Lien se veilige hawe.
Lien se veilige hawe.
Lien Meiring skud haar platinumgrys krulle agteroor en glimlag tevrede. Hier waar sy op die voorstoep van haar huisie in die woud sit, klink die woudgeluide soos ʼn vrolike koor op. Die sonneblomme dans op maat van die wind, hulle bars behoorlik uit die grond om die son se strale te drink.
Haar gedagtes gaan ver terug in haar verlede.
Skielik is Lien weer ʼn dogtertjie van tien jaar oud, sy sit in die gang voor die weeshuismoeder se kantoor. Heleen, die huismoeder was ʼn wonderlike vrou, altyd uiters besorg oor al die kinders. Sy het daarom aangedring om op haar hurke af te sak as sy na die kleintjies moes luister.
“Lien, waarom die hartseer gesiggie vandag?”
“Die ander kinders is almal genooi na hulle vakansiehuise vir die Desember-vakansie. Niemand het nog vir my genooi nie.”
Ek sukkel om asem te kry so styf druk tannie Tannie Heleen my teen haar ronde lyf vas. Ek asem haar parfuum in en voel veilig in haar omarming.
“Lientjie, ounooi, jy weet mos! Jou beurt sal kom. Die spreekwoord lui mos: ‘Wie laaste lag, lag die lekkerste!’”
Die sagte stem roep my in die kantoor in. Voor my sit twee grootmense wat vriendelik na my kant toe glimlag.
“Hierdie is oom Johan en tannie Fiona. Hulle wil hoor of jy saam met hulle wil gaan kuier by hulle vakansiehuis in die Knysna-woud? Dit sal vir die hele Kersvakansie wees.”
Ek glimlag en wonder of hulle nie dalk die klipharde “doef-doef, doef-doef” van my hart kan hoor. Dit was die dag waarop my hele lewe verander het.
Die Desember-kuier was een van vele voor ek in hul pleegsorg geplaas is.
Aan die westelike kant van die koppie, waar die Featherbed-natuurreservaat sy dik woudklere aanhet, het ons vir ure lank die skepe sit en kyk as hulle die strandmeer ingevaar gekom het. As die storm opgesteek het, het van die plaaslike skippers vir hulle die weg gebaan in ʼn klein houtskuitjie om veilig deur die Knysna-koppe te vaar.
Ek kon my verkyk aan die sakkende son in die weste as die wolkies verkleur in ougoud en salmpienk. Die geure van die woud het my betower en gou het Knysna en sy mense my ingetrek en deel gemaak van “die plek van varings”.
Hulle het my ingeneem in hulle sorg, en later aangeneem. Vir my het hulle my Pa Johan en Mammie Fiona geword.
Dit was nie te lank nie toe word ek het die ousus vir die tweeling boeties wat hulle ook gaan haal het in die Abraham Kriel Kinderhuis.
“Kom ousus jou ou dromer, wat sit jy so en droom?” ruk boet Karl se stem my terug.
“Ons wag net vir jou om by ons aan te sluit dat ons kan eet.”
Wyl ons om die groot ou houttafel sit en gesels voel ek die samesyn tussen ons. Soos die gesegde lui: “Jou huis is waar jou hart is”, is my hart hier by my familie.
©Marlene Erasmus
29/12/2022
(496 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2022- Samesyn projek