Johanna en die trampolien
Johanna en die trampolien
Die beste televisievertoning wat ek nog ooit gesien het was nie op die kassie gewees nie. My drie seuns besluit toe mos eendag dat die Masaai wagte, Johanna en Thomas, aan die wêreld van televisie voorgestel moet word. Die twee mans, ongewoond daaraan om binne groot huise soos ons ene in Dar es Salaam te kom,was sonder enige verdere verduideliking, elk ‘n koeldrank in die hand gestop en op die sitkamer bank neergesit. Daar het hulle kierts regop gesit terwyl my oudste in Swahili aan hulle verduidelik dat hulle nou ‘n bietjie televisie gaan kyk. Die kanaal was gekies en ‘n baie bekende rofstoei program uit die VSA was op die skerm. Ons weet almal dis nie heeltemal so erg soos wat dit lyk nie, maar toe die manne mekaar met stoele slaan en die een ou gooi sy opponent oor sy skouer sodat dié ‘n tafel aan stukke laat spat toe kan die Masaai manne nie meer hul waardering vir die brutale krag inhou nie. Met elke oog so groot soos ‘n piering het hul uitgebars in die gewone Masaai uitlating van genot en waardeering. Dit kan beskryf word as OHOO wat redelik laag en lank, maar nooit hard of raserig is nie. Ek het natuurlik die uitdrukkings op hul gesigte baie meer as die stoeigeveg waardeer, beslis die beste televisieprogram ooit.
Masaai is baie interessante mense en het die interessantste maniere en gebruike en ook ‘n heel ander seining van die waarde van aardse dinge. Hulle dra pragtige rooi, geweefde lappe as kledingstukke. Die een lap word om die liggaam gedraai en die ander word oor die een skouer gedra. Die lappe dien nie net as kledingstukke nie, maar ook as kombers as daar geslaap moet word. Verder verberg die lap die lang mes wat elke Masaai aan sy sy dra. Tesame met die lap word ook tuisgemaakte sandale, van buitebande gemaak, aan die voete gedra. Ons het altyd gegap deur te sê die ouens moet ten minste fyftigduisend kilometer op daardie sole kry as hul nie te vinnig stap en te veel rook op die pad maak nie.
So kom Johanna, die langer een van die twee broers, eendag na my om te vra of hy ‘n voorskot op sy salaris mag kry om ‘n donkie aan te skaf. Ek vra toe uit na die nodigheid van ‘n donkie en hy verduidelik toe dat hy reeds ‘n gesiene man in hul kraal is omdat hy ‘n hout deurjie aan sy woonhut het en nie net ‘n vel wat voor die ingang hang nie. Verder het hy nou sy negende vrou getrou en sy, die jongste van die spul, moet soggens so teen vieruur gaan vuurmaak en dan die drie kilometer stap om water te trek uit ‘n put. Dan moet sy met die twintig liter kan op haar kop terugloop en die water warm maak sodat die meer senior vroue kan pap maak vir almal om tee eet. Die probleem is nou dat hy ‘n hout deur het, maar sy jongste vrou moet nog die water dra, en die twee feite stem nie lekker ooreen nie en belemmer sy aansien in die kraal. As hy dan nou ‘n donkie kan aanskaf, verduidelik hy, dan kan die dier die water dra en hy wat Johanna is, sal dan geweldige aansien in die gemeenskap geniet omdat hy na die gemak en gerief van selfs sy jongste vrou omsien. Ek kon sy argument nie bevraagteken nie en het dadelik die geld aan hom voorgeskiet want ek wou beslis nie die rede wees dat hy aansien in sy kraal verloor nie.
‘n Ander baie interessante gebruik van die Masaai is hul dans roetine. As die mans in hul groep kuier en die vroue in hul aparte groep en daar is dan nou ‘n man wat sy oog op ‘n dame het, dan begin hy sommer netso te dans, wat dan sy belangstelling aan die dame duidelik maak. As die dame dan ook sou belangstel antwoord sy deur ook te begin dans en so sien die ander mense dit en dan word die twee aan mekaar voorgestel en almal hoop dat dit op ‘n huwelik sal uitloop. Die dans is dan ook nie net ‘n uitbeelding van belangstelling nie, maar ook ‘n aanduiding van manlikheid, diensbaarheid en gesondheid, almal belangrike aspekte wat in ag geneem moet word as daar trouplanne in die lug is.
Die dans is natuurlik ook nie ‘n wals of ‘n tango nie, want musiek is nie deel van die uitvoering nie. Nee, die dans is net ‘n vertikale gehop, reguit lyf, reguit in die lug op, so hoog as wat hulle kan, en party van hulle kan sommer baie hoog “dans”. Daar word ook gedans by byeenkomste en as daar nou lekker gekuier word en die bevlieging om te dans dalk een of twee van hulle sou oorneem. So het ons al telkemale goot groepe van tot sestien Masaai mans in ons tuin gehad en elke nou en dan het hulle tog te lekker om die vuur gekuier en dan het ‘n paar van hulle ook gedans, wat natuurlik altyd uitroepe van OHOO van die ander, in waardering vir hoogte en styl, uitgelok het.
In die tyd kuier ons toe ook by vriende wat besig was om op te pak vir hul terugkeer na hul tuisland omdat hul werkkontrakte verstryk het. Ons help met pak en ons dra kos aan en geniet ‘n koeldrankie saam en gesels en kuier sommer lekker. Skielik staan die vriend op en roep my eenkant toe en vertel my daars ‘n paar dingetjies is wat hulle vir ons wil gee, e nook iets vir ons seuns. Ons is natuurlik dankbaar vir die geskenke en veral vir die geskenk aan my kinders, wat toe ‘n ronde trampolien is. Dis natuurlik iets wat nie sommerso in Dar es Salaam beskikbaar is nie en ons spreek ons dankbaarheid uit en neem die ding huistoe om die volgende dag aanmekaar te sit.
Met die hulp van Imma, die tuiningenieur, en my oudste seun as tolk, lê ons toe die trampolien uit en begin die ding aanmekaarsit. Dis ‘n ronde trampolien wat op die grond staan met ‘n deursnee van ongeveer drie meter. Die interessantheid is dat die spanning op die springe wat die springmat in posisie hou, ook die hele struktuur in posisie hou en dus is daar nie gereedskap of skroewe nodig om die ding aanmekaar te sit nie. Imma was heel ingenome met die projek en baie verbaas toe ons hom veduidelik hoe die ding werk en waarvoor hy gebruik word. Die idee dat kinders nie in die moddergate in die pad met net klippies of toutjies as speelgoed speel nie, was natuurlik vir hom ‘n bietjie vreemd, maar hy het ons verduideliking aanvaar en later self ook ‘n beurt op die springmat saam met die seuns geniet. Die gelag en geskree van die seuns het natuurlik tot die pret bygedra.
Nadat die seuns hulself moeg gespring het en die aandmuskiete hulle uit die tuin verdryf het, het ons geëet en na die boonste vloer van die dubbelverdieping huis gegaan om daar ‘n fliek op die rekenaar te geniet. Soos ons die trappe bestyg hoor ons skielik die Masaai stemme in die tuin met uitroepe van OHOO en handeklap. Ons steur ons nie veel daaraan nie, want ons is darem nou al dit effens gewoond.
Toe ons in die groot middelkamer instap was dit ‘n ande storie. Die kamer was redelik groot sodat my twee jongstes het kon deel, en het ook oor die tuin uitgekyk. Daar sien ons hoe ‘n Masaai kop elke nou en dan deur die venster vir ons kyk met spierwit tande in ‘n glimlag wat van oor tot oor strek en ons hoor net vele uitroepe van OHOO wat van onder in die tuin kom.
Met nadere ondersoek sien ons toe omtrent tien Masaai mans wat om die trampolien staan en een wat besig is om te dans op die springmat. Die man vlieg reguit in die lug op met rooi Masaai lappe wat in die lug wapper en elke keer as hy by die kamervenster verbykom dan glimlag hy van oor tot oor. Hulle het natuurlik die waardetoevoeging wat die trampolien aan hul manlikheid gee, waardeer, gesien aan die hoogte wat hy bereik het met elke sprong. So het hulle dan ook elkeen ‘n beurt geneem om op die trampolien te dans en so is dan ook vele uitroepe van OHOO tot redelik laat in die aand in ons tuin gehoor.
Ek kon nie later die aand myself weerhou van die gedagte dat selfs ons aansien toeskryf aan diegene wat groter, wyer en selfs gekerfde voordeure aan hul huise het nie. Ek wou ook van daardie dag af ‘n donkie koop, nie soseer om my gemeenskap te beindruk of my waterkanne te dra nie, maar meer as ‘n troeteldier. Ek het ook gedink aan die voertuie waarmee sommige dames toegerus word, seker om hul eie en dan ook hul mans se aansien in die samelewing te verhoog. Met die gedagtes wat grens aan filosofie, wonder ek toe hoe hoog dit verwag word van elkeen van ons om te spring om enigsins ons status en manlikheid te vertoon, maar die idee van spring het my gelukkig vinnig verlaat.
Met al die dinge wat in my kop draai het ek my duur drafskoene uitgeskop en besef dat ek ook maar net meer moderne buitebande op my voete dra, en dat daar ook maar ‘n mate van “Afrika” in elkeen van ons is, die vlak van sofistikering is al wat verskil.
© Grootvissie
Julie 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.