Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 26 – Die Einde
Hoofstuk 26 – Van hier tot in die Hiernamaals
ʼn Week later wanneer hulle vier rustig na middagete in die sitkamer sit, weet Zuluika, sy en Mauritz kan hulle troudatum vandag bepaal, al die twyfel is weg. Sy weet sy wil Mauritz ook nie meer elke aand sien wegstap van haar af nie, want sy mis hom met ʼn fisiese pyn totdat hy soggens weer instap.
“Ek is reg om ʼn datum te bepaal,” kom dit uit die bloute. Mauritz en Marcelle kyk vinnig na Zuluika en die ‘wanneer’, en ‘hoe gou‘, kom amper tegelyk.
“Ek is so bietjie sentimenteel met die datum, maar ek sal dit baie graag in Desember wil doen.” Hulle wag vir haar om aan te gaan.
“Verlede Desember was vir my hierdie wonderlike jaar se begin, ek sal baie graag die res van ons lewens saam, ook in dieselfde tyd wil begin. Ook wil ek baie graag al die mense, my mense, en jou mense, by ons deur ons eerste feesgety, Oujaar en Nuwejaar vierings hê.”
Mauritz maak sy oë toe, sy sien die traan-pêrels op sy wimpers, “Dankie hiervoor liefste mens, dit is die regte tyd vir ons. Nie net vir ons troudatum nie, maar vir julle om my vreeslike groot, gewone familie te ontmoet.”
Zuluika lag en herroep dieselfde uitlating die aand toe hulle, hulle verledes gedeel het. Sy weet, tot op hierdie stadium was sy nie reg om hierdie stap te neem nie, sy wou nie sy familie betrek by haar onsekerheid nie, maar nou is sy reg, die onsekerheid is weg.
“Ek wil julle drie uitsonderlike mense aan my mense gaan voorstel, met hulle deel dit wat my alles is,” en sy weet dit is hoe sy voel.
Hulle besluit om gedurende haar eerste vry naweek te gaan, en Mauritz onderneem om sy ouers te laat weet om reg te maak vir hulle, en dit voel so reg vir haar.
Zuluika kyk op haar horlosie, besef dit is nog vroeg genoeg om die mense in Suid Afrika en haar skoonfamilie te skakel om te hoor of die datum reg met hulle sal wees.
Van almal is daar onmiddellik aanvaarding van die datum en die uitnodiging, almal is dit eens, hulle wou nog altyd ʼn Kersgety in die sneeu beleef, en dit pas hulle uitstekend.
Zuluika is geensins verbaas wanneer Laurie vra of Gerhard maar saam met hulle kan kom nie, ‘Meer om tannie Selma geselskap te hou’, lag sy, en Zuluika voel die vreugde in haar vir beide die mense.
Die Sondag met die doop van die drieling vra Margret en Hugo of Zuluika die ‘kleine Zuluika’ die kerk sal inbring, en sy stem in. Wanneer sy na die klein volmaakte mensie in haar arms kyk, is die wens terug, sy wil hier met haar en Mauritz se kindertjies staan, baie gou indien dit hulle beskore is.
Die meedeel van hul troudatum na die diens wanneer die gemeente tee drink in die restaurant, bring ʼn nuwe opwinding. Rhoda en die susters is beslis, “Jy en Marcelle neem die besluite rondom jou rok, en julle kan ons inlig oor die tipe onthaal wat julle gesin wil hê, maar ons,” en sy sluit die hele gemeenskap in met die swaai van haar hand, “Sal al die voorbereiding en regmaak behartig.”
Zuluika weet dit is wat sy wil hê, en haar moeder se ingenome knik van haar kop plaas die seën daarop.
Marcelle voel die ekstase, ‘Sy gaan haar dogter se troue help reël, haar dogter se troue bywoon’, en die onwerklikheid van hierdie lewenslange droom laat die trane spontaan uit haar oë drup. Dit is Mauritz wat vooroor buk en die trane saggies wegvee, “Ai Moeder van ons, jy sal ʼn paar nuwe sakdoeke vir die skoonseun moet koop indien jy so aanhou,” en dit bring onmiddellik ʼn glimlag na die traanbenatte gesiggie, “Moeder sal my seun.”
Wanneer hulle vier die Vrydagoggend van haar af naweek gereed sit in die viertrek om te vertrek om Mauritz se ouers te gaan ontmoet, voel Zuluika dieselfde opgewonde bang gevoel wat sy gehad het toe sy en Cordier met die trein op pad was na Corvallis.
Hy druk haar hand, “Moenie bang wees nie liefste, hulle kan nie meer wag om julle te ontmoet nie, hulle het jou reeds lief,” en sy vertrou hom.
Die eerste lang rit met hulle as ʼn gesin, en Cordier wat met sy koppie op sy ouma se skoot slaap, is vir hulle almal ʼn ondervinding wat vassteek, en hulle weet, so wil hulle altyd wees.
Die stilhou voor die groot verdiepinghuis is amper ʼn herhaling van die eerste keer toe sy maande gelede op The Buttress gestop het, almal is daar, en Mauritz probeer vinnig identiteite aan die mense gee. Zuluika neem sy hand, druk dit en sê laggend, “Toemaar lief, solank ons weet wie jou moeder en vader is, is ons reg. Die res stel jy voor wanneer ons by hulle is.”
Zuluika besef Mauritz se mense is totaal oorbluf wanneer hulle voor hulle staan, en die eerste woorde wat Mauritz se vader uiter is, “Liewe Vader Mauritz, waar kry jy hierdie drie ongelooflike mooi mense?”
Mauritz probeer nog praat, maar dit is sy moeder wat Zuluika en Marcelle se hande in hare neem, en met geweldige emosie in haar stem, “Welkom, julle is so welkom hier by ons,” en sonder om haar oë van hulle af te neem, “Stel ons asseblief voor seun.”
Mauritz voel die pluk aan sy broek, sien Cordier se ongelooflike oë, en die frons op die pragtige gesiggie. Hy buk af, tel hom op sy arm, en sê met al die liefde wat in hom is terwyl hy sy vry arm op Zuluika en Marcelle se skouers laat rus, “Mamma, Pappa, en al die ander, ontmoet asseblief my toekomstige skoonmoeder, Marcelle, en my hart, Zuluika, en ons hart se punt Cordier.”
Daar is skielik beweging in die groep mense, “Ek is Mauritz se moeder, Louise,” en voor sy iets verder kan sê, is die groot man by haar, “Ek is Luke, die vader, en julle moet weet, dit is werklik ʼn voorreg om Mauritz se gesin te ontmoet, maar meer om sulke uitstaande persone soos julle te ontmoet.”
Hy sien die verbasing op Zuluika en Marcelle se gesigte, en met ʼn skaam stem kom dit, “Jammer, maar ons het alles oor julle ‘ge-google’, en van die oomblik dat Mauritz ons die nuus meegedeel het oor julle, is julle drie al onderwerp wat in ons huis, en in ons omgewing bespreek word.”
Die onpaar oë reaksie verbreek die effense spanning, wanneer Mauritz se suster Emily se stem bo al die opgewondenheid helder sê, “Kyk hulle oë mense, dit is pragtig.”
Met die deurstap na die wye stoep, probeer al die ander persone hulself voorstel, Zuluika soek na haar moeder wat sy met die stap halfpad verloor het, en sy sien verskeie van die familie het haar totaal omsingel, sy weet, net om haar moeder te ontmoet, is definitief die grootste geskenk wat enige persoon wat ʼn musiek liefhebber is ooit kan kry.
Zuluika voel Mauritz se hand warm gerusstellend op haar skouer, sy kyk na hom, sien Cordier is nie meer by hom nie. Hy sien haar kommer, en met die wuif van sy kop in die rigting van ʼn groep mense, volg sy, sy blik, en sien Cordier ewe rustig op Emily se arm sit, terwyl almal na sy oë wil kyk, en sy weet die deel wees van hierdie gesin gaan hulle goed doen.
Luke bieg gedurende die drink van die eerste koppie koffie, “Zuluika, Mauritz het dit wat jy deurgemaak het met ons gedeel, en vir ons is wreedheid ondenkbaar, ons kan vir geen oomblik dink hoe hartseer en swaar dit vir jou was nie, weet net ons sal elke oomblik reg wees om jou te help indien jy ooit iets nodig het.”
Sy sien die hartseer op sy gesig, “Ons dink jy is die braafste mens wat ons ooit ontmoet het, onthou dit asseblief elke dag,” en dit seël haar verbintenis met hierdie mense.
Die naweek is vol van gesels, dinge deel, medelye met haar, beplan vir die troue, en die onophoudelike toestroom van mense om haar moeder te ontmoet. Zuluika voel hoe hulle nie net ingeneem word in die familie nie, maar hoe hulle met soveel liefde en respek ʼn plekkie kry in elkeen se wêreld.
Mauritz, en sy vader, besluit om die ou predikant, waaronder Luke en Mauritz gestudeer het, te vra om die huweliksbevestiging te doen. Luke erken eerlik, “Ek sal te emosioneel wees om dit self te doen,” en Zuluika en Marcelle glimlag net.
Luke en Louise besluit om ʼn week voor die troue deur te kom na Corvallis om te help met die reëlings. Die gedagte tref Zuluika, sy gaan drie moeders op haar troue hê, haar eie moeder, moeder Sally en moeder Louise, en sy weet die band van beskerming en liefde waarvoor sy as kind gewens het, vergroot meer en meer.
Zuluika besef Luke is so effens van ʼn historikus, en sy spandeer ure saam met hom die Saterdag terwyl hy alles oor Suid Afrika wil weet en haar die geskiedenis van Astoria meedeel. Sy passie oor die Astoria Kolom, die Astoria-Megler brug en die geskiedenis van al die besienswaardighede in en om Astoria, laat haar besluit, sy wil iewers in die toekoms vir ʼn week of twee kom kuier en saam met hom die besienswaardighede gaan besoek, en hy is ewe in sy skik daarmee.
Teen die Maandagoggend wanneer hulle gereed is om te vertrek is alles bespreek en is Zuluika, Marcelle en Cordier nie net familie nie, maar voel hulle gekoester in die vriendskap en liefde van Mauritz se mense.
Die dae en weke wat volg bring rustigheid in hulle gesin, ongemerk kom daar ʼn patroon in hulle samesyn wat hulle saamsnoer, en die hartseer van die verlede se ‘eensaam-seer’ wegneem.
Zuluika en die span hervat hul patroon van maande gelede, en soos Werner dit noem, is die ‘passie’ terug in die ‘huis’, en ou dokter Friedrich spreek telkemale sy hartseer uit oor die insidente en saamwerk ondervinding wat hy gemis het, maar Zuluika verseker hom, die bietjie wat hy gemis het, het haar ʼn wonderlike geleentheid gegee.
Haar moeder bly die mees uitgesoekte persoon, en selfs wanneer sy soggens, en in die middag saam met Cordier stap, na, en van sy voorskoolse klassie, wag die ander vroue vir haar sodat hulle saam met haar kan stap, en sy erken, dit is alles waaroor sy ses-en-dertig jaar lank oor gedroom het.
Friedrich gee haar moeder toestemming om ‘te skrop’, soos hy dit noem, en in die teater te wees terwyl Zuluika opereer, en so word ook daardie wens van Marcelle bewaarheid, ‘Om haar kind te sien in die wêreld wat haar so gelukkig maak’, en sy weet, net wat sy nou elke dag het, niks anders het sy nodig nie.
Die troureëlings word tot die fynste besonderhede beplan, en Rhoda, Marcelle, Louise, Laurie en moeder Sally, gesels daagliks oor die foon, of per ‘WhatsApp’, om alles perfek te kry.
Sy deel die inligting met Eckhard, om met haar pa te deel, en is verlig wanneer Eckhard haar inlig oor hulle vordering met haar pa se saak, en ook haar pa se boodskappe vir haar en Cordier deurgee.
Cordier maak seker hy mis ‘sy pappa’ se oproep nooit nie, Zuluika herroep al die oproepe wat oom Louis en Laurie deur die tien jaar met haar gedeel het, en sy kry haar pa werklik jammer, sy ken die eensaamheid van daardie gevangenis.
Hulle besluit saam om as gesin in Mauritz se huis te woon, en hy dring daarop aan om al die reëlings te tref om haar moeder se persoonlike besittings, wat sy by haar wil hê, van Kopenhagen af te laat verskeep.
Die maatskappy wys hul welwillendheid, deur al die woonstelle beskikbaar te stel vir die gaste se verblyf, skielik is alles gereël, en is die koms van hul mense ʼn paar weke weg.
Desember begin, en die reënval, sowel as die sneeu neerslae is laag, almal voel dit is God se welwillendheid vir Zuluika en Mauritz. Die maatskappy stel die viertrek voertuig bussies beskikbaar om die besoekers vanaf die lughawe te vervoer en Zuluika besef weer die meelewing van haar werkgewer, sy weet, sy het soveel ontvang, en sy wil al daardie welwillendheid in die toekoms teruggee, deur net die beste te doen wat sy kan vir almal.
Die weersiens van haar familie op die lughawe, oom Nate, Laurie en Matthew, met beide se ouers, en die seuns wat deur Joe en Jonah gedra word terwyl hulle opgewonde vir Cordier waai, wil haar amper in trane laat uitbars.
Sy sien hoe Gerhard vir Selma deur die mense stuur, en sy weet daar is dalk ook vir Selma en Gerhard weer liefde en geluk. Joos en Lize se instap in die saal in, plaas die finale stempel van geluk op haar dag.
Wanneer vader Bruyns met sy arm om moeder Sally se skouers deur die skuifdeure kom, is dit Mauritz wat sag teen haar oor sê, “Rudolph het werklik baie na sy pa gelyk my lief,” en die een oomblik se hartseer word verdryf deur die wete dat Mauritz in alles wat hy doen, nooit sal ophou om Rudolph se liefde lewendig in hulle te hou nie.
Die ontvangs deur die gemeenskap sodra hulle stilhou by die wooneenhede waar die familie sal woon, trek haar mense in die kring van vriendskap in wat sy van haar eerste dag hier ondervind het, en dit bring ʼn belofte van vriendskap vir almal.
Haar mense se openlike bewondering vir haar moeder en Mauritz, sowel as die gemeenskap en die pragtige landskap waar hulle woon, lig Zuluika bo al die hartseer van haar verlede, sy weet, al hierdie wonderlike dinge is die oploop tot ʼn geseënde feesgety, en ʼn geseënde toekoms.
Teen alle verwagting is die wisseling in temperatuur deur die dag gunstig en geniet hulle koue-, maar heerlike wind stil dae, almal is dit eens, hulle is reg vir hierdie troue in die wit wonder wêreld.
Midde die vol en besige dae, ondervind Zuluika en Mauritz meer, en meer, daardie smagting na mekaar, wat beide weet, net volbring sal wees deur die intiemheid tussen man en vrou, wat meer en meer hul gedagtes vul. Die opwelling tussen hulle, en die ekstase daarvan, laat Mauritz Zuluika ook meer en meer opsoek wanneer sy alleen is. Hulle lag skaam wanneer hulle ʼn vinnige gesteelde minuut bymekaar is, en hulle is amper soos kinders in hulle uitgelatenheid.
Met elke saamtrek van hulle liggame, weet Zuluika, ongeag haar intieme verhouding met Rudolph, Mauritz se aanraking nuut en uniek is, en Mauritz is oorstelp in die wete dat hy vir die eerste keer die volmaaktheid van ʼn liefdesdaad sal ondervind, en dit bly in hom elke oomblik.
Hul troudag is alles wat Zuluika voor gebid het, die aarde oortrek met die wit skoonheid wat sy so liefgekry het, al haar en Mauritz se mense aan hulle sy, en haar moeder se warmte teen haar arm wanneer sy en Mauritz met almal by hulle voor hulle God staan om trou tot in ewigheid te beloof.
Mauritz neem haar hand met sy een hand, en Rudolph se ring om haar hals met sy ander hand, hy dra weer die Psalm vir haar voor, en sluit af met die bevestiging van wat haar oogkleur vir hulle sal behou.
Sy bring Rudolph se wens van daardie ure wat sy tussen twee wêrelde hom en Mauritz ontmoet het, na Mauritz, en hy is verwonderd wanneer hy haar woorde ken voordat sy dit spreek, hy weet, hy was by haar en Rudolph daardie dag toe hy die verlies aan haar gevoel het, en Rhoda hom gesê het om vir Zuluika te bid. Hy weet skielik dat die aanraking teen sy hoof daardie dag, Rudolph was, Rudolph se seënwense vir hulle twee.
Met hierdie gewaarwording, kom lê die waarheid warm tussen hulle, God het altyd bedoel dat hulle een sal wees, dat hy Rudolph se liefde vir Zuluika saam met hulle sal dra.
Die teken van die huweliksregister en al die formaliteite van foto’s neem, en kwinkslae van Mauritz se vriende, beleef hulle met ʼn warme liefde en waardering, beide weet, hulle is omvou in ʼn vakuum van liefde, en dit laat hulle elke oomblik bêre in hulle geheue vir die onthou oor die volgende dekades saam.
Die onthaal, die eet van die wonderlike disse, die dans met hulle liggame gebaai in mekaar se warmte, die groet van hulle gaste, die deurdra van Cordier na sy bedjie saam met haar moeder, dit doen hulle saam, en net hulle twee, met die opstap na die woonstel waar hulle vannag sal oornag.
Mauritz voel hoe sy manlikheid reageer wanneer Zuluika in die skemerlig naak voor hom staan. Hy maak sy oë een sekonde toe, en al wat hy kan dink is, ‘Here so volmaak’. Hy stap na haar, trek die perfeksie teen hom vas, en voel daardie een oomblik se lighoofdigheid van die emosie in hom.
Sy lippe wat sag huiwer teen Zuluika se nek stuur ʼn gloed deur hulle wat albei tot lamheid verstil, hulle weet, hul fisiese hunkering na mekaar die afgelope weke, is nou daar waar hulle dit nie meer kan, of wil onderdruk nie.
Die intrek van haar in die bed, voel soos ʼn droom, en wanneer Mauritz se pragtige kop sak, en sy lippe soekend oor haar lippe skuur, ontplof die wêreld tussen hulle, is dit ʼn onkeerbare stroom van emosie wat deur hulle vloei, en hulle teen mekaar aandruk tot hulle soos drenkelinge aan mekaar moet vasklou.
Hulle weet, hierdie eerste liefdesdaad bring ʼn ondervinding vir beide, wat albei weet niks ooit weer sal kan oortref nie. Indien hulle gedink het, dit wat hulle tot nou toe ondervind het gedurende die kortstondige emosie tussen hulle, die toppunt van ekstase was, weet hulle, hulle was verkeerd. Wat hulle hierdie nag ondervind en beleef van mekaar se liggame en liefde, is ekstase soos niks voorheen nie.
Mauritz lê in verwondering oor wat vir hom ʼn eerste is, ʼn ongelooflike gevoel wat hy nie geweet het bestaan nie, hy besef, sy liefde vir hierdie mensie is nie ʼn gevoel nie, dit is ʼn diepgewortelde emosie in hom, hy weet hy sal elke oomblik van hier af hierdie emosie vir ewig voel, en dit sal bepaal hoe hy sal leef.
Hy vra haar beskeie in die nadraai van hul liefdes-daad, “Kan jy my liefhê soos wat jy Rudolph gehad het?” en sy sê eerlik, terwyl sy na hom kyk, “Nee, nooit soos ek Rudolph liefgehad het nie, julle is twee eerste liefdes, Rudolph stadig groeiend tot volheid, en jy ʼn oombliklike ontploffing van ekstase. Dat ek julle ewe lief sal hê, is seker, maar nooit dieselfde nie. Wat jy my laat voel is nuut vir my, ʼn eerste belewenis, net soos dit met Rudolph was,” en sy geluk is volmaak.
Wanneer hulle stil in mekaar se arms lê, weet albei, al wat hulle vra, is hierdie liefde, hierdie gesin wat hulle nou is, en met God se genade, kinders van hul eie, en om hulle lewens te leef tot die vreugde van hulle God.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.