Die Afkop Sonneblom
Die son skyn heerlik warm buite toe Louise besluit om by haar pa op die plot te gaan kuier. Haar pa bly al vir die laaste vyf jaar alleen op die plot buite Pretoria en sy besoek hom elke tweede week van die maand. Sy is baie lief vir haar pa en hou daarvan om saam met hom op die plot rond te stap en na alles te kyk wat hy haar wys.
Louise en haar twee broers en suster probeer tevergeefs om hul pa te oorreed om van die plot af dorp toe te trek. Hy hou van sy lewe op die plot en raak baie hardkoppig as die kinders aanhoudend aan hom neul om te verkoop en te trek. Hulle is so bang iets gebeur met hul pa. Sy kry haar pa baie jammer, maar voel sy smart.
Dit is nog so vyf kilometer voordat sy by die plot se ou bekende geroeste hek indraai. Dit maak nie saak as die hek geroes is nie, hier op die plotte is dit net die mense wat saak maak. Almal is alles gewoond. Die hek is oop vandag want haar pa weet dat sy kom kuier en so ry sy met die grondpad tot by die huis waar haar pa by die voordeur staan en wag.
Ag, dink Louise, hoe lekker is die gevoel nie om by die huis te wees nie. Alle plotte is vol geroeste ou goed. Die ou trekker knipoog al so oud is hy, sinkplate wat rond lê en al die metaalstukke wat haar pa op ‘n veiling êrens gekoop het. Baie bure van hom wat weggetrek het van die plotte af het hul goed daar kom aflaai en haar pa het alles met liefde geneem. Hulle het mekaar se goed bewonder asof dit goud werd was. Dis so lekker hier by haar pa op die plot en met die ou dubbelverdieping huis in die lang gras. Die gras is partymaal hoër as haar pa. Al wat haar pa heeldag doen is om die gras onder beheer te probeer hou.
Haar pa kom aangestap. Jy kan sien dat die modegier hier altyd dieselfde sal bly. Dieselfde ou wit kraaghemp met opgerolde moue, lang kouse en safari kortbroek. En moenie van daardie groen “corduroy” hoed vergeet nie. Almal ken haar pa so. Louise klim uit haar motor en ruik die vars lug.
Hulle twee groet. Om te groet is baie belangrik vir haar pa. Hy sê altyd dat jy die persoon in die oë moet kyk as jy groet.
Louise haal die sjokoladekoek uit haar motor wat sy gebak het. Sy haal ook die kruideniersware uit die kattebak wat haar pa bestel het. Hulle twee stap by die huis in. Hulle gesels lekker en drink ‘n koppie tee wat Louise gemaak het. Nou en dan hoor sy die windpomp kreun buite in die wind, hy is droog van die son wat so warm op hom neerskyn.
Na ‘n halfuur sê haar pa, “Nou toe kom, ek wil jou iets gaan wys.”
Hulle stap by die voordeur uit, oor die groot grasperk reguit dam se kant toe. Alles het agteruit gegaan, maar wie gee om, dis mos die mense wat saak maak en almal is in elk geval alles gewoond.
Hulle stap tot by die lendelam hekkie van die dam. Sommer so ‘n ou stuk draad hek wat eenmaal lank terug die beeste se kraalhek was. Die dam is leeg en vol kakiebos gegroei. Louise dink aan al die middae na skool toe al die plotkinders hier in hul dam kom swem het. Dit was die lekkerste tye. Half drie in die middae na skool het hulle “Wolwedans in die skemer” op die radio geluister waarna almal dam toe gehardloop het.
“Louise, kyk!” sê haar pa en wys met sy bruin gebrande vinger na die sonneblom langs die draad.
Ai, maar dit is ‘n besonderse sonneblom. Hy is langer as sy en vol saad. Sy bekyk die blom eers mooi. Sy sien dat haar pa baie ingenome is met die sonneblom en sy glimlag. Die sonneblom het goudgeel blomblare en swart pitte. Asemrowend!
Sy dink by haarself hoe uniek ‘n sonneblom eintlik is. Hy kan enige plek groei soos op ‘n ashoop of soos hierdie een op haar pa se plot tussen die lang gras.
“Ek hou hom al lank dop,” sê Louise se pa met ‘n glimlag.
“Pappa, hoe lank neem dit ‘n sonneblom om so hoog te groei?”
“Seker so drie weke, maar ek het hom eers ’n week terug vir die eerste keer hier by die dam gesien. Sy kop het oor die gras geloer en dit was iets om te aanskou. Maar dis ‘n stryd met die ou swart vabond wat die sonneblom se saad wil kom opvreet!” sê haar pa met ‘n swaar gemoed.
“Wie is die swart vabond, Pappa?”
“’n Swart ou kraai.”
Louise glimlag en hoop maar die sonneblom kan saad skiet voordat die kraai weer terug kom. Sjoe, die sonneblom is vreeslik mooi. Hy kyk son se kant toe. Die natuur is goed vir haar pa. Hy sien dinge op ‘n ander manier raak. Die buitelewe is waar hy wil wees, maar so het die dag tot ‘n einde gekom. Voordat jy kon sê mes, het daar weer twee weke verby gegaan.
Vandag kon Louise nie wag om op die plot te kom nie. Die laaste twee weke het sy net aan die sonneblom gedink. Van die teerpad af ry sy met die grondpad op en deur die bekende ou geroeste hek. Sy stop by die dubbelverdieping huis. Haar pa kom aangestap met sy bekende ou wit hemp met opgerolde moue, safari kortbroek en lang kouse. Louise wil net by die sonneblom uitkom. Vandag voel sy nie eens die rustige gevoel van die ou plot en die lang bruin gras wat in die wind waai nie.
Sy groet vinnig haar pa terwyl die motor se enjin nog luier.
“Hoe gaan dit met die sonneblom?” En toe sien sy haar pa se treurige gesig.
“En nou Pappa, is alles reg?” vra sy. Sy wonder of sy nie te oorgretig was nie.
“Nee, niks is verkeerd nie, moet jouself nie verknies nie.”
“Kom ons gaan kyk gou wat gebeur het met die sonneblom!”
Soos hulle twee na die dam se kant toe aangestap kom, soek Louise die sonneblom. Sy sien al in haar gedagtes die oorweldigende helder geel sonneblom wat langs die ou kraalhekkie tussen die lang gras groei.
“Waar is die sonneblom?” vra Louise terwyl sy heeltyd rond soek.
Haar pa wys met sy bruin gebrande vinger grond toe, so hartseer. Tussen die grys, lang, droë gras lê die sonneblom se kop. Net so, geen lewe en morsdood. Dis net die lang stingel wat saam met die lang gras liggies heen en weer in die wind waai. Die stingel is salig onbewus van sy kop wat af is.
“Ag nee,” Louise buk af grond toe om beter te kan sien.
“Ja, Louise, daai vabond het hom toe beetgekry,” sê haar pa half verontwaardig.
Twee minute gaan in stilte verby. Mens kan net die ritsel hoor van die droë gras wat in die wind waai.
“En nou Pappa, wat nou? Ek was so opgewonde,” sê Louise met vraende oë.
“Nee wat jong, ek kon dit self nie glo toe ek ‘n paar dae terug hier kom en die blom op die grond sien lê nie. Ek kon die laaste paar dae nie slaap nie, maar het besluit dat ons ‘n les hieruit kan leer. Ek het daardie swart kraai vergewe!”
“Nee, Pappa, nee, hy moet boet hiervoor!”
Pa sit sy groot bruin gebrande hand op Louise se skouer neer.
“Vergewe hom, want die groot swart kraai was maar net baie honger. Jy weet Louise, God gee vir die diere en voëls hierdie kos om te eet. Vir my en vir jou was die tyd saam met die sonneblom ‘n mooi ervaring. Los die blom op die grond, die swart kraai het net ‘n paar van die sade uitgevreet terwyl die res alles op die grond lê. Wanneer jy weer kom, kan ek jou verseker dat daar nuwe sonneblomplantjies gaan wees. As jy die kraai kan vergewe en ons mooi sonneblom onthou soos wat hy was, sal jy vrede in jou hart kry. Ek wil nie die kwaad in my hart saamdra vir altyd nie, môre is ‘n nuwe dag,” sê pa met soveel passie vir die lewe.”
Hy glimlag en kyk lank na Louise se mooi gesig, want die trane in haar blou oë beteken baie meer vir hom as die afkop sonneblom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.