Jongste aktiwiteit:

My moskombersie.

My moskombersie.

Ek sit en verlustig my aan die vrolike gelag en geskerts van my vriende. Vir my is dit ʼn groot voorreg om in die geselskap van my hartsmense te wees, mense wat hulle nie laat onderkry deur die klein uitdagings van die lewe nie.

Aan die ander kant is dit ook opvallend dat dit juis hierdie groep mense is wat van die gewone dinge in die lewe iets baie besonders kan maak. Die gevoel van gemeensaamheid in doodgewone dinge soos om saam kos maak of take af te handel, praat ʼn taal van samehorigheid. So tussen die saamkuiery deur vloei die gesprek so gemaklik dat dit my laat voel of die gordyn op ʼn verhoog oopgeskuif het en ek na ʼn toneelstuk sit en kyk.

In die veilige omgewing van samesyn verdwyn spanning oor sake van die dag soos byvoorbeeld die politiek of misdaadsyfers wat besig is om die hoogte in te skiet. Die inflasiekoers wat aan ons senuwee knaag is ook vir ʼn wyle op die agtergrond.

Samesyn met vriende vorm ʼn uiters noodsaaklike deel van die mens se bestaan, ongeag hul ouderdom. Hoewel jou persoonlike ervaring van vriendskappe en samesyn dalk vir jou onsigbaar kan voel, is dit vir die mens van groot ware. Die ontspanne gesprekke tussen vriende is nie om te ontsnap van die werklikheid nie, maar is eerder ʼn erkenning dat die wêreld met al sy sake belangrik genoeg is om oor te besin.

My gedagtes volg die spoor van onthou. Ek dink terug na die tye by Ouma Lilly in Upington. Die treinrit van Keetmanshoop af het die vakansie op hoë noot laat afskop! Die “tikke-tik, tikke-tik” van die ysterwiele op die spoorstawe wat soos deuntjie in my kop draai. Die lootjies trek om te bepaal wie slaap op die boonste bank in die kompartement. Dan die heerlike saamkuier met nefies en niggies wat ek lank laas gesien. Die stories in die sitkamer voor die kaggelvuur met stomende bekers Milo soos net ouma dit kon maak. Om deel te wees van die familie het my veilig laat voel as ons in ʼn streep gestap het om te gaan swem by die openbare swembad.

Nou as volwasse vrou laat samesyn my nog steeds geliefd voel. Asof ek hoort en waardeer word.

Ek kyk na my vriende en onwillekeurig kom die woorde van Laurika Rauch by my op:

“Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
– beskut teen die koue –
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie …”

Ek voel veilig in samesyn.

©Marlene Erasmus
27/12/2022

Krediet aan Laurika Rauch.

(438 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed