Jongste aktiwiteit:

“Die mier weet van orde sonder klag.”

Die vlamme van Buks Appelblaar se vuurtjie gesels soos opgewonde Boesmanjagters wat van ’n suksesvolle jagtog af terugkeer.

Pieter sit langs Buks Appelblaar. Die stilte van die nag omhels hulle. Hy kyk op na die naghemel wat wyd uitgestrek in ’n onbeskryflike sterreprag bokant hulle lê. “So wyd soos die Heer se genade,” sê hy hardop vir homself.

Buks glimlag, leun met sy hande op sy kierie asof hy die hout se geheue lees. “Ja, Pieter, myse groot vriend. DÍt is onse Kalahariland, Naoea, Hy het hom toegemaak met syse karos vanaand, en die oë van die sterre is hom baie blink vanaand, soos hulle kyk by onse mense. Vanaand ek wil jou ander storie vertel van die miere. Die mier, hulle weet van die orde sonder klag,” sê hy terwyl hy ’n nabygeleë klip omdraai om vir Pieter te wys wat daaronder lê.

Dit wemel van miere wat nog hul pad deur die sand sny. Dit is laat, maar die miere gee nie om nie. Hulle stap aan in ’n lang ry, sonder om te kla … Sonder om te twyfel … Sonder om om te draai … Altyd aan die beweeg, vorentoe …

“Buks, ek verstaan nie altyd nie,” sê Pieter uiteindelik. “Hoekom lyk dit asof alles in die natuur weet wat om te doen, behalwe die mens?”

Buks glimlag effens, en staar na die lyn van miere wat in die skadu van die klip verdwyn. “Want die mense hy dink hy moet kies,” antwoord hy stadig. “Die mier hy kies nie. Die mier hy volg net.”

Pieter kyk Buks fronsend aan. “Buks, maar is dit nie beter om te kies nie? Om vry te wees is tog lekkerder?”

Buks sug liggies, ’n geluid soos die wind wat sy voete stadig deur die droë gras van die duineveld sleep.

“Vryheid sonder die orde is hom die chaos,” sê hy. “Die chaos hy lyk vir ’n rukkie soos die vryheid, tot dit jou begin insluk soos die hiëna by die dyn se veld.”

Die wind het stil-stil gaan lê, so al of hy wou luister wat Buks Appelblaar besig is om vir Pieter te vertel.

Buks leun vorentoe, trek met sy kierie ’n lyn in die sand, en kyk vir Pieter reg in die oë.
“Pieter, myse groot vriend, dit wat ek vanaand vir jou vertel, ek het hom nie by die boek galees nie, maar by die grond homse self,” sê hy. “By die grond hierso by onse Kalahariland,” voeg hy by.

“L-a-n-k … l-a-n-k sy tyd, toe onse Kalahariland hy was hom nog jonk en sag onor by die voete van onse mense, daar was hom die jong Boese’manseun gawees. Sy naam was Uri.”

“Uri, hy het hom gebly by die droë vlakte langsaan by die dyn se veld. Hy was sterk, vinnig, en vol vani drome wat groter as by die horison is.
Uri het nie gehou van die manier waarop dinge gedoen word nie. Syse pa het hom galeer om die land te bewerk, om hom die reën te lees en om hom die seisesoene te respekteer. Maar Uri hy het gevoel dit is te stadig, te beperk”.

“Daar moet meer wees,” het hy altyd gesê. “Ek wil my eie pad maak.” Syse pa het homse kop net geknik. “Maak hom dan,” het hy gesê. “Maar onthou myse seun, ’n pad is nie net waar jy loop nie. Die pad is ok waarheen dit hy jou vat.
Uri, syse kop was hom hard soos hierdie klip.” Buks wys met sy kierie na die klip wat hy netnou omgedop het om die miere vir Pieter te wys. “Uri hy het nie by syse pa geluister nie.
“Een oggend Uri hy het opgestaan, syse goete bymekaar gemaak en oor by d-a-a-r-i ver duin galoop,” beduie Buks met sy kierie in die rigting van een van die hoë duine. “Uri, hy het nie omgekyk nie. Hy het gaglo dat die wêreld wag vir iemand soos hy, iemand wat nie bang is om syse eie rigting te kies nie.
Vir ’n ruk het dit banja goed gegaan saam met Uri. Hy het vinnig galoop by a-l-l-e-m-a-l hom die nuwe plekke en ok banja die mense ontemoet. Uri, hy het begin hom te glo dat hy reg was, dat hy iets verstaan wat die ander Boese’mense nie verstaan en hom doen nie. Die groot droogte hy het toe gakom by die land waar Uri hy het galoop.
Die water wat hy het hom geken, was nie meer daar nie. Die mense wat hy het hom vertrou het, hulle a-l-l-e-m-a-l vir Uri gelos. Die paaie het begin om te dof word, en Uri hy het hom besef hy weet nie meer waar hy is nie.”

“Uri het net aangehou om te hom loop. Die dae het hom gaword lank by die pad. Soos hy het galoop syse kos het hom klaar geraak. Sy krag het begin hom swak te word.” Buks bly so rukkie stil so asof hy wag vir sy volgende woorde.

Pieter kan egter nie wag nie en sê: “Buks, met ander woorde, wat die wêreld wat vir Uri eers vol beloftes was, het vir hom begin voel soos ’n doolhof sonder uitkoms.”

“Dis hom reg, myse groot vriend. Ek sien hom jy verstaan myse storie banja mooi,” glimlag Buks breed, en gaan voort met sy vertelling.

“Een aand komma Uri, hy het by die klein kliprant neergesak. Hy was hom banja moeg en hongor. Vir die eerste keer in homse lewe hy het hom getwyfel.

“Uri, het by die grond sit en kyk. Hy sien hom toe die miere by die grond loop. ’n Hele stroom miere wat oor die grond loop met ’n doel wat hy nie kon verstaan nie. Die miere hulle het nie gehardloop nie en ok hulle was hom nie gehaas nie. Hulle het net aangehou om te in ’n lyn loop wat hom nie gebreek het nie.”

Uri het gelag soos die hiëna. “Kyk na julle,” het hy met hees stem gefluister. “Julle weet nie eers waarheen julle gaan nie.”

Buks vat ’n lang teug aan sy pyp, dan sê hy: “Iets het Uri laat hom stil word. Hy het begin om te kyk … regtig reg te kyk. Hy het gesien hoe elleke mier iets dra sonder om al mekaar te stamp of hinder nie. Hoe hulle, wanneer ’n klip hul hom pad toemaak, eenvoudig om dit beweeg om hom weer by die lyn aan te sluit. Hulle het nie geverdwaal nie. Hulle het ok nie getwyfel nie. Hulle het ok nie om te probeer om iets anders te wees as wat hulle is nie.
Dit tref toe vir Uri soos ’n koue wind. Hy, wat het hom geglo hy is vry, hy was hom die een wat verlore was.
Daardie nag Uri, hy het nie geslaap nie. Hy het by die miere gesit en kyk, uur by die uur, asof hy iets probeer onthou wat hy lankal het hom vergeet het.
Uri, hy het opgestaan om terug te loop by syse pa se huis. Hy het hom stadig begin om te stap. Hy het nie meer geweet presies waar die pad is nie, maar hy het hom onthou hoe dit voel om te volg, nie net te kies nie. Met die eerste lig van die dag, Uri hy kom oor by d-a-a-r-i hoog dyn.” Buks wys weer met sy kierie in die rigting van een van die hoë duine.”

“En toe Buks, wat het toe gebeur?” vra Pieter nuuskierig

“Toe kom Uri uiteindelik by die plaas aan,” sê Buks. “Sy pa was nog daar. Ouer en stiller, maar hy was nog op die plaas gawees.”

Pieter kyk vraend op na Buks. “Was Uri se pa kwaad vir hom?”

Buks skud sy kop. “Die aarde word hom nie kwaad as jy daarop trap nie, myse groot vriend. Hier by onse Kalahariland die sand hy wag net dat jy weer leer hom hoe om te loop …”

Die vlamme van die vuur het lankal hul blus geblus en daar is nog net ’n paar rooi kole wat na hul asem hyg tussen die as.

“En Uri?” vra Pieter.

“Hy het begin werk op die plaas waar sy oupa het hom gebly,” sê Buks. “Nie omdat hy moes nie, maar omdat hy verstaan het. Hy het gesaai wanneer dit tyd was. Hy het gewag wanneer dit nodig was. Hy het hom nie meer probeer om groter as hom die seisesoene te wees nie.”

Buks kyk weer na die miere op die grond voor hom. “Uri, hy het geleer,” voeg hy by, “dat orde nie syse eie verstand is nie, is hom die rigting.”

Dit het skielik vir Pieter gevoel asof die nag die stilte om hulle toevou en of die sterre helderder begin skyn, asof die hemel self nader gekom het om na Buks Appelblaar te luister. Pieter sit lank in diepe bepeinsing; stil met sy hande om sy knieë gevou. “Ek dink ek is soos Uri,” sê hy uiteindelik.

Buks glimlag effens. “Myse groot vriend, ons is hom allemal, op ’n tyd ok soos hom die Uri,” sê hy.

“Buks, maar hoe weet jy wanneer jy verdwaal het?” vra Pieter.

Buks dink lank voor hy antwoord. “Wanneer jy begin hom te voel alles is teen jou,” sê hy. “Wanneer elleke pad swaar raak, en jy hom nie meer die rus by jouse kopkry nie. Dis hom nie alletyd die wêreld wat hom verkeerd is nie. Partykeer is dit net jyse self wat buite die balans van die lewe is.”

“En hoe kom jy terug?”

Buks wys met sy kierie na die miere. “Jy begin klein,” sê hy. “Jy doen wat reg voor jou is. Jy dra wat jy kan. Jy hou op baklei met alles, en stadig, sonder dat jy dit agterkom, die pad hy omte begin jou weer dra.”

Die wind het weer liggies, soos ’n rustige asem, oor die sand van die Kalahari begin begin waai.

Pieter sit lank woordeloos na die miere en kyk. Hy roep die woorde van die wyse Salomo in sy geheue op en dit maal in sy gedagtes: “Gaan na die mier… kyk na sy weë en word wys!” Hy sien nou dinge wat hy vroeër gemis het. Die geduld. Die samewerking. Die eenvoudige sekerheid.

“Buks, dink jy die mier verstaan die wêreld?” vra hy.

Buks skud sy kop. “Nee,” sê hy, maar die mier hy is hom van die wêreld en dit is vir hom genoeg.”

“Ons wil altyd verstaan,” sê Buks, “maar miskien is die groter wysheid om te behoort om aan die wêreld of iemand te behoort.”

Later daardie nag, toe die vuur net nog as herinnering bestaan, gaan lê Pieter op sy rug op die koue sand en kyk na die sterre.

Hy dink aan Uri en aan sy lang pad weg en die nog langer pad terug. Hy dink aan die miere wat sonder om te murmureer of te kla hul werk doen. Binne-in hom het iets begin stil raak, rustig, soos ’n rivier wat opgehou het om bruisend oor die klippe aangestorm te kom en rustig begin vloei.

Pieter maak sy oë. Vir die eerste keer sedert sy hegte vriendskap met die wyse Buks Appelblaar probeer hy nie om die wêreld uit te redeneer nie. Hy lê net daar en dink.

Die volgende oggend klim die son stadig oor die duine en gaan lê in ’n kaleidoskoop van kleure bokant die horison. ’n Nuwe dag in die Kalahari begin weer aan die beweeg kom. Voëls roep luidrugtig in die krone van die Kameeldoringbome na hul maats … Op die duineveld huppel ’n groep Springboklammers uitgelate rond; en die wind fluister nuwe stories deur die gras…

Pieter het sonder ’n gehaas vroeg opgestaan. Hy het ook nie groot planne vir die dag beraam nie. Hy begin net sy dag rustig.

Buks hou hom dop van waar hy op die stomp onder die Kameeldoringboom sit.
“Wat doen jy Pieter, myse groot vriend?” vra hy.

Pieter glimlag. “Buks, my vriend, kan jy dan nie sien nie, dit wat reg voor my is,” sê hy.

Buks knik sy kop stadig begrypend. “Dit is goed, my groot vriend,” sê hy. “Dít is waar orde begin.”

Reg voor Pieter se voete word orde geskep. ’n Ry miere beweeg stil en seker sonder ophou, soos hulle nog altyd gedoen het sonder om te kla … Sonder om te twyfel … Sonder om om te draai … Altyd aan die beweeg vorentoe …

“Sien jy nou Pieter, myse groot vriend,” sê Buks, “die mier hulle weet van die orde sonder klag.”
—————————————–oooOooo————————————————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 2107]

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed