van eensaam na gemeensaam (SILWER)
van eensaam na gemeensaam
dit is die dertigste dag van Desember in Namibië
met wit wolke wat belowend oor ons kom waghou
ek sien nog talle mense wat skarrel in ʼn groot haas
vir oulaas gou nog inkopies doen om weereens
fees te vier – dit is immers mos môre Oujaar
is daar dan nog tyd vir mekaar – soek ons mekaar?
wyl sommige soos stomme skape versink in ʼn trans
hoor ek die helder stem van die Herder luid roep:
“Laat almal wat dors het, kom … “
mag ons samesyn beleef in die jaar wat kom
mag ons die taal van liefde praat – soos Hy
mag ons eensaam verander na gemeensaam …
©Marlene Erasmus
30/12/2022
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2022- Samesyn projek