SKULDLAS – ’N GELOOFSPERSPEKTIEF – (Silwer)
Hoe ontstaan skuld? Ek praat nie van finansiële-, statutêre- of persoonlike skuld, wat mense tydens hul lewe aan mekkaar, of aan die een of ander instansie verskuldig is nie. Hierdie rubriek handel oor persoonlike skuld wat op die emosionele vlak van elke mens se lewe geleë is.
Hoe doen ’n mens sodanige emosionele skuldlas op? Op welke staduim van ’n mens se lewe word daardie emosionele skuld so groot dat dit ’n las word?
Voordat ons by die kruks van die saak kom moet ons vlugtig kyk na die vorme van emosionele skuld, waarvan ek die volgende twee uitlig wat na my mening die belangrikste vorme of te wel oorsake van emosionele skuld is, naamlik:-
1. Morele skuld
In ’n neutedop is morele skuld, skuldgevoelens. Met ander woorde wanneer jy skuldig voel oor wat jy gedoen of gesê het die een of ander tyd, wat strydig is met jou eie morele waardes. Ons gevoelens van skuld is bo alle twyfel die oorsaak van baie van ons emosionele pyn, (laste), waarmee ons daagliks moet deel ; en
2. Sosiale skuld
In ’n neutedop is sosiale skuld, wanneer jy jou medemens met opset of voorbedagte rade benadeel. Deesdae is die sosiale media en selfone veral die platvorm wat hom ruimlik tot hierdie vorm van skuld leen. (Sekere dinge in die lewe is so moeilik om te sê terwyl jy die persoon in die oë kyk, maar so maklik om te sê, in ’n teksboodskap per SMS of WhatsApp.)
Hierdie twee vorme van emosionele skuld loop hand aan hand. Dit is daardie dinge in jou verlede, waaroor jy nie beheer gehad het nie wat ’n blywende las op die emosionele vlak van jou lewe gelaat het.
’n Emosionele skuldlas, is dus daardie skuldlas wat in jou emosies gegraffeer is, en as jy dit ‘vertroetel’, in ’n skuldlas ontaard wat moeilik is om mee te deel. Laat ek verduidelik wat ek daarmee bedoel.
Wanneer jy ’n boom afsaag en jy kyk na die afgesaagde stomp, wat sien jy? Jy sien jaarringe, en deur die jaarringe te tel kan jy bepaal wat die ouderdom van die boom is. Maklik nê! Maar ’n plantkundige sal vir jou sê dat die jaarringe van die boom vir hom baie meer van die boom vertel as net die ouderdom daarvan. Hy sal byvoorbeeld vir jou iets sê soos:
• Hierdie jaarring vertel my van ’n tydperk toe dit baie gereën het, en die boom swaar gekry het as gevolg van voortdurende nat toestande, en gevolglik amper versuip het;
• die volgende jaarring vertel vir my toe ‘n weerligstraal die boom getref het, en die boom amper vernietig was;
• ’n volgende jaarring vertel vir my toe die boom gely het onder die een of ander plantsiekte;
• hierdie twee jaarringe vertel vir my van ’n tydperk waartydens die boom gelukkig en ongestoord gegroei het; terwyl
• die volgende jaarring vir my vertel van ’n tydperk waartydens die boom gebuk gegaan het onder verwoestende veldbrande, ensovoorts.
Hierdie jaarringe is opgeteken in die hart van die boom, en verteenwoordig die outobiografie van die boom. Dít wat op die boom se ‘emosionele vlak’ lê, kan net raakgesien en sinvol ontleed word deur ’n kundige, in hierdie geval ’n plantkundige.
Net soos wat hierdie boom jaarringe opgedoen, so ook jy en ek. Daardie jaarringe gaan lê op jou emosionele vlak, en is soos water wat onder die brug deurloop, maar gedurig deur jou teruggeroep word. Sodoende word dit ’n reuse emosionele skuldlas om mee te deel.
Maar hoe doen jy dan nou sulke emosionele jaarringe in jou lewe op? Kom ek noem vir jou ‘n paar voorbeelde:
• Jy is as kind gespot oor jou bakore of jou krom neus, of omdat julle arm is;
• as kind is jy seksueeel deur iemand gemollesteer, en jy kon nooit met iemand daaroor praat nie;
• Jy voel jou beste maatjie het jou verraai of sy rug op jou gedraai, of jy was die slagoffer van ’n geskindery;
• Jy het in die een of ander situasie in jou eer gekrenk gevoel, of jou menswaardigheid was ernstig aangetas;
• Jy was die slagoffer van ’n onsmaaklike egskeiding;
• Jy het ‘n geliefde wreedaardig aan die dood afgestaan, hetsy as gevolg van ’n plaasmoord, selfmoord of tydens die grensoorlog in die sewentiger-/ tagtigerjare; of
• Jy was die magtelose slagoffer van gesinsgeweld, of moes deurloop onder die vuiste van ’n alkoholis ouer. Die voorbeelde is legio. Miskien kan jy self tot hierdie lysie toevoeg.
Die punt wat ek wil maak is dat gemelde jaarringe as ’n skuldlas op die emosionele vlak van jou wese ingegraffeer word, en dat jy ’n kundige weg of metode moet vind om daarvan ontslae te raak, anders gaan jy die waters wat reeds onder die brug deur is bly terugroep, stroom-op met selfvernietigende gevolge.
Kom ek vertel jou van die emosionele jaarringe wat ek in my eie lewe opgedoen het.
• Toe ek nog ’n klein laerskool-seuntjie was, is ek altyd deur die groter seuns in die skool gespot oor my groot ore en lang voorkop. My bynaam was: ‘Ou Volkswagen’, want, het hulle gesê: ‘Jy lyk soos ‘n Volkswagen, waarvan die deure oop is.’ Ander het weer gesê: ‘Jou ore is so groot, toe jy een jaar oud was het jou ma seker nie geweet of jy wil loop of vlieg nie.’
• Tydens my verpligte millitêre opleiding was, het een van die instrukteurs altyd, tot groot vermaak van my kollegas, gesê: ‘As julle ooit op die grens in ’n hinderlaag inloop, en die terries begin op julle skiet, gaan kruip net agter Ou Volkswagen se ore weg.’ Ja!, liewe leser, jy mag maar lag oor hierdie spottende insidente. Ek stem saam dis skreeu snaaks, en water onder die brug, maar nie sonder om hul letsels van ’n groot emosionele skuldlas in my lewe agter te laat nie. Ek lag vandag self daaroor.
Hierdie insidente is maar enkele voorbeelde van emosionele jaarringe wat ek in mý lewe as kind en jongman opgedoen het. Op ’n dag het ek besef dat ek besig is om myself te pynig, deur telkemaal daardie waters wat onder deur die brug is, stroom-op te wil gaan terughaal. Deur dít te doen het ek besef dat ek net die emosionele hartseer en pyn wat ek deur die jare opgedoen het uit selfbejammering wil ‘vertroetel’.
Die vraag wat ek myself oor en oor afgevra het was: Hoe deel ek met hierdie emosionele skuldlas, hoe verwerk ek dit en hoe vereffen ek dit om te voorkom dat dit vir my ’n te groot emosionele skuldlas word om mee te deel?
Ek het met mý emosionele skuldlas begin deel vanuit my eie geloofsoortuiging, deur my antwoorde in die Bybel te soek. Ek het deur ’n indiepte studie gemaak van die lewe en leer van die Here Jesus tydens Sy aardse handel en wandel. My bevinding was as volg:-
• Hy word die woestyn ingelei om deur die Satan versoek te word – Hy weerstaan die aanslae van Satan in alle opsigte;
• Hy preek met gesag;
• Hy genees siekes;
• Hy laat blindes sien;
• Hy laat dowes hoor;
• Hy dryf duiwels uit;
• Hy wek dooies op;
• Hy maak die storm stil; en
• Hy loop op die water ensovoorts.
Dít het my tot die gevolgtrekking gebring dat die Here Jesus die absolute gesagvolle Meester was van elke situasie waarin Hy Hom as mens bevind het.
Dan kry ek Hom in Getsemane. Ek lees, Hy was:-
• Bedroef;
• beangs;
• benoud; en
• bang tot die dood toe.
Hiérdie is mos menslike emosies wat ek en jy ook ervaar in ons daaglikse handel en wandel?
Vervolgens word Hy:-
• Verraai;
• geslaan;
• gevloek;
• verneder;
• vals beskuldig;
• verloon; en
• gespot.
Hieruit het ek tot die konklusie gekom dat die Here Jesus aarde toe gekom het om in Sy menslike staat emosioneel versoek en beproef te word net soos ons, sodat Hy ons emosionele skuldlas kan vereffen.
Die vraag is nou: Hoe verwerk, vereffen of verlig jy joù emosionele skuldlas?
Ek meld die volgende as adviserende riglyne vanuit ’n emosioneel-skuldberadings oogpunt:-
• Moet nie jou emosionele skuld onderdruk, deur onder andere selfoortuigend te redeneer dat ons maar almal emosionele skuld het om te dra; of deur jouself te sit en bejammer nie;
• jouself te verontskuldig van enige morele en / of sosiale skuld situasie deur te sê, dit is nie my skuld nie, dis so en so se skuld; en
• maak gebruik van kundige emosionele skuldberaders om jou te adviseer oor die verwerking van jou emosionele skuldlas, asook hoe om jou ‘emosionele skuldlas-pakkie’ op te maak en voor die voete van Jesus neer te lê.
Hy het klaar daarvoor betaal aan die kruis van Golgota.
——-ooo000ooo——-
©Pieter Mostert
3 Kommentare
-
HENN
Baie dankie vir die pragtige perspektief op skuld en genade. Dankbaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek