Freddie en die bootbouers
Freddie en die bootbouers
Stone Town, die hoofstad van Zanzibar, is nie groot nie en eerder ‘n groot dorp as ‘n klein stad. Mens ry nie sommer in die plek rond nie, want die binnedorp is oud en die straatjies is smal, en die buitewyke is maar vuil en bouvallig, met stukkende paaie en alles wat leef en beef wat in die strate loop. Ons gesinnetjie het al ook geleer, stap is gesond, dit spaar geld, en mens sien soveel meer as jy stap en kyk in plaas van net ry van punt tot punt. So is ons dan een lang naweek weg van die huis af, die middag in Stone Town en vanaand iewers aan die ooskus in een of ander plekkie, maar daar is geen haas nie.
So stap ons dan die dag in die buitewyke van Stone Town, soos altyd is dit skroeiend warm en elke moontlike lafenisplek word besoek. Ons vind ‘n man wat kokosneutsap verkoop en staan dadelik nader vir die lekkerny.
In die trope is daar twee soorte kokosneute, een is vir eet, vandaar die olie en die wit klapper wat so lekker op koek vassit, en dan is daar die tipe waarvan ‘n mens die sap drink. In Swahili staan hulle as “madafu” of net “dafu” bekend. Die storie is in die vreeslike hitte, ná al die gesweet, hou die madafu-sap al die voedingswaarde en vog wat jou liggaam nodig het om te herstel, en hul kos op straat minder as die helfte van ‘n enkele botteltjie water. Ons stop, en oudergewoonte begin my oudste uitvra na die verkoper se koeie en sy familie. Hulle gesels oor die weer en die komende reën en nadat hulle sy fiets en dié se nodigheid aan nuwe bande bespreek het en lekker gelag het, word daar madafu aangekoop.
Behendig gryp die man ‘n groen neut so groot soos ‘n kleinerige kopkool en met ‘n verskriklike skerp baba-panga sny hy die bopunt skoon van die klapperhaar buite-om. Daarna sny hy ‘n klein stukkie oop sodat dit as dekseltjie kan dien indien mens ophou drink en as lastige vlieë jou drankie wil kom deel. Hierna word ‘n plastiekstrooi met ‘n opgeligte pinkie ingedruk en die madafu word met ‘n tandlose glimlag oorhandig. Die jong manne kry eerste, dan die mamma, en dan ek, my vriend en my groot seun, want ons is die manne. Die sap is amper deursigtig, effe soet en baie verfrissend. Mens voel eintlik hoe dit deur jou liggaam vloei en dadelik is jy weer perdfris en sommer gereed vir nog ‘n ent se stap.
Wanneer die sap op is, gee ons die doppe vir die man terug. Hy gebruik dan ‘n stomp “mes” wat uit hout gekerf is en krap daarmee die sagte vleis aan die binnekant van die dop los, sodat ons dié ook kan eet. Na die welkome lafenis en ook die lekker gevoel van ietsie gesonds in die maag, maak ons aanstaltes om aan te beweeg. Bwana madafu (kokosneut-meneer) word gegroet en rugsakkies word opgetel, maar toe sien ons die bote en die bootbouers, en sonder om eers te vra, stuur ek en die seuns reguit daarop af met my vriend en my vrou wat gedwee volg.
Op ‘n stukkie veld langs die pad, tussen groenteverkopers en steenkoolsakke staan daar die kiel van ‘n dau op ‘n hou- konstruksie. As kranige houtwerker en assistent onder-skeidelik, stel ek en my oudste seun dadelik belang in wat hier aan die gang is. Met sy beheer oor die taal begin hy dan sommer vinnig vrae vra, sonder om eers oor koeie en familie uit te vra, effens onhoflik, maar hy was nog kind. Die hoof- bootbouer is ook maar te gretig om ons te vertel wat hulle hier doen, en in later het ek gedink ek hy het die moontlikheid gesien om dalk ‘n boot aan my te verkoop.
Die dau is ‘n bekende gesig op die riviere en kanale van die midde-ooste, veral Egipte en die Nyl. Hul word gekenmerk deur hul wye romp en geboë boeg, en natuurlik deur die driehoek-seil wat toelaat dat hul baie maklik deur een of twee mense gedraai en beheer kan word. Zanzibar, wat baie jare gelede onder die beheer van ‘n sultan was, is ryk aan goed uit hul Arabiese tye, en selfs die taal, Swahili, het heelwat Arabiese segswyses en woorde. Die dau is ook so ʼn oorblyfsel.
Die man vertel ons toe dat hulle, hy en sy vier trawante, besig om ‘n dau te bou. Hulle het in die woud ingegaan en ‘n boom gekry wat taamlik reguit was, en dit toe afgekap, skoon gekap en die stomp en takke tot op hul werkterrein vervoer. Hier het hulle die stomp oor ‘n groot gat laat lê en met ‘n treksaag het een knap bo gestaan en die ander in die gat, en so het hulle die stomp gesaag sodat daar nou ‘n kiel vir die vaartuig is, ongeveer 30 cm hoog en sowat 20 cm wyd en 6 m lank, gesaag en geskaaf met die primitiefste gereedskap oor ‘n tydperk van ongeveer twee maande.
Hier moet ek dan ook net noem dat niks in Oos-Afrika vinnig gebeur nie. Die beste verduideliking vir hierdie lewenshouding is opgesluit in die Swahili-gesegde wat so lui: “Haraka, haraka, haina Baraka”. Letterlik vertaal beteken dit “Met haas is daar geen seëning”. Dit is dan ook presies met hierdie lewenshouding dat die meeste werk en take aangepak word, wat natuurlik dinge soos beplanning van reklame en finalisering van produkbekendstellings baie belemmer, iets wat deel van my werk in Tanzanië was.
So, met geen haas en sonder enige druk, is daar toe weer die woud ingevaar op soek na ‘n boom wat van nature ‘n draaipunt in die stam het wat geskik sou wees vir die uitsny van die boeg wat aan die kiel gekoppel moet word. Volgens die bouer het dit drie weke geneem om die spesifieke boom te kry en toe nog ‘n maand om die boeg uitgesny te kry en aan die kiel te koppel. Die koppeling van die twee word deur ‘n vernuftige voeg bewerkstellig, wat in plek gehou word deur ‘n baie lang ysterbout. Ek was gefassineer deur die vernuf waarmee die mense met hul eenvoudige gereedskap so ‘n taak aanpak. Selfs die gat vir die bout word met ‘n baie ou omslagboor geboor, iets wat dae geneem het as ek kyk na die boorpunt wat lyk asof hy uit die vorige eeu dateer.
Op die grond om die bouplek is oral stokke ingeslaan en ek verneem ook wat die doel daarvan is. Versigtig en met vele handgebare word ek toe verduidelik dat die planke wat die romp vorm in hierdie “klampe” gebuig en gedroog word. Die takke van die bome en die oorblyfsels van die stamme word in planke gesaag, weereens oor die put met die treksaag, ʼn proses wat vanselfsprekend ook weke en maande neem. Hulle word dan ruweg afgewerk met handskawe en dan gebuig. Hierdie buig-proses word gedoen met behulp van die stokke in die grond wat soos klampe werk en die hout dwing om te buig.
Blykbaar word die hulp van ‘n kenner vir dié deel van die projek ingeroep. Hy word as ingenieur beskryf en hy besluit hoe die planke gebuig moet word. Enige kenner staan in Tanzanië bekend as ʼn “fundi”. Die verskillende planke word dan tussen die houtstokke in die grond ingedruk en gebuig met behulp van swaar klippe wat eenkant toe druk en wiggies wat ingeslaan word om die “regte” buiging te kry. Dan word daar vure gemaak tussen die planke sodat hulle in daardie vorms droog word en so die vorm behou. Daarna word hul elkeen individueel afgewerk, soos ‘n kuiper, sodat hulle waterdig op mekaar pas, alles onder die streng oë van die fundi, waarna hulle met houtpenne aan die boot se ribbe gekoppel word.
Dis ‘n geweldige omslagtige proses en ek is tot vandag verwonderd oor die eenvoudige metodes wat gebruik word. Ek dink aanmekaar aan hul gebrek aan elektrisiteit, moderne gereedskap en die vooruitsig om vinniger klaar te maak. Die mikpunt van enige besigheid is mos om so vinnig as moontlik die taak klaar te maak sodat meer geld verdien kan word, omset bespoedig inkomste, maar dan word ek herinner aan die gesegde en die Swahili denke. “Haraka, haraka, haina baraka”… met haas is daar geen seëninge, en ek wonder of ons nie in ons haas na meer en beter die seëninge van die reis miskyk nie. Seker nie, want ons is “wazungu”, Europeërs, witmense wat nie die ritme en golwing van die seëninge van Afrika waardeer of ken nie, en dan wonder ek of daar nie wel waarde en wysheid iewers in die siening van Afrika-tyd is nie.
So verlaat ons dan die bootbouers, vol gedagtes en idees, maar met ‘n nuwe waardering vir die vaartuie wat ons oral op die water sien, met die wete dat elke dau ongeveer ‘n jaar gekos het om gebou te word deur manne wat nie hulself aan tyd of haas bind nie.
Op pad na die hawe en die veerboot huis toe, besluit ons ons is honger en dors en lus vir iets meer vullend as die algemene hoender en skyfies wat partymaal ook die maag op hol jaag, en so kom ons dan by Mercury’s.
Indien mense dit nie weet nie, sal ek verduidelik Freddie Mercury, afgestorwe sanger van die rock-groep Queen, is op Zanzibar gebore vanuit Indiese ouers. Nou ja, terwyl mens al die informasie verwerk en nadink oor sy kinderjare stap ons by Mercury’s in. Mercury’s is ‘n restaurant naby die hawe se ingang op Zanzibar, en die spesifieke restaurant, enig in sy soort, is totaal en al opgedra aan Freddie Mercury, die einste sanger van weleer. Die mure is vol foto’s van Freddie as kind, as sanger, as model en nog baie meer. Die memorabilia en dinge grens aan heldeverering, maar dis natuurlik te verstane, dis nie elke dag dat Zanzibar ‘n wêreldberoemde kunstenaar oplewer nie.
Ná ons rondgekyk en ‘n ruk gesit en lekker toebroodjies en koeldrank geniet het, is ons vort na die veerboot waar ons in die rye gestaan het saam met die mense van Tanzanië. Daar was geen haas, die boot sou kom en ons sal vanaand in Dar es Salaam wees, geen rede om enigiets haastig te doen nie. Op die boot het sake maar soos gewoonlik verloop. My toebroodjie en my koeldrank het in die Indiese Oseaan beland, terwyl ek dankbaar is dat ons nie ‘n lang reis op ‘n wiegende dau moet meemaak nie. Terug by die huis en ek probeer beplan hoe ek ‘n bietjie seëning met ‘n bietjie spoed gaan vereenselwig, en so op ‘n manier ‘n goue middeweg kan bewerkstellig, maar dan los ek die diep denke en luister bietjie na Freddie wat ook wou wegbreek, want hy was ‘n kampioen.
© Grootvissie
Julie 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.