Jy is nie jou diagnose nie.
Jy is nie jou diagnose nie.
Die toekenning van ’n kliniese of psigologiese etiket word dikwels verkeerdelik as ’n statiese eindpunt beskou. Dit is maklik om te glo dat ’n spesifieke diagnose of stempel jou identiteit definieer en die grense van jou toekoms permanent vaslê. Ek verstaan die rasionaal agter hierdie aanname maar verwerp die siening. Die menslike liggaam is as ’n dinamiese selfregulerende stelsel ontwerp. ‘n Diagnose beskryf dalk waardeur die liggaam en gees op hierdie oomblik gaan, maar dit definieer beslis nie die eindpunt nie.
Ek glo vas dat elke persoon gewapen is met ’n inherente vermoё en ongelooflike gawe om hulself te kan genees. Die krag om weer balans te vind en die senuweestelsel te herstel, sit klaar binne-in elkeen se eie unieke biologie.
As kruiekundige sien ek hierdie waarheid elke dag in my praktyk. Die natuur genees nie ’n mens van buite af nie; sy herinner die liggaam bloot aan die wysheid wat reeds daarin sit. Die plante en kruie is nie ‘n tower’muti’ wat die werk vir jou doen nie. Dit dra slegs die lewende frekwensies en suiwer energie van die aarde en dien as ’n katalisator¹ om die innerlike genesingsmeganismes wakker te maak.
Ek sien dus myself nie as die geneser nie. Ek is bloot ’n instrument of as jy wil – ’n gids wat die regte natuurlike elemente en ’n veilige spasie fasiliteer sodat jou liggaam sy eie ingeboude bloudruk vir herstel kan begin volg.
Hierdie idee is nie ’n mooi poëtiese gedagte nie en beslis ook nie ’n abstrakte- of optimistiese aanname nie. Dit is inderdaad ’n tasbare neurobiologiese realiteit. Die wetenskap bevestig die stelling en wys daarop dat deur die meganisme van neuroplastisiteit die brein die bewese vermoë besit om homself funksioneel en struktureel te kan herorganiseer in reaksie op patologie of trauma. “Eurika!” Die brein kan homself fisies herbedraad en nuwe senuweebane bou.
Selfs studies oor die plasebo-effek wys dat wanneer jy opreg glo en vertrou dat jy gaan herstel, jou brein dadelik reageer deur dopamine en natuurlikepynstillers vry te stel. Jou liggaam begin letterlik sy eie medisyne vervaardig. Dit is ook merkbaar by spontane remissie waar mense van ernstige toestande soos depressie herstel bloot omdat die liggaam se natuurlike stelsels onverpoosd werk om homself terug te bring na balans.
Ware transformasie en genesing word nie van buite af afgedwing nie, maar word deur jou eie outonomie en innerlike veerkragtigheid aangedryf. Jy is nie ’n passiewe slagoffer van ’n siekte of ‘n etiket nie – jy is die hoofkarakter en die dryfkrag agter jou eie genesing.
¹katalisator is ‘n stof wat die chemiese proses versnel maar dit bly dieselfde aan die einde van die reaksie en word nie opgebruik nie.
Vir verdere nadenke:
Su, C.Y. en Lin, J.S., 2023. Adaptive Neuroplasticity in Brain Injury Recovery. Pubmed Central (PMC), PMC10598326.
© 2026 Pierce van Tonder. Alle regte voorbehou.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.