle, besef jy daar is geen kans in die wêreld dat jou moeder ooit Corvallis sou besoek nie, en nou bring jy haar na ons, soos al die ander wonderlike dinge wat jy reeds gebring het.”
Nou skiet Zuluika se oë vol trane, en terwyl Mauritz haar stywer vasdruk, stap Marcelle vorentoe en gee haar dogter ʼn soen, en die skare juig hulle vreugde uit oor die daad.
Jonathan smeek, “Asseblief laat my toe om julle met my motor na die gastehuis te neem.”
Zuluika kyk van haar moeder na Mitch wat op die voertuig se trappie sit en wag, “Hy steek sy duim in die lug, en haar moeder wag vir haar bevestiging, “Reg met my, wat dink Mamma en Mauritz?” Dit kom in ʼn ongeduldige stemmetjie, “En ek.”
Mauritz raap Cordier op, swaai hom in die rondte, en sê laggend, “En ons seun.”
Hy sê ewe kordaat, “Dit is reg,” en hulle skater van die lag.
Mauritz trek groot oë wanneer Jonathan sonder om te vra, haar moeder voor langs hom in die motor inhelp, maar hy maak tog verleë verskoning, “Hierdie geleentheid sal ek nooit weer kry nie, so verskoon my optrede asseblief, maar net een keer wil ek langs so ʼn wonderlike en begaafde persoon in my motor sit.”
Hulle skud net hulle koppe en Zuluika sien hoe haar moeder bloos, en sy geniet elke oomblik daarvan.
Voor die gastehuis sê Jonathan, en Zuluika sien sy erns, “Ek laai julle weer op, hoe laat sal julle gereed wees?”
Dit is Mauritz wat die besluit neem, “Die konsert begin om vyfuur, so ek dink so halfvier, om die musikante geleentheid te gee om op hulle tyd gereed te maak.”
“Gereël,” sê Jonathan terwyl hy vinnig uitspring en om die motor draf om vir Marcelle die deur oop te maak.
By die gastehuis se ontvangs wag ʼn klein skare mense hulle in. Hulle besef, hierdie is werklik ʼn groot geleentheid, en Zuluika weet, indien daar ooit in haar jeug die geleentheid was om hierdie wonderlike musikant te ontmoet, sy sekerlik ook tot alle lengtes sou gegaan het om dit te bewaarheid, en sy gun almal die geleentheid.
Sy en haar moeder deel ʼn eenheid, en Mauritz en Cordier die eenheid langs hulle wat met ʼn binnedeur aan hulle eenheid gekoppel is. Hulle is almal openlik in hulle skik, en die emosie op Mauritz se gesig gee Zuluika die warm gevoel wat sy liefde bring, “Ek het gehoop vir ʼn familie eenheid sodat ek en Cordier by julle kan wees,” en die twee vroue lag oor die plesier op sy gesig.
Met elk ʼn koppie koffie in die gemeenskaplike sitkamer, sê haar moeder, “Ek het ingestem vir die opname van beide konserte vir verkope vir verdere fonds insameling, is dit reg met julle?”
Die mans knik koppe en die liefde op Zuluika se gesig sê alles, Marcelle stap vorentoe en trek haar kind teen haar vas, “Ek was bietjie selfsugtig in my besluit want ek wil ʼn opname van ons eerste openbare optrede saam hê. Ek wil enige tyd wanneer ek na jou verlang dit hê om jou weer en weer te sien.”
“Presies my doel met die instemming.”
“Ek is bly jy voel so, weet net, jy is die grootste seëning en skat wat enige moeder ooit kan kry, ek was van die eerste oomblik wat ek geweet het ek is swanger lief vir jou, en my liefde sal nooit eindig nie, ek sal dit saam met my die hiernamaals inneem,” en die woorde bring ʼn derde keer die antwoord wat so verskil van dit wat sy in haar kleintyd gedink het.
Jonathan se gesigsuitdrukking wanneer hy haar moeder sien, spreek boekdele, en Mauritz trek sy oë glimlaggend vir Zuluika, en sy kyk weer na haar moeder, sy weet haar moeder is die pragtigste mens ooit vir haar.
Die studente is onmiddellik by hulle wanneer hulle stilhou, en hulle opgewondenheid tref Zuluika, “Wat maak julle so opgewonde?”
Andrew antwoord opgewonde, “Hulle gaan ʼn opname van die konsert maak, en ons gaan op televisie wees.”
Dit is Zuluika wat nou groot-oog trek, “Regtig, die opname weet ons van, waar kom die televisie deel vandaan?”
“Ons weet nie regtig nie, maar hulle is reeds opgestel in die saal,” kom dit opgewonde van Jeremy.
Zuluika kyk bekommerd na haar ma, “Weet Mamma iets?”
“Nee, maar dit is reg my lief, kom ons gaan net saam met alles.”
Cordier is buite homself van opgewondenheid, en Mauritz moet net gryp of hy spring uit sy arms, “My pappa sal ook die konsert kan sien,” en almal besef weer hoe lief hy ‘sy pappa’ het, en dit versterk die wete in Zuluika, Ziegfried Cordier was daardie ‘goeie pappa’, vir Cordier wat sy in die hof gesê het.
Hulle word oorval deur die honderde mense wat vir ‘Marcelle Novel’ wag. Daar ontstaan ʼn spontane handeklap en sover hulle stap, vat Marcelle mense se hande vas, groet sy hulle, gesels met hulle, en vervul sy soveel van haar bewonderaars se droom.
Dit is Jonathan wat verskoning maak, maar hy sê gemaak streng, “Indien julle hoegenaamd vanaand ʼn optrede wil sien, moet julle die kunstenaars nou laat gaan.” Dit is met ʼn opgewekte onwilligheid wat die mense hulle laat gaan.
ʼn Spontane handeklap deur die studente wat gaan optree, begroet hulle in die kleedkamer agter die verhoog. Marcelle groet hulle, gesels met hulle, en die studente wil haar nie laat gaan nie.
Terwyl Zuluika by ‘die vyf’ agterbly vir die optrede van ‘Passion at work’, stap Mauritz met Marcelle aan sy arm, en Cordier op sy ander arm na hulle sitplekke in die saal.
Marcelle sluit haar oë, sê dankie vir haar God vir hierdie geleentheid, en wag vir haar kind om op die verhoog te verskyn.
Die laaste woorde van ‘Let me call you sweetheart’ bring trane na Marcelle se oë, en Mauritz gee haar die sakdoek wat hy spesiaal saamgebring het.
Met die aanbreek van die kort pouse gaan hulle drie na die kleedkamer om by Zuluika aan te sluit vir die tweede deel van die vertoning, wat Marcelle, Zuluika en Cordier se nommers sal wees.
“Ek gaan sit want ek wil nie een oomblik misloop van julle optrede nie,” sê Mauritz terwyl hy die twee vroue en Cordier elk ʼn ligte soentjie gee.
Met die uitstap van hulle drie op die verhoog, ontstaan daar ʼn applous soos wat Zuluika weet, sy nooit eers met hulle optredes met die Gauteng Filharmoniese Orkes beleef het nie, en sy voel totaal aangedaan vir ʼn paar sekondes.
Zuluika en Cordier trek die strykstokke stadig oor die snare, en die gehoor kom tot rus, en daar kom ʼn amper ademlose stilte oor die gehoor.
Marcelle sluit haar oë, adem die atmosfeer in, kyk na haar kinders, hoor die suiwer klanke van die drie instrumente ʼn perfekte harmonie vorm, ʼn harmonie soos sy weet hulle lewens saam gaan wees.
Die applous is oorverdowend en Marcelle staan op, stap na haar kinders, gaan staan tussen hulle, om-arm hulle, en haar en Zuluika se geluk is volmaak.
Deur die ure van die ete, die handtekeninge, die onophoudelike stroom van mense wat tou staan om ʼn handtekening te kry, of net te groet, bly hulle vier bymekaar. Mauritz sê hy gaan Cordier ʼn kort rukkie na Rhoda se tafel neem om die seuntjie geleentheid te gee om te rus, en Cordier steek gewillig sy armpies uit, Zuluika kyk na die vertroue op Cordier se gesiggie, en sy weet weer, Mauritz gaan ongelooflik goed na hulle kyk.
Terwyl hulle wegstap is Bernhardt by haar met drie vreemde mans, en senator D’Artnel, “Marcelle kan ons Zuluika ʼn bietjie steel?”
Zuluika sien die erns, weet dit is belangrik, en met ʼn soentjie op haar moeder se wang sê sy met ʼn ligte laggie, “Indien julle my net weer terugbring, want ek wil by my moeder wees.” Bernardt lag en stel haar gerus, “Definitief, ek sal jou self terugbring.”
Hy neem haar aan haar hand en trek haar liggies saam met hulle uit die saal en deur die gang tot in sy kantoor.
Zuluika voel die effense vrees in haar groei, maar sy onderdruk dit, en sy hoop dit is nie weer ʼn werksaanbod nie.
Bernhardt trek ʼn stoel uit, “Zuluika, jy ken senator D’Artnel Baker,” en sy knik haar kop. Hy wys in die rigting van die ander persone en stel hulle bekend, “professor Christopher Searle, Jeremy se vader, meneer Marcus Grosvenor, en advokaat Steven Carter, of by die naam wat jy hom ken, Hermann Helder.”
Die ontmoet van hierdie mens was nooit eers ʼn gedagte by Zuluika nie, en dit vang haar onkant, maar sy is oorstelp om die mens te ontmoet, sy staan op, stap vorentoe en Steven Carter maak sy arms oop en trek haar teen hom vas.
“Dankie, baie dankie vir alles wat jy vir my en Laurie gedoen het oor die jare, ons kan jou nooit genoeg daarvoor vergoed nie.”
Hy gee haar een oomblik om tot verhaal te kom, en terwyl hy haar vashou, en effens terugtree, “Julle twee is ongelooflik, julle het bo alles wat teen julle was uitgestyg, ons is so trots op julle.”
Zuluika neem een oomblik, kry haar emosies onder beheer, neem die ander mans se hande, en met geweldige emosie in haar hou sy die hande wat sy weet haar en Laurie se mense se vryheid en veiligheid verseker het vas. Sy gaan sit, en Bernhardt gaan voort, “Ons weet Joos Terblanche het jou ingelig oor die ‘Bond’, en jou onderneming om dit vertroulik te hou.”
Zuluika knik haar kop, en Joos se woorde baie maande gelede maak hierdie oomblik spanningsvry, ‘Met jou saak is daar ʼn verskil, jy sal direk met van die persone in hul hoedanigheid as ‘Bond’ lede werk, en indien jy nie klarigheid het hieroor nie, sal jy hulle moontlik met agterdog bejeën, want dit sal geen sin maak waar hulle inpas nie’.
Hy sien haar begrip, “Ek glo jy het dit reeds besef, maar ons is lede van die ‘Bond’, en ons, sowel as ander persone wat jy ken, is spesifiek betrokke by jou, en jou saak.” Zuluika knik net haar kop.
“Die ‘Bond’ glo met die oopmaak van die feite rakende die faksie, hulle aandeel aan die geweld en moorde, sowel as die inhegtenisname van die faksie lede, en die maatreëls wat deur die Suid Afrikaanse Polisie en die ‘Bond’ in plek gesit is, jy en die ander betrokkenes veilig is, en veilig sal bly.”
Zuluika beleef dit eerder as wat sy dit hoor, hoe sy haar asem stadig uitblaas, en die verligting in haar wil haar versmoor.
Dit is Christopher Searle en D’Artnel Baker wat gelyk haar hande vasvat, en die versekering van hul meelewing bring ʼn warmte in haar. Sy kyk na Bernhardt, sien sy afwagting, en sy kan net haar kop knik, te bang die trane sal uit haar oë val.
“So dit gesê, die werklike rede vir ons gesprek,” hy wag een oomblik, “Die waarheid rondom die faksie, jou en die ander dames se verlies van julle geliefdes, en jou daad wat ʼn einde gemaak het aan die voortsetting van die moorde is bekend, nie net in Suid Afrika nie, maar wêreldwyd.”
Sy voel die meegevoel in die sagte druk van haar hande.
“Wat ons besef, en wil regstel, is die deel van die feite hier meer plaaslik sodat jy dit agter jou kan sit, nie nog steeds elke oomblik wonder, of vrees, oor wie vind wat uit oor jou verlede nie. Hier waar ons nou is, weet ons, jy is ʼn heldin, nie ʼn persoon wat ‘gemoor’ het nie.”
Die ‘nie gemoor het nie’, vat weer aan haar, haar eie woorde waaragter sy so lank weggekruip het, sy weet, Joos, en die mense in Suid Afrika is betrokke by die ‘wegvat van die laaste hekkie’, en die verligting omvou haar.
Steven Carter soek haar oë op, “Sovele persone hier vanaand weet reeds en wil simpatie en ondersteuning vir jou gee, maar hulle wil jou nie ontstel nie, so ons moet weet of dit reg is met jou?”
Zuluika weet dit is reg, hierdie is moontlik nie die laaste groot guns wat sy benodig vir ‘vry van vrees leef’ nie, maar hierdie is ʼn baie groot guns wat sy benodig, en sy knik haar kop instemmend, “Dit is reg met my, en baie dankie vir julle ondersteuning deur al die jare,” en nou stort die trane oor die lang swart wimpers.
Steven gaan voort, “Een finale aksie hieroor, ons wil in die loop van die volgende twee weke baie subtiel die feite deurgee na die gemeenskap deur die media, nie ‘voorblad’ nuus nie, net ‘onder die radar’ bekendmaking van die feite wat jou vry sal maak van jou vrees,” en sy is werklik reg daarmee, ‘Eerder vir ʼn paar weke dit op die voorgrond hê, as vir ewig wegkruip’. Zuluika weet, soos met alle nuus, sal ook haar nuus in ʼn kort periode ‘ou nuus’ wees.
Hulle druk haar teen hulle vas, en die woorde wat hulle sê, omvou haar, “Jy is ʼn baie brawe en besonderse mens Zuluika. Hierdie gemeenskap voel geseënd omdat jy ons gekies het, vir jou, en hopelik jou moeder,” en die ernstige gesigte sê alles.
Steven hou haar effens terug, “Kan ek asseblief my vrou aan jou en jou moeder voorstel, sy wil julle so graag ontmoet, maar dit is amper onmoontlik om by julle uit te kom,” en Zuluika neem hom aan die hand, en met ʼn ongelooflike ligte gevoel in haar gemoed sê sy, “Ja asseblief, want ek wil ook baie graag jou mense ontmoet.”
Sy trek hom na waar Mauritz en haar moeder wag, en Zuluika voel so bevoorreg om hom aan haar mense voor te stel. Haar gesig moes iets van die gedagte gewys het, want albei die gesigte wat bekommerd na haar staar verander in ʼn glimlag.
Sy stel Steven voor, en met die noem van die naam Hermann Helder, vat Mauritz Steven se hand onmiddellik, “Dit is ʼn voorreg om jou te ontmoet, en om vir jou persoonlik te bedank vir jou bydrae tot Zuluika se veiligheid, en geluk. Indien daar ooit iets is waarmee ons jou kan help, moet nie een oomblik huiwer om te vra nie.”
Steven kyk die groot man een oomblik stil aan, “Ek mag moontlik baie gouer as wat julle dink, tog ʼn guns te vra hê,” en Steven het geen idee waarom hy sy pynlike verlede op hierdie oomblik met hulle deel nie, “Ek is ook ʼn produk van die helse politiese speletjie van Suid Afrika, en ook ek het vergifnis om te gee en te kry. Ek weet wat julle gesinne deurgegaan het Zuluika, en ek het hulp en genade nodig om dieselfde te doen.”
Die volgende oomblik is die pragtige blonde vrou by hom, hy trek haar in die geselskap in, “Ontmoet asseblief my vrou, Beverly,” en die liefde in sy stem raak aan hulle.
Christopher Searle, en Marcus Grosvenor met hulle gesinne voeg hulle by die groep, en is die geleentheid om verder met Steven te gesels daarmee heen.
Teen elfuur is dit Jonathan wat die saal tot stilte roep om die aand se verrigtinge af te sluit. Wanneer daar luide protes aangeteken word, kom dit laggend, maar beslis, “Daar sal weer môre aand geleentheid wees,” en daarmee help hy Marcelle uit die stoel en neem haar beslis aan die arm, “Wil jy eers na die ruskamers gaan?” en Marcelle neem Zuluika se hand en knik instemmend, effens oorweldig deur die ‘omgee’ vir haar deur hierdie mens.
Wanneer hulle tuis kom, deel sy hulle mee wat gebeur het, en alhoewel hulle weet, ‘hierdie is nie ʼn trane geleentheid nie’, huil hulle, hul dankbaarheid teen mekaar se warm liefde uit.
Zuluika gaan lê by haar moeder, “Hoop nie Mamma gee om nie, maar ek slaap by jou vanaand,” en Marcelle trek haar teen haar vas, en hulle raak aan die slaap.
Die volgende oggend lê hulle laat, eet ontbyt saam in die gastehuis, en bring die dag rustig deur met ʼn aanhoudende toeloop van persone wat kom om Marcelle te ontmoet. Daar is ook sovele persone wat Zuluika kom vasdruk, hulle simpatie en hulle ondersteuning kom gee, en sy weet, die ‘Bond’ se laaste aksie het begin.
Die vertoning en die ete die aand, is ʼn replika van die vorige aand, en ‘die vyf’ stel hulle ouers aan Marcelle voor. Ook is die mense gemaklik om met Zuluika te simpatiseer, en Zuluika weet, sy is reg vir haar verbintenis aan Mauritz, sy wil ʼn datum bepaal, sy wil haar, en haar mense se samesyn as ʼn gesin begin.
Die aand voor Zuluika voltyds begin werk, drink moeder en dogter hul laaste koppie koffie voor hul gaan lê. Zuluika weet daar is nog een saak wat sy moet aanraak, “Mamma,” en Marcelle hoor die kommer, en kyk vraend op, “Wat is dit lief?”
“Kan ons praat oor Mamma asseblief, alles tot nou het so oor my gegaan en ons het nog nie oor mamma gepraat nie.”
Marcelle glimlag, sy weet, het altyd geweet wat haar lewe sal wees van die dag wat sy haar kind vind, “My toekoms is jy, ons seun, en die gesin wat jy en Mauritz saam vir ons sal hê. Net dit elke dag, en elke minuut. Die dae hier saam met jou en hulle wat jou so lief het, is meer as wat ek ooit gedink het ek beskore sal wees, ek sal nooit weer eendag sonder jou kan wees nie.”
“Maar wat van Mamma se musiek, die verpligtinge?”
“Sover dit verpligtinge aangaan het ek slegs twee weke se optredes in Vienna in Junie volgende jaar, ek wou ʼn jaar rus my skat, en toe kom jy,” en haar trane val spontaan uit haar oë. “Ons twee sal nog praat oor die twee weke in Vienna, die saam optree wat ek so graag wil hê,” en skielik is die begeerte om haar moeder se wens waar te maak, by Zuluika, en sy knik haar kop en glimlag, “Ek dink ons sal dit saam gaan doen,” en Marcelle se ‘dankie’ is met trane gevul.
“Sal Mamma tevrede wees om elke dag net hier te wees?”
“Liefste, die ‘net hier wees’, gee my al die wonderlike ervarings waarvoor ek elke oomblik van die afgelope ses en dertig jaar voor gebid het. Ek gaan my kind elke dag sien. Ek gaan haar sien wanneer ek instap in haar wêreld waar sy haar beroep beoefen. Ek sal haar sien wanneer sy oor die gras na my toe stap, wanneer ek saam met haar en haar gesin in die berge piekniek hou. Ek gaan ʼn skoonseun hê wat my en my geliefdes op sy hande dra, wat kan ʼn mamma meer vra?”
Zuluika neem haar hand en soen dit.
“Dan liefste, die bonus, ek gaan elke dag Cordier en my kleinkinders wegsien skooltoe, en saam met hulle terugstap van die skool af in die middag, al die wonderlike ervarings wat ek gemis het, meer as wat ek ooit voor gehoop het. So my lief, weet net, dit is al wat ek elke dag wil doen. Ek glo ek sal hier, en in Corvallis by musiek betrokke wees, maar dit sal altyd sekondêr tot julle wees. Julle is, en sal altyd my eerste liefde wees,” en dit is ook genoeg vir Zuluika.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.