
Geluk se goue draad.
Geluk se goue draad.
Desember het aangebreek! Vir my beslis die wonderlikste tyd van elke jaar. Tyd vir sonskyn, soel someraande en samesyn. Volgens die woordeboek beteken samesyn – ʼn toestand van saam met mense te wees; om in ander se geselskap verkeer. Kersfees is die tyd waar familie en vriende saam tyd spandeer om ʼn jaar af te sluit.
In my vroegste herinneringe is ek die langbeendogter wat baljaar in skuimende branders van die wye diepblou oseaan. Vakansies by Knysna, die hoogtepunt waarna ons almal uitgesien het. Ooms, tannies, nefies en niggies in rye tente op groen grasperke. Stories om die kampvuur wat jou tot laataand laat wakkerbly. Te bang om te gaan slaap anders mis jy dalk al die grootmense se staaltjies. Vroegoggend-swem in ysige water of “sleep” agter die voertuig oor goue seesand vasgebrand in die geheue.
Die goue draad wat deur al my somers loop is beslis familie en vriende. Saamwees om die tafel waar ons ure kaartspeletjies kon speel. Monopoly speel tot jy al die eiendomme besit met huisies en hotelle op. Die kenmerkende reuk van sonroom wat in die lug hang. Saans is die naglug gevul met die geure van braaivleisvure. Meestal is dit vleis wat jy ruik, soms is dit die vangs van die dag wat op die kole gegooi is.
Nou as volwassene besef ek die waarde van samesyn. Samesyn praat sy eie taal – ʼn LIEFDES-taal.
Alhoewel Kerstyd beskou word as die “gelukkigste tyd” is daar ook soms ook pyn in die samesyn. Vir baie is dit dalk ʼn eerste keer sonder daardie spesiale persoon in hulle midde. In hierdie feesseisoen waar mens intense emosies ervaar, word verlies ook meer intens beleef. Om in die tyd van samesyn alleen te voel as jou geliefde afgesterf het, is dus normaal. Die neiging is dat hierdie persoon dikwels alleen wil wees, maar staan die persoon by. ʼn Goeie idee is dalk om klein kersboom te kry en saam te versier. Wees daar vir hom of haar, al drink julle in stilte daardie koppie rooibostee.
In baie wonings is kos die middelpunt waarom samesyn draai. Familie is belangrik en ons het so grootgeword. Dit is die tyd waar daar saamgekuier, gelag en geskerts word tot die vroeë oggendure.
Kersfees is egter nie die enigste tyd vir samesyn nie. Die reuk van braaivleisvuur na Sondagoggend se kerkdiens is vir my sinoniem met spesiale saamwees-tye. Selfs Woensdagaande se vinnige vleisbraai het die geleentheid geskep vir saamwees.
In die huwelik is samesyn net so belangrik – die ‘gom’ wat ʼn paartjie heg. Die grootste van alles, die liefde, maak hier samesyn pragtig! In my verhouding is saamwees die warm gevoel om my hart. Daardie idee jy behoort aan iemand. By troues is samesyn van familie en vriende die spreekwoordelike kersie op die koek. Die geluk, liefde en gesellige atmosfeer maak jou groot dag onvergeetlik met herinneringe om te koester.
Al my mooi onthou-oomblikke van liefde, geluk en samesyn, laat my hart warm klop. Samesyn is die prentjies wat nooit uit jou gedagtes sal verdwyn.
©Marlene Erasmus
12/12/2022
(507 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2022- Samesyn projek