Jongste aktiwiteit:

Hoe ry die boere – 2

HOE RY DIE BOERE – 2
Geskryf deur Fanus Strydom
2529 woorde

Die eerste skof, tot by Warmbad, verloop seepglad en sonder enige verdere, onverwagse voorval of onnodige oponthoud. Die pad is besig, en dit vat pa maar ‘n rukkie om homself in ‘n gerieflike ryposisie in genesskrop te kry, met sy regtervoet gemaklik op die petrolpedaal en sy elmboog halfpad by die oop venster uit aan sy kant. Maar, kort voor lank vervaag die frons op sy voorkop en begin hy ontspan. Hy maak gou vrede met die feit dat daar elke nou en dan, veral wanneer die bultjie voor ons effe steil raak, ‘n lang tou motors, trokke en ander voertuie van verskillende soorte agter ons opdam. Die arme Opel was tot die uiterste toe gelaai en het maar swaar getrek teen die gereelde opdraendes en steil bulte uit. Maar, sodra die hindernis vir eers weer oorkom is, en die soliede lyn verbrokkel in verbygaan-strepe voor ons, kon die iesegrimmige opgehoudes opnuut teen dolle vaart van agter-af by ons verbysnel op hulle naarstiglike jaagtog Noorde toe.

“Ja jaag maar, jong…ons sal almal tog uiteindelik weer by dieselfde piepieplek moet stop, of om petrol in te gooi…” sal pa so nou en dan ‘n onverskillige, en gewoonlik onvriendelike, verbyjager gelate groet met ‘n vingerwysing en een of twee ander onhoorbare woorde by sy venster uit. Ek dink dit is om hulle alle voorspoed toe te wens op hulle onnodig-oorhaastige poging na die voorpunt van die deur-ons-veroorsaakte tou die bult op. Die warmbloedige onstuimigheid binne hom van vroeër was teen hierdie tyd nou genadiglik weggespoel deur die gemoedelike dreunsang van die getroue ou Opel onder sy hande. In plek van die buierige ongeduld-weer om sy kop, het daar intussen ‘n rustige, en baie welkome, dampkring van welgeluksaligheid oor sy skouers uit begin rol, soos die wolke oor Tafelberg op ‘n belowende, vroegmôre sonskyndag. Aangeblaas deur die welverdiende en sonderlinge, eenjaarlikse wete, dat hy uiteindelik weer regmatig aan die stuur mag sit van sy eie skip op reis na Kerstyd rus-en- vrede iewers vêr weg op ‘n plaas diep in die laeveldse bos. Hy was uiteindelik weer kaptein van sy eie skip, en díe was tot barstens toe volgeprop met vrou, kinners, hond en genoeg kos, klere, Kersgeskenke en liefde vir ‘n leeftyd saam die onseker toekoms in.

In die motor begin ons elkeen ook nou, op ons eie unieke manier, vertroud raak met die voorkennis van ure lank se sit in een posisie, en vind elkeen gou die ideale oriëntasie vir sy, of haar onderskeie boude, bene, knieknoppe, elmboë en ander ongemaklik-saamgepersde aanhangsels en/of uitstulpings. Van buite af fluit die luggie koel en verfrissend in deur pa se oop venster en ry die vroegoggendson gesellig saam deur die ruite aan die regterkant. Kort voor lank begin ons lag en saam gesels oor ditjies en datjies en hondjies en katjies en allerhande anner goed, en vergeet ons gou van die ongelukkige begin van vroeër vanoggend. Ma kies een van drie, groot, rooi kassette uit die paneelkissie voor haar en stoot dit in die gat voor my bene in die paneelbord in. Na ‘n paar, aanvanklike gly-pogings begin Groep 2 ook entoesiasties saamsing van ‘n padda wat wou gaan opsit by sy nooi in die vlei…ahum, met lippe so rooi…ahum, en van ‘n wilgerboom op die wal by Potchefstroom..ahum. Dis nog te gou vir padkos, so ma troos elkeen solank met ‘n swietie uit die blik by haar voete, en ‘n voortydige slukkie Oros uit die bottel, ook by haar voete. Ons het, uit gewoonte, beter geweet as om te vra vir nog, want die antwoord was, soos altyd op hierdie vroeë stadium van die reis, wel te verwagte:

“Nee kinders, net enetjie…die pad is nog lank.”

Soos wat pa aan die stuur van sake was ten opsigte van vervoer, pak, padroetes, rytuie en tye, was ma in beheer van voedselvoorbereiding, voorsiening, regverdige verspreiding en algemene traktering van almal aan boord. Ek het persoonlik die groot, vierkantige, half-deurskynende Tupperbak met sy bloedrooi deksel van die kombuis af stasiewa toe gedra vanoggend. Daar het ek self deur die dowwe, plastiekwand gesien hoe die witbrood konfyt-en-kaas toebroodjies aan die een kant tot hoog bo teen die kant opgestapel is, teenoor die grondboontjie-en-stroop nefies, in bruinbrood, aan die anderkant. In die middel, en behaaglik toegewikkel in ‘n kraakskoon, bont kombuisvadoek, het ek skelm geloer toe niemand kyk nie, en gesien daar lê individueel-verpakte bondeltjies gaar-gebakte boereworsvingers, bruingebraaide frikkadelbolle, verskeie hardgekookte eiers (ten minste een vir elkeen, dalk twee vir die erg-hongeriges) en ‘n paar blokkies ekstra soetmelkkaas net vir ingeval. In ‘n ander klein, plat bakkie, wat net-net bo-op die vleisgoed gepas het, was daar eweredig gesnyde skywe rooiryp tamaties saam met ‘n piepklein, plastiek sout-en-peper-potjie met gaatjies aan teenoorgestelde kante. Ook in die mandjie by ma se voete was ‘n fles vol kokende, swart moerkoffie en witsuiker in ‘n leë konfytbotteltjie saam met twee, af-oor koffiebekers en ‘n enkele teelepel vir roer. Melk sal ons kry by die kafee langs die pad net voor ons stop vir ontbyt by die voorafbepaalde aftrekplek. Maar, tot dan moes ons maak doen met ‘n enkele Sugus-vrugteswiet, of ‘n Liqourice Allsorts, afhangende van die geluk van die trekking vanuit die blikkie oor ma se skouer. Saam met ‘n lusmaker-knertsie koeldrank uit die piepklein glasie wat gewoonlik op Sondae gebruik word vir soetwyn aan tafel tydens middagete na kerk.

Ons gly sonder stop of te veel rondkyk deur Warmbad se hoofstraat en voor ek nog kon regraai waar die nommerplaat “TPJ” vandaan kom, is ons alweer by die dorp se boonste stopstraat uit oppad Nylstroom toe. Kort voor lank ry ons verby die wal van Nysltroom se dam aan ons linkerkant en begin die stadsgevoel eweskielik vervaag deur die onmiskenbare saambondel van kolle digte bosveld-ruigtes hier en daar om ons. Pa sê die bordjie langs die pad met die bok daarop wat spring, beteken dat daar dalk koedoes vorentoe mag wees wat voor die kar oor die pad kan spring. Ek maak dit opsluit my geheime taak om uit te kyk vir enige teken van hulle in die stadig-verbyglyende skadukolle onder die digte bome om ons. Maar, al wat ek te siene kry is ‘n paar vaalbruin beeste aan ma se kant, ‘n klompie haastige tarentale aan die ander kant by pa se neus verby, en uiteindelik ‘n oom op ‘n trekker met ‘n sleepwa vol ryp waatlemoene agterop, deur die windskerm voor my. Nader aan ons in die vinnig-verbysnellende, vaal gras langs die pad vang iets egter my ge-oefende oog. Nou weer aan pa se kant: ‘n Reuse, dofswart pyp-slang so dik soos ‘n man se gebalde vuis, seil blinklyf en kinkelend saam met ons kar se skaduwee in die son. Dit gly moeiteloos verby ‘n paar groot klippe in sy pad en toe skerp-regs om ‘n hoë miershoop, maar raak geensins agter nie. Vir ‘n kortstondige oomblik verdwyn dit eensklaps en onheilspellend in ‘n donker skadukol in, net om ‘n entjie vorentoe weer skielik op ‘n ander, ewe-onverwagse plek uit te peul. Ten spyte van my deurdringende gesoekery agter elke klip en onder elke vinnig-verbyvliegende bos. Nie te lank nie, of ek sien ‘n dik straal helderblink water uitbundig by die ding se bek ontplof…Voor my, deur die ruit aan pa se kant, sien ek hoe die stroom water skuimend en ongehinderd in die koelblou dieptes van ‘n oorvol plaasdam instort…

“Pa…” probeer ek sê toe Groep 2 ‘n wind sluk op ‘n gerekte plek op die kasset, maar hy hoor my nie, want hy fluit ingedagte saam en waai vir die oom op die trekker langs die dam.
“Ma…” probeer ek na die anderkant toe. Gelukkig hoor sy my. Sy kyk na my deur twee , vreemde, koëlronde donkerbril lens-oë wat sy bo-oor haar gewone bril ingehaak het.
“Ja seun…”
“Ek wil piepie…” fluister ek benoud, terwyl my kniekoppe instinktief teen mekaar begin aanstamp.
“Is jy seker..?” vra sy hoopvol die onnodige, want almal het geweet as ek sê ek wil piepie, dan was dit ‘n sekerte.
“Uh-huh…” knik ek bevestigend.
“Kan jy bietjie uithou..?” probeer sy tyd wen en om ‘n ongewensde vra-vir-stop te vermy, want pa fluit tog nou so lekker…Hoopvol dat dit my nood tydelik sal verlig vryf sy ‘n druppeltjie sweet van my klam voorkop af.
“Uh-uh.” skud ek dringend my kop en wys skaam na die vinnig-groterwordende, nat kolletjie voor op my Khakiebroekie. Ma herlei die duidelike noodgeval dringend na pa se kant toe, hy kyk na die nat kol op my broek en oomblikke later, na een, laaste en ongenaakbare lang bult, kry hy sy onwillige aftrekkans. Ons glip tydelik uit die Noordwaartsglyende verkeerswurm uit vir ‘n dringende en onbeplande russtop. Pa sit nie eers die kar af nie. Ek boender halsoorkop by ma se kant uit en hardloop dringend tot by die geroeste doringdraad langs die pad. Daar verlig ek my inderhaas en hoogs verlig van my opgeboude nood, terwyl ek verleë waai vir die oom op die trekker waar hy reg voor my op die plaaspad verby ry met sy sleepwa vol waatlemoene. Fielies kry, danksy my, ook ‘n tydelike noodpas en sy val ook dankbaar, wydsbeen langs my duskant die doringdraad neer en los haar hondjiemerk haastig langs myne. Toe vat sy haar kans en storm woedend agter die trekkergedoente aan en blaf oordadig teen die verbygaande stofwolk in. Ma roep haar egter dringend tot haar sinne en ons word altwee terstond teruggekommandeer in ons luierende ryplek in. In sy kantspieëltjie sien pa gou weer die gaping waarop hy gehoop het en gee hy vet. ‘n Halfmyl verder dam daar weer ‘n klomp ongeduldige agterryers agter ons op en is ons genadiglik weer terug in die stroom, sonder te veel verlore tyd.

“Ma…”
Die keer is dit Hanlie vanuit haar middelsitplek agter my kop. Ma kyk om na haar en glimlag vir iets wat ek nie kan sien nie.
“Ja my kind…?”
“Wanneer eet ons…?”
“Is jy honger…?”
“Uh-hmm…” laat Hanlie haar pop met die lang, blonde nylonhare die praatwerk doen, terwyl sy die speelding se plastiek-arms op-en-af manipuleer.
“Is julle honger…?” soek ma ‘n kworum deur die kar en glip haar donkerbril weer na die “op”-posisie, voor sy na pa kyk vir die finale besluit. Hy hou op met fluit, bestudeer vir ‘n oomblik die verskeie naalde en meters voor hom deur die stuurwiel onder sy hande, voordat hy uiteindelik na die tou agter ons in sy truspieëltjie kyk. Dan maak hy sy beslissing bekend:
“Ons is amper by Naboomspruit…nog net ‘n klein entjie.”
“Kan julle nog bietjie uithou..?” bevestig ma dat ons nog bietjie sal moet uithou, voor sy die ewe-moeë Groep 2 uit die kassetgat tussen my knieknoppe verlos vir ‘n welverdiende ruskans.
“Aaaahhh-hummm….” gly hulle vir oulaas dapper voor hulle kan gaan afkoel in die paneelkisse voor ma se bene.
Hanlie se pop knik weer haar blonde kop en maak ‘n paar snaakse, onverstaanbare geluide deur haar vermakerige buikspreker agter haar.
Meteens breek Wim sy stilswye en vra hy “so by the way” as moontlik by sy venster uit:
“Gaan ons by die bakkery stop…?”
Hy probeer met ‘n swaar sug om sy lenige, tienerseun-ledemate voor hom uit te strek onder pa se sitplek in. Aan die anderkant kyk Adie skielik op van haar storieboek af en leun opgewonde vorentoe om pa se reaksie beter te siene te kry agter my kop verby:
“Oe ja, ‘seblief pa..!”
Ek kyk na pa. Sien hoe hy skelm vir ma kyk by my verby en sy vir hom:
“Miskien…?” antwoord hy met ‘n vonkel in sy oog, want hy weet wat ons almal weet: dat dit onmoontlik is om by die bakkery net buite Naboomspruit verby te ry, sonder om te stop vir een, of twee, van hulle reusagtige, varsgebakte brode warm uit die oond uit. Dit is immers ‘n integrale deel van ons plaastoe-gaan tradisie. Ons stop altyd daar om brood te koop om saam te vat, al kla Ouma elke keer oor die totale onnodigheid daarvan. Want sy en Modjadji het dan self vanoggend vroeg al vier brode in die koolstoof gebak vir ons aankoms later die aand, saam met ‘n hele erdebak vol plaas-vetkoeke en ‘n hengse pot vol maalvleis.
“Ma, ma kan nooit genoeg brood hê vir ons klomp Strydompies nie…” sal pa haar stilmaak as hy die twee reuse, Naboom-brode op die kombuistafel in die voorhuis neersit die oomblik as ons daar aankom. Dan sal ouma haar hande opgewonde aan haar voorskoot afvee, die parafienlamp uithou spens se kant toe en haar getroue handlanger roep in ‘n fyn, hoë stem. Dankbaar dat haar kuikens die lang tog huistoe veilig deurstaan het:
“Modjadjieee…bringôla die jêm ennie botter da uitie koelkas virrie miesies asseblief…die kênners hulle is baja honger…Kopêla mammatjie…!”
Maar dit sou eers baie later vanaand gebeur…

Voor dit was daar nog Naboomspruit, Potgietersrus, Pietersburg, Tsaneen en dan uiteindelik die plaas. En tussen-in natuurlik Magoebaskloof….o, die vreesaanjaende Magoebaskloof!
Dit was een van die ander redes hoekom pa so haastig was om vroeg weg te kom en ma, met tye, sigbaar onrustig en deurentyd effe onrustig…

Ontbyt by Naboomspruit stel nie teleur nie, inteendeel:
Terwyl ma die rooi-geruite tafeldoek oopsprei oor die ronde sementtafel onder die koelteboom buite die bakkery gaan koop pa en Wim solank die broodnodige brood. En, soos altyd, kom pa terug met ‘n ekstra, wit papiersak onder sy arm vasgeknyp, saam met die twee stomende, oondwarm brode. Wim draai solank die prop van die bottel yskoue Coke af, sommer met sy tande.
“My kind, jou tande…!” probeer ma hom vergeefs stop, want hy is gedetermineerd om sy nuutgevonde manlikheid te bewys deur sy onverskrokke gewaagdheid.
“Hier…” pak ma ‘n paar papierglase op die tafel uit, terwyl sy vir pa en haarself koffie uit die fles skink in die twee af-oor erdebekertjies. “Gooi vir julle elkeen bietjie in, asseblief…”
Wim maak seker hy skink vir ons elkeen presies dieselfde hoeveelheid in. Nie ‘n druppel te veel, of te min, díe kant toe, of daai kant toe nie.
“Wat’s in die papiersak, pa..?” wil Hanlie weet. Haar pop lê vir eers verlate en vergete met haar bene onserimonieël in die lug langs haar op die sementbankie, terwyl sy by die geheime, wit papiersak probeer inloer.
“Hey, nuuskierige agie…!” lag pa en gryp die papiersak voor haar neus weg. “Dis ‘n verrassing…vir netnou!”
“Dis doghnuts…” waag Adie ‘n raaiskoot en glimlag wetend vir ma wat terug knip-oog vir haar.
“En Creamy Toffies..!” voeg ek my beskeie opinie by die opgewonde saamkoekery om die geheimsinnige papiersak in die middel van die tafel.
“Kom, kom…eet eers julle kos..” sê ma en maak die wit Tupperbak met ‘n “plop” van sy rooi deksel oop. Die wondersoete geur van bedompige toebroodjies, koue wors en frikkadelle en halfgesmelte soetmelkkaasblokkies laat die spoeg onwillekeurig in my kieste opwel en ek mik onbeskaamd na my eerste toebroodjie.
“Wag eers, mannetjie…!”vermaan pa my terug tot goeie maniere, en toe: “Kom laat ons bid…”

Sommer so staan-staan vat ons hande om die ronde sementtafel daar onder die koelteboom buite die bakkery net duskant Naboomspruit en verlustig ons onsself in die wonders van ons lang-verwagte en hoogs-verdiende plaastoe-gaan ontbyt padkos…

(word vervolg…/)

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed