Jongste aktiwiteit:

Gebyt

Die bloedbesmeerde man hardloop uitasem deur die donker stegie, maar steek vierkantig vas in sy spore. Voor hom kom die horde slakkepas nader. Hy swaai om en wil net weer begin hardloop, maar in die opening van die nou gang agter hom kom die een na die ander zombie te voorskyn. Met uitgestrekte arms en ‘n gekreun is dit asof hulle in stadige aksie naderkom. Daar is doodeenvoudig géén uitkom kans vir die arme man nie. Die angs oorval die man en hy sak magteloos op sy knieë neer. Die horde monsters pak die gillende man en begin hom byt en hompe vleis van hom afskeer en verslind…

Gerrit druk sy kop onder die kombers. Die toneel op die TV is selfs meer grusaam as wat hy verwag het. Die fliek se ouderdomsbeperking is 18, so hy moet seker nie verras wees dat ‘n baie visuele bloedbad aan die orde van die dag sou wees nie.
“Dis alles net spesiale effekte. Fake bloed en derms en grimering.” probeer hy homself oortuig. Hy trek die kombers weg, sodat net sy oë uitsteek. Die slagting op die skerm is nog nie verby nie. Een zombie is besig om aan die gedoemde man se arm – wat nie meer aan sy lyf vas is nie – te kou. ‘n Ander een hou die man se kop vas en kou daar waar die ellendige man se neus op ‘n tyd was. Gerrit voel hoe die pizza in sy keel opstoot en hy hou sy hand voor sy mond vir ingeval dit verby sy keel stoot. Gelukkig sak dit weer af tot in sy maag toe hy vinnig genoeg sy oë toeknyp. Sy hande soek-soek na die afstandbeheer en toe sy vingers die plastiek voel, gryp hy dit en druk die af-knoppie. Die zombies se gekreun en gegrom is dadelik doodstil. Gerrit word yskoud toe hy besef die enigste lig wat die donker weggehou het, is nou weg. Sy hand tas senuweeagtig op die koffietafel rond en hy sit die lamp aan die oomblik toe hy die skakelaar voel. Lig stroom deur die vertrek en Gerrit gooi die kombers van hom af met ‘n sug van verligting. Die paniek en naarheid is dadelik iets van die verlede.
Hy rol sy bruin oë. “Papbroek.” sê hy vies vir homself. Hy sit weer die TV aan en kies die nodige opsies om alle bewyse dat hy die fliek gekyk het – of probeer kyk het – te verwyder. Hy weet sy ma-hulle sal ‘n apopleksie kry en hom vir ‘n week lank verbied om TV te kyk, as hulle moet uitvind dat hy dit gekyk het.
“Daar is ‘n ouderdomsbeperking op die goed vir ‘n rede!” herroep hy sy ma se stem in sy gedagtes. “Sulke bloed en derms en ander goed is in elk geval sleg vir jou. Jy gaan nagmerries kry. En dit maak jou hard.”
Hy weet nie regtig wat sy ma met ‘hard’ bedoel het nie – dit kan baie dinge beteken.
Dit is vir Gerrit ‘n totale frustrasie. Hy is 14 jaar oud, maar meeste zombie-flieks se ouderdomsbeperking is 16 of meer. Gelukkig gaan sy ma-hulle gereeld genoeg uit, dat hy sy behoefte aan zombie-flieks kan vervul. Hy het al lankal die parental control se wagwoord ge-hack. Nie dat reg raai seker tel as ‘n hack nie.

Gerrit Meyer het ‘n obsessie met zombies. Sy kamer se mure is beplak met posters van zombie rolprente. Op sy lessenaar is dosyne versamelaarsbeeldjies van bekende karakters uit zombie-films en TV reekse. Rick Grimes en Negan van The Walking Dead, Shaun die skreeusnaakse ou van Shaun of the Dead, Alice van Resident Evil en nog vele meer. Hy het selfs die volledige reeks comics van The Walking Dead, waarop die TV reeks gebaseer was. Alles wat met zombies te doen gehad het waarop hy sy hande kon lê is iewers in sy kamer uitgestal, asof dit ‘n versameling trofees is.
Gerrit se ma was natuurlik nie vreeslik ingenome met sy obsessie nie, en het dikwels gedreig om hom na ‘n sielkundige toe te vat sodat hulle sy “obsessie met die dood kan reg dokter” – soos sy dit grappenderwys gestel het. Sy pa het ook nou en dan sy kop by Gerrit se kamer ingesteek, die uitstalling van zombie memorabilia op en af gekyk, sy kop geskud en weer verdwyn. Gerrit het egter geweet dat hulle nie régtig gepla was met sy belangstelling nie. Elke mens is anders en dit is dit.

Ten minste kon Gerrit sy passie deel met Sharon. Sharon was ‘n Australiese meisie wat Gerrit op ‘n Facebook groep, waar mense oor zombies dinge share, ontmoet het. Of eerder sy was ‘n Suid-Afrikaanse meisie wat saam haar ouers na Australië toe geïmmigreer het.
Hy was versot op Sharon. Dalk omdat dit juis ‘n girl was wat sy passie gedeel het. Of dalk omdat sy besonder mooi was. Alhoewel sy 16-jaar oud was. En seker buite sy league was. En natuurlik die feit dat sy aan die anderkant van die wêreld gebly het. Dit het die twee egter nie gekeer om tot laat in die aand te FaceTime en vir ure oor zombies gepraat nie. Hulle het elke stukkie geskiedenis, elke artikel, elke dokumentêr en elke nuwe fliek tot in die fynste detail bespreek.
“Ek wonder of het zombies ‘n siel…” Gerrit het op sy bed gelê met net gloei die selfoon se skerm wat sy gesig verlig het. “‘n Zombie lyk soos ‘n mens – wat besig is om te vrot. ‘n Zombie loop soos ‘n mens – of eerder iemand wat ‘n maraton gehardloop het, en nie meer die energie het om een tree verder te gee nie. ‘n Zombie eet soos ‘n mens.” Hy dink vir ‘n oomblik oor sy stelling. “Seker nie regtig nie. Die enigste ooreenkoms is dat mense en zombies albei hulle monde gebruik om te eet. Mense eet kos. Zombies eet mense.”
Sharon giggel en Gerrit frons.
“Wat? Ek is ernstig…”
Sharon probeer ophou giggel maar haar blywende glimlag verklap dat sy . “Ja, ja… Maar dis nou alles as iemand reeds lankal ‘n zombie is. Maar wat as hy nou net gebyt is, en jy nie die wond kan sien nie?”
Gerrit dink ‘n oomblik daaroor voordat hy seker van sy saak antwoord, “Dit behoort maklik te wees om ‘n zombie te herken. Hulle leë oë verklap hulle. Geen lewe, geen siel, geen spark in die donker dieptes van hulle oë nie.”
Sharon glimlag steeds. Gerrit se kennis en passie vir zombies het haar nog altyd verstom. Sy was nie naastenby so geïnteresseerd in zombies nie. Die ou met sy blonde kuif was ‘n groter trekpleister om oor zombies te chat. Nie dat sy dit sommer vir hom sou sê nie. “Ek sien gister daai een ou op Facebook sê zombies het niks met voodoo te doen nie. Kan jy dit glo? Hy’s seker ‘n newbie.” Sê Sharon en rol haar oë.
Gerrit rol ook sy oë. “Oh please. Dis goed gedokumenteer dat hulle in Haiti die voedoe geloof begin het, en dat zombies ‘n deel van die geloof was.” Gerrit is sommer ergerlik oor die ou se onkunde. “Hy dink seker daai zombies was ook monsters. Nee! Hulle was slagoffers van slawerny wie se siele nie in die hemel kon kom nie, en verdoem was om as lewende dooies op die aarde moes rondswerf. Dáái zombies was nie aggro nie. Mense het actually jammer gevoel vir die arme verlore siele.
Sharon giggel weer, hierdie keer omdat Gerrit so ontsteld raak oor mense se onkunde. Oftewel onkunde volgens hom. “Kon jy toe The Magic Island in die hande kry?”
Zombies soos dit in die Westerse kultuur bestaan, as monsters wat mense verslind, het vir die eerste keer verskyn in The Magic Island wat in 1929 deur W.B. Seabrook geskryf is, en dit was nog altyd die item wat Gerrit die graagste wou gehad het.
“Ja, maar dis hopeloos te duur.”
Aan Sharon se kant hoor hy ‘n ander vroue stem praat, dan sê Sharon haastig. “Ek moet gaan. My ma is weer in een van haar moods. Praat weer! Bye!”

Gerrit het dikwels gefantaseer hoe daar ‘n zombie uitbraak is, en hoe hy sy gesin en vriende sou beskerm en seker sou maak sy mense oorleef die zombie apokalips. ‘n Held. Hy het selfs ‘n survival backpack in sy kas gehad met al die nodige toerusting vir basiese oorlewing. ‘n Mes, vuurhoutjies, kerse, waterbottels, toue, verbande en alles wat hy gevoel het is nodig om te oorleef as die samelewing ineen sou stort.
Gerrit het ure spandeer om ontsnappingsroetes uit die dorp te beplan. Roetes wat van so aard was dat hy nooit in ‘n hoek vasgekeer sou word nie. Hy het plekke buite die dorp geïdentifiseer waar die veiligste sou wees van hordes zombies, want dit sal gevaarliker in stedelike gebiede wees.
In sy verbeelding sou Gerrit Meyer se naam vir ewig in die annale van geskiedenis geskryf word.

Aan die ander kant van die planeet, buite Wiltshire in Engeland, drup Gena Park versigtig nog ‘n druppel van die gelerige vloeistof in die proefbuis. Sy skud die proefbuis effens voor sy dit in die rakkie sit langs rye en rye ander proefbuise indruk. Sy maak ‘n nota op ‘n stuk papier en gee ‘n gaap. Die moegheid is besig om haar te oorval.
Alhoewel sy in Porton Down, die berugte navorsingslaboratorium in Engeland, werk, gaan daar nie regtig iets aan wat vreeslik geheimsinnig of kontroversieel is nie. Sy verstaan van kollegas dat daar elders in die gebou navorsing gedoen word doen oor die mees aansteeklike siektes, soos Ebola en builepes. Minder opwindend as wat mense se verbeeldings dit wou hê, maar glad nie so kontroversieel soos wat die publiek dink nie.
Gena besluit dat koffie die antwoord is en kies koers na die kombuis toe. ‘n Paar tree af in die gang sien sy Tony Ross aangestap kom. Sy glimlag breed en haar hard klop effens vinniger toe sy die aantreklike man met die skewe glimlag en intelligente oë sien. Gena gaan staan stil met ‘n frons. Iets is fout met Tony. Hy loop half sleepvoet. Kan hy moontlik dronk wees? Haar oë soek sy oë en sy is geskok toe sy dit vind. Daar is ‘n glaserigheid en daar is ‘n doodsheid in sy oë, wat gewoonlik op en wakker blink. Tony gee ‘n vreemde kreun toe hy Gena gewaar en begin met mening na haar toe sleep-stap. Gena gee ‘n tree agteruit, maar besef eers daar is gevaar toe Tony reg by haar is. Sy gee ‘n gil toe Tony na haar gesig hap en hou haar arms voor haar gesig om haar aanvaller te keer. In die proses kry Tony sy tande in Gena se arm geslaan. Gena gil histeries en begin Tony verwoed met haar vuis slaan, maar dis asof sy teen ‘n muur slaan. Die man met die dooie oë laat los nie sy prooi nie. Gena stamp die monster met alles in haar en uiteindelik strompel hy agteruit. Die bloeiende wond aan Gena se arm wys egter dat Tony se aanval suksesvol was. Tony gee die paniekbevange vrou nie kans om tot haar sinne te kom nie, en loods nog ‘n aanval met sy mond wawyd oop, sy tande rooi van Gena se bloed. Gena gee nog ‘n tree agteruit, maar die hak van haar skoen gee in en die tree word ‘n val. Tony is byna onmiddellik reg by haar. Tussen die pyn en verwarring het sy nie tyd om die aanvaller af te weer nie, en al wat vir haar oorbly is om haar oë toe te knyp. Die chaos word tot stilte gedwing deur die harde klap-geluide van outomatiese masjiengewere. Die pyn wat Gena verwag het kom nie, maar iets swaar en nat val op haar bene. Sy maak haar oë oop. Tony se lewelose lyk lê halflyf oor haar bene. Af in die gang staan twee sekuriteitswagte met hulle gewere teen hulle skouers en wag gespanne om te sien of Tony vir ewig gaan bly stil lê.

Gena vryf ingedagte oor die verband om haar arm wat die wond bedek. Daar bly ‘n kriewelrigheid in die wond – asof daar iets lewendig in die seer skuil. Sy dink vir die soveelste keer aan die gebeure van die dag. Dit bly steeds onwerklik. Sy word weer bewus van die hongerpyne wat aan haar maag knaag. Dis asof alles in die yskas haar walg, sy bly lus vir iets spesifiek. Sy kan net nie besluit presies vir wat nie.
Stadig maar seker raak Gena se gedagtes stil. Die moegheid neem oor. ‘n Uur of wat later word Gena se asemhaling ook stil. Haar bors bewegingloos. Oomblikke na dit kom Gena se liggaam orent. Dis egter nie meer Gena nie. Gena is dood. Hierdie liggaam is iets anders wat nóg dood nóg lewendig is. Sonder persoonlikheid. Sonder siel. Dit begin ‘n pad na buitentoe soek, gedryf deur ‘n onversadigbare honger. Honger vir mensvleis.

‘n Dag later, terug in Suid-Afrika, sit Gerrit kiertsregop voor die televisie. Sy oë word groter en sy uitdrukking meer oorbluf soos wat hy die beelde op die skerm inneem. Dit het gebeur. Dit is besig om te gebeur. Zombies! Zombies in Brittanje. Die man in ‘n weermag uniform op die TV probeer die joernalis gerusstel dat alles onder beheer is. Die beeld verander en wys weer tonele van massas mense wat op en af deur strate strompel. Meeste van die mense is bloedbesmeerd en hulle grys kleur laat dit lyk of almal lankal dood is.
Gerrit kyk verskrik na sy pa. Sy pa sit sy arm om Gerrit se skouer.
“Moenie worry nie, my kind. Dis oorsee. Hulle sal dit uitsorteer voordat dit ‘n probleem word.” Sy pa se woorde is vol sekerheid, maar sy stem nie.
“Dis wat hulle gedink het van COVID-19 ook. En toe ons weer sien is dit die hele wêreld vol…” Gerrit dink weer aan die tyd wat ‘n Corona-virus die hele wêreld tot stilstand geruk het. Niemand het dit sien kom nie. Niemand het ooit gedink dit kan gebeur nie. Die meeste mense glo nie iets kan gebeur voordat dit reeds gebeur het nie. Dan is dit te laat. Dit is nie onnoselheid of naïwiteit nie, dit is net die menslike natuur. Hoop. Mense het altyd hoop. Gaan hoop die mensdom se ondergang beteken?
Hy moet dadelik met Sharon praat. Sy sal sin maak van alles!

Dit was soos ‘n tsunami – ‘n frats vloed. Een oomblik stilte en voor jy jou oë kon uitvee, chaos. Totale anargie.
Gerrit was druk besig met huiswerk. Al vergaan die wêreld, sal Juffrou Notnagel nog steeds wiskunde huiswerk gee. Gerrit het dit sterk oorweeg om nie die huiswerk te doen nie, maar wou dit nie waag om Juffrou Notnagel kwaad te maak nie. As jy in haar verkeerde boekies beland, is jou lewe hel. Amper erger as om deur ‘n horde zombies gejaag te word.
Sy selfoon se gelui ruk hom uit sy dagdromery. Hy kyk eers na die caller ID voordat hy antwoord, “Hallo Pa! Wat’s nuus in die lewe van ‘n rekenmeester?”
“Gerrit…” Die hare in Gerrit se nek staan penorent toe hy sy pa se paniekbevange stem hoor. “…my kind. Hulle is hier! Hulle is in ons dorp! Hulle was eintlik al gister in die dorp. Mense is gebyt…” Dit was nie nodig vir sy pa om te verduidelik wie ‘hulle’ was nie. Zombies. “Ons het mos gepraat oor wat om te doen as dit gebeur…”
Gerrit het die afgelope twee weke sy survival backpack twee, drie keer ‘n dag uitgepak, alles noukeurig nagegaan en weer netjies teruggepak. Hy het elkeen van sy ontsnappingsroetes met sy fiets gery en by sy bestemming vir homself notas gemaak oor die roete en moontlike probleme.
“Ja Pa. Ek’s gereed.” Gerrit het probeer braaf klink, maar die angs was vlak in sy stem.
“Klim op jou fiets en ry dadelik! So vinnig as wat jy kan. Gaan na die spruit toe, daar waar ons altyd braai…ek en jou ma sal jou daar kry.” Die dringendheid van die saak was baie duidelik in sy pa se stem.
“Is ma…?” Gerrit kon nie die sin klaarmaak nie.
“Ek weet nie, ek is op pad na haar kantoor toe. Ek is seker sy’s fine. Ek laat weet jou sodra ons op pad is.” Gerrit kon nie anders as om vir ‘n oomblik trots te glimlag nie. Sy pa was so dapper as wat hy self wou wees. “En Seun… Ek is lief vir jou!”
“Ek is lief vir Pa ook!” Gerrit se stem breek soos hy teen die trane probeer keer. Hy wou nog iets sê, vir nog ‘n oomblik sy pa se stem hoor om hom moed in te praat, maar daar is geen meer geluid aan die anderkant van die oproep nie. “Pa? Pappa?” Gerrit kyk na die selfoon en sien dat hy geen opvangs het nie. Toe hou hy die selfoon in die lug met die hoop om weer opvangs te kry, maar dit was asof hy in ‘n tonnel was. Nie eers een strepie nie. Hy gaan nou nie eers vir Sharon kan laat weet wat besig is om te gebeur nie!

Vir ‘n oomblik sit Gerrit onseker oor wat volgende moet gebeur. Hy skud sy kop asof hy homself probeer wakker maak.
“Ek weet goed genoeg wat moet gebeur! Ek weet al jare lank wat moet gebeur. As daar iemand is wat moet weet wat om te doen, dan is dit ek!” Gerrit staan haastig op, hardloop na sy kamer, gryp sy rugsak en hardloop na die motorhuis toe. Hy druk die knoppie op die afstandbeheer om die motorhuis se deur oopmaak. Die deur begin stadig maar seker oopskuif met ‘n sagte gerommel. Dit voel vir Gerrit asof alles in stadige aksie gebeur; asof die motorhuisdeur weet Gerrit is haastig en dit aspris stadiger as gewoonlik beweeg. Gerrit se angstigheid kry die oorhand en hy duik af om onder die deur te kruip, wat teen slakkepas oopgaan. Toe hy halflyf onderdeur is, voel Gerrit hoe iets hom aan sy rugsak gryp. Gerrit gee ‘n gil en begin met alles wat hy het, handeviervoet vorentoe kruip. Vir ‘n oomblik bly hy vasgevang op een plek, soos daardie nagmerries wat jy weghardloop vir iets, maar jou bene wil nie beweeg nie. Dan ruk hy los, met ‘n bygaande skeurgeluid van sy rugsak, en gryp die naaste ding wat hy in die hande kan kry. Dis ‘n graaf – voldoende om as wapen te dien. Hy swaai om met die graaf omhoog, gereed om sy aanvaller aan te val. Sy oë soek die vyand maar hy sien niks en niemand wat om wil aanval nie. Toe hy besef wat eintlik gebeur het, laat sak hy moedeloos die graaf. Sy rugsak het aan ‘n skroef aan die motorhuisdeur vasgehaak. Toe hy losruk het die rugsak geskeur. Gerrit kyk verbouereerd hoe sy survival kit soos lekkergoed uit ‘n piñata op die grond neerreën. Sy hele survival pack is daarmee heen. Dis nou ‘n gatslag!
Gerrit kyk om hom rond op soek na ‘n ander sak of iets waarin hy weer sy voorraad kan gooi. Hy hardloop na sy pa se werkstafel, maar voordat hy daar kom stop hy dood in sy spore. ‘n Yskoue gevoel sak oor hom asof blokke ys by sy rug afgly. Hy hou sy asem op en luister aandagtig. Dit voel of hy niks hoor bo die getuit van sy ore in die stilte nie. Dan hoor hy ‘n duif wat verveeld koer, ‘n hond wat blaf en dan ‘n kar wat in die straat verbyjaag teen ‘n spoed. Iewers in die verte hoor hy sirenes en hy asem verlig uit – bly dat hy nie die enigste mens oor is nie. Hy wil net weer begin beweeg toe hy weer die geluid hoor.
“Uuuuh…” Kom die klank wat Gerrit gevrees het van buite af.
Gerrit se knieë word lam. Hy sê vieslike ‘n woord, wat sy ma hom voor sal hok vir ‘n maand, as sy dit moet hoor. Hy kyk na sy kit wat oor die vloer gestrooi is en dan na sy fiets. Hy moet vinnig besluit. Gaan hy sy kit eers optel, of gaan hy so vinnig as moontlik spore maak? Dit help nie hy het sy survival kit as hy dood is nie, so dit gaan maar moet agterbly.
Gerrit gryp sy fiets, spring op en begin trap – alles in een beweging. Soos wat hy by die motorhuis uitry sien hy ‘n figuur in die hoek van sy oog. Hy kyk nie om nie. As dit is wat hy dink dit is… Die oomblik as hy ‘n zombie sien, gaan alles realiteit word; gaan sy fantasieë en verbeeldingsvlugte die werklikheid wees.
Gerrit besef hy hou nog die graaf in sy een hand vas. Vir ‘n oomblik oorweeg hy dit om ontslae te raak van die graaf, maar besluit toe dat ‘n graaf beter is as niks. Hy draai die graaf dwars en hou dit saam met die fiets se handvatsels vas. Toe hy opkyk moet hy skerp uitswenk vir ‘n vrou wat in die pad staan. Haar bloes is vol bloed gesmeer. Gerrit is nie seker of dit haar bloed of iemand anders se bloed is nie.
“Help my!” hoor hy haar roep toe hy net verby haar is, maar hy kyk nie om nie.
“Net-nou is sy gebyt en dan steek sy my aan.” probeer Gerrit aan homself verduidelik hoekom hy nie stop nie, maar die skuldige gevoel gaan nie weg nie. “Kammakastige held…”
‘n Paar meter af in die straat hardloop ‘n man oor die pad en terselfdertyd kom ‘n kar om die draai gejaag. Die bestuurder probeer nie eers rem nie. Die kar tref die man, wat sy bes probeer om uit die motor se pad te duik, maar dis te laat. Die kar tref die man met ‘n sieklike klank en hy skiet soos ‘n akrobaat reg bo-oor die kar voordat hy gesig eerste op die teer beland. Hy bly doodstil lê en ‘n plas bloed begin om hom vorm. Die kar hou nie stil nie. Gerrit ook nie.

Toe Gerrit weer voor hom kyk sien hy die eerste een. Dit is baie duidelik ‘n zombie. Die gedaante loop sleepvoet op die sypaadjie. Sy klere is geskeur en vol bloed. Hier en daar is daar gapende wonde waar stukke van sy vel en spiere moes wees. ‘n Reuse gat in sy wang maak dat die naarheid in Gerrit se keel opstoot. Gerrit se oë ontmoet die van die zombie. Daar is geen lewe of emosie in die gedrog se oë nie. Tog voel dit vir Gerrit asof daar ‘n roofdier agter die donker pupille skuil wat op hom wil spring en hom wil verslind. Dit gee Gerrit ‘n koue rilling en hy wens hy was terug in sy kamer, veilig agter geslote deure. Maar hy is nie in sy kamer nie. Hy is hier. Op sy fiets. En hy trap met elke greintjie krag in hom.
Gerrit ken die roete na die spruit toe uit sy kop uit. Of eerder, een van twee roetes. Die een roete is vyf kilometer, verby die skool. Die ander roete is agterpaadjies maar is sewe kilometer lank. Hy wik en weeg ‘n oomblik oor watter roete om te vat en besluit hy wil uit die dorp uit kom so vinnig as wat hy moontlik kan. Dié roete is dalk gevaarliker, maar dis baie vinniger.
Gerrit probeer nóg vinniger trap, maar sy bene begin protesteer, en hy begin bietjie stadiger trap om sy energie te spaar. Hy stop by geen stopstraat of robot nie. Hy het nie vir ‘n oomblik ophou beweeg vandat hy by die huis weg is nie.
“Om te stop beteken die dood.” herinner hy hom aan sy eie reël. Een van vele reëls wat hy opgemaak het om te kan oorleef. “ Asof zombies hulle aan reëls steur…”
Sover as wat hy ry kom hy mense teë wat rondhardloop. Party met arms voel besittings wat vir hulle belangrik of kosbaar is wat hulle wil red. Party mense met huilende kinders wat hulle styf teen hulle vasklou. Hier en daar is iemand met ‘n geweer of enige iets wat as wapen kan dien. Dit gee Gerrit ‘n mate van hoop. Mense baklei terug. Niemand gee op sonder ‘n fight nie.
Gerrit kom ook heelwat zombies teë wat hortend loop, opsoek is na ‘n maaltyd. Gerrit ry vinnig genoeg dat hulle geen bedreiging vir hom inhou nie. Dit was nog altyd ‘n vraag wat hy homself afgevra het: hoe is dit moontlik dat zombies mense kan vang en eet as zombies so stadig beweeg? Die ding is dat een zombie bykans geen gevaar inhou vir enige iemand nie. Jy kan met ‘n rustige stap wegkom van die waggelende gevaarte. Die groot gevaar lê by groepe zombies. Dis asof hulle soos ‘n trop wolwe jou omsingel, in ‘n hoek dryf en vaskeer. So al asof daar ‘n intelligensie agter die proses skuil.
Gerrit word uit sy gedagtes geruk toe hy om die draai by die skool kom. In die pad staan ‘n klomp zombies in ‘n bondel, asof hulle besig is met ‘n spanpraatjie. Daar is geen opening aan weerskante van die horde, wat groot genoeg is vir Gerrit om verby te jaag nie. Hy besef hy pyl reg op die span zombies af. Vir die eerste keer vandat hy by die huis weggejaag het, trek hy die fiets se remme – met mening. Maar niks gebeur nie. Gerrit kyk grootoog af na die fiets se handvatsels opsoek na die probleem. Hy swets toe hy besef wat aangaan. Die graaf het tussen die handvatsels en die remme ingeskuif en keer dat hy remme kan aanslaan. Daar is egter nie tyd om iets daaromtrent te doen nie. Hy is so te sê op die groep zombies wat klaarblyklik van hom bewus geword het, en lyk asof hulle oopmond vir Gerrit staan en wag.
Gerrit swenk uit na links sodat hy nie reg in die middel van die klomp honger monsters beland nie. Hy tref die enjinkap van ‘n geparkeerde motor en, amper soos die man van vroeër, slaan hy bolmakiesie reg bo-oor die geparkeerde kar. Hy kom met ‘n hik aan die ander kant te lande, sy wind uitgeval. Hy draai, snakkend na asem ,op sy sy om te probeer sien wat van sy fiets geword het. Sy fiets lê aan die ander kant van die motor, die voorwiel amper dubbel gevou. Agter die fiets sien hy die voete van die bende zombies wat in sy rigting skuifel-skuifel. Die gekreun en gegrom word harder en harder soos wat hulle begin jag maak op hulle nuutste prooi. Gerrit stoot homself op dat hy hande-viervoet staan; hy begin net-net sy asem terugkry. Maar daar is glad nie tyd vir rus of herstel nie. Gerrit word bewus van drie figure wat van die sypaadjie se kant af na hom toe aangeskuifel kom.
Vasgekeer. Sy gedagtes gaan onwillekeurig na die fliek wat hy gekyk het, en hoe die man gillende in die stegie vasgekeer en aan ‘n wrede einde gekom het.
“Nee! Dink!” Gerrit gil hardop vir homself. Hy moet iets doen! Enige iets! Sy loopbaan as redder van die mensdom kan nie so gou al verby wees nie! Dan sak hy weer op sy maag en seil onder die kar in.
Gaan dit help? Kan zombies kruip? Het hy net die onafwendbare uitgestel vir ‘n paar sekondes? Die paniek in Gerrit is by kookpunt en wil-wil uit kom as trane.
Om die kar maal die lewende dooies, klaarblyklik verward oor wat van hulle maaltyd geword het. Dan val een zombie op sy knieë neer en voel-voel met sy hand aan die onderkant van die motor voordat hy vooroor op sy maag val. Hy begin kruip in Gerrit se rigting. Gerrit trek sy knieë op tot onder sy ken. Histerie wil uitborrel, maar hy probeer so stil as moontlik bly. Die seilende zombie steek egter vas teen die kar se kant, want hy het blykbaar nie die intelligensie om sy kop laer te laat sak nie. Nog ‘n zombie sak neer. En nog een. Nie een van hulle sak laag genoeg om onder die kar in te seil nie. Hulle steek hulle arms so ver uit as wat hulle kan om Gerrit by te kom, maar hy bly net-net uit hulle kloue. Uiteindelik lê een zombie plat genoeg om onder die kar in kom en begin met uitgestrekte arms na Gerrit skuifel.
Dit is dit. Daar kom ‘n rustigheid oor Gerrit. Hy het vrede gemaak met sy lot. Dis die einde. Hy het darem probeer. Hy gaan die res van sy lewe ‘n zombie wees. Of eerder, hy gaan die res van sy half-dood ‘n zombie wees.
Gerrit voel die zombie se vingers aan sy hare raak en hy draai sy kop in die rigting van sy jagter. Die hande met gebreekte naels kap en Gerrit koes vinnig genoeg dat dit sy gesig mis met millimeters. Dit keer nie die aanslag nie. Die monsteragtige hand krap weer met mening na Gerrit se gesig. Gerrit word gevul met ‘n ongekende woede. Gerrit Meyer het nog veggees in hom. Gerrit vat die zombie se arm vas met altwee sy hande en hy byt.
Gerrit se tande sink in die zombie se vleis in. Die zombie hou op beweeg. Hy het nie ‘n uitdrukking op sy gesig nie, maar as hy een gehad het sou dit ‘n uitdrukking van skok gewees het. Gerrit self het wel ‘n uitdrukking van totale skok op sy gesig.
“Wat op aarde het ek nou aangevang?” dink hy en bars uit van die lag. Op daardie oomblik laat spaander die zombies wat om die kar maal in al die windrigtings in. Asof hulle so vinnig en so ver as moontlik van Gerrit af wil kom. Dit klink of hulle gil. Of huil?
Almal behalwe die zombie wat Gerrit oomblikke terug aan die arm gebyt het. Dié zombie wriemel soos ‘n wurm en sy gesig trek asof hy ongelooflike pyn ervaar. Toe, stilte. Die zombie beweeg nie meer nie. Gerrit wag stomgeslaan dat die zombie weer begin veg vir ‘n maaltyd, maar niks gebeur nie. Hy raak versigtig aan die zombie, en toe niks gebeur nie, stamp hy hard aan die zombie se skouer. Klaarblyklik is die zombie dood. Nie half-dood half-lewendig nie, maar morsdood.
Versigtig kruip Gerrit onder die kar uit en kyk senuweeagtig om hom rond.
Wat het nou eintlik gebeur? Hy frons. Is dit regtig só maklik?
Om die draai kom ‘n nuwe groepie zombies al kreunend aangestap en draai dadelik in Gerrit se rigting toe hulle hom gewaar. Alles in Gerrit se lyf soebat dat hy moet omdraai en weghardloop, maar hy dwing homself om te bly staan waar hy is. Hy gee ‘n paar tree nader aan die komende gevaar en begin lag. Hy dink aan alles wat moontlik snaaks kan wees – grappe, flieks, video’s van mense wat per ongeluk hulle dinges afval. Die groepie dooies begin skielik rondmaal soos die ander groep en vlug stadig in ‘n ander rigting, asof hulle vergeet het hulle moet eintlik iewers anders wees.
Lag? Lag. Lag is die antwoord. En niemand sal dit ooit kon raai nie, want wie lag ooit as iets jou jaag om jou op te vreet?
Een van die voortvlugtende zombies val oor die sypaadjie se rand. Sonder om mooi daaroor te dink hardloop Gerrit nader, spring bo-op die zombie en byt haar aan die skouer. Die zombie wriemel gepynig en raak oomblikke later stil, vir altyd.
Ons byt is net so gevaarlik vir hulle, as wat hulle byt vir ons is…
Gerrit kom orent. Vandag is die dag wat hy die wêreld red van die zombie apokalips.
Gerrit se oog vang sy eie weerkaatsing in ‘n kar se ruit. Hy glimlag, stoot sy bors uit en sit sy hande op sy sye soos Superman. ‘n Hero. Dalk is hy nou in Sharon se league. Hy is vuil, sy hare deurmekaar en sy klere geskeur. Helde in storieboeke en flieks is altyd mooi skoon, het altyd aanskoulik gekamde hare en netjiese klere aan. Volgende keer as hy die held gaan wees, dink hy, sal hy onthou om ‘n kam saam te bring. Hy begin lag. Van verligting. Van opgewondenheid. Af in die straat kies nog ‘n zombie, al gillende, koers in ‘n ander rigting, so ver weg en so vinnig van die vreesaanjaende gelag af, as wat sy dooie bene hom kan dra.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed