as ek maar net…..
As ek maar net ….
{brons}
Net voordat Bertus sy laaste loopdop dubbelbrandewyn in sy keel afgooi, lui sy selfoon. Dit is seker nou al die tiende keer vanaand en elke keer van dieselfde nommer – sy vrou s’n of liewer sy eksvrou s’n. Weer antwoord hy nie. Hy is te dronk daarvoor. Buitendien is hulle al so lankal uitmekaar – wat kan daar nog wees om vir mekaar te sê? Sy was immers die een wat die skeisaak aangegee het. ‘n Rukkie later klim hy in sy motor, nie in staat om te bestuur nie, maar daar is geen ander manier om by sy huis te kom nie. Toe hy voor die deur stilhou, wag twee polisiebeamptes hom in. Eintlik moet hy op die plek gearresteer word vir dronkbestuur, maar hulle is om ‘n ander rede daar.
“Meneer van Zyl, ons is deur u vrou gestuur. Sy sukkel om u in die hande te kry.”
“Onsj, onsj is gesjkei. Het niks om vir haar te sjê nie. Gaan weg.”
“Meneer, ek dink u wil hoor wat sy, wat ons, te sê het. Dit is oor u seun. Hy is … hy is dood.”
Die woorde neem ‘n rukkie om in te sink. Dan los hy ‘n paar kragwoorde.
“Dood? Junior? Nee dit kan nie wjees nie! Dit mag nie! My sjeun. Disj al wat ek het.”
Sowat ‘n halfuur later stap Bertus saam met die twee offisiere die hospitaal binne. En daar, vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd kyk hy weer vir Maggie in die oë. Tog sukkel hy om haar in die oë te kyk, want wat sê hy vir haar? Maggie was baie jonk toe hy haar ontmoet het, veertien om presies te wees, en ‘n jaar later was sy swanger. Nooit was daar liefde vir haar nie. Nooit het dit om haar gegaan nie. Toe kom die laaitie. Junior. Onverwags en onbeplan. Bertus was self maar sewentien en skool “drop-out” en beslis nie gereed of lus vir hierdie pa-besigheid nie. Op daardie stadium het hy nie eens werk gehad nie. Haar ouers het hom egter verplig om sy verantwoordelikhede na te kom. Of dit, of hy moes die gevolge van wetlike vervolging dra. Hy het by hulle sy intrek geneem en net voor Junior se geboorte is hulle getroud.
Hy was nie voorbereid op wat daarna gevolg het nie. Bo alle verwagtinge in het hy ontsettend lief geraak vir sy seun en ter wille van hom en die verhouding met hom, het hy die verhouding met Maggie maak werk. Pa en seun het ‘n baie sterk band gevorm en hy en Maggie het saam aan hulle ouerskapsvaardighede begin werk. Dit het egter nie vir lank goed gegaan nie. Toe Junior ‘n rebelse tiener begin word het, het hy en sy pa Maggie begin verniel, fisies en emosioneel en net voor Junior se sestiende verjaarsdag het Maggie hulle verlaat. Met geen vrou om in hulle ore te kerm nie, het die twee van sleg na slegter gegaan. Pa en seun het saam begin drink, saam nagklubs besoek en mekaar se vriendinne gedeel. Toe kry Junior werk op ‘n ander dorp en verlaat die huis. Vir Bertus was dit ‘n groot verlies en hy het al hoe meer hom aan die drank oorgegee.
Nou, sewe maande later, is Junior dood. Dronkbestuur. Voorbeeld wat hy by sy pa gekry het. En saam met Maggie moet hy die verlies verwerk. Hy besef dit is sy skuld en vir die eerste maal in sy lewe het Bertus berou. Berou oor wat hy mense om hom aangedoen het en die skuldgevoelens ry hom. As hy maar net ‘n beter eggenoot was. As hy maar net ‘n beter pa was. As hy maar net ‘n beter voorbeeld gestel het. As hy maar net harder probeer het. As hy en maggie en Junior maar net oor kon begin. Maar as is verbrande hout. Bertus sukkel om vergifnis te vra. ‘n Paar maal tydens die volgende paar dae wou hy probeer om met Maggie te praat, maar hoe doen hy dit? Hoe maak hy reg wat hy verbrou het? Hoe maak hy dit ongedaan?
Na die begrafnis ry hy terug huis toe. En vir die eerste maal in ‘n baie lang tyd is hy nugter. Tog voel hy ‘n mislukking. Hy het weggery van Maggie af, sonder haar vergifnis, sonder om haar vergifnis te vra. Hy ry weg met groter skuldgevoelens as tevore. Hy ry weg met die wete dat hy sy seun voortydig die ewigheid ingestuur het en die skuldgevoelens vreet hom op.
‘n Paar minute later kry Maggie nog ‘n oproep. Die keer is dit Bertus. Hy het voor ‘n vragmotor ingery, maar nie sonder om ‘n briefie na te laat nie.
“Ek hoop jy kan my vergewe. Ek kon nie.”
800 woorde
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek