Jongste aktiwiteit:

Doortjie

Een dag lank, lank gelede, was daar ‘n koei met die naam Dubbeldoor. Dubbeldoor of Doortjie soos sy ook bekend staan, was gebore op ‘n melkplaas buite Bonnievale. Sy het haar naam as ‘n klein kalfie gekry toe die boer opmerk dat sy twee uiers het.

Dit was een van die vernaamste boere in die kontrei, hy was baas van een van die spoggerigste melkplase in die omgewing. Jare en jare na mekaar het hy pryse en trofees gewen vir sy spogplaas en sy koeie se puik kondisies. Daar was nie ’n bosluis, melkkoors of vrekte wat die boer en sy koeie kon onderkry nie. Maar toe kalf Doortjie se ma op ’n Vrydag, die dertiende en daar kom die koeitjie met twee uiers uit! Die koei wat aan Doortjie geboorte geskenk het, is dood aan geboorte komplikasies. Die boer se vrou was hewig onsteld. Sy het daarop aangedring dat die boer die kalf met die agt spene van kant moes maak. Sy was bang iemand vind uit van die frats en dan is hulle goeie naam en reputasie daarmee heen. Maar die kalfie se groot bruin oë het die boer se hart sag gemaak en hy kon haar nie doodmaak nie. Hy belowe toe sy vrou dat niemand ooit van die twee-uier kalf sal uitvind nie.

Die boer vat toe die kalfie van die groot trop af weg en gaan bou vir haar ’n kampie agter een van sy ou store. Hy doop haar Dubbeldoor en dra bottels vol melk aan. Met tyd word Doortjie groter. Die boer dra steeds melk aan en ook vars gesnyde lusern. Niemand weet van die twee-uier kalf nie, net die boer en sy vrou. En die vrou is steeds nie gelukkig oor die fratskoei se bestaan nie. Sy sê sy’t ’n gevoelte oor haar dat dié ding nog groot moeilikheid gaan veroorsaak. Die boer steur hom nie aan sy vrou se gevoelte nie. Hy dra vir Doortjie melk en lusern aan asof die aarde besig is om te vergaan. Die twee-uier kalf word vinnig groot. Die twee uiers ook en soos alle jong kallers, kom sit die stoutgeit in Doortjie se lyf. Sy begin deur die kraal breek. Natuurlik om agter die boer aan te hardloop. Twee keer kry die boer se vrou die frats koeikalf op haar voorstoep. Besig om aan die potplante te knibbel. Na groot geskel en geskree, vat die boer dan weer vir Doortjie terug kamp toe en maak die drade reg.

Maar al die regmaak help net mooi niks. Die twee-uier kalf bly deurbreek en die boer se vrou is permanent aan die skel oor die gedierte in haar tuin. Van die plaaswerkers raak ook bewus van die rare kalf met die twee uiers. Eendag kom drink Mevrou Dominee tee by die boer se vrou en toe is Doortjie weer op die voorstoep. Die dame word byna flou toe sy die koei se agt spene gewaar en die boer se vrou staan met ’n rooi gesig. Sy skel nie, want die dominee se vrou is by. Sy skiet net ’n doodsteek kyk in die boer se rigting. Mevrou Dominee vra uit oor die kalf, maar die boer se vrou bly praat die storie in ’n ander rigting. Toe Mevrou Dominee weg is, breek die hel los. Sommer met duiwel en al op die boer se kop. Die kalf moet keelaf, beveel sy vrou. Dis ’n satansding wat baie verdriet gaan veroorsaak. Die boer belowe, maar sy woord is fals. Hy ja en amen op sy vrou se opdrag, net sodat sy moet bedaar en stilbly. Hy loop na ’n ou gifkamer wat jare lank nie meer ingebruik is nie. Die gifkamer word skoongemaak en ingerig met ’n waterbak, voerkrip en ’n hoop ou strooi in die een hoek vir slaapplek. Doortjie word geskuif van die draadkamp na die ou gifkamer. Die boer sit ’n slot aan die deur en dra die enigste sleutel om sy nek.

Maar Dubbeldoor is glad nie gelukkig in die gifkamer nie. Sy kry alleen en die boer voel jammer vir haar. Hy sorg dat hy meer aandag aan haar gee. Hy dra boeke en ou tydskrifte na die gifkamer toe. Wanneer hy kans kry, sit en lees hy by die kalf. Kort voor lank, spandeer die boer volle dae lank in die gifkamer by die kalf agter die boeke. Soms sit hy daar tot donkeraand voor hy terugloop huis toe. Al die boeke en tydskrifte wat in die huis is, word deurgelees. Die boer werk naderhand deur ’n hele reeks ensiklopidieë ook. Die boer word slimmer en die plaas gaan agteruit. Sy vrou vermoed onraad toe die groot trop koeie begin gewig verloor en minder melk uitsit. Sy raak bewus van die boer se daaglikse verdwyning en kry die idee in haar kop dat hy ’n ander vrou sien. Sy pak haar tasse. Toe die boer weer een skemeraand van die gifkamer afkom, is sy vrou weg.Die boer se hart is stukkend oor sy vrou wat geloop het. Vir dae lank sit en treur hy by die twee-uier kalf. Slaap selfs saans in die gifkamer, want hy kry eensaam in die leë huis.

Doortjie word Door. Die kalf groei tot ’n koei en kry ’n horing. Nie twee horings soos normale beeste dit kry nie, maar ’n enkele spierwit reguit horing in die middel van haar kop. Dit pla die boer min, want die twee uiers het klaar van haar ’n buitengwone dier gemaak. Die boer raak honger in die gifkamer, maar hy sien nie kans om kos in die huis te gaan haal nie. Hy kyk Doortjie se uiers so en gee ’n trek aan een van die spene. ’n Oranje straal spuit daaruit en maak ’n plassie op die vloer. Die boer se oë raak groot. Hy druk sy vinger in die oranje plas en ruik daaraan. Dit ruik soos naartjie, dink hy en druk sy vinger in sy mond. Dit proé soos naartjie! Hy trek weer aan die speen. Weer kom die oranje melk uit. Die boer trek aan ’n ander speen. Groen melk. Dit ruik en proe soos appel. Die boer lag en skuif onder die twee uiers in. Hy trek aan al die spene. Agt verksillende kleure, agt verskillende geure.
Oranje; pers; groen; geel; blou; pienk; bruin en rooi. Naartjie; druiwe; appel; piesang; bubblegum; aarbei; tjoklit en kersie. Die boer kan sy oë, neus en tong nie glo nie. Sy Dubbeldoor koei is ’n lopende melkskommelmasjien! Die kleure is so helder en mooi en die geure so duidelik en vars.

Die boer drink homself dik aan al die gekleurde melk. Hy lê later en drink. En Doortjie bly staan dat die boer speen vir speen die melk in sy mond kan spuit. Die plaas buite die gifkamer vergaan, die werkers loop weg en die boer drink homself dood aan die melkreënboog. Twee dae lê hy sonder asem en hartklop langs Doortjie in die gifkamer. Toe skop die fratskoei die gifkamer se deur oop en hardloop uit. Toevallig op dieselfde oomblik wat die boer se vrou terugkeer. Doortjie hardloop die veld in en gee ’n groot sprong, op, die lug in. Reguit horing en flapperende spene, hoër en hoër, gaan sy na bo. Tot in die wolke.

Die boer se vrou is stilstom oor wat sy op die plaaswerf sien. Ses uitgeteerde melkkoeie, ’n dooie man in die gifkamer en ’n helse groot reënboog wat oor hulle plaas hang.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed