Brief aan Liewe ek.
Liefde. Ek weet nie so lekker nie. Dis mos daardie seerkry ding. Die ding wat jou laat sing. Jy wil dans en lag en huil en jy vang soms dom dinge aan. Maar dis ook goed en nodig.
Maar wat van die verbode liefde. Die een wat ons almal behoort te hê, maar ma het gesê mens moenie verwaand wees nie.
Hierdie skrywe is vir jou. Jy wat my ken van my eerste asemteug en altyd by my sal wees tot ek my kop die dag in die rooistof neerlê. Jy wat elke hoogtepunt en laagtepunt met my deel. Jy is daar wanneer ek alleen voel tussen skares en selfs wanneer ek verkies om kluisenaar alleen wees.
Soms raak ek so kwaad wanneer my kop en my hart verskillende tale praat. Wanneer ek weet ek kan en dan langs die pad moeg raak. Hoeveel keer het nie vir jou vertel dat jy nie goed genoeg is nie?
Liefste self, vir jare het ek jou kasty omdat jou kurwes nie lyk soos ek dit wil hê nie? jou dye lyk soos ‘n goedkoop karretjie met haeskade. Jy sê nie altyd die regte dinge nie. Jou foute is so veelvuldig soos die sand op die strand waarvoor jy so lief is.
Vir jou meet ek met ‘n fyner skaal as vir ander. Jou sondes blyk soveel groter te wees en jou foute weeg soveel swaarder.
Met seerkry mense werk ek saggies, versigtig vir hulle broosheid, maar jy moet tevrede wees met ‘n dwarsklap, ‘n brokkie sarkasme en ongeduld en as jy gelukkig is, ‘n oorveeg met ‘n bietjie room om die ergste winter droogheid te verjaag.
Wanneer ek wel na jou gekyk het, wat dit nie met liefde en omgee nie. Dit was krities. Dalk selfs ‘n tikkie afsku. As ek jou op ‘n verhoog moes sit, sou dit wees in ‘n produksie van Fees van die Ongenooides of dalk Liewe Heksie.
Op ons lewensreis saam het ek soveel keer gevra waarom ek die reis alleen moet aanpak. Wat is fout met my? Hoekom kan iemand nie ook vir my lief wees nie?
Ek is jammer dat ek eers iewers tussen Klein-Verwyt en Moedverloor se vlakte moes draai om te besef, dat jy ook die liefde en aandag verdien, wat ek so mildelik aan ander uitdeel.
Vergewe my dat ek jou soos ‘n verstote weeskind laat voel het.
Liewe ek, welkom by die eerste dag van die res van jou lewe.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek