Mashalan Taben
MashalanTaben
Droom groot het sy ma altyd gesê. Jy kan meer wees as wat jy ooit kan droom.
Vandat hy kan onthou wou hy ‘n verslaggewer gewees het. Daardie dapper onverskrokke mense wat met ‘n fotolens hulle lewens waag om die ware nuus na die mense te bring. Die drugs en streetlife het hom bietjie gehamper met daardie een.
“Man, djy moet ‘n sangoma word dan kan jy doen net wat jy wil.” het Thabo een aand kwytgeraak toe die bier weer al sy treurmares aan die wêreld uitverkondig het.
Die opleiding by die Indumba waar hy Utwaza was het hom ‘n hele 3 maande laat werk soos nie eers die miere kan werk nie. Wees nederig, slag die bok, vee die kraal, kook vir die manne en nog te veel om nou aan te dink. Slaap was ‘n luukse. Hy het soos ‘n zombie met stokstywe oë gefunksioneer.
Tot heden vandag kan hy nie ‘n hoender in die oë kyk nie of die walglike smaak van die warm bloed van die paisap kgogo wel in sy neusgate op. Dit moes hy gedrink het sodat die badimo met hom kon praat. Vreeslik is die pil om te sluk dat die badimo tot vandag toe nie ‘n woord teenoor hom geuiter het nie.
Die werk by National Geographic was syne! Geld vir die reis het hy uit die deperate mense gebloei wat by hom kom aanklop het vir raad en muti. Hulle moes honde bene gaan begrawe. Soms het hy hulle in skaapbloed laat rondrol terwyl hulle sy naam, Mashalan Taben, die hele tyd luidkeels moes uitbasuin. Dit was nogal amusant om te dink dat hy soveel mag oor hierdie simpel wesens gehad het.
Hulle was oppad om die looting in Suid-Afrika, veral in Kwa-Zulu Natal te verfilm toe sy voet gly en hy val. Sy kraleband van gradering wat hy om sy enkel wegsteek was ontbloot vir die hele wêreld om te sien. Hoe moes hy nou geweet het dat sy mede-joernalis se seuntjie dood is as gevolg van ‘n sangoma. ‘n Sangoma soos hy, wat geen respek vir mense se gevoelens, hartseer en verwesenheid gehad het nie.
Nou is hy werkloos met geen prospekte nie. Sy naam waarmee hy die wêreld wou verower het nou ‘n skelnaam, ‘n bangmaaknaam vir kinders geword.
Bitter drup sy gedagtes met elke voetval wat vir hom klink soos die tom-tom van tromme. Terug na die berge toe. Hy is ‘n bobbejaan – stert tussen die bene.
MashalanTaben, man wat in die berge bly.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2021 – Metaforiese projek