Jongste aktiwiteit:

Bitterbos

Ek onthou ‘n tyd van volop weiding –
genoeg vir al jou skape
wat (in oorvloed) meerling lammers lam.
Ek onthou die byna purper wolke
en jou blydskap oor die waters
wat blinkblou stoot
verby die oorloop van jou dam.

Maar die velde lê nou immervaal.
Waar die vleie eens gevloei het
kraak die klei.

Jy slaan jou oë op na koper koppies –
(dáárvandaan sal die roes stof kom).
Die son verskroei, en die wolk bedrieg.
Die wind dra die leuen wat oor die reën bly lieg.

Bitterbos, honger en dors boer saam
met moedverloor . . . en hoopbeskaam.

© Carma Shaw
17 Januarie 2017

* Na aanleiding van die felle droogte in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Sentraal Karoo. Teen einde Desember 2016, was sekere streke midde hul derde somerseisoen van uiters karige reën.




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed