Jongste aktiwiteit:

‘n Tweede kans 320 woorde Goud klas

Tweede kans

Daar is ‘n ou gesegde wat lui “skoolliefde roes nooit”. Dalk steek daar tog ‘n greintjie waarheid hierin.

Ek en jy. Jong volwassenes. Op die randjie van grootmens wees. Ek, dalk nog ‘n bietjie tiener en vol giggels. Jy was my blondekop soldaat.  Fier en regop, so aantreklik met jou blonde kuif en blou, blou oë. Tog was dit nie op daardie stadium vir ons bestem nie. Ons paadjies sou vurk. Joune na nagklubs en die bittersoet van ydele liefde. Myne na die dom onnosele besluit van Moeder Theresa speel.

Hy was ‘n gevangene. Ek wou hom red. Vas geglo dat ek hom sou verander. Soetsappige briefies vol kartels en draaie en Bybelversies. Toe ‘n lewe van hel. Laat nagte wakkerbly en wonder. Parfuum aan sy klere. Fyn onederklere in die kattebak.  Uiteindelik die finale oorgee. Niemand het my lief nie.  Ek leef vir my kinders. Dis al. Ek veg vir oorlewing. Jou beeld vervaag en word ‘n flou skadu in die kinkels van my brein.

Tog wonder ek soms. Sou jy, soos ek, ook terugverlang na ons kuier dae. Hoe lyk jy? Is jy gelukkig? Waar is jy? Onthou jy my? Dan tree die noodlot in. Ek is vry. Twee maande na die begrafnis lui my foon. Ses ure. Ses ure van onthou jy nog? Van opvang en skooldae onthou. Ses ure van jou!

Langs die fontein by Key West soek jou lippe myne. Die jare van seer en soek verdwyn.  Net ek en jy. My rok is nie wit nie. Dit is poeierblou, soos die blou van jou oë. Mense het geskinder. Dit gaan nie hou nie. Dis simpel skoolliefde. Dis nou al tien jaar. Volmaak. Ek kyk steeds in jou oë, jou hand vind steeds myne. Ons harte klop een. Tien jaar van jou. ‘n Tweede kans vir ons albei.

NB – Ons tiende huweliksherdenking was in Junie – nog steeds net so verlief soos op skool!

 

Amanda de Meillon




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed